Die wens
Vicky maak haar oë stadig oop. ’n Vreemde geluid het haar wakker gemaak, amper soos iemand wat oor die houtvloer van haar slaapkamer loop. Sy steek haar hand uit na die selfoon op die bedkassie. Dis net na sewe en die sewe-en-twintigste Junie. Hoekom voel dié datum so bekend, so asof daar iets vandag moet gebeur of gedoen moes word. Die kamer is nog donker. Vicky draai om op haar ander sy en trek die kombers tot onder haar ken. Sy sal nog ’n rukkie lê tot dit begin lig word. Sy het hope skryfwerk wat moet klaarkom, maar die koue wintersoggende sit haar af. Sy sien nie kans vir haar eie gevriesde vingers op die sleutelbord van die rekenaar nie. Haar oë gaan toe en sy haal diep asem. Die snoesigheid van haar komberse trek haar weer terug na droomland.
Vir hoe lank sy geslaap het, weet sy nie, maar dit is helder daglig in haar kamer toe Vicky weer haar oë oopmaak. Koffie. Haar verstand druk die woord tot voor haar oë. Sy sal solank haar rekenaar gaan aansit en dan vir haar ’n koppie koffie maak.
Vicky strek haar bene onder die komberse uit. Wat voel dan nou so swaar hier op haar bed? wonder sy. Dit kan tog nie die bure se rondloper kat wees nie, sy het gisteraand vroeg reeds haar vensters toegemaak. Sy beweeg haar lyf effens en ja, daar voel sy dit weer. Daar is iets op haar bed! Sy draai haar kop versigtig in die rigting van die gewig. “Goeiemôre, Vlinder. Lekker geslaap?”
Vicky hou haar asem op, haar hart begin so wild klop, sy voel dit in haar wangbene. Sy knyp haar oë styf toe. Sy droom, dit kan nie wees nie. Dit is net ’n droom.
“Jy kan maar jou oë oopmaak, dis nie ’n droom nie.” lag hy.
Vicky skrik. Sy maak haar oë oop en sit vinnig regop. “Pa?”
Die man op haar bed knik. “Ja, my kind.” antwoord hy kalm. Sy blou oë kyk stip na haar, die glimlag op sy gesig is sag en vriendelik.
“Wat de hel maak jy hier?” vra Vicky en pluk aan die komberse en druk dit teen haar vas. Met die plukslag, ruk sy die kombers onder hom uit en hy staan vinnig op. “Jammer, my kind. Ek wou jou nie laat skrik nie.” maak hy verskoning en gaan staan by die voetenent van haar bed. Vicky gaap hom aan. Sy knip nie ’n oog nie.
“Jy kan loop…jou bene…jy is dan, was verlam. En jy’s dood! Al flippen ses jaar al!”
Weer knik hy net sy kop, die glimlag op sy gesig nog steeds daar.
“Wat gaan hier aan?” vra Vicky histeries.
“Jy het my laat kom, my kind. Onthou jy dan nie?” sê hy.
“Nee, waarvan praat jy?” vra Vicky en frons.
“Jou wens.” sê hy.
“Watse wens?” vra sy.
Hy maak sy keel skoon en antwoord: “As ek hom maar nog net een keer kon sien, ’n laaste drukkie gee of ’n vraag vra.” hy sê die woorde asof hy ’n toespraak van ’n papier aflees. Vicky se kop draai. “Ek verstaan glad nie wat hier aangaan nie.” sê sy. Die man loop en kom staan weer langs Vicky. “Mag ek?” vra hy en beduie of hy weer langs haar kan sit. Vicky antwoord nie, maar skuif tog op om plek te maak vir hom.
Hy gaan sit. “Jou wens,” begin hy; “Hierdie woorde, het jy dikwels gedurende die afgelope ses jaar gedink. Met verjaarsdae, hartseer oomblikke en selfs by jou twee vriendinne se troues. Elke keer as jy die bruid saam met haar pa die kerk sien binne loop het. Hierdie wens het jy ook gedink wanneer daar moeilike besluite was om te neem of wanneer jy foute begaan het en raad nodig gehad het.”
Die man se woorde dring tot Vicky deur. Dis waar wat hy sê. Sy het dit al baie gedink, nooit hardop gesê nie, maar net saggies in haar binneste losgelaat. En elke keer wanneer sy dié wens gedink het, moes sy erken dat sy na hom verlang. Dit kon sy ook nie hardop sê nie, want sy en almal om haar weet dat daar geen verhouding tussen haar en haar pa was nie, dat sy hom gehaat het.
“Maar jy haat my nie nou meer nie.” sê die man met ’n glimlag.
“Ek kan hoor wat jy dink.” verduidelik hy toe Vicky weer frons.
“Wel, moenie. Dit freak my uit. Asof hierdie hele…situasie nie freaky genoeg is nie.” Vicky laat sak die opgevrommelde komberse effens.
“Goed Vlinder, dan bly ek eers uit jou gedagtes uit.” sê hy en lag vir sy eie grappie. Vlinder. Die bynaam wat hy haar gegee het as ’n klein dogtertjie omdat sy sy altyd skoenlappers in die tuin gejaag het. Die bynaam het haar geirreteer toe sy ’n tiener was, maar vandag klink dit so anders, byna mooi. Vicky kom agter dat sy bietjie bedaar en dat die ergste skok verby is.
