Huisbesoek
‘n Monument aan die Liefde.
Geskryf deur: Fanus Strydom
Woordetal: 3 903
Die wewenaarseisoen van dominee Frederik Postumus Van Graan, was van korte duur. Onverwags. Skaars gemaklik met die dra van swart, op Sondae was van die ouer dames in die gemeente, of dinge verander. Onverhoeds. Én, te midde van ‘n buitengewoon-hetige Laeveldsomer. ‘n Sware, maar eerbare verpligting, díe gewoonte. Sinnebeeld van solidariteit met die stomme, dominee Van Graan. Na die skielike afsterwe van sy stomme, mevrou dominee Van Graan. Óok onverwags. Ses volle maande. Sonder voorbehoud. Na afloop van vyf, verswelgende maande, was die einde van die gemeentelike routydperk ook genadiglik in sig. Toe gebeur dit. Sy staat van stomheid verander. Totaal onvoorbereid voor, deur die res van die gemeente. En onomwonde. Terselfdertyd, natuurlik ook sy haalbaarheid as volgende huweliksmaat vir heelparty weduwees in die kerk. Sommige steeds rou en hoopvol vir tydige uitkoms, ander lankreeds moedeloos gewag. Natúúrlik, een of twee geskeides ook… Laasgenoemdes maklik uitkenbaar aan die ooglopend, uitlokkende beknoptheid van hul rourokkies. Die skandalig-lae halsies ddarvan…
Nietemin, iedereen het min-of-meer, deelgeneem aan hierdie onbeplande, gemeenteprojek. ‘n Welgeluksalige wegbreekkans van die gewoontelike, jaarlikse bazaar. Baie minder werk. Die opdrag eenvoudig:
Om die stomme dominee Van Graan, te onderskraag deur sy skielike alleen ellende.
Die ondraaglike hitte ten spyt.
“Deur die genade van Bo en met onverdiende guns …” sluit hy díe bedompige Sondagmôre, sy buitengewoon-kort preek af.
Met ‘n ontstellende openbaring:
(Voor die sing van die laaste sëengesang!)
“Volgende Sondag, tydens die oggenddiens, en na afloop van die nagmaal…”
Probeer hy vir oulaas die tyding opgesluit hou in sy kloppende hart. Terdëe bewus van die moontlike repurkussies wat die nuusvrystelling op sy nukkige kudde mag hê.
“…maar voor die aanvang van die algemene kerkvergadering…”
‘n Roering ontwaak in die voorste ry. Van onder ‘n brëe, swart hoed lig ‘n kop stadig na bowe. Kyk hom dan vierkantig in die oë… Dink hy, want die gesig is amper onsigbaar. Verskuil agter baie lae net en gaas. Pikswart en donker. Soos die gaas voor haar agterdeur vir huisbesoek.
Tant Anna De Beer kry eensklaps lewe.
Op haar pos in haar gewoontelike voorste bank, herposisioneer sy haarself. Kry haarself gereed vir intervensie. Oorlog maak, indien nodig. As self-uitverkore gemeente matriarg, was sy deurentyd lugtig vir die nuwe, domineetjie. Sy byderwetse idees. Wewenaar of nie.
“Oor my dooie liggaam! “ sal sy haar openingssalvo afvuur.
En mik vir ‘n kopskoot.
Tant Anna was stokoud, maar rateltaai. Eens opgewen was daar min sake op die agenda, óf dienaars op die kerkraad, wat haar sou durf tëegaan!
Dominee inkluis.
Soms kwes sy die dier, slaan hom vir ‘n oomblik van sy voete af. Maar dan is sy reeds oorgelaai met die volgende skoot:
“Godslasterlik…!!”
Slagpen vir die teenargument uitgepluk.
Díe kan nou enige tyd ontplof…
In die ouderlingebank skuif hoofouderling Smuts homself solank in ‘n gemakliker slaapposisie in. Hy het, soos almal, besef dit gaan weer ‘n lang Sondag wees. Gevolglik was daar skielik , in verskeie oonde versprei oor vele plaas- en dorpskombuise, (kool sowel as elektries) verskeie lamsboude wat vergeefs sou lê en wag op hulle finale verorbering. Party sou moontlik die onverwagte tydtoets deurstaan en krakerig-bros uit die oond gered word.Net betyds. Meeste egter, sou ongelukkig uitgedor, en uitgebak, hul moedelose, honger mae in moes gaan.
