Jongste aktiwiteit:

EEN DAG…

….op ’n slag. Een voet voor die ander, tree vir tree. Ons durf nie meer afbyt as wat ons kan kou of sluk nie.
Dis Vrydag. Twee dae na die swartste verskriklikste Woensdag. Ek is wakker maar my oë is toe. Ek probeer ’n gedagte vasgryp, maar dis asof gedagtes op ’n vervoerband hardloop, van my linkeroor af dwarsdeur my kop en uit by die regteroor. Te vinnig om raak te vat.

Toe hoor ek Bokka se asemhaling en ek onthou…gister…en eergister. Dis hoekom hy vanmôre hier langs my wakker geword het. Dis hoekom my kop so skommel en daar ’n yslike loodbal onder my borsbeen lê. Dis hoekom daar twyfel in my gemoed is, maar sekerheid in die seer van die skeur in my hart. Seuna-kind sal ek nooit weer sien nie.
Ek het iets om te sê. Sommer vir enige iemand wat wil luister. Bekend of onbekend, maar praat moet ek praat. Dis ’n begeerte in my siel. Saggies staan ek op om nie vir Bokka te steur nie. Laat hom die pyn om sy hart afslaap. Vandag gaan hy elke greintjie krag nodig hê wat hy bymekaar kan skraap.
Voor my rekenaar, roggel ek die woorde op die toetse uit. Net soos ons as gesin maar praat. Bietjie Afrikaans en bietjie Engels, sommer deurmekaar.
And Morgan said: stop this world I’m getting off
want ma, hier by my gaan dit baie rof.
Never again to have a troubled mind
only lots and lots of memories kind.
Die dae was okei, maar ai die lang donker nagte
ek was heeltemal by die einde van my kragte.

Saggies blaas ek jou in die suid-ooste wind
en ek weet jy’t uiteindelik salige vrede gevind.
Mooi loop my dierbare Seuna kind.

Ek is tevrede en weet ek dis hoe ek die aankondiging op Facebook wil maak. Dis tog duidelik genoeg vir almal om te verstaan wat presies gebeur het. Ek is nog altyd daarop gesteld om die waarheid te praat. Wat help toesmeer en wegsteek tog. Wat gedoen is, is gedoen en gedane sake het g’n keer nie.
Gister het een van die leiers van ons damesgroep ook gevra: ‘wat sê ek vir die mense?’
Sonder om eers te moet dink: ‘die waarheid.’

Bokka kom kreunend orent en sit met toe-oë op die rant van die bed. So asof hy wil keer dat die dag sy loop kry. Ek gaan staan langs hom met ’n idee:
‘Ek gaan nou vir ons koffie maak, dan gaan ons Bybel lees en bid. Daarna trek ons stapklere aan en stap see toe, nes ons altyd doen as jy vir die naweek by die huis is. Kan ons seblief vir die volgende uur of twee maak of alles normaal is?’
Met oortuiging en ’n dringendheid in sy stem antwoord hy: ‘Ja,…..seblief.’ Presies so, het ons gedoen. Behalwe dat ons vanoggend in stilte stap terwyl hy my hand styf vasklou. Ons het mekaar se krag nodig. Ons wil nie praat nie, net stap.

Langs die see gee ons mekaar ruimte. Elkeen stap met sy eie gedagtes in sy eie rigting. Tog bly ons, op ’n afstand, bymekaar. Ek voel naar. Daar borrel iets in my binneste en stoot in my keel op. My kop wil-wil allerhande nare goed bedink, maar ek weier. Ek stap oor ’n paar rotse tot naby aan die water, kyk om of daar ander mense naby is. Daar’s niemand.

Ek trek ’n diep asemteug tot onder my naeltjie en toe gil ek. Lank en aanhoudend tot daar nie een suurstof molekule iewers in my liggaam oor is nie. Tot my oë traan en my ore tuit. En toe doen ek dit weer. En weer. En weer. Totdat ek nie ’n garedraad se krag oor het nie. Tot ek gereinig, verlos en verlig voel. Toe eers kom staan Bokka agter my en ons twee huil geluidloos tesame.