“Vir hoe lank is jy hier?” vra sy hom.
“Nie lank nie, net ’n rukkie.” antwoord hy.
Sy het al vergeet hoe sy stem klink. Al was hulle gesprekke meestal rusies en argumente, kon sy altyd na sy stem luister. Dit het haar laat dink aan donker leer banke en die reuk van hout en papier. Jy kon nie anders nie, jy moes luister. Sy hét geluister en dan het sy altyd kwaad geraak vir die goed wat hy gesê het.
“Is jy dan nog steeds kwaad vir my? Jammer, ek sal nie weer …”
“Nee.” val Vicky hom in die rede. “Ek is nie. Die kwaad en die haat is verby.”
“Dis goed.” sê hy. “So dit beteken ek is vergewe?”
“Ja, jy is.” antwoord sy.
Vir ’n paar sekondes is daar stilte tussen hulle. Vicky sit en kyk na haar oorlede pa. Sy kan nooit vergeet hoe hy gelyk het nie, want sy kyk elke dag na sy ewebeeld in die spieël. Sy het sy blou oë, skerp neus en bruin hare. Sy het sy vinnige humeur ook. “Nou toe,” onderbreek hy haar gedagtes; “wat is die een vraag wat jy my graag sou wou vra?” Vicky haal diep asem en krap in die gedagte kamers van haar verstand rond. Wat wou sy die heel graagste by hom weet? En dan, asof dit vanself kom, rol die vraag oor haar lippe; “Hoekom het jy nooit opgehou drink nie?” Hy draai sy kop weg van haar en kyk by die venster uit.
“Hoekom hou jy nie op drink nie?” vra hy.
Die vraag is soos ’n klap teen haar kop. “Moenie my vraag met ’n vraag beantwoord nie en anyway, ek is nie jy nie, so moenie ons situasies vergelyk nie!”
Die man kyk weer na Vicky. “O, maar die situasies is presies dieselfde, my kind. Jy doen presies wat ek gedoen het; stel uit vir die dag van môre. Môre sal ek ophou, môre sal ek weer begin, môre sal ek myself regruk en dan…eendag, is môre nie meer daar nie.” Hy skuif nader aan Vicky en vat haar hand. Sy kyk op in die blou oë. Haar pa se oë. Sy sluk hard om die knop wat in haar keel opstoot weg te kry. Sy hand voel warm om hare, nie koud soos sy gedink het dooie mense se hande sou voel nie. Met sy ander hand vee hy oor haar wang en Vicky besef dat dit ’n traan is wat hy afgevee het. Sy laat sak haar kop, want sy kry skaam. Dooie mense kan seker als van daar Bo af sien, so hy sal weet presies wat in haar lewe aangaan. Hy sal weet hoe lank sy met haarself baklei het om nié soos hy te wees nie. Hy sal weet van al die kere wat sy misluk het in haar poging. Hy sal weet.
Die trane hardloop nou vrylik oor haar gesig. Die man trek haar nader en druk vir Vicky styf teen hom vas. Die bekende reuk van Old Spice en Rum and Maple tabak kielie haar neus. Sy gooi haar arms om hom en druk haar gesig in sy nek. Vicky huil in oorvloed sodat die snikke laterand haar lyf seer maak. Die man sê niks. Hy vryf oor haar rug en laat toe dat sy haarself leeg huil. Vicky sit terug teen haar kussings en vee die nattigheid van haar gesig af. “Dankie.” sê sy. Hy glimlag sag vir haar.
“Sit net so, ek bring vir jou koffie.” sê hy, staan op en loop by die kamer uit. Vicky hoor hom in die kombuis doenig raak met die ketel en die bekers. Sy sug. Al is hierdie hele gedoente vir haar baie vreemd, voel sy tog ewe skielik baie kalm. Dit is asof ’n diepe rustigheid oor haar kom lê het. Sy gooi die komberse van haar af en staan op. Sy sal vir hulle ontbyt maak en dan kan hulle verder gesels. Daar is so baie wat sy hom wil vertel en so baie wat sy hom wil vra.
Vicky loop kombuis toe. “Pa?” roep sy toe sy hom nie daar kry nie. Geen antwoord nie. “Pa, waar is jy?” roep sy weer. Stilte. Die skinkbord langs die ketel trek haar aandag. Dit is mooi gedek met ’n koppie koffie en ’n bordjie beskuit. Langs die koppie is ’n briefie. Vicky neem dit en vou die papiertjie oop.
‘ Jou môre begin vandag.
Liefde, Pappa.’
5 Kommentare
-
-
neels
Helena dit is n goeie storie maar kyk na jou paragrawe. hulle is te lank n onthou om n reël tussen paragrawe oop te laat
-
Toom
UItstekend! 'n Goeie tema, en dit mooi vertel. GvT
-
Ronel Janse van Vuuren
Goed gepen. Net 'n skrywer sal dit nie vreemd vind dat iemand van die doderyk vir hulle kom kuier nie ;-)
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
Viooltjie
ai, nou moes ek 'n traan afvee met die mooi slot :-) Ek het die storie geniet :-)