Net die tyd sou leer…
“…en as dit die agbare kerkraad behaag…” beproef dominee Van Graan nog eenmaal almal se geduld.
Dan…, terdoodveroordeelde…Kom hy botweg tot die punt:
“wil ek graag my nuwe verloofde aan die gemeente kom voorstel…”
Absolute stilte.
Vêr bo die skokgolf ruk Katjie Vermaak se regterbeen skielik. Land haar kaal regtervoet hard op die orrel se onderste pedaalpaneel…
Sy het maar las gehad van die been. Na die afval van haar fiets af. Vyf jaar terug. Regvoor die poskantoor in die dorp se hoofstraat.Voor almal. Mettertyd sou sy gewoond raak aan díe onbeheersde refleksskop van haar. Tesame met die paar, oorblywende sniksangers in die gemeente. Genadiglik was dit al blywende skade wat sy oorgekom het. Dít en die onooglike bleskol. Bo, aan die regterkant. Van haar koëlronde, klein koppie.
“Nes ‘n verdomde dowe kat…!” het een ongeduldige oggenddiensganger op ‘n keer hoorbaar hard gemurmireer. Kort na haar terugkeer tot haar orrelpos, en tydens ‘n besonders gebeurtenisvolle begeleidingspoging, het die lidmaat genoeg gehad.
Die naam het vasgesteek. En, met tyd, kon almal haar die nou-en-danse, per ongeluk verkeerde, refleksnoot verskoon. Haar eensydige onooglikheid, was gelukkig moeiteloos misgekyk. Elke Sondag, lank voor die diens begin, het sy die steil trappe opgeklim na die orrelgallery. Daar het sy hoog, en vêr uitgerys bo almal, haar posisie voor die reuse pyporrel ingeneem. Pligsgetrou, maar genadiglik buite sig.
“Poooooep….pooooeep…..poep!!” vergestalt haar aweregse been meteens drie, totaal onverwante klanke, aan die geskokte gemeente se woordelose monde.
“Wat!?” verstik Tant Anna byna in die voorste ry. Verloor in die proses die boonste gelid van haar kunsgebit. Vir ‘n oomblik kleef dit grynsend vas teen die oordadige netverskansing voor haar gesig. Tuimel dan terstond na benede en val sekuur in haar biddend-oopgevoude hande. Op die skoot van haar rourok.
Raafswart in solidariteit, met die stomme dominee.
Saam met ‘n lywige bol spoeg.
Ouderling Smuts is skielik wakker.
Hier kom ‘n ding.
“En bwat phan die phan onth bwat nie Thondag bweer in die kerk kan weeth nie…!?” maak sy luidkeels kapsie. Probeer naarstigtelik die tande weer terug kry in hul plek. Maar vergeefs. Die net was in die pad. Al wat dominee Van Graan van die kansel af kon uitmaak, was ‘n enkelpaar, tydvergeelde botande. Grynsend vasgeknyp in ‘n netgevulde, pikswart gat.
Van die sypaadjie af, klink dit vir die dronkie asof ‘n moerse byekorf sopas innie dorp se moederkerk ontplof het…!
Die koël was deur die kerk. Tant Anna se protestasies was onhoorbaar verstrengel in die raafswart netgat waar haar mond moes wees. Maar, die res van die gemeente het ook begin onrustig raak. Luidrugtig. Onseker van die pad vorentoe. ‘n Paar soek vir die naaste uitgang. Weg uit hierdie Babelse stad!
Dominee gooi verbouereerd sy arms ten hemele. Probeer orde hertsel in die Huis van die Here:
“ek, en my toekomstige gade, sal ons bes doen om elke huishouding persoonlik te besoek…”
Spesifiek vir tant Anna…
Sy’t intussen belangstelling verloor. Haar stryd nou intens gefokus op haar botande. Hopeloos buite bereik van haar klappende hand, en totaal verstrengel in die verdekselse netgoed om haar kop!
In solidariteit met die stomme dominee…
“Hoe afgelëe, of vêr verwyderd u plaas ookal mag wees…” voeg hy by.