Sonder krag, maar heelwat sterker, stap ons huis toe. Ons weet nie eintlik wat die eerste ding is wat ons moet doen nie. Wat sê die reëls of die to-do lysie van mense wie se kind in anderland sy lewe geneem (of is dit gegee) het? Ek weet nie eers wat die regte terme is nie. Al waaraan ons dink is om by die bank te gaan hoor wat ons te doen staan en of sy rekeninge gesluit kan word. Dis wat ons gaan doen!

Voor ons kan gaan, kom Seuna se baas en sy vrou, ons eers bemoedig en inlig oor die reëlings om die liggaam terug in SA te kry. Daar is allerhande wette wat nagekom moet word. Bokka wil nie toelaat dat die verassing sommer in Namibië moet plaasvind nie. Hy wil sy kind sien en groet.

Die man kan skaars praat, want emosie druk sy keel toe. Hy erken skaamteloos aan ons dat hy self ’n kind van presies dieselfde ouderdom het, wat al vier keer probeer selfmoord pleeg het. Die oorsaak….depressie. Verdomde depressie! En nou is sy kind se brein al so beskadig dat hy nie kan onthou wat gister, hierdie tyd gebeur het nie.

By die bank weet ons nie wie ons moet sien nie en gaan staan sommer in die ry voor die navrae toonbank. Dit gaan sleepvoet in hierdie ry vandag. Sê nou ons wag al hierdie tyd en dan word ons net na ’n ander afdeling gestuur. Ek kyk verward rond en gewaar ’n vrou aan die end van die toonbank. Sy lyk sommer soos ’n mens wat weet hoe dinge hier werk.
‘Ek gaan gou daai vrou vra of ons op die regte plek is, bly jy solank hier.’ Bokka knik net sy kop.

Toe die vrou in my oë kyk en vra waarmee sy kan help, het ek nie woorde nie. Dis die eerste keer dat ek vir ’n niksvermoedende mens moet sê my seun is dood en hoe moet ek dit doen? Is hy oorlede? Het ons hom verloor? Is hy weg? Terwyl ek nog wonder, hoor ek my eie stem: ‘Ek weet nie eintlik wie my waarmee moet help nie. My kind is eergister dood en hy het ten minste een rekening hier gehad. Wat staan ons te doen?’

Onmiddellik versag haar oë en raak sy my aan met ’n warm kyk, vol opregte meegevoel. Ek weet…hierdie vrou verstaan. ‘Ek het nie woorde nie, maar in my hart beleef ek jou seer, want ek ken dit ook.’ Ek weet dat ek weet, die Here het haar vandag na hierdie hoekie toe gestuur en my oë na haar laat draai. Sy wil ons sommer self help en ek roep vir Bokka uit die stadige ry uit.

Haar stem is soos salf vir die kerwe in my hart. Die sekerheid waarmee sy vrae vra en aantekeninge maak is die krukke vir my bewerige bene. Sy vra nie net oor sy banksake nie, sy wil ook weet van die mens wat hy is. Nee was.

Binne ’n halfuur, is sy motorfinansiering afgelos uit sy spaarrekening, al sy rekeninge gesluit en ’n versoek gerig om die voertuig se registrasie dokumente te laat kom. Hy het toe nooit, in al die jare, my volmag op sy rekeninge gekanselleer, wat hy al in sy hoërskooldae aan my toegeken het nie. Ek wens in my hart ons kan die horlosie terugdraai na daardie dag.

Ons weet presies watter aftrekkings maandeliks uit sy rekening gedoen is en watter dokumente ons moet opspoor. Ook wie ons kan gaan sien om te help met die boedelbereddering. Ons is bemoedig en innig dankbaar dat ons voor haar te staan gekom het. ’n Mens wat onvoorwaardelik omgee. ’n Engel.

Môre sal ons na sy woonstel moet gaan, maar môre is nog ’n dag. Daarvoor sal ons vra vir God se genade en vars krag.




Stories gebeur met my. Rondom my. Naby my. Al wat oor bly is om dit oor te vertel.

1 Kommentaar

Maak 'n opvolg-bydrae

Up
Top Ranked Users

[joinup_core_top_members columns=”1″ space=”no” max_members=”3″ behavior=”columns” columns_responsive=”predefined”]

Activity Feed