
Goue simfonie. (SILWER)
In die lente, wanneer die son se strale soos goue vingers
oor die Wes-Kaap se landskap streel,
bars canolavelde oop soos ’n helder tapyt van geel,
blomme wat soos sonskyndae lag.
Die wind fluister deur die sagte heuwels van die Overberg,
en oor Swartland se vrugbare grond
staan die rye soos soldate in hul geel,
skoolbusgeel wat die horisonne omvou,
’n rustigheid wat diep asemhaal.
Hier, waar berge hul beskermende arms om die velde vou,
skilder groen en goud saam ’n asemrowende simfonie.
Die lug ruik na bloeisels se soet belofte,
terwyl bye se sagte gesuis die stiltes streel,
en in die hoeke van hierdie goue katedraal
breek lig deur soos ’n nuwe gebed,
suiwerheid wat elke siel met vrede omvou.
Die blou hemel, helder en sonder ’n wolk,
sprei oor die toneel – ’n strook van eindelose kuns.
Hier staan die siel stil, stil vasgevang
in die heldergeel en groen,
’n stilte wat aanraak en heel maak,
’n gedig geskryf deur die aarde se hand.
Die veld se goud raak aan jou binneste,
’n fluistering van vrede wat die wind bring.
Canola, die goue kroon van die Kaap,
nooi jou uit om jou hier te kom verfris,
om vir ’n oomblik te verdwaal in die sonlig
en weer jou eie lied te hoor.
©MarleneErasmus
09/09/2024
1 Kommentaar
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
Anze
Pragtig, dankie vir jou bydrae vir September 2024 – OOP projek