Jongste aktiwiteit:

Ode aan Guppy

(Woordtelling 1006)

Ja, dit is nog steeds daardie arms vol groot, swart, lawwe hond wanneer ons van die liefde praat, want wie kan ‘n mens se hart so vierkantig vol sit soos ‘n troeteldier? Daardie een wat ons eintlik nie wou gehad het nie maar wat my lewensuitkyk net ongelooflik verbreed het. Cesar Millan het hoeka al gesê dat mens nie die hond kry wat jy wil hê nie, maar die een wat jy nodig het – en ons het vir ou Guppy nodig gehad, baie meer as wat ons by haar aankoms sou besef. Mens weet mos nie wat jy nog nie geleer het nie? Of waarvan jy nog nie eens bewus is nie.

In die stille hoop dat Boetie nie ʼn dierasie sou kry wat aan al my voorskrifte voldoen nie, het ek ingestem. Geen reun nie want ek soek nie weer ʼn hond wat elke gordyn en tafeldoek syne maak nie. En sy moes groot, swart en goed befoeterd wees. As ʼn skelm dit op die werf sou waag moes sy oë sommer omdop van skrik. En so het Guppy met haar boepensie en groot voete die middelpunt van ons bestaan geword.

Dit was egter na die hoeveelste keer wat sy bloed by my getrek het, wat ek haar ʼn tandlose bek belowe het. En dit was ook die einste dag wat Ano hart-en-siel op haar verlief geraak het want sien, sy was meer as net intelligent. Hierdie Mammie hou van mens en dier wat twee en twee bymekaar kan tel en by vier uitkom, nie by twee-en-twintig nie. As as Mammie ʼn opdrag gee, moet daardie mens of dier sommer op sy agterpote spring en salueer, en gister al gedoen het wat Mammie vandag gevra het. Nikse gekibbel of sy nou die bal of vir Padda moet bring nie en sal ons dit nie skelmpies waag om ʼn onderbroek in die tuin te begrawe nie.

Maar mens moet seker ook versigtig wees waarvoor mens vra, want sy was sommer van die begin al vol neuk en niemand kon dit naby Mammie waag nie. Selfs Pappie was onseremonieel uit die pad gedruk. Ja, Guppy en Mammie was waarlik Two Peas in a Pod. Vinkel en Koljander. Twee halwes van een swart hart. Ons het mekaar verstaan soos Mammie nie mense kan verstaan nie want hierdie dier kon praat, of ten minste haar behoeftes op so ʼn manier uitdruk dat dit nie misverstaan kon word nie tensy jy moedswillig genoeg was om nie te luister nie.

Ek het al genoem dat Guppy my gedwing het om my grense gereeld te verskuif? Met die ontdekking dat sy baie duidelik die intelligentste hond is wat ons nog ooit gehad het, het Mammie ʼn kursus of twee in dierekommunikasie gaan doen – net sodat ons mekaar nog beter kon verstaan. Dit was nou na sy eers elders gaan leer het hoe om soveel brutale happerigheid in toom te hou want sien, Guppy het Mammie se ou vriendinne gou-gou uitgesorteer en baie duidelik gewys van wie sy nie gehou het nie. En vreemd genoeg, dit was almal mense wat min of meer dieselfde karaktereienskappe gehad het, soos om almal in die rede te val en dan sommer die gesprek in ʼn totaal ander rigting te stuur, daardie’s wat baie beter was met praat as luister.

En al was verpleging nooit deel van Mammie se belangstelling nie, moes sy noodgedwonge leer hoe om daardie groot voete te ontsmet en in ʼn klou-verband toe te draai. Ai, daardie dierbare voete het gereeld onder glasstukke deurgeloop maar sy was nogal oulik om te verstaan dat die verband daar is om haar te help en het die meestal goed verdra. Sy was ook tevrede wanneer sy eers ingelig was dat ons veearts toe sou gaan en wat die rede vir die besoek was, anders het sy “whale eyes” vir die veearts gemaak en dan moes Mammie die stetoskoop vashou. En natuurlik het Mammie en Guppy hulself onderlangs verkneukel oor die hele situasie.

Die jare het aangestap en ons het hope avonture beleef. Sy was ʼn gebore Hoëvelder en het redelik goed aangepas in die raserige stad, solank sy net ʼn plek kon hê waar sy eende kon jaag en in vars, vinnig vloeiende, water kon swem. Op haar oudag moes sy noodgedwonge saam met Mammie na die kus verhuis maar sy het gou haar verskrikking vir die branders verloor, al het sy dit net tot in die vlak watertjies gewaag. Die kriewelende slakkies was egter ʼn interessante versnapering, en oh, as daai doppe so onder haar tande gekraak het… Dit was maar erg grrrrillerigggg en haar onwelriekende vis-asem het ons selfs gedurende wintertyd met oop vensters huis toe laat ry. En al was sy lief vir Masala, het sy darem nie gevra dat haar slakkies in kerrie-sous verhit word nie.

En wie sou ooit kon raai dat daar lawwighede in ʼn bundel kortverhale verewig sou word? Guppy En Anderste Stories, die boek wat nooit ʼn boek moes gewees het nie, maar nietemin gewaardeer en gekoester word. Dit het so half per ongeluk gebeur maar wie gaan nou kla oor die grootste geskenk om die herinneringe aan jou hart se punt lewendig te hou?

Dit is ook ongelukkig so dat niemand vir altyd kan leef nie en haar dae het onverwags korter en minder geword. Skielik was die blou see onbereikbaar ver want dit was net te moeilik om in en uit die motor te klim, en haar spasie het verklein na die inperking van die tuin. Hier sou sy ure aaneen onder die koeltebome lê en slaap tot sy op ʼn tyd nie meer kon opstaan en self stap nie. Dit was seker een van die moeilikste oproepe om te maak, maar die veearts het gehelp dat sy haar laaste sprong tussen hier en daar sonder moeite kon voltooi.

Sy is nou net bietjie-dood want sien, sy leef toe wraggies nog iewers daar buite. Mammie het nie verniet hard gewerk om dierekommunikasie onder die knie te kry nie, en binne minute het sy haar verskyning gemaak, heel laf en speels soos sy altyd was. R.I.P. ounooi se geliefde swart honde-kind.




Hier's ek weer, Hier's ek weer, Met my storie voor jou deur....

1 Kommentaar

Maak 'n opvolg-bydrae

Up
Top Ranked Users

[joinup_core_top_members columns=”1″ space=”no” max_members=”3″ behavior=”columns” columns_responsive=”predefined”]

Activity Feed