Netbal en Maskara
Netbal en Maskara
Marie val op haar bed neer met ‘n sware sug. Sy voel vandag swaarmoedig. Dit maak nie saak wat mens doen nie, as jy agter in die ry gestaan het toe talente uitgedeel is, gaan jy agterbly in die populariteit ranglys.
Sy trek haar skoolskoene uit en gooi die een oor die kamer. Die flippen babydoll skoen plof teen die oorkantste muur en los ‘n dowwe stofkol. Met ‘n sug staan sy op loop na die muur toe en vee die kol met die mou van haar skooltrui af, kyk na die skoen op die vloer, maar laat dit net daar lê en gaan val weer op haar bed neer.
Vandag is die netbalproewe. Nou nie proewe-proewe nie, nie vir ‘n provinsiale span of so iets nie, maar vir die eerste span. Sy speel al netbal van standard 2 af en al speel sy haar hart uit het sy nog nooit die eerste span gehaal nie, dit was ook nog nooit vir haar juis belangrik nie, maar hierdie jaar is anders. Hierdie jaar gaan die eerste hokkie, rugby en netbalspanne op toer na die Vrystaat. Dis ook nie die eerste keer in haar skoolloopbaan dat die eerste spanne op toer gaan nie en dit het ook nooit tevore op haar enige indruk gemaak nie, maar hierdie jaar wil sy ook op toer gaan. Al kan sy net as reserwe aangewys word vir die netbalspan, dit sal goed genoeg wees vir haar om te kan saam gaan.
Haar beste vriendin, Annelie, sal verseker op die toer gaan. Annelie speel al drie jaar lank vir die eerste span. Sommer al van standerd ses af het Annelie al saam met die matrieks en standerd neges in die eerste span gespeel. Annelie is sportief, en skraal, en mooi en Annelie is populêr. Sy is so populêr dat Willem haar na die matriekafskeid gevra het… en Annelie is maar in standerd agt. Vir ‘n standerd agt meisie om deur ‘n matriekseun gevra te word na sy afskeid beteken die meisie is populêr, of hoe?
Dis nou nie juis dat Marie matriekafskeid toe wil gaan nie, dis bloot toevallig dat Micheal in matriek is, net so toevallig as wat dit is dat hy vir die eerste span rugby speel. Ja, sy sou van hom gehou het al was hy nie in matriek nie en al het hy nie vir die eerste span rugby gespeel nie, maar nou is hy in matriek en speel hy vir die eerste span rugby en nou moet sy plan maak om op daardie toer te gaan, want dit is haar laaste kans om sy oog te vang.
Marie krap in haar kas opsoek na haar tekkies en diep hulle uiteindelik onder ‘n hoop sandale, kerkskoene en haar gunsteling trui uit. As haar ma moet sien hoe haar kas lyk sal sy die aapstuipe kry. Marie trek haar asem in toe sy die netbalrompie toeknoop. Flippit, sy wou daardie knoop al verlede week geskuif het, maar sy het vergeet. Miskien, as sy toilet toe gaan sal die romp nie so styf sit nie…
Haar ma het al weer vergeet dat sy netbal oefening het en is nog nie by die huis nie, wat beteken dat sy al weer moet fiets ry na die skool se sportgronde toe. Nou sal sy al weer moeg en natgesweet by die sportgronde aankom. Kon sy nie net vandag onthou het nie?
Annelie kom aangehuppel toe sy vir Marie sien.
“Vandag moet jy jou hart uitspeel Marie. Dit sal great wees as jy ook op toer kan gaan. Dink net, ons kan ‘n kamer deel…”
“Ek sal probeer…”
Hulle speel vandag ‘n rondomtalie wedstryd waarin meisies gedurende die wedstryd uitgehaal en ingesit word. Marie se hart sak in haar skoene toe sy nie van die eerstes is wat ‘n gekleurde frokkie kry nie. Marie is dadelik oortuig dat die onderwyseresse haar nie eers vir die span oorweeg nie. Trane prik agter haar ooglede. Annelie bly vir die eerste rondte in, en die tweede en steeds word Marie nie geroep nie. Die knop in haar keel groei tot dit voel asof sy ‘n tennisbal ingesluk het.
Sy weet sy is nie vinnig genoeg vir die senter of vleuel posisies nie maar die tweede span het hulle laaste wedstryd gewen en dit omdat sy wat Marie is drie uit drie balle in die net geskiet het. Miskien was dit net ‘n vloekskoot, maar ten minste moet dit vir haar ‘n kans verdien om vir die eerste span te speel, of hoe?
