Ek was gister weer by Bettiesbaai
oor die silwer dam by Bettiesbaai
het ‘n vars wind – sonder ophou –
vanaf Kogelberg se kant bly waai
die reuk daarop was ‘n mengelmoes
van sout en vis
en seebamboes
*
soos smeulend amber rus ons liefde
(in afwagting . . . dat dit wéér ontspring)
net soos kelp drapeer oor ruwe rots
waar vlak branders breek
en spoelsag klots
*
bo die wit klip het ‘n meeu gedraai
toe weg gevlieg, die bloutes in
die swart voël was aan’t kras en kraai
en die strand –
oortrek met pikkewyn’
en ék
ek wou soos die kleinste spikkel
(vir die langste oomblik)
in daardie digste mis
verdwyn . . .
Carma Shaw
29 Maart 2016
12 Kommentare
-
-
Helena Mellet
Dié is 'n pragtige stukkie werk, Viooltjie!
-
Ch Nel Venter
Ek kon nie ophou lees nie. Pragtig.
-
Anze
Dis baie mooi, soos net jy kan!!! Baie dankei vir jou pragtige bydrae tot die Herfs projek
-
Boetiegoed
Carma, die digter wat al jou sintuie toets met hierdie pragwek! Baie mooi geskryf!
-
Kiekies
Man, jy dig g'n! Jy bou meesterstukke! Ek kan voel en sien en hoor en proe en ruik!