Lewenskring van ‘n ma en dogter
Die lewenskring van ‘n ma en dogter
Gelewer deur ‘n strakgesig man
het die nuus my hart bereik
en nes gemaak
wortels gegroei
om nooit weer los te raak
vir jou het ek met my saam gedra
‘n klein stukkie mens in my buik
Deur diepe waters en donker tye
het jy soos ‘n neet aan my vasgeklou
maar kleine handjies
het groot geword
en stadig my rokspant laat los
die wêreld het sy septer geswaai
jou van my weggelok
Al word jou gesig nou net ‘n skim
bly ‘n kamer in my hart
net vir jou bespreek
gevul met jou liefdesdinge
elkeen ‘n kleinnood met jou reuk
gevlek met my moederstrane
onder ander pyne weggesteek
Nou is dit die laaste strek na die einde
en jou plek bly steeds leeg
woorde van hoop
beloftes en smekinge
val op onvrugbare grond
die doodsengel swaai sy sekel rond
my hart nou vir ewig leeg
Kopiereg L Lexow 2018
1 Kommentaar
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
Anze
Pragtig, baie dankie vir jou bydrae tot die Desember 2018 projek