Jongste aktiwiteit:

Verbrokkelde werwels of geheueverlies

Esmeralda bekyk haarself in die kleedkamer spieël en die pyntrek in haar oë word duidelik terugweerkaats na haar. Op 45 jarige ouderdom voel sy andersins perdfris en gesond en nog vol energie om saam met haar kinders krieket en netbal te speel, dis net hierdie alewige pyn in haar rug wat haar menige dae onderkry. Dis nou al geruime tyd dat sy probeer om dit te hanteer sonder enige medikasie, maar na die naweek se koppie klimmery en baljaar saam met die kinders, is dit vir haar duidelik dat sy dit deeglik oordoen het. Sy besef ook dat sy seker maar die stadium bereik het dat die gees gewillig is, maar die vlees nie suksesvol saam wil speel nie. Mens besef nie aldag hoe vinnig die tyd verbyvlieg en mens nader beweeg aan die halfeeu merk nie. Sy skrik vir haar eie gedagtes dat sy een van die dae die vyftig merk gaan haal. Tog is sy nie spyt oor alles wat sy vermag het tot op hede nie. Sy het ‘n suksesvolle loopbaan, ‘n liefdevolle eggenoot en ‘n kroos wat sy vir niks ter wêreld sal wil ruil nie, dat hulle haar gryshare vinniger laat deurskemer, is nou nie altemit nie. Sy smeer vars lipstiffie aan en beweeg terug na haar kantoor maar elke tree is egter pynvoller as die vorige een. As sy maar net deur hierdie dag kan kom.

Die daaropvolgende week moes Esmeralda noodgedwonge ’n rugspesialis besoek omdat die pyn ondraaglik geword het in haar rug. Op ’n skaal van 1 tot 10 was dit 15. So word sy gediagnoseer met Schaeurmann’s (‘n steurnis in die plaatformasie van die werwels, gewoonlik in die torokale gebied) Die rugspesialis verduidelik in diepte wat dit behels en in ‘n stemtoon wat klink asof hy die doodsvonnis oor haar uitspreek. Haar moed sak in haar skoene en dis nou nie asof sy nie geweet het dat daar iewers wel groot fout is nie. Dalk wou sy dit net nie hoor nie en innerlik gehoop dat dit iets nietig is wat met medikasie reggestel kan word. Sy het dalk te lank uitgestel, maar was dan ook skrikkerig vir die betrokke diagnose en die eindresultaat. Die geneesheer beveel inderdaad ’n operasie aan om die werwels te heg maar sy skop teë soos ‘n steeks muil en stap uit die spreekkamer met slegs ’n voorskrif van spierverslappers wat die pyn hopelik sal verlig. So het almal haar immers leer ken as hardkoppig en iemand wat nou maar eenmaal haar eie kop volg. Aan haar laat sy nie sommer sny nie (Laat mens onomwonde dink aan Tolla van der Merwe se grappie “Van my maak jy nie ‘n kanoe nie”!). Sy skets die prentjie voor haar geestesoog dat sy eerder boggelrug sal aanploeter as om kietsregop te wees asof sy ‘n besem ingesluk het en dalk nie eers kan buk om haar eie skoene vas te maak nie. Dan is daar ook die moontlikheid dat daar opeenvolgende operasies sou wees indien die werwels verder geaffekteer sou word en noodgedwonge aan die eerstes geheg moet word.

Sy vertoef ‘n wyle in haar voertuig terwyl sy terugdink aan wat hierdie rugprobleem moontlik kon veroorsaak het. Dan is dit meteens glashelder en sy onthou asof dit gister was dat sy op jong ouderdom aan gimnastiek en atletiek deelgeneem het en soos met enigiets anders wat sy aanpak, gefokus het op goud en op daardie stadium nie gedink het aan komplikasies wat later van tyd onvermydelik sou intree nie. Ja sy het alles ingesit in haar oefeninge en optredes teen ander skole en instansies want sy wou presteer, maak nie saak wat dit verg in die proses nie. Het sy maar toeka tot die besef gekom dat dit nie gesond is vir die rugwerwels om ooreis te word nie. Wie sou dan ook raai dat sy eers twintig jaar later die vrugte sou pluk van haar onbesonne dade en ooreising van een van die belangrikste bewegende onderdele van die lyf. Mens voel mos jonk en as daar nie skete en pyne op daardie stadium is nie dan gaan mens voluit of die afrigter nou waarsku of nie. As sy toe maar geweet het wat vir haar voorlê sou sy definitief briek aangedraai het, maar daar is geen nut huidiglik om oor water onder die brug te staan en redekawel nie. Die diagnose is gedoen en daar is niks wat sy op hierdie stadium daaraan kan verander nie.

