
SAL ONS DANS
SAL ONS DANS
Nou kyk – jy kan my in ‘n wip vang met dans; al van kleintyd al af! Ek was net vir Liewe Jesus liewer as vir dans. Dans was soos om met jou voete to bid; soos vreeslik baie liefhê; soos asem en lewe. Soos die vuur in my Hero se oë.
Maar. Toe.
Toe, nê. Toe kom Satynlakens.
En.
En vir 26jaar lank lê ekke met vasgebinde voete in elcheappo se gatsak; helemal wegverloor.
Maar. Toe.
Toe, nê. Toe kom Hy, my Lord of the Dance; en Hy kom dêps my terug – en maak my Syne.
En ek kon weer dans; die Paso Doble – my gees was vry en daarom het my binnekant anders leer dans met die Messias van God; meer intiem. Meer volkome. Meer passievol. Meer – sommer meer alles.
Maar. Toe.
Toe, nê. Toe kom die Teerstrate.
Wintersnagte se buiteslaap. Die wilde koudkry
Die malword-bang. Die weggooi. Die vernedering…. Die… Die bendeverkragting.
En. Toe.
Toe, nê. Toe staan ek een oggend op en… EN Liewe Here, my God; my gees kon nie meer dans nie – haar voete het stom, kreupel gestaar na die silhoeët, die passie van ‘n dans (met Hom) nou helemal wegverloor.
Maar. Toe.
Toe, nê. Toe ink my Sielsambok ‘n briefie en my wise-ass hart gee dit vir ‘n Sho’t Left-engeltjie om in die Hemel se posbus te gasn gooi.
Messias Jesus; my Lord of the Dance
Geliefde, my kosbare visie van suiwer verrukking – asseblief, my Messias; tot die vasgestelde tyd wanneer my voete weer herstel sal word om glorie van dans op Jou Voete te ervaar: Leer my om te dans met my twee kreupele voete!
Leer my, Hero; leer my die Genesis en die openbaring van ‘n passie wat sal bars uit my wees. En verlok my met die wilde skoonheid van Jou volkome Majesteit. Laat Jou (ons) liefde die dans wees. Jou Onverdunde Teenwoordigheid my musiek; en Jou salwing die moed om te wees wie ek is en wat ek is – in Jou ; as gevolg van jou. Luister – hoor die huil van my vrouweesgemaak (die Enigma om Jou bruid te wees)… Here. held; LEER MY OM TE DANS MET MY TWEE KREUPEL VOETE !!!
Word die hartstog; my hartstog wat kan raak aan Onbeperkte Realm van Jou Liefde – ons Liefde geskryf in Bloed.
En. Toe.
Toe, nê….. Sal ons Dans; geliefde van My Hart?!
Kyk mooi na jouself, liewe Bokkie my babie; en mag die liefdesritme van Sy hart jou wees altyd verlok om te dans.
©Liza Daniells
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.