
‘n Oogwink.
Dis Woensdagmiddag. Pas na ses vanoggend het ek my sitplek bespreek. Byna presies vier-en-twintig uur voor die vlug. Môre is die dertiende. Nie ’n slegte dertiende soos die bygelowiges glo nie. Inteendeel, ’n heerlike dertiende, want sien, ek is besig om te pak en gaan môre by my Bokka in die Afrika-bos kuier. Vir ’n hele drie-en-half weke en die skoenlappers fladder in my maag en die opgewondenheid broei in my stem.
Deur die dag stuur ons kort-kort vir mekaar Skype boodskappe. Onthou die en daai…..sal ek dit en dat nodig kry…..is dit nodig om hangers te pak…….hoeveel handdoeke is daar…..en…en….en. Ek werk ’n lysie teen die yskas, ’n lysie in my handsak en ’n lysie in my kas gelyktydig deur.
Ek moet onthou om die tydskakelaars op te stel. Om die sekuriteitsmaatskappy te laat weet wie hulle moet bel, sou die alarm gil. Al die bure moet boodskappies kry sodat hulle oë en ore kan oophou vir ongewenstes. Die tuin moet nog ’n slag goed natgemaak word sodat vriendin-oppasser darem eers oor ’n paar dae hoef te kom.
Teen drieuur is ek slaggereed en bel nog gou weer die taxi wat my môre-oggend vieruur moet oplaai, om te bevestig dat hy nie een minuut na vier sal kom nie. Ek stel sommer by voorbaat twee selfone vir drie voormiddag. Alles wat nog gou môreoggend gebruik en ingepak moet word staan netjies bymekaar en op aandag vir die groot uittog.
Ek het so vinnig gewerk, dat ek nou besef hierdie dag en aand gaan gans te lank wees om deur te kom en om te kry. Opslag besluit ek om nog vir die laaste keer vanaand die selgroep vergadering by te woon. Daarna kan ek stort, hare was en blaas, en duik vir die bed om ’n kort nagrus in te kry. Om hierdie rede besluit ek en Bokka dat ons skuins na vyf sommer gou van sy kantoor af sal Skype. Die volgende keer wat ons sal praat sal môreoggend van OR Thambo af wees, na my vlug van die Kaap af, geland het. Daar sal ek Mopani-myn se privaat vliegtuig haal tot in Ndola en vandaar die bus, tot in Kitwe.
Ek raak doenig met ander dinge en toe ek weer op my horlosie kyk sien ek dis al twintig oor vyf. Ek skarrel studeerkamer toe om te sien of Bokka dalk gebel het sonder dat ek gehoor het. Dis vreemd…baie vreemd. Daar was geen oproep nie en boonop is hy ook van lyn af. Dit kan net een van twee dinge wees. Of hy het van my vergeet, of Zambië se krag is weer morsaf.
In antwoord op ’n WhatsApp verduidelik hy dat hy nou op pad huis toe is en dat ons oor twintig minute kan gesels. Ek wip sommer my stert hier in my allenigheid, want dit beteken hy het van my vergeet en huis toe gery sonder om eers te bel. Verdomp.
Teen sesuur het ons nog nie gepraat nie, maar die moontlikheid dat hy iewers in verkeer sit, is goed. Ek sal maar moet wag. Intussen eet ek sommer ’n stukkie wors wat in die yskas was, want ek is g’n lus om nog kos te maak ook nie.
Skuins na ses hoor ek voetstappe. Dis vreemd, want ek het nooit vandag die hek oopgemaak nie. Voor ek die voordeur kan oopsluit sien ek dis ons dogter. My eerste gedagte was dat sy dalk in die omgewing was vir sake en besluit het om tog gou net weer vir Moekie te kom groet. Dis heel moontlik.
Ek sluit die traliehek ook oop en vra: ‘waar kom jy nou vandaan en hoe het jy ingekom?’ Haar gesiggie lyk effe stram, maar die verkeer was seker erg die tyd van die middag. Dis gewoonlik so.
‘Ek kom van die werk af.’ Haar stem klink ook gespanne.
‘Was jy hier in die omgewing vir iets? Is daar fout?’ Hierdie keer knik sy net haar kop en gryp my vas. Sy bewe soos ’n riet.
’n Honderd dinge gaan deur my kop. Moontlike redes. In haar skouer vra ek: ‘Wat makeer?’
‘Dis Morgan…..’ is al wat sy sê? Dis my seun!
Teen my beterwete vra ek: ‘was hy in ’n ongeluk…..is hy siek…..wat….WAT?’
In ’n oogwink tuimel die huisie van kaarte ineen. ‘Hy’s dood!’ huil sy dit uit.
‘Hoe?’ gil ek.
“Hy’t homself gehang…’ en toe bars die dam se wal.
Ek wil dit nie hoor nie. Ek weier om dit te aanvaar: ‘Hoe weet jy? Dit kan mos nie wees nie! Wie het vir jou gesê dis so?’
‘Sy baas het my gebel. Die mense van Namibië het laat weet.’ Dan moet dit so wees, maar nee….NEEEEE!
Morgan was tans besig met ’n projek vir sy maatskappy in Aussenkehr.
My eerste gedagte: ‘Ons moet vir pa laat weet!’
‘Hy weet. Ek het hom gebel. Ek het hom belowe ek sal self vir jou kom vertel.’ Skielik het ek hom vreeslik nodig, maar ek staal myself. Ek moet kophou. Ek moet dink wat ek nou moet doen. Wat van my reis en my vliegtuigkaartjie?
Ek moes dit hardop gevra het want kinta sê: ‘Moenie nou daaroor bekommer nie. Tiaan sal dit vir ma kanselleer.’
‘Dan moet ek nou vir tannie Annamarie laat weet dat ek nie meer die sleutel vir haar sal bring nie.’ Sy laat my begaan. Ek vind haar naam en bel. Sy antwoord byna onmiddellik. Ek maak keel skoon voor ek praat: ‘Anna, ek sal nie meer vanaand die sleutel vir jou kan bring nie, want daar het ’n aaklige ding gebeur.’
‘Ek weet. Is Lauren daar?’ Skielik voel ek dom. Dof. Wanneer het ek beheer oor my lewe verloor? Wie het aan enige iemand die reg gegee om alles te verander en oor te vat? Hoe weet almal, behalwe ek? Ek bevestig en sy sê sy is ook op pad na my toe.
Sonder om te dink bel ek vir Bokka. Ek moét met hom praat. Ek moet sy stem hoor, dan sal ek weet of hierdie storie dalk net ’n siek grap is.
‘Hallo…..’ stilte. Hy praat nie en ek hoor hom snuif.
‘Lauren is nou hier.’
‘Dankie tog,’ weer stilte. In ’n baie skor stem sê hy: ‘This is wrong…this is so very wrong!’
Ek weet. Ek besef. Dis alles waar! Niemand skeer sommer net gek nie.
3 Kommentare
-
Anze
Woorde het ek nie .... Mag God julle baie styf vashou, vir nou en altyd xxx
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
neels
Lynette my hart gaan uit na julle toe. woorde is daar nie maar vrae baie. Baie sterkte vir julle