Sy skakel die voertuig aan en ry terug na haar kantoor waar sy haar pligte hervat vir die dag alhoewel sy ‘n sieknota tot haar beskikking het wat haar drie volle weke verlof toestaan. Met haar spierverslapper saam met die dubbel koffie, gaan sy voort asof daar geen vulkaniese uitbarsting net bo haar sitvlak genereer het nie. Die medikasie werk vir ‘n wyle en dan skiet daardie brandpyn weer deur haar laerug soos geboortepyne. Niks kan haar egter stuit om haar verpligtinge teenoor die maatskappy getrou na te kom nie, aangesien sy in een van die bestuursposisies geplaas is omdat hulle volle vertroue in haar het. Kom reën wind of storms sy sal deurdruk. Dis egter asof die horlosie se wysers versteen het en die son wil maar net nie water trek nie. Miskien moet sy…. nee sy besluit weer teen ‘n pynvolle operasie en bene in die lug verkeer vir ten minste drie maande of selfs nog langer. Sy kan haar maar net nie hierdie benarde posisie indink nie.

Gedurende etenstyd verwittig sy haar man telefonies van die diagnose en verduidelik dat dit nie ernstig is en hy hom nie moet bekommer nie. Sy deel hom ook mee dat sy nie belangstel om die operasie te ondergaan nie waarop hy haar aanraai om dit sterk te heroorweeg aangesien hulle voortreflike medies tot hulle beskikking het en dat mens nie moet speel met so ‘n gevaarlike situasie nie, maar soos mans maar somtyds is, hoor hy net met die een oor of dan altans trek die betrokke woorde met die spoed van klank by die een oor in en die ander uit. Die ure sleep verby en sluitingstyd breek genadiglik aan. Sy ruim haar tafel op en weier om die hysbak na die grondvloer te neem. So trap sy die eenhonderd en vier trappe na onder asof daar nou niks aan is nie. Iewers binne fluister ‘n stemmetjie tog dat sy dalk die operasie sal moet oorweeg aangesien sy nie jonger word nie en die werwels se agteruitgang net kan eskuleer mettertyd. Maar hierdie selfde stemmetjie kry ‘n oelewapper van haar linkerbrein wat uit ‘n ander wereld is. Sy gaan haar eenvoudig nie laat onderkry deur ‘n nietigheid nie. Daar is eenvoudig geen maar geen manier dat sy drie maande plat op haar rug verkeer nie, wat gaan van die huishouding en haar werksverpligtinge word?

So arriveer sy die aand by die huis en vind dat die kinders heel vreemd optree teenoor haar. Hulle bly sinsnedes en gesprekke herhaal en die jongste praat skoon harder as gewoonlik. Almal is skielik abnormaal behulpsaam. Esmeralda is skoon van stryk gebring hierdeur maar begin met die voorbereiding van die maaltyd vir die aand waar sy staan en groente skil en die hoender stop om in die oond te braai. Die kinders vra egter kort-kort of hulle nie handjie kan bysit nie en Esmeralda is absoluut uit die veld geslaan want die roetine is dat sy aandete voorberei terwyl hulle die huiswerk kafdraf. Tussendeur loer sy in by die kinders om die eetkamertafel wat tjoepstil daar hul huiswerk vir die dag voltooi (wat ook nie normaal is want gewoonlik is dit ‘n geskerts of redekawel uit ‘n ander wereld tog nooit ‘n geveg wat onstaan nie want Esmeralda en dissipline is sinoniem) en gee ‘n handjie of dan ‘n aanmoediging waar nodig. Sy bekyk hulle van die een na die ander en beweeg met ‘n kopskud terug na die kombuis, waar haar wederhelfte aanbied om van hulp te wees. Soos gewoonlik wys sy dit van die hand want dit is gewoonlik tydrowend om hom te verduidelik wat sy presies benodig en daarom doen sy dit sommer op die ingewing van die oomblik en sonder om te erg te konsentreer. Die gemoedstoestande van haar kinders is egter vir haar vreesaanjaend en sy kan nie die kloutjie by die oor bring nie. Weet hulle dalk iets waarvan sy nie bewus is nie, iets wat haar bekommerd stem.

