Stof van die Heimat
Keetmanshoop, oorstaanplek
verbasend hoe ‘n tussenstasie
se stof so aan jou hart kan trek
Met my aankoms lê die hitte dik en stil
Later, lus vir bier en Schnitzel
stap ek stofstraat na die Schützenhaus hotel.
Dis ‘n kleine museum van Duitswes-wees
foto’ s van ‘n Sportverein
uit die vroeë neëntienhonderds
laat my wonder:
Moes hul baie ver reis
oor die kaar bevolkte vlaktes
vir ‘n klein bietjie geselskap
en die stowwerige wedstryd?
Was dit so omkyk, omkyk
na die noorderlike vaderland
of was hul reeds pen gewortel
in híérdie Heimat se dorre grond?
Soos ek, in hierdie land gebore
my hart ‘n afgebakende kolonie
môre reis ek verder
met Keetmans se stof tussen my tone
1 Kommentaar
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
Anze
Pragtig, baie dankie vir jou bydrae tot die November 2018 projek