Lien Meiring se Swart Vrydag.
Lien Meiring se Swart Vrydag.
Ek vlieg uit die bed toe my alarm my wakker skree. In my kop merk al die merkies op my lysie af; opstaan, tande-borsel, aantrek, inkopielys, motorsleutels … So gryp ek na die gemaklikste klere en stapskoene vir die groot dag. My hare maak ek hoog op my kop vas sodat ek nie te warm kry so tussen deur die hardloop nie. Ek dink aan my inkopielys, of eerder wenslys wat teen die yskas vir my wag.
Met versnelde hartklop sluit ek my voordeur en drafstap na my motor onder die afdak. Vandag is die dag dat ek baie dinge gaan kry wat ek al so lank begeer!
Ek het ‘n begroting van R20 000, maar ek is bang dat ek dit dalk gaan oorskry. Vir daardie einste rede het ek ook ‘n kredietkaart of twee in my broeksak. Net vir ingeval!
Ek ry so vinnig as wat die spoedgrens my toelaat na die groot elektroniese winkel, maar ek sien dat daar reeds ‘n lang ry mense voor die toe deur wag. Haastig parkeer ek my motor, en hardloop behoorlik na die agterkant van die lang ry. Om my hoor ek hoe opgewonde die mense praat oor die ongelooflike afslag wat op die ruite geplak is: tot 70% op TV’s, rekenaars, selfone en al die ander nuutste elektroniese apparate op die mark.
***
Terwyl ek half ongeduldig in die ry, wat glad nie beweeg nie, staan dwaal my gedagtes na die AA-vergadering die vorige week. Ja, ek kry hulp by die AA-vergadering, nie vir alkohol nie, maar vir my koopverslawing. Ek onthou hoe ek deur die deure van die saal gestap het, vol moed dat ek hulp sal kry vir die probleem wat ek nie alleen kan hanteer nie. Daar was mense van al die vlakke van die samelewing.
Die vergadering het plaasgevind in ‘n rustige atmosfeer met sagte beligting, ‘n skerp kontras met die fel fluoresserende ligte van inkopiesentrums. Die stoele was in ‘n groot kring gerangskik. Ek het my plek ingeneem tussen mense wat nie aan my bekend was nie. In daardie oomblikke het ek egter heel tuis gevoel in die groep met gedeelde kwesbaarheid.
Die leier het ons almal verwelkom en ons aangemoedig om ons verhale met mekaar te deel. Ek het effens gesug voor ek my verhaal begin vertel het. Die verhaal van my stryd met die onweerstaanbare drang na winskopies! Ek het vertel hoe dit my hele lewe beheer het, hoe dit my finansies geknou het, en hoe ek bewus geword het dat ek hulp nodig het.
Toe die vergadering verdaag het, het ek ook inligtingspamflette en kontaknommers gekry. Ek het uitgeloop met ‘n gevoel van verligting en hoop.
***
Hoekom moet ek NOU aan die verdekselde vergadering dink?
Die deur swaai oop met geluide van die opwinding tussen al die mense. In my kop dink ek aan die items op my lys. Ek storm na die TV-afdeling, en daar is dit voor my! My hart klop behoorlik in my keel as ek na die 90-cm Slim Televisie voor my kyk. Die prys laat my van oor tot oor glimlag. Met arms wat wild deur die lug swaai, gryp ek na die laaste een op die rak. Die donkerkop man oorkant my kyk my aan met vyandige oë en ek verbeel my ek hoor ‘n gromgeluid van sy kant af kom.
Ek storm na die betaaltoonbank en voel-voel na my handsak. Ag nee! Waar is my handsak? Toe ek by die kassiere kom, besef ek nie dat dit die begin is van ‘n reeks van rampspoedige gebeure nie. Verlig tas ek na die bekende harde plastiek in my sak. Gelukkig het ek mos my kredietkaarte ingesit. Betaling vir die Televisie met die kredietkaart gaan maklik deur en ek haas my na my motor met my eerste skat van die inkopiedag.
Toe ek my motor bereik merk ek glasstukke op. Dit registreer nie lekker nie, maar toe kyk ek op en sien die gebreekte venster met die leë sitplek. Dit is waar ek my handsak vergeet het in my haas om met my skattejag te begin.
Die donkerkopman van die winkel staan skielik voor my, hy probeer my gerusstel, maar dit help niks om my beter te laat voel nie. My geld, kaarte, selfoon en ID is skoonveld! ‘n Skokgolf van hartseer oorval my. Hier staan ek, met ‘n televisie wat ek nie eers regtig nodig het nie en my hele wêreld in my handsak wat nou in een of ander skurk se hande is.
Swart Vrydag het nie net fisieke verlies vir my gebring nie, dit voel of ek ook ‘n stuk van myself verloor het. Ek probeer myself troos, maar voel oorweldig deur ‘n gevoel van hulpeloosheid.
Die les wat ek op Swart Vrydag geleer het is dat vrede nie aan spesiale aanbiedinge gekoppel kan word nie, soms verloor jy ‘n stuk van jouself in die proses!
Nooit weer sal ek deel in Swart Vrydag nie.
©MarleneErasmus
30/11/2023
(827 woorde)
1 Kommentaar
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
Anze
Pragtig, dankie vir jou bydrae vir November 2023 – OOP projek