Skielik intens dankbaar by die wete dat tant Anna s’n; en díe van haar vyf, goddelose seuns; haas onbereikbaar was…
Dan vat hy sy gaping:
“Beskou dit dus sommer as deel van my…uh ons, jaarlikse huisbesoek.”
En daarmee sluit dominee Van Graan die oggend se skokverrigtinge af.
Sonder om eers die sëen uit te spreek vlug die witgesig dienaar inderhaas van die kansel af. Verdwyn soos ‘n verskrikte vlêrmuis die veilige duisternis van die konsistorie in.
Nog nooit vantevore het die kerk so vining leeggeloop nie, want skinder binne in die kerk was onheilig. Sonde.
En baie ongerieflik.
So kom dit dan dat dominee, en die nuwe mevrou dominee Frederik Postumus Van Graan, die plaas Deerpark kom besoek. Februarie, drie-en sewentig. ‘n Besonders gesëende jaar van Ons Heer. Baie gerëen. Die veld was ruig en lowergroen. Langs die nou grondpaadjie plaas toe, was die bosse digbegroei en deurspek met brandboontjies. Swanger. Swaar in drag aan hul onweerstaanbare, fluweelbruin peule.
Pragtig .
Dodelik giftig.
Ouma was vroegdag al gereed. Na ‘n nag van geesdriftige bak en kook, voor die koolstoof in die kombuis, was sy in ‘n opgewonde luim. In die voorhuis het die kostafel gekreuen onder haar gulhartige offerhande. Sy stap nog eenmaal om die kosaltaar. Vir oulaas. Maak seker als is gereed.
“Liewe Heer, mag hierdie dag U behaag…” bid sy oor haar handewerk en draai om. Oppad uit begin sy ingedagte neurie…
“Heer waar dan heen….tot U alleen…”
Als was netjies toegedek onder vlieëbestande net. Nou spierwit. Want routyd was verby.
Die predikerstroue het laasmaand plaasgevind. ‘n Privaat seremonie voor die magistraat. Afgehandel.
Al wat die gemeente daarvan tesiene gekry het, was ‘n mediumgrootte, swart en wit foto van die nuutgetroudes. Straks ondeurdag ingepas, op bladsy twee van die dorpskoerant.
Neffens ‘n geilrooi advertensie vir nuwe trekkers, glimlag dominee Fred selftevrede:
“ STOOT EN PLOEG MET NUWE KRAG!!”
Stralend ingehaak by sy elmboog, sy nuwe bruid.
Oupa was op die voorstoep aan’t biltongkerf, toe die gelukkige paartjie deur die hek die werf inry…
Uit die foto in die koerant kon mens darem ‘n paar afleidings maak. Dit was darem sigbaar, dat die nuwe mevrou dominee Van Graan, nie té onaardig daar uitgesien het nie. Miskien ietwat swaar in die onderlyf? Bietjie uit balans met die kleinerige, boonste deel…? Maar, geensins onaanvaarbaar as nuwe predikantsvrou vir die moedergemeente nie. Verdere detail is stelselmatig, en met groot ywer, versprei deur Kotie Lategan. Die plaaslike sentrale-operateur. Haar nuusagentskap die uitgebreide plaaslynnetwerk. Kort voor lank sóú donker gerugte, soos donderwolke, in die lug begin versamel. Volgens haar anonieme, ingeligde bronne, was mevrou nuwe dominee blykbaar nie heeltemal sonder vlek, of skande nie. Inteendeel… Blykbaar was geskei. Die ma van drie opgeskote kinders. Twee dogters en ‘n seun. Beide dogters gelukkig getroud met goeie mans, maar oor die seun was daar vrae. Hy was al dertig en nogsteeds ongetroud. Blykbaar kunstig. Saggeaard…
Die mees dringende kwessie egter, wat soos donderweer teen die nuwe mevrou dominee begin dreig het, was die feit dat sy ‘n stadsbewoner was. Klaarblyklik heeltemal onkundig. Onvoorbereid. En, in die geheel, totaal onvanpas vir lewe op die platteland. Maar gelukkig is ‘n noodkommitte gou op die been gebring. Onder leiding van Kotie, en ‘n hele paar gewillige dames uit die kontrei. Sommer so oor die plaaslynnetwerk. Hulle sou mevrou dominee dadelik onder hul onderskeie vlerke neem. Die oomblik dat sy haar rooi getoonde stadsvoetjies, hier plaaslik neersit. Saam-saam sou hulle haar in ‘n japtrap skool in die gemeentelike tradisies. Die gebruiksvoorwaardes. Die on-onderhandelbare pligte van ‘n deuglike, plaaspredikantsvrou. Presies netsoos die stomme vorige mevrou dominee nog tot onlangs toe gedoen het. Getrou. Tot op die laaste dag voor haar skielike en onverwagse, heengaan. Niks sou verander nie.
