STRANDLOPER
STRANDLOPER
Geskryf deur Fanus Strydom
1532 woorde
Ek sien die man ʼn entjie voor my langs die water se skuimlyn aangestap kom. Behalwe onstwee is die strand verlate. Tóg sien en hoor ek lewe oral om my. ʼn Groepie meeue kras lui-lui bo my kop verby op die ligte oggendbries. Voor my voete skarrel ʼn krap haastig uit my pad uit vlakwater toe en waai na my met een omhooggeligde knyperpoot.
Iets aan die man se stap laat my terugverlang na hom…
Die manier hoe hy met sy kop half skuins-vooroor gebuig loop, asof hy soek na iets in die sand. Sy hande losweg agter sy rug inmekaar gevou en die breë paar skouers vier en regop teruggetrek. Trots. Die windjie pluk-pluk aan sy bekende pikswart kuif en hy vee daarna met een, groot hand en stoot die hare weer versigtig terug in hulle plek in soos net hy dit wil hê. Langs my breek ʼn skuimwit golf meteens en stoot die koelblou nattigheid hoog teen my enkels op. Ek skrik half en verloor amper my balans. Toe ek opkyk staan hy voor my.
“Pa?”
“ Fanus.”
“Wat maak Pa hier?”
“Ek stap langs die strand. Tel skulpe op. Kyk hier…”
Hy vroetel in sy broeksak en hou sy hand na my toe uit. Drie blinkwit skulpe rol om en om bymekaar verby in die groot, bekende palm van sy oopgestrekte hand.
“Maar Pa is…”
Ek soek na sy oë, maar met die son reg agter hom verblind die helder lig my toe ek probeer opkyk na hom.
“Dan stap ek maar weer aan,” hoor ek hom groet, terwyl ek die blindheid en die trane uit my oë uit probeer vryf met die agterkant van my hand. Toe ek weer opkyk is hy weg. Uitgestrek op die sand voor my lê nou net die spoorlyn van sy groot, kaal voete as getuie dat hy ooit daar was. Die spoor loop al die pad strandlangs tot waar dit in die verte agter ʼn rots verdwyn. Ek draf haastig langs die spoorlyn langs opsoek na hom, maar dan spoel ʼn volgende brander opnuut weer teen die sandlyn op en vee als weer skoon om my tot niks.
Langs my in die water vang iets my oog en ek gaan staan om te kyk na die plek iewers agter die branders se deining. Met my oë op skrefies getrek soek ek na waar die beweging was, maar sien niks. Dan duikel die dolfyn meteens reg voor my voete uit die vlakwater op en kom lê laggend voor my op die blinknat sand.
“Bly om te sien jy’s terug,” hoor ek hom sê en sien die blydskap in sy blougroen oë.
“Carlito!” hoor ek myself opgewonde roep en voel die dankbaarheid klop in my hart. “Ek is ook bly!” Ek val op my knieë langs my blinknat vismaat neer en soen hom op sy laggende snoet. “Waar is Kia? Is hy ook hier?”
“Daar bo,” rol hy een blou oog na bo en lag weer sy wyebek lag, “waar anders?”
Vêr bo my kop hoor ek die bekende roep en kyk opgewonde teen die helderblou hemel in. Hoog vanuit die vlieswit wasigheid kom die pikswart spikkel vinnig nader en swiep in ʼn wye draai bo my kop verby. Ek spring regop in die vlakwater en draf uit op die strand, terwyl ek hom bly volg in sy wye draai. Die arend kom land ligvoets ʼn entjie voor my in die spierwit sand. Hy rangskik eers weer sy pluimwit vere netjies terug op hulle plek in op sy oopgestrekte vlerke, voordat hy hulle versigtig oor sy rug toevou. Toe hy opkyk na my sien ek myself vir ʼn oomblik terug-weerkaats in sy ou-bekende, geelbruin oë. Dan kom hy half-lomp op twee frisgeboude bene na my toe aangehuppel. Toe hy voor my kom staan buig hy sy kop laag vooroor en maak sagte koergeluide diep uit sy keel uit. Ek sak stadig op my knieë neer voor hom en streel saggies oor die goudgeel pluim op sy kop tot waar dit teen sy breë, swart rug tussen sy vlerke in verdwyn.
“My vriend,” groet ek hom en proe die soutigheid van my eie trane op my lippe. “Ek het so verlang na jou.”
Hy wriemel sy geveerde kop onder my vingers uit en vroetel met sy snawel in die fynwit sand tussen my tone. Daar tel hy ʼn blinkwit klippie, soos ʼn glinsterende diamant, uit die sand uit op en hou dit in sy bek na my toe uit. Die son se strale weerkaats ʼn kaleidoskoop van reënboogkleure uit die klippie uit en speel-speel daarmee oor my bruingebrande vel.
Dan raak ek bewus van sy teenwoordigheid agter my.
