VANDAG VETSIT EK NET WOLKE
VANDAG VERSIT EK NET WOLKE
Gegroet… My naam is Laika; koningin van Faikonta.
Ek het ‘n versoek uit Grootmensland gekry om so ‘n tiekie se bietjie te gesels oor wolke…. Nou – volgens koninklike wet word geen grootmens in Faikonta toegelaat (of enige inligting oorgedra) as daar nie ‘n afdruk van sy of haar hart in ons Grootboek is nie. Slegs kinders is welkom in my koninkryk; omdat en oordat – wel, die meeste grootmense se verbeelding werk andersters en word gyselaar gehou deur verkeerde waardes, neonbeton en stomgepreekte spoke van roem.
Maar omdat die mense uit Grootmensland wat die versoek gerig het, se harts-afdruk wel in die Grootboek is; het ek besluit om die verbod te lig vir die tuimel-val van ‘n paar uurglas sandkorrels deur my vingers.
En, seblief, kyk en luister met jou hart – andersters gaan dit niks eers werk nie…. Nou. Omtrent so halwe katspoegie en ‘n rietmandjie vol se ongetelde oomblikke, is GeneraalMajoor Daantjie Donderbos se DonderwolkAkademie!
Oom Daantjie is ons almal hier se speel-speel oupa, en pure pret – ten spyte van sy militaristiese streep. Fier en regop nog (met net so effense boepie), ten spyte van sy ouderdom…. Ek lief oom Daantjie met sy groot bolwange van jare se donderweer maak. O ja, en sy wilde weglê snor wat so inkrul by die punte. Enne elke keer wat hy lag of ‘n ondeunde gedagte bedink, dan wip daai punte so liggies op en af😁
Die meeste wolkie-seuntjies is dan ook skaars uit die doek uit dan wil hulle al gaan aansluit by oom Daantjie se DonderwolkAkademie!
Elke dag pligsgetrou en entoesiasties klok hulle in; om te leer hoe om daai wangetjies net so bol te kan oppof soos hulle GeneraalMajoor s’n – totdat hulle sommer so blougrys in die gesiggies is. Hulle moet eers kan weet hoe, man. Dis vir wanneer hulle honor bright donderwolke is en hulle vog en ander reëngeheimlike-goeters in daai wangetjies moet kan bêre vir daai reënmaak-eksamen.
Maar die heel lekkerste in die hele-hele wêreld is wanneer hulle met hulle blikswaarde oefen om donderweer-geraas te maak. Jillend; en met skaterlag lekkerte swaardveg hulle met mekaar. Sommer baie middae word daar met blou vingers en knieknoppe huistoe gegaan. Veral die arme wolkie wat teen Linus moet swaardveg; joh. Want omdat en oordat, sien – Linus het ‘n mensmaatjie in Grootmensland. En Ronnie het eendag se ander dag ‘n fliek-ding gesien van ‘n ou wat verwoed met ‘n swaard kon fight, toe wys hy vir Linus ook hoe daai ou gefight het. Maar eendag is eendag, dan gaan Linus ook met blou vingers huistoe!
Maar daar is 1 wolkeseuntjie wat glad nie gelukkig is nie; klein Gielies. Sy hande is dom met ‘n swaard se vashou, en die simpel geraas maak sy kop eers seer. Enne dit maak hom bietjie bang ook. Nes vir Thomas, sy maatjie in Grootmensland – al stry Thomas en sê hy skrik niks nie. Maar dis omdat en oordat seuntjies in Grootmensland nie mag huil of wys hulle is bang nie – dis so simpel, hy kan dit nie verstaan nie. Maar hy kan sien Thomas is bang vir donderweer. Uhm – hy dink dis eers okay vir woefe om te mag bangwees; oordat Dogmatix sommer aan die bewe gaan en gaan wegkruip onder Thomas se bed.
Sien, klein Gielies wil eintlik ‘n mimiek kunstenaar wees. Of soos hy sê – ‘n mimmelmetiekmiek wolk wees. Hy wil prentjies met sy lyfie teken; sommer prentjies van woefe en skapies en karre en seilskippietjies; en goeters. Daar is ongelukkig net een probleem: GrootGiel en sy pa en sy oupa was almal voortreflike soldate in GeneraalMajoor Daantjie Donderbos se Akademie – ‘n trotse tradisie wat voortgesit moet word van generasie tot generasie.
Maar ‘n grootmens (al is dit dan nou ook ‘n wolk) se droom moenie ‘n kind se droom gyselaar hou nie. Ek het al vir Gielies gesien mimmelmetiekmiek (😁) – daai mannetjie het ‘n besonderse talent. So, môremiddag net so met teetyd se koers dan gaan GrootGiel ‘n amptelik besoek van Faikonta se koningin af ontvang!
…. Blaasoppie se blindederm met bi-focals, waar is my maniere?! Uhm – ek moes jou seker genooi het vir tee by my seehuis; maar ek doen ongelukkig nie Royal Albert nie en ek bly ook nie in ‘n paleis nie, ek is nie daai soort van koningin nie. Maar as jy tevrede gaan wees met Sunsparkle biscuits en Doudruppel koeldrank (met die branderbreek van die see in die agtergrond), dan is jy eers meer as vreeslikbaie welkom?!
Enne oppad kan ons gou ‘n draai maak by die wolkies se kleuterskool – dis tannie Woepsie (al jare se jare lank skoolhoof) se verjaardag vandag. En Arriegewarrie en die wilde Tortias – Faikonta se eie persoonlike VlooiBoyBand – gaan spesiaal vir haar hulle nuutste treffer: ‘Aanstap vlooie die hond is lank en maer,’ sing.
So hoe lyk dit, liewe Bokkie my babie; kom jy saam?
‘It’s too wonderful. It’s too marvelous – and it’s believed to be absolutely true in Fairyland.’ Môre sal ek weer berge versit; maar vandag gaan ek net wolke versit; plat op my rug lê en kyk hoe klein Gielies sy mimmelmetiekmiek oefen.
Hoe ookal, pas jouself mooi op; en mag die lewe vir jou goed wees daar in Grootmensland.
Laika
(©Liza Daniells)
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.