Een laaste aanklag egter, het die laaste tyd, onheilspellend vanuit die donderweer oor die styfgespuite, bloedrooi kapselkop van die nuwe mevrou dominee begin blits.
Tot op hede nog onbevestig.
Daar was glo gerugte…,dat sy ‘n roker is!
“Onbevestig , tot op hede, onthou…”herhinner Kotie haar geskokte inluisteraars gereeld. “maar amper sekerlik waar…” moes sy onafwendbaar byvoeg. Net om seker te maak. Laasgenoemde situasie het tot onverwagse aansporing gedien vir die nuutgevonde nuwe-mevrou-dominee-welsynskommittee. Hulle sou haar gou speen van díe aaklige gewoonte. Haar opsluit verlos van die stinkende las. Só ‘n gevlekte, smeulende kruis sou nie toegelaat word om in die plaaslike moedergemeente ingedra te word nie.
Tot laatnag toe is daar vergaderings gehou oor witwarm plaaslyne. Strategieë bespreek.
Die finale plan van aksie uitgepluis. Sonder om die stomme vrou onnodig te ontstel, seer te maak, of onwelkom te laat voel.
Natuurlik.
Op die laaste vergadering (die dag van die geheime troue) is finaal besluit dat die kwessie van die ongetroude seun, tot later oor sal staan.Vir eers. Sodra meer inligting versamel is, sal die saak weer op die agenda geplaas word…
Met die stopslag voor die brëe opstaltrap, spring dominee Frederik hups uit die motor. Draf om die agterkant om sy wederhelf by te staan. ‘n Paar lenige, lang bene swaai fatsoenlik uit. Aan die voete ‘n paar goudblink sonsandale.
“Ai, maar sy is lieflik…” verlustig dominee Freddie hom opnuut weer aan sy onverdiende fonds.
Toe sy haar staan kry langs die motor, was oupa reeds halfpad teen die trappe af.
Al vinniger.
Sonder om te groet peil hy reguit op mevrou dominee Frederik Postumus Van Graan af.
Geklee in ‘n deftige, roomkleurige sonrok vroetel sy vir oulaas met een hand om die kreukels om haar bene uit te pluis. Half ongemaklik. Ietwat onseker van haarself. Haar wederhelf staar steeds na haar kuite. Sy maak keelskoon in die rigting van sy oë.
Voor haar kom die oom nou vining nader. Sy aandag egter, so besef sy met skok, skaamteloos gefokus op haar kaal skouers…haar borste!
Sy wou so graag ‘n goeie eerste indruk maak op ‘n ieder en ‘n elk.
En van oom Fanie en tannie Souf se gasvryheid het dominee Frederik haar heelpad hierheen verseker. Elke nou en dan, geduldig by ‘n koelteboom gestop langs die stamperigge stofpad. Sodat sy kon kamerverlaat. Senuwees het gladnie met haar blaas geakkordeer nie. En om haar moed in te praat. Vir oulaas dalk bietjie te vry…
Nou pak rou paniek haar egter beet.
Daar was ‘n vreemde, wilde kyk in die oom se oë…
Sy klem die reuse bondel goudbruin, fluweelpeule stywer teen haar borte vas. Spyt dat sy nie tóg maar die die truitjie ook saamgebring het nie.
“Maar dit was so ongelooflik warm…!” dink sy desperaat.
Die fraai peulranke was haar persoonlike idee. Haar dankbaarheidsgebaar aan die gasvrou. Self gepluk oppad hierheen.
Benoud meet-meet sy die afstand na die oop motordeur agter haar…
Oupa was nou op volspoed.
