Engel
Engel
Die bleekheid van die dag gaan ongemerk by haar verby. Groot trokke donder voort in die rigting waarin sy strompel op die pad langs haar. Sy lek haar droë lippe af. Haar gedagtes warboel en chaos sonder vorm.
Engel lig haar oë langsaam op van die gruis en teer. Die son se hitte stu ou oliereuke in haar neusvleuels op. Sy voel hoe die naar in haar opstoot. Sluk hard. Sy lek weer oor haar lippe. Voel hoe die sout van haar sweet in die sny op haar lip ingaan en brand soos ‘n gloeiende kool vuur. Haar hart
slaan trom in haar ore. Lighoofdigheid oorval haar met rukke en dan gaan sit sy op die grond en wag tot sy beter voel.
Sy voel hoe die aarde begin tol. Die lig verklein tot swart en sy word wakker eers baie later toe dit reeds donker en koud is. Dis nog ver. “Here ek kan nie duimgooi nie. Ek kan nie. Help my”! Sy druk haar stadig op met haar hand. Miere het begin nesmaak in die braaksel wat drooggeword het op haar
klere. Sy skud met afsku die flinke werkers, wat heen en weer hardloop om hul nuutgevonde kosvoorraad na veiligheid te karwei, van haar af. Sy kom moeisaam orent en moet ‘n paar tellings wag voordat die aardbol ophou tol en kantel. Haar voete beweeg uit die mag van gewoonte. Herhalend steeds
vorentoe, sleep sy aan, koers na waar sy die ligte sien skyn in die verte.
Engel skop in die donker ‘n koeldrankblikkie raak. Haar gehoor is fyn. Sy buk af in die rigting vanwaar die blikgeluid klingel-kletter. Voel-voel tot sy die blik opspoor. Sy lig dit hoopvol na haar droë lippe. Die blikkie lewer enkele
tartende spatsels en hang dan leeg terwyl sy dit rasend van die dors begin skud. Sy gooi dit eenkant terwyl ‘n gevoel van histerie aan haar begin knaag.
Dit is seker al amper nege uur. Sy hoor in die verte ‘n wildedier wat onheilspellend grom. Engel kyk terug oor haar skouer. Dis te donker om enige iets te eien. Sy sien slegs die buitelyne van als teen die naglug. Skielik hoor sy die gekraak van blare in die bosse wat om haar groei in die veld.
Haar hart klop wild in haar ore. Sy probeer fokus en staar na die plek vanwaar die geraas gekom het. Die bloed sypel uit haar gesig weg en sy gewaar meteens die beweging digby haar. Die silhoeët van ‘n manspersoon kom vinnig nader. Sy voel hoe die lug uit haar longe gly en dan hoor sy haarself gil. Maalkolk gedagtes flits deur haar verwarde brein. Die ooreising en spanning slaan toe en sy probeer hardloop maar die klippe pynig haar kaal voetsole.
‘n Hand vou om haar arm. Sy voel hoe sy omtol en dan is sy vasgegryp in ‘n greep teen die indringer se bors. ‘n Groot hand word oor haar mond gedruk. Haar gille word beangs en benoud gesmoor in haar keel. Sy kry nie asem nie. Wit flitse bars teen haar oogballe vas. Die donker suig haar bewusyn saliglik weer in en sy weet nie toe die vreemdeling haar in sy arms opswiep en met haar wegstap in dieselfde rigting waar hy vandaan gekom het nie.
Frans Beekman wonder bekommerd hoekom die fyn wese in sy arms stoksielalleen so laat in die nag daar langs die pad in die donker voortgestrompel het. Sy roofdier skerp oë het haar gevolg vir byna driehonderd meter voor hy sy pas begin versnel het om haar in te haal.
Hy kyk af in die stikdonker. Hy kan slegs haar gesig se vorm uitmaak in die skrapse lig van die paar sterre wat flikker. Sy het amper geen gewig nie. Veerlig. Haar kaal arms voel yskoud waar sy hande daarop rus. Hy dra haar terug na sy bakkie wat langs die pad geparkeer staan. Versigtig tel hy haar in en maak haar gemaklik teen die sitplek. Sy is steeds bewusteloos en gly stadig tot teen die deur wat hy toegemaak het. Frans leun oor die bewustelose figuur en maak ‟n stukkie gaas nat met ontsmettingsmiddel uit sy noodhulpkissie. Hy vee die sny op Engel se lip daarmee en maak ook die krapmerke en wonde aan haar bene en hande skoon. Hy klim agter die
stuur van die voertuig in, draai die sleutel in die skakelaar en hoor hoe die enjin brullend lewe vang.