“Marie de Beer. Kom meisiekind, ons het nie die hele dag om vir jou te wag nie.”
Marie skrik so groot toe sy haar naam hoor dat sy amper oor haar eie voete val toe sy opspring. Sy pluk vinnig die geel frokkie oor haar kop en draf op die veld. Die onderwyseres het haar na die doelpaal gestuur en vir die eerste keer voel Marie of sy ‘n kans staan, dis nou as die geluk vandag weer aan haar kant is.
Marie se oë rek toe sy sien wie die doelverdediger is. Lora is een van die plastics in die skool. Hoewel sy ontken dat haar hare gekleur is weet almal dat dit is en die onderwyseresse het haar al vele kere laat uitstaan omdat sy onderlaag of maskara aan het, maar Lora kom keer op keer met haar nonsens weg omdat sy ‘n model is, haar pa die burgemeester is en haar ma op de skoolkomitee dien. Dit weet almal ook. Lora is ook ‘n kop langer as Marie.
Marie herstel egter vinnig van haar skok toe sy Annelie na haar hoor roep en sy is net betyds om die bal op haar te sien afpyl. Soos blits gryp sy na die bal en swaai op haar tone om na die doelpale toe. Lora duik voor haar in en begin haar arms wild swaai. Marie probeer by haar verby loer maar die meisiekind voor haar is net te lank. Skielik laat sak Lora haar een arm en gryp na haar linkeroog. In daardie breekdeel van ‘n sekond doem die netbalpaal voor Marie op. Sy knyp haar een oog toe, maak dit weer oop en gooi. Die bal sweef geruisloos deur die lug en Marie hou haar asem op. Toe die bal deur die middel van die ring val en deur die net glip blaas sy haar asem uit en draf terug na haar posisie. Lora kom kop onderstebo terug gestap, haar linkeroog is rooi en trane stroom oor haar wang.
“Is jy okay?” vra Marie saggies.
“Niks met jou te doen nie…”sis Lora deur haar tande.
Weer blaas die fluitjie vir die volgende afgooi. Marie draai haar rug op Lora en hou die vordering van die bal stip dop. Annelie kry die bal weer in die hande en die keer het sy nie nodig om na Marie te roep nie, want Marie is reeds gereed vir haar. Sy vang die bal behendig en swaai doelpaal toe. Lora kom met een oog toe aangewaggel en swaai lusteloos met een arm in die lug rond. Marie gee een toelaatbare tree vorentoe en gooi. Weereens trek die bal in ‘n perfekte boog en glip deur die ring en net.
“Yes! Yes!” skree Annelie en pomp ‘n vuis in die lug.
Die onderwyseres blaas op haar fluitjie en roep na Lora. ‘n Kort gesprek volg en hoewel niemand kan hoor wat gesê word nie is dit duidelik dat die onderwyseres goed omgekrap is. Lora pluk haar rooi frokkie oor haar kop en gooi dit op die grond voor sy van die veld af storm. ‘n Ander meisie word terug geroep en die wedstryd gaan voort.
Marie gooi nog twee doele voor die eindfluitjie blaas. Die meisies word vyftien minute gegee om water te drink en te rus voor hulle weer op die veld moet vergader vir die aankondiging van die eerste span. Marie en Annelie gaan sit onder die boom en hou die onderwyseresse dop. Die drie vrouens staan ernstig en praat. Uitendelik blaas Mev Marais op haar fluitjie en die meisies draf terug veld toe.
“Die volgende meisies is gekies vir die eerste span en moet more oggend voor skool by my klas aantree vir ons eerste vergadering. Sarie Vorster, Petro van Niekerk, Annelie Pretorius…” Marie voel hoe die naarheid in haar keel opstoot en haar hart in haar ore klop.
“Laaste maar nie die minste nie, Marie de Bruin.” Marie voel hoe haar wange gloei, sy kan dit nie glo nie, maar voor sy tot verhaal kan kom dring Mev Marais se stem hard en dringend haar gedagtes binne.
“Luister vir my mooi meisies. As ek een van julle met grimering op die veld vang is julle uit, summier, sonder waarskuwing. Julle het gesien wat ‘n klein stukkie maskara kan veroorsaak. As Lora nie vandag maskara aangehad het nie het sy dalk span gehaal, maar nou ja, wie nie wil hoor nie moet maar voel. Welkom in die span meisies…”
Kopiereg L Lexow 2018
1492 woorde
3 Kommentare
-

Ano
Mooi! Dankie vir die lekker storie <3
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
Anze
Pragtig, baie dankie vir jou bydrae tot die Desember 2018 projek