Sy oë flits op na haar skouers. Heeltemal kaal en reeds plek-plek rooi. Blosend té vroeg vir díe tyd van die oggend. Dan af langs haar keel, tot by die armvol goubruin peule teen haar borskas. Daarbinne iewers weggesteek; haar borste…
Sy blik val na haar bene. Kaal en ontbloot onder die sonrok teen die vroegoggendson agter haar. Hy sien die tekens…
Haar keel begin brand.
Sweet slaan op haar voorkop uit.
Sy krap-krap aan ‘n lastige gejeuk teen haar nek…
Dan is hy op haar.
Sonder om ‘n woord te sê pluk oupa die impromptu peulruiker uit die stomme vrou se hande. Smyt dit voor haar voete neer. Dan pak hy haar onbeskaamd om die skouers beet. “Miskien wil hy my soengroet…” dink sy vir oulaas ‘n desperate gedagte, en hou haar mond gewilliglik uit na syne.
Nou bloedrooi gebloos…, of iets!?
Dit was die laaste gedagte wat sy onthou. Saam met haar benoude gille in die rigting van haar nuutgetroude ridder. Haar redder.
Dominee Frederik bly verstom staan. Versteen. Total onvoorbereid vir dit wat wat voor hom aan die afspeel was. Vlêrmuisgedagtes breuk skielik sy predikersskedel binne.
Sy oë, twee pierings bo ‘n gapende, klanklose mond.
Instinktief begin hy soek na wegkruipplek…
Onder oupa se arm was die nuwe mevrou dominee Van Graan nou stewig vasgeklem in ‘n stywe kopklem. Hy peil reguit op die leivoor af met haar. Om die hoek…langs die stoep op… tussen die bome in. Skaduwee toe…
In die voorkamer hoor ouma ‘n vrou gil…
Angswekkend en skril.
Sy vergeet skoon om die voorskoot van haar heupe af te haal.
Storm na buite. Kom af op die twee…
”Liffie, wat maak jy!?” skree sy in oupa se rigting.
Die kyk van skok, op nuwe mevrou dominee se gesig, meteens vir ewig in haar geheue ingebrand.
Teen díe tyd was die stomme vrou reeds op haar kniëe voor die voor. Oupa se een knieg stewig in haar kruis geplant. Nog voor sy ‘n laaste hulpkreet kon uiter, tref die eerste handvol modder uit die leivoor haar.
Vol in die gesig.
Gevolg deur nóg een.
En nóg een.
Sy spoeg en spartel om vry te kom, maar vergeefs.
Oupa sit stewig in die saal.
Binnekort was haar vining rooierewordende nek en skouers ook beplak met pikswart klei. Haar laaste woorde verander in ‘n onhoorbare gegorrel, toe oupa haar kop, sonder seremonie of genade, onder die water in die leivoor druk.
Met die opkomslag snak sy verbete na haar asem. Haar voorheen stywe kapsel nou onherroeplik verwoes. Slierte hare, modder en slym kleef gomagtig teen haar bleek, wit kopvel vas. Val hier-en-daar oor haar pikswart gesig.
Nou gryp oupa haar arms. Pak afgemete nóg hande vol modder teen hulle aan. Hulle raak lam onder die gewig. Val langs haar sye neer. Haar skouers reeds swaar gelaai met díe ondraaglike , skandelike las. Dan gee sy haar oor aan haar lot. Word stil onder die besete man se aanslag…
Elke ontblote hoekie en oksel van haar nuwe predikantsvroulyf word deeglik met modder besmeer. Oor haar half-ontblote borste. Haar bobene. Selfs die binnekant van haar heilige dye word nie gespaar nie.
Pateties prewel sy, vir oulaas, ‘n laaste wens in die rigting van haar predikantsman. Haar skaapwagter. Maar hy’s weg. Die motor se deur steeds oop. Op die sitplek ‘n groot, bruin hond. Hygend in die hitte.
“Lyk nes Bismarck…” dring ‘n lukrake gedagte, van die hond uit haar vorige huwelik, haar benewelde brein binne. Oortuig van haar vining-naderende dood, begin sy saggies bid.
“Al gaan ek in ‘n dal va…”
Een, finale handvol klei vryf egter die woorde vir ewig weg uit haar gapende mond.