“Angelo?” sê ek sag sonder om om te draai.
“Dit is ek,” hoor ek sy bekende stem. Nou vreemd helder en naby. “Ek groet jou in lig en liefde. Welkom terug.”
Vir ʼn oomblik staan ek so kop-onderstebo op my knieë en laat toe dat die woorde insink in my binneste in. Dan kom ek stadig regop en draai na hom. “Is ek terug?”
“Jy is terug. Als het goed verloop.”
Ek sien meteens weer die oneindige dieptes van die hele skepping in sy grysblou oë. Peil weer die onmeetbare verskeidenheid van die ganse heelal met al sy sterrestelsels, planete en sterre en voel hoe dit my onkeerbaar al hoe dieper in sy grenslose wese intrek.
“Hoe lank was ek weg?” snik ek sag en voel my skouers ruk.
“Sestig jaar, drie maande en twintig dae.”
Ek lag meteens by sy bekende berekendheid en laat toe dat hy my styf teen hom vasdruk.
“En vyf ure, twintig minute en drie en dertig sekondes om presies te wees,” se hy sag en druk dan my kop liggies teen sy skouer neer. Die oomblik verander in ʼn ewigheid en ek verloor myself daarin. Gewigloos en vir ewig verlos van tyd en dimensie laat ek toe dat die blydskap en liefde uit sy hart uitvloei na myne toe. Dan druk hy my stadig weg en kyk diep in my oë:
“Wil jy sien wat het gebeur?”
“Ek wil,” antwoord ek sag.
“Stap saam met my…”
Hy sit een hand op my skouer en ons begin stadig langs die strand afstap.
“Hier, dis ver genoeg” sê hy en kom staan voor my. “Sit jou regterhand op my hart.” Hy wys my waar om my hand te sit en doen dan dieselfde met sy hand op my hart. “Maak toe jou oë.”
Ek sien myself ry in my getroue wit motortjie oppad plaas toe vir die Kersvakansie. Ek onthou vaagweg dat ek altyd gesê het ek haat dit om tydens die feestyd op die paaie te wees. Mense ry soos besetenes! Maar ek het my suster belowe ek sal díe jaar plaas toe kom. Dit is Desember 2024 en amper Oujaar.
“Ons wil nie hê jy moet so alleen wees nie,” het sy my weereens probeer oorreed.
“Maar ek hou van alleen wees…”
“Ja, maar dis nie reg nie. Ons verlang na jou, “ het sy aangehou.
Ek het uiteindelik ingegee. Ten spyte van die onrustige gevoel in my binneste.
“Goed sussie. Ek sal die jaar kom.”
Toe die linkervoorband van my motortjie bars het ek nie ʼn kans gestaan nie.
In my geestesoog daar langs die strand met Angelo se hand op my hart sien ek hoe die motor begin rol en hoe ek deur die voorruit uitgeslinger word soos ʼn lappop. Ek sien ook hoe my gees my liggaam verlaat die oomblik voor die ongeluk en hoe ek bo die toneel sweef asof ek afkyk na ʼn aksiefliek wat onder my afspeel. Ek besef dat daar geen pyn, of skok, of vrees teenwoordig is nie en dat ek al hoe hoër die lug in begin styg, totdat die toneel ver onder my begin vervaag tot ʼn lank-vergete herhinnering.
“Wil jy sien wie was op jou begrafnis?”
Ek skrik half toe Angelo my die vraag vra. Ek was altyd half benoud oor die dag. Wat as niemand opdaag nie?! Ek was maar ʼn alleenmens en het nie juis baie vriende, of geselskap gehad nie. Wel, nie die soort wat “normale” mense kon verstaan nie, in elk geval. My vriende was Kia en Carlito en Angelo en Chappies…
“Waar’s Chappies?!” vra ek meteens benoud. Hy was my getroue gidshond en sielsgenoot. En hy was verseker saam met my in die motor daardie dag. Ek het nooit sonder hom iewers heen gegaan nie…
“Fanus, haal diep asem…” hoor ek Angelo se rustige stem voor my. “Jy kan nie nou paniekerig raak nie. Bly by my…”
“Maar waar is Chappies?!” hou ek benoud voet by stuk en voel die paniek in my binneste.
Dan hoor ek sy bekende blaf hier onder by my voete. Voel sy sopnat lyfie teen my bene aanvryf soos hy die seewater uit sy ore uit skud.
“Hy’t net bietjie saam met Carlito gaan swem in die see. Jy weet mos hoe mal was hy oor water,” hoor ek Angelo saggies sê.
“Ag, dankie Here,” sug ek sag.
“Wil jy nog jou begrafnis sien?” vra Angelo weer.
“Neewat. Kom ons gaan. Ek is in die hemel.”
“Jy is, my vriend. Jy is.”
© Fanus Strydom
1 Kommentaar
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
Anze
Pragtig, dankie vir jou bydrae vir Januarie 2024 - OOP projek