Welkom, Besoeker
Welkom, Besoeker

Titel: Gatiep se brandewyn

Deur Palet
Datum gepubliseer: 12 November 2018 Aantal woorde: 1505 783 Kere gelees 3

“Kom Gatiep! die son trek water, ons moet voor sononder terug wees op die plaas.”

Antie Koot is haastig vanoggend sy het ‘n hele string dinge om te doen op Bloemfontein so honderd en veertig kilometer van Koffiefontein af. Haar oudste dogter se vyfde kind word Sondag gedoop en vir hulle is dit ‘n groot affêre, nie sommer net ‘n doop, nee daar word gespog en uit hul pad gegaan om dit ‘n baie spesiale dag vir die nuwe kleinding en sy ouers te maak. Gatiep werk al jare vir die familie, so tussen die plaas en die dorp is hy al ‘n legende, almal ken hom hy is ‘n goeie ou siel wat mens nog kan op staatmaak en vertrou. Hy span gou die donkie kar in, die donkies se name is: Maraai, Donkie, Boeta en Amen. Amen is ‘n anderse donkie, hy’s steeks met tye en dan weer vol streke. Hy wil net sy eie ding doen, hy hou niks van reëls en wanneer jy op om skree dan draai hy net sy rug op jou en maak of hy niks hoor of sien nie.

“Kom hier jou astrante nikswerd donkie! Daar is nie vandag tyd om dwars te trek nie, dis ‘n lang pad wat wag, en ons moet wikkel. Kom oubaas se mooiste ou donkie, hier’s ‘n lekker suigstokkie vir jou.”

Hy weet al wanneer dit sulke tyd is,dan moet Amen gewoonlik gesoebat of omgekoop word. Met ‘n spoed kom Amen aangedraf, en lek ewe gulsig aan die suigstokkie. Nie lank daarna is al die donkies ingespan en hulle val in die pad. Halfpad stop hulle by ‘n baie gewilde padstal. Die donkies word losgemaak behalwe Amen, hy balk aanmekaar en gee so ligte skop met sy agterpoot. Baie vies dat hy nie saam die res van die lekker groen gras kan vreet nie. Gatiep pluk ‘n groot pol uit en sit dit voor hom neer, ‘n groot bak water ook. ‘n Koddige figuur kom uit die stalletjie, met ‘n warm glimlag groet hy opgewonde.

“ Mŏre! Wat ‘n verrassing om julle weer te sien. Kom sit hier onder die koelte boom dan skink ek vir ons elkeen ‘n lekker koue glas gemmerbier.”

“Dagsê Jan, groet Antie Koot. Mensig maar dit warm hier in julle kontrei , die kraaie gaap behoorlik van die hitte. Bly om jou weer te sien, hoe gaan dit met jou vrou en die kinders?”

“Geen klagtes dankie, die kinders is besig en vroulief is weer swanger. Ons kan nie wag vir die klein Pistoorsie se opwagting nie, vyf dogters hoop en bid, dit gaan die keer ‘n seun wees.”

Na ‘n lekker kuiertjie, voel hulle weer uitgerus en afgekoel, en is reg vir die pad. Auntie Koot koop eers soos oudergewoonte ‘n paar van Jan se geurige koffieboon sakkies. Sy is bekend vir die Antie wat die lekkerste koffie maak op Koffiefontein, kuiermense en selfs kinders gaan kuier gereeld by haar net om van haar geurige koffie te kan drink.

So teen 12 uur kom hulle in Bloemfontein aan, die mark is hulle eerste stop. Gatiep laai bokse vars vrugte en groente agterop die donkie kar. Hulle plaas winkeltjie is ‘n groot inkomste en trek gereelde kliënte. Na ‘n heerlike middagete, stop hulle by die drankwinkel. Gatiep moet ook sy voorraad aanvul vir die maand, Antie Koot skud net haar kop toe hy in die drankwinkel verdwyn. Sy het al moed opgegee om vir hom te bid, die Liewe Heer seker ook.

Die weer steek op en ‘n sterk wind begin waai, half bekommerd probeer Gatiep die donkies vinniger laat draf. Hulle het nog vyftig kilometer om te ry, en dit lyk of dit enige oomblik gaan reën. Vinnig kyk hy rond vir skuiling en sien ‘n groot ou boom. Net betyds daar gekom toe sak ‘n bui reën uit. Dit weerlig en blits gevaarlik om hulle, dit is ‘n hewige donderstorm.

Antie Koot is nou maar eenmaal nie baie lief vir sulke storms nie, en toe daar weer so harde slag slaan gryp sy Gatiep aan die arm en klou angstig aan hom vas. Hy probeer haar kalm hou, maar is self skrikkerig vir swaar weer. Die volgende oomblik breek ‘n tak af in die boom bo hulle, en val met ‘n harde slag langs hulle neer. Die donkies raak heeltemal uit beheer en vat die pad, tervergeefs probeer Gatiep die leisels styf trek.

“Hokaai hokaai! Skreeu hy benoud.”

‘Ag Heretjie tog help ons net,” prewel Antie Koot spierwit in die gesig.