Hy ry agteruit en draai die stuur pad se kant toe. Sy strak uitdrukking sigbaar in die truspieëltjie wat vir hom loer. Frans stuur die voertuig in die rigting van die ligte wat flikkerend lok op die nagkim.
Engel begin kreun op die sitplek. Haar nek is pynlik van die ongewone posisie waarin sy teen die deur gelê het. Dit neem ‘n paar oomblikke voor sy besef dat sy in ‘n bewegende voertuig is. Die reuk van ontsmettingsmiddel
trek op in haar neus. Angssweet slaan uit oor haar lyf gevolg deur hoendervleis laag op laag. Sy wil gil maar haar tong kleef aan haar verhemelte vas. Dit dring tot haar deur dat die vreemdeling haar niks aangedoen het nie. Engel se gedagtes flits terug na verlede Woensdag. Sy het gestap om DVD’s uit te neem wat sy en twee vriendinne wou kyk. ‘n Blok van die winkel het sy gewaar dat sy agtervolg word deur ‘n paneelwa met twee mans. Sy het vinniger begin stap en toe sy om die hoek van die gebou swenk het sy haar tromp’op vasgeloop in ‘n vreemdeling. Sy onthou die lap en daarna eers weer toe sy bygekom het in die donker klam stoorkamer. Buite kon sy geluide van diere en vêr weg stemme uitmaak.
In haar arm het sy die naald ontdek wat steeds daar gehang het en haar bloed het yskoud geraak in haar lyf. Sy het sukkelend regop gebeur en haar vermoede het in nagmerrie werklikheid ontplof toe sy ontdek dat haar
onderlyf nie geklee was nie. Haar hande was agter haar rug vasgebind met bloudraad wat haar arms geknel het. Die val van voetstappe het haar laat besef dat sy ‘n plan moes maak om haarself te red. Sy het in dieselfde posisie gaan lê as wat sy wakker geword het en haar oë toegemaak.
Engel was stoksielalleen en baie baie bang.
Die stoorkamer se deur het oopgevlieg en twee mans het binne gestap. Een van hulle het oor haar kom leun, haar ken vasgegryp en haar gesig na hom gedraai. “Sy is nog bewustelloos,” het hy gesê. Hy het haar op haar sy gedraai en haar hande losgewoel uit die draad. Die ander man se voetstappe het nader gekom. Hy het haar voete vasgevat en haar opgelig. Die een by haar arms het haar arms vasgevat en hulle het haar uitgedra na buite om haar terug te laai in die paneelwa wat sy voorheen gewaar het.
Engel het met al haar krag haar lyf reguit geveer en haar onverwagse beweging het gemaak dat die twee mans haar laat val. Sy het blindelings ‘n klip raakgegryp en begin slaan. Die eerste man het agteroorgeval met bloed wat bokant sy slaap uitsypel. Die ander man het met ‘n verwarde uitdrukking na haar gestaar, toe omgevlieg en laat spaander om hulp te gaan soek.
Sy het haar romp sien uithang by die paneelwa se skuifdeur dit opgeraap en gehardloop vir al wat sy werd was. Haar hortende asemhaling het soos vuurwalms opgeslaan uit haar longe en haar gedwing om haar pas te verminder toe sy honderde meters se afstand tussen haar en haar kapers
afgelê het. Engel skok terug tot die hede toe Frans se stem troostend
tot haar deurdring. “Goeienaand meisiekind jy is veilig.” Rou snikke het uit haar borskas losgeskeur toe sy die sagte woorde hoor. Engel het bitterlik begin ween. Die skok, angs, trauma en ongeloof oor al die gebeure het haar op eenslag met ontnugterende besef getref. Sy het deur die trane in haar gedagtes die dankbare wete gehad wat deurdring en tot in haar siel ingesink het dat daar ook engele op aarde is. Engele wat mens beskerm en dra.
Geestelik en fisies. Ja ook dat daar sonder enige twyfel ‘n hoër hand betrokke was in haar lewe op hierdie spesifieke dag en elke ander dag van haar lewe. ‘n Lewende Redder wat elke ander situasie beheer en oorheers en wat haar steeds lief het ongeag waardeur sy geleef het. Lief het sonder weerga en onvoorwaardelik, want sy is geskape deur hom en na Sy
kosbare beeld.
Vlietend hang die gedagte in haar kop: “Ons Redder kom”. Silwerblink trane het opnuut oor haar wange gespoor – trane van dankbaarheid.
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.