
Volkome Vrou
Wat presies beteken vrouwees? Vrouwees is vêr meer as biologie of geslag. Sy is spesie soos geen ander. In my werklikheid is vrouwees soms presies dieselfde en soms, lynreg verskillend as manwees. Onverklaarbaar, onverstaanbaar, onversoenbaar, verskillend. Met so wye verskeidenheid in verteenwoordiging, wie het die reg om te besluit wat vrouwees nou eintlik beteken?
Mense, die ‘hulle’ wat altoos sê, hulle klassifiseer vroue as tradisioneel, of modern, liberaal of konserwatief, feminis of non-feminis. Rein of sletterig. Die lys is so lank soos my arm en ‘n been daarby.
Verskoon my, maar mag ek seblief sê wat vrouwees beteken? Vrouwees is menswees en erkentlik wees oor die kompleksiteit daarvan. Mense is gekompliseerde wesens. Vroumense is die oortreffende trap daarvan.
Om vrou te wees is om jou swakhede te erken in ’n imperfekte wêreld. Dis ook om jou krag en mag te erken. Jou hartskrag, jou breinkrag, jou liggaamskrag. Én dat hierdie kragte verskil van vrou tot vrou en kultuur tot kultuur. Vrouwees beteken sterk wees, want jy gaan krag nodig kry.
Vrouwees is seker wees van jou verantwoordelikheid en wat jy in die lewe wil hê. Vrouwees is ook soms bang wees, maar om vrees nie toe te laat om jou te definieer nie. En ook niemand of enige iets anders toe te laat om dit te doen nie.
Soms geniet ek my vrouwees en soms sou ek manwees verkies. Meeste van die tyd voel ek soos ’n vreemdeling op planeet aarde. Om vrouwees in ’n boks te druk, is gans onmoontlik. Daai is ’n feit soos ’n koei.
Ek is plesierig en sarkasties, ongenaakbaar en gelykertyd dierbaar. Meestal selfversekerd, maar soms, tog o so skaam en ongemaklik. Ek hou daarvan om mooi te lyk en gevlei te word. Net die volgende dag weier ek om moeite te doen met my voorkoms.
Ek wil rugby kyk en as dit oor is, Swanemeer se ballet. Ek wil een oomblik ’n intelligente akademiese gesprek voer en net die volgende oomblik, my verbeelding vrylik te laat galop na kabouters en feetjies en ’n leeu wat praat. Ek wil n wetenskaplike feit aan die lig bring en kort daarna wil ek weet of ek my bruin stewels by my swart broek moet dra. Ek vra jou om eerlik te wees as ek vra of hierdie broek my laat vet lyk, maar ek verkies dat jy nie die waarheid praat nie. Ek wil hê jy moet my opinie vra, maar moenie van my verskil nie. Ek wil hê mense moet raai wat ek dink en tog wil ek onvoorspelbaar wees.
Ek wil sakevrou, ma, standvastige eggenoot en verleidelik minnares wees. Ek wil getroue sussie en betroubare vriendin wees. Maar meesal wil ek met oorgawe, kind van God wees.
Al hierdie dinge in een wese. Hoe sal enige mens ooit vrouwees verstaan, tensy jy vrou is. En selfs dan ook nie eers nie.
1 Kommentaar
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
Anze
Pragtig, baie dankie vir jou bydrae tot die Januarie 2020 projek