
My identiteit bepaal my doel deur Lynelle Clark
Identifikaie in vandag se lewe is baie belangrik.
Sonder ons identiteisboekie kan ons nie ‘n rekening oopmaak of stem nie. Om die waarheid te sê; daarsonder is ons onwettige burgers. Wanneer jy nie jouself kan identifiseer nie word jy beskou as iemand wat geen regte het nie.
Dit is net so waar van ons lewe. Sonder identifikasie weet ons nie wie ons is nie. Ons weet nie waar ons in pas nie of hoekom ons op hierdie aarde is nie. Baie keer maak ons die fout om te dink dat wat ek doen my identifiseer maar dit is ‘n misgissing en veroorsaak verwarring en in baie gevalle depressie, vernaamlik by vrouens en kinders. Jou beroep of hoe ander mense jou noem is nie wie jy is nie.
Wie is jy? Dit is ‘n vraag wat weer opgekom het die naweek.
Die antwoord kan veroorsaak dat ons ons beroep verander net om by die antwoord te kom. Ons kan dalk besluit om iets meer radikaal te doen soos wegstap vanuit ‘n jarelange verhouding. Wat vir jou geliefdes lyk asof jy jou varkies verloor het. Indien jy nog nie daarmee gekonfronteer is nie sal jy ook nie verstaan nie. Maar vir jou is dit die enigste manier om jouself te vind. Is dit reg? Is dit verkeerd? Net jy kan dit beantwoord. Want jy sien daar is nie ‘n regte of verkeerde antwoord nie. Daar is net; wat werk vir my antwoord. Daardie antwoord gee jou die vrede en berusting wat jy soek. Daarom kom baie mense dan uit die kas uit en vind skielik vrede te midde van al die probleme.
Indien ek nie uitvind wie ek is nie, sal die ander vrae nie beantwoord word nie. Wanneer ek weet wie ek is beantwoord dit die ‘hoekom’ vrae. Die ‘waarheen’ vrae en gee dit jou die vrede en rustigheid wat jou bly ontwyk het.
My identiteit het regstreeks te make met my doel. Die twee loop hand aan hand saam. Wanneer die een weg is, bly die ander een ‘n sluimerende roeping wat jy probeer vermy.
Dit is net wanneer jy stop, en dit in die oë kyk dat jy die antwoord gaan kry.
Na ‘n lang pad van my eie antwoord soek op die vraag: Wie is ek? Het ek op Efesiërs 1 en 2 afgekom. Hierdie keer was dit nie net goed genoeg om soos ‘n resitasie te leer nie, maar moes ek dit werklik glo. Ek moes dit my eie maak. Sonder daardie indentiteit kan al die ander titels my niks help nie. Net wanneer ek myself in God se woord vind kan ek weer leef. Vir my, moet vertroue ook in dieselfde sin genoem word. Sonder vertroue kan ek nie my identiteit kry nie en sal ek doelloos voort ploeter sonder enige kompas.
Vir my, is my identiteit opgesluit in Christus.
Net wanneer ek dit vasgemaak het kan die ander titels waarde hê. Hoekom? Want dit word onderstreep deur God se woord.
Ek kan nou met absolute sekerheid die volgende proklameer:
Ek is uitverkies.
Ek is ‘n geseënde.
Ek is ‘n gesalfde.
Ek is ‘n kind van God.
Ek is verlos en vergewe.
Ek het ‘n erfenis in God.
Ek is verseël in God deur die Heilige Gees.
Daarom weet ek wat is God se plan en doel met my.
Ek is lewend gemaak en wandel deur genade in geloof.
Daardie wete het rustigheid gebring. Die sekerheid dat God in beheer is van my lewe nou ‘n waarheid bo alle twyfel.
Mag dit so ook vir jou wees.
Kopiereg voorbehou.
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.