“Lif…kry solank die lamp-olie reg!” beveel oupa, sonder om op te kyk. “En sê vir Elias hulle moet vuur maak…die water opkry. Nou dadelik!”
Eers dan kom hy regop. Was sy hande in die voor en stap weg, sonder om eenkeer om te kyk.
“Elias…!!” hoor sy hom roep toe hy om die huis verdwyn.
Sy lê op haar sy langs die voor. ‘n Onvoltooide, omgevalle kleistandbeeld. Gebroke Griekse godin. Halfpad geklee in ‘n vollengte lap, wat eens op ‘n tyd roomkleurige was. Onherkenbaar en onbeweeglik. Haar klei-kis besig om vining te versteen.
Aan haar een voet ‘n dowwe, modderbesmeerde sandaal.
Die ander een dryf reeds vêr daarvandaan, al met die leivoor langs, terug dam toe.
Ouma snap onmiddellik wat aangaan. Haas haar na die gevalle godin. Roep oor haar skouer na die opstal met ‘n dringende, hoë stem….
“Modjadjieeee…..bringôla die towels virrie oumies! En kry hom die lampolie binne by die kas oppie stoep….! Gou-gou!…”
Oppad agterwerf toe loop oupa vir dominee Freek raak. Hy staan op sy kniëe langs die lae tuinmuurtjie. Veilig en buite sig van die ergste. Sy hande wit saamgeklem in ‘n smekende bal voor sy bors. Sy oë bottoe. Hy bid smekend vir genade:
“Vader red ons tog vandag, om hemelsnaam… en vergewe ons ons sondes…!”
Heelwat later die middag, toe die son dieprooi begin sak oor die wes-horison, kom die nuwe mevrou dominee Van Graan, uit oupa en ouma se slaapkamer te voorskyn. Uiteindelik. Knus toegewikkel in Ouma se oorgroot kamerjas. Ouma het haar versigtig aan die hand gelei voorkamer toe, want haar oë was steeds bottoe geswel. Haar gesig opgepof en blink gerys. Nes een van ouma se bekende bazaar-brode. Die stukkie sigbare deel van haar keel en hande nou blinkrooi geskrop en deeglik ingevryf met taai, lampolie. Onder die gebondelde handdoek op haar kop het ‘n verlore haarsliert oor haar voorkop uitgedartel. Sy prober dit, tussen die trane, van haar neus af wegblaas. Maar haar lippe was te dik geswel.
“Phuuut….phuuut…” is al wat oupa en dominee Freek hoor, waar hulle in die sitkamer sit en wag. Na sy derde dubbelwhiskey het daar uiteindelik, en genadiglik, weer ‘n sedelike rustigheid oor die prediker neergedaal. Kon hy uiteindelik oupa se verduideliking aanhoor. Laasgenoemde rustig aan’t teug aan sy pyp. Terloops te vertelle, asof dit ‘n alledaagse gebeurlikheid was.
Hy was self ‘n boorling van die stad. Nog geensins bekend met al die inheemse gevare van die laeveldse bos nie. Hy sit grootoog en luister na oupa. Net die blote gedagte dat hy sy nuutgevonde wederliefde, enigsins in so ‘n wesenlike gevaar kon stel, begin skielik vreet aan sy binneste. Buite vlieg ‘n vlermuis hom disnis teen die sitkamervenster was. Dominee wip van die skrik.
“Hy was waaragtig oppad na my toe…!” Hoe moes hy geweet het brandboontjies is so ontsettend giftig!? Selfs dodelik as mens nie dadelik hulp kry nie!? En in die geval van ‘n plaas; vyf en twintig myl van die naaste dorp of dokter af; dat modder klaarblyklik die enigste onmiddellike raat was…?.
Oupa kyk na hom. Die stomme man lyk uitgeput.
“’n Laaste whiskeytjie, dominee…?”
Dan maak hy vir oulaas die man se glas vol medisyne.
