SPITSVERKEER
SPITSVERKEER
ÉÉN SPITSVERKEER WAT DIE VERLOOP VAN MY LEWE VERANDER HET
Op 13 April 1954 het ek soos ‘n wafferse sopraan my koms in die wêreld aangekondig. Ma het my beskermend en liefdevol in ‘n kombersie toegedraai, en saam het ons in my trotse pa se ou moutorjie huistoe gery. Pa was agter die wiel, aan die stuur van sake. So ook het hy en ma die spitstye in my jong lewe bestuur.
My kindervoetjies het die paadjies op pa se plaas deurgetrap oor watervore deur vlaktes vleilande en oor die brug by die rivier. Oral was my kinderspore verewig in die sand van sorgvryheid.
Pa en ma het die spitverkeer in my vormingsjare gereguleer, tot op die ouderdom van 17 na my skoolloopbaan, waarna ek in die “motor” van verpligte millitêre opleiding moes klim en die bestuur van my lewe asook die spitstye wat sou volg aan ander moes toevertrou.
Nooit het ek kon dink die beitel van die lewe ongenaakbaar my sorgvrye voetpaadtjies van kindwees pynlik uit sou kerf. Hier sit ek uitgebeitelde soldaat “room van die land” – in my gees getatoeëer. Hoe naief kan mens wees ‘n gekamoefleerde leun glo!
Sal ek ooit daardie nag vergeet toe ek in die spitsverkeer van die realiteit vasgevang is? Ek was maar net 17 jaar oud, bang en onseker.
Glimmend soos ‘n paling in die maanlig het die aanloopbaan van die vliegveld in die sluier van die nag gelê. Vel blink gekleed het twee Vlossies gereed gestaan.
Die skrillende bevel van die “spitstyd-ofisier” het die stilte van die nag in flared gerasper, terwyl ons soos skimme na die Vlossies gehardloop het, onseker oor wat in hierdie spitstyd van ons lewens op ons wag.
Pa en ma het altyd al die spitstye in my jonglewe met sukses bestuur. Nou bestuur iemand anders my lewe, reg in die spitsverkeer van oorlog. Al waarmee ek toegerus was om hierdie spitsverkeer mee in te gaan was my valskerm en geweer op my rug, en in my hande, ‘n ruitverwysing, kompas en ‘n kaart.
Die Vlossies het ritmies oor die aanloopbaan gegly en die stilte van die nag bestyg. Elkeen was besig met sy eie gedagtes. Bulderend kom die bevel waarop ons na benede gespring het. Ek het van verligting gesug toe my voete vaste grond voel. Die nag lê stil gekokon in die web van onsekerheid. Skielik het die besef tot my deurgedring dat ek self die spitstyd wat op my wag verder moet bestuur. Onsekerheid hoonlag my gemoed, terwyl ek skuiling soek.
Vanuit die niet het Mirrages opgedoem en die fluweel van die nag in al sy nate oopgeskeur. Moederaarde het vreesbevange gespartel om ontvlugting uit die kookpot van verwoesting wyl bomme onafgebroke op haar bodem gereën het.
‘n Onheilspellend stilte het gevolg. Ek het ‘n hiëna koggelende hoor lag, en ‘n jakals hartroerend hoor tjank. Ek kon in die helder maanlig sien hoe aasvoës geduldig sit en wag. Die reuk van kryt en rook in die wind was bedelemend. Die skielike stilte was senutergend.
Die hel het skielik in al sy fondamente losgebars. Mortierbomme se flares verblyk die fluweel van die nag, verdoof die sterre se lig, minag die traan van die maan.
“Is dít die oordeelsdag? Hoe bestuur ek híérdie spitstyd van my situasie, sonder om seer te kry?” Weereens het ‘n bevel vlymskerp deur my wese gerasper:“maak skoon die puin!”
‘n Noodkreet verrys vanuit die puin:“Help my, samblief my… ” Toe ek omkyk sien hy hom; swaar gewond in die slag. Sy bruin oë smekende skuimwit poele van angs daar waar hy op sy knieë staan.
Oor my skouer hoor ek ‘n gelag terwyl die vyand; knielend, vreesbevange; om genade smeek: “Help my, samblief…” Ek worstel met my emosies, wil perspektief verloor in die dilemma van hierdie spitstyd waarin sekondes soos ure voel.
‘n Skoot knal skielik soos ‘n bliksemstraal vanuit die niet, en tref “help my, samblief… ” tussen die oë. Ek staan versteen van skok. Stukkies vlees en bloed spat oor my gesig.
In ‘n staat van skok, woede en ongeloof, sak ek op my knieë neer. My skouersruk van pyn en hartseer. Trane vloed my wange. Met my hande na die hemel uitgesrek, roep ek hardop:“My God; ek is jammer, ek konnie hierdie spitstyd bestuur, soos U sou wou hê ek moes, balsem “help my asseblief my…” in U genade o, Heer.”
Bedwelm deur die reuk van kryt; verskroeide vlees en bloed, prewel my lippe: “ skuus, “help my samblief”, ek was te laat om daardie bliksemse skoot te keer,vannag lê ek die tuig as soldaad neer; jou bloed is aan my hande.
In die krissis van daardie uur, het ek gevaal om die spitsverkeer van die situasie, te bestuur.
——-ooo000ooo——-
(© Pieter Mostert)
[Silwer]
1 Kommentaar
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
Anze
Pragtig, dankie vir jou bydrae vir Januarie 2024 - OOP projek