Sy klim behoorlik onder Gatiep in en hou haar kop styf vas. So in die hardloop gryp Gatiep sy brandewyn bottel en vat paar groot slukke, hy het nou wragtig rede om te drink dis ‘n noodgeval. Auntie Koot dink ook dis nou of nooit en vat self ‘n paar slukke, verbaas kyk Gatiep na haar en begin lag. Hulle lag later so lekker dat hulle skoon vergeet van die weer, selfs die donkies begin kalmer raak. So sit hulle dan nou daar in die reën vir ure, en wag dat dit bedaar en ooptrek. Toe die son se strale flou agter die wolke deurskyn, sluk hulle die laaste bietjie brandewyn. Dit was ook die laaste sien van haar sy’t tussen die bokse groente en vrugte verdwyn en aan die slaap geraak. Gatiep het net geglimlag en verder gery.

Dis reeds laat en donker toe hulle op Koffiefontein aankom. Antie Koot se jongste seun kom aangehardloop toe hulle deur die plaashek ry. Intussen het sy bygekom en kreun en steun toe sy probeer regop sit. Sy kyk verskrik om haar rond, en het geen idee waar hulle is nie. Haar kop voel nie deel van haar lyf , so effense “floating” gevoel. Gatiep en Eben help haar afklim, maar die volgende oomblik val sy soos ‘n dooie os hard op die grond neer.

“Ma, ma! Roep Eben benoud, jy moet probeer opstaan dat ons jou in die kooi kan kry.”

Gatiep vertel so kortliks vir Eben wat gebeur het, van die storm en die brandewyn . Eben kry sy ma vreeslik jammer, hy het ook eenkeer so gevoel, en belowe om nooit weer sy mond aan sulke sterk drank te sit nie. Met ‘n groot gesukkel het hulle haar op die bed neergelê, en die kombers sag oor haar gegooi. Daardie nag het Gatiep soos ‘n klip geslaap, hy was so moeg na die dag se gebeure dat hy skoon vergeet het om die donkies uit te span, gelukkig het Eben dit toe gedoen.

Die volgende oggend, skrik Antie Koot wakker en vlieg uit haar bed. Sy trek die gordyne oop, en die helder sonlig laat haar terugdeins. Dit is Sondag en vandag is die doop van haar kleinkind, tref dit haar met ‘n slag. Daar is nog so baie dinge om te doen en dis al sewe uur, sy gryp haar kamerjas en loop, nog half onvas op haar voete na die kombuis. Eben het klaar ontbyt gemaak en gee vir sy ma ‘n sterk beker swart koffie.

“Mŏre ma, en hoe voel ma se kop vanoggend?”

“Voel of ‘n trein my getref het, en in twee gedeel het, my lyf en my kop soek nog na mekaar, spot sy. Ek sit nooit weer my lippe aan brandewyn glo my, dis ‘n gevaarlike doepa daai. Maar ek moet sê, dit lyk my dit werk met swaar weer, jy hoor en sien later niks meer nie, alles raak net dof en vaag. Die stilte vou jou toe in ‘n digte wolkombers, en jy slaap vas soos ‘n baba.“

Die oggend in die kerk voel soos ‘n ewigheid, die dominee kry net nie end met sy preek nie. Na die doop is almal plaas toe en wonder hoekom Antie Koot so stil is. Die kinders mag nie raas nie en die grootmense moet sag praat. ‘n Heildronk word ingestel op klein Charmaine se doop. Antie Koot sien nie kans vir nog drank nie, en vat ‘n sluk van haar koeldrank. Sy lyk maar bleek om die kiewe, en het glad nie ‘n eetlus nie. Dit was ‘n baie lang dag, en toe die laaste gas ry slaak sy ‘n sug van verlugting.

‘My kind, maak vir mamma ‘n lekker sterk beker koffie ek gaan nou in die kooi klim. Wil vroeg slaap vanaand, ek wil die babbalaas lyf van my afskud, lag sy. Nou kan sy verstaan hoekom mense hulle sorge probeer wegdrink, mens vergeet van alles, ‘n ontvlugting van die realiteit. Die nagevolge is ergter nie so aangenaam nie, daarvan kan sy ook nou getuig. Na ‘n heerlike beker koffie, lees sy uit haar bybel. Sy lees ‘n stuk uit Psalms, dit is nie ‘n sonde om alkohol in matigheid te drink nie….”

Eben loer by sy ma se kamer in, sy slaap al, die bedliggie brand nog en op haar bors lê haar bybel. Sy oog val op die skrif, en hy glimlag toe hy die bybel toemaak en saggies in die bedkassie bêre.




TEMAS
1 Kommentaar
  1. Anze

    19 November 2018

    Pragtig, baie dankie vir jou bydrae tot die November 2018 projek

Laat u kommentaar

GESKRYF DEUR

Jy moet ingeteken wees om boodskappe aan hierdie skrywer te kan stuur.

Publikasies: 421
Kommentaar telling: 357

Waar die see en die horison ontmoet, sal die gedruis van die oseaan in die suis van die wind stil raak.. Dis hier waar my drome my woorde in die binnekant van my siel kom lӗ  

Horison Media

AfriForum – Trotse borg van INK dig/skryf kompetisie

FAK – Trotse borg van INK dig/skryf kompetisie

Die Afrikaanse Taalmuseum & -monument – Trotse borg van INK dig/skryf kompetisie

Gebruikers Aanlyn

0 Lid, 134 gaste aanlyn

Bydraes – Argief