So sit sy toe vir ‘n uur of, ongemaklike in die warm son. Poedelkaal, maar genadiglik afgeskerm van nuuskierige klonkie-oë deur die vriendelike huishulp en haar jong dogter. Die twee het grootoog en laggend, getrou by mevrou dominee Van Graan waggestaan. Deurentyd die nuuskierige klonkies, en die lastige vlieë, van haar af weggehou. Oopgesprei tussen hulle hande was ‘n pragtige, inheemse lapdoek. Vir haar privaatheid. Teen die tyd dat die modder droog was en die son oppad huistoe, het die water ook gekook. In twee reuse driepootpotte op die buitevuur. Die manne was flink. Het oupa se duidelike opdragte; in hul eie taal; gedienstig uitgevoer. In die badkamer het ouma geduldig gewag. Slaggereed vir die volgende fase van die reddingsoperasie. Op die tafeltjie voor haar uitgepak haar grootste, skerpste mes uit die kombuis; ‘n nuwe, skurwe spons uit die wakis; en ‘n skropborsel. Sommer die een uit die agterstoep se spenskas, want daar was nie ‘n nuwe een in die huis nie. Die oue sou moes doen. In die Waskom, op die geelhouttafeltjie langs die bad, weerkaats die kers se lig flikkerend in louwarm lampolie…
Na die derde bad was die meeste van die vennynige haartjies afgeskraap met die mes. Afgeskrop met die borsel. Of, versigtig uitgevee uit die meer sensitiewe dele op mevrou dominee se rooigeswelde lyf, met die growwe spons. Toe ouma uiteindelik die louwarm lampolie-lafenis oor die uitgeputte slagoffer se gewonde lyf smeer, sê sy saggies en duidelik uitgeput:
“atheblief tannie….noem my thommer Annetjie…”
Die stomme vrou se lippe was steeds tot barstens toe geswel en bleekwit. Maar sy kon darem weer bietjie deur een oog begin sien.
Sy was steeds tranerig, maar beslis buite gevaar.
‘n Paar Sondae later begin dominee Frederik Postumus Van Graan sy oggendpreek met ‘n ernstige vraag aan sy kudde:
“Wat beteken naasteliefde regtig vir u, broeders en susters?…”
Hy bly vir ‘n oomblik stil. Kyk oor die stampvol kerk voor hom…
In die heel voorste ry sit sy nuwe vroutjie. Pragtig en blakend gesond. Deftig uitgevat in ‘n duur, poeierblou snyerspakkie. Op haar kop ‘n lieflike, klein hoedjie. Half skeef gekantel met ‘n klein, fyn netjie. Effens afgetrek tot nét bo haar seeblou oë.
SY glimlag vir hom. Onbeskaamd verlief. En hy vir haar…
In die tweede bank klap Sannie Greyvensteyn sommer hande. Sy was maar ‘n ongewoon, spontane kind. In die oomblink gelewe. Party het vermoed sy was dalk nie heeltemal “reg” nie…Maar, almal was baie lief vir haar.
Drie banke terug sit tant Anna. Ongemaklik. Met die hele vet-Viljoen gesin voor haar ingeryg is dit godsonmoontlik vir haar om die nuwe mevrou dominee duidelik onder oë te kry. Sy’t gehoor van die affêre op die Van Vuurens se plaas….
Vies, want hulle het steeds nie by haar en die seuns uitgekom vir huisbesoek nie.
In die ouderlingebank skuif hoofouderling Smuts hom in sy gunsteling slaapposisie in.
“Dis om bereid te wees om jou eie lewe op te offer as jou naaste in gevaar is…”
Hang dominee Frederik Postumus Van Graan die kerngedagte van sy preek uit oor die stampvol kerk.
Vêr bo alles en verhewe bo almal. Gelukkig veilig buite sig, lewer Katjie Vermaak ‘n foutlose uitvoering van die openingspsalm. Haar onrustige regterbeen deesdae skielik stil. Ongewoon effektief en moeiteloos akkuraat oor die orrel se vele voetpedale.
Naas die nuwe mevrou dominee Frederik Postumus Van Graan die tweede;
in die voorste ry;
sing oupa en ouma , uit volle bors saam met die res van die gemeente:
“Heer waar dan heen?…Tot U alleen!”
Sela.
Fanus Strydom
2 Kommentare
-
Julanda
Kostelik!
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
Anze
Pragtig, baie dankie vir jou bydrae tot die Februarie 2022 – Liefde (OOP) projek