Goeters
Goeters
Die jaar is nog nie eers ‘n week oud nie en hier sit ek met ore so toe soos ‘n rubberprop in ‘n wasbak. Die wit wolke daar buite sanik al van die nuwe jaar sy verskyning gemaak het. Ek wonder nogal waaroor is hulle so hartseer. Ek weet waaroor ek hartseer is, maar wie wil tog nou hoor van verlange en alleenwees op die nuwe jaar se stoep.
Ek kruip bietjie dieper onder die donse in, want die koue knyp aan my tone. My vingers kry gelukkig genoeg oefening om warm te bly. My gedagtes vat koers na die jaar wat verby is.
Vandag ‘n jaar gelede het die goeters in my huis begin voete kry. Ek bedoel nou nie dat hulle, “die goeters”, wederregtelik geneem was nie, nee, darem nie. Boetie het mos besluit dis tyd dat ma en pa trek na groener weivelde. Letterlik en figuurlik. Hulle wil huis opsit, nogal nie watse huis, maar een met vyf slaapkamers. Die pastorie huis is aan hulle geskenk en hulle het niks meubels. So vir die volgende twee maande kom Boetie en sy lang-as-Venterwaentjie naweek vir naweek en skuif ons goeters. Natuurlik in die nagtelike ure sodat die bure nou nie begin skinder nie, want pappie het nog nie sy baas vertel hy gaan oor die waters na groener weivelde nie.
Afskeid neem van jou goeters lê nie in elke ou se skoot. Veral as ander mense nie dieselfde sentiment koppel aan jou goetertjies. Boetie se vroutjie het haar eie smaak so al die sentimentele goeters moet ander huise kry of sommer deelword van die asblik brigade. Ons vra ‘n randjie hier en daar vir die gewillige kopers want daar in die groen weivelde moet weer huis opgesit word. Nie dat dit eintlik baie help nie, want die anderkantland deel elke randjie in vyf-en-twintig dele.
Tog rus daar ‘n amper onnatuurlike saligheid oor my, as ‘n huisvol goeters verminder tot vyf tasse.
Hier waar ek nou sit met my rooi neus en my keel wat nie ophou blaf nie, is ek dankbaar, natuurlik met gemengde gevoelens, want ons vyf tasse het vermeerder en ‘n kleine pandokkie gevul met die nodige goeters, amper te veel na my sin.
Van goeters kan ek baie sê, maar miskien word dit ‘n storie van ‘n ander dag.
C Diederiks ©
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.