Na sowat ’n uur kan sy dit net nie meer verdra nie en nader haar oudste om uit te vind wat aan die gang is. Met ‘n dood ernstige gesig laat hy hoor: “ Pa het vir ons vertel dat die dokter gesê het Moeksie het Alzheimers en gaan maar goed vergeet en bietjie deurmekaar raak toe dog ons net ons sal bietjie meer help. Ons gee regtig nie om nie” Op daardie stadium verlaat sy die huis en gaan wandel in die tuin sodat die kinders nie moet agterkom dat die trane oor haar wange rol van lag en nie van huil nie. Waar op dees aarde sou hy aan so iets kom? Vertrou nou maar eenmaal ‘n man om inligting of dan ‘n belangrike boodskap hoepelkrom oor te dra en dit nogal aan haar kinders. Sy oorweeg dit vir ‘n breukdeel van ‘n sekonde om die situasie nie aan hulle te verduidelik en Gods water oor Gods akker te laat loop want die hulp en stilte is tog welkom so nou en dan, maar dan kom sy tot haar sinne en kry hulle jammer want hulle is dan nou waarlik diep bekommerd oor haar.
Dit laat ‘n warm gevoel om haar hart want daar is tog soveel ouers wat met probleemkinders te make het en met hulle hande in hul hare sit. Sy is opreg dankbaar teenoor haar Skepper dat sy wel geseënd is met haar kroos wat ook maar streke het soos enige ander kinders, maar waar dissipline inkom, is hulle nou maar eenmaal tops.

Nadat sy haar rug behoorlik weer in ‘n pynvolle boggelrug gelag het, stap sy die huis binne en roep die kinders bymekaar. Wederhelf is besig in die televisiekamer om met die nuus op datum te kom aangesien hy heeldag en aldag die land se probleme probeer oplos sonder enige sukses. Sy probeer haar bes om aan hulle te verduidelik dat hul Pa die kat aan die stert beet het en dat sy nie Alzheimers, maar wel Shauermans- siekte het. Hulle kyk haar een na die ander vraend aan en wil weet of dit dan erger as Alzheimers is. Esmeralda stel hulle gerus dat dit net haar rug is wat pyn maar dat haar verstand nog geen agteruitgang toon nie. Na hulle sug van verligting gaan die atmosfeer weer voort soos in die verlede voor die diagnose en sy dank die Vader dat sy nie Alzheimers het nie.

Sy beweeg na die televisiekamer en neem plaas op die stoel se leuning langs wederhelf. Hy kyk haar bekommerd aan en wis nie wat hierdie reaksie uitgelok het nie. Sy weet nie hoe om die kwessie te benader nie en val toe sommer met die deur in die huis. “Kyk my ou man, volgende keer neem ek jou na die dokter om eers jou ore skoon te spuit alvorens ek enige diagnose aan jou oordra. Jy het die kinders verniet ontstel en my rug murmureer nou met dubbel die hoeveelheid pyn want ek het my amper in ‘n ander bloedgroep gelag toe ek hoor wat die eintlike rede agter my kinders se vreemde optrede is” Hy gee haar woordeloos en met ‘n skaam glimlag wat speel om sy mondhoeke, ‘n liefderyke drukkie en sy vergewe hom vir nou.




Ek skryf om leeg te word van wêreldse struikelblokke en voller te word met die talent wat my Skepper aan my toevertrou het. So glo ek dat mens tree vir tree en woord vir woord eendag weer oorwinning sal behaal.

5 Kommentare

Maak 'n opvolg-bydrae

Up
Top Ranked Users

[joinup_core_top_members columns=”1″ space=”no” max_members=”3″ behavior=”columns” columns_responsive=”predefined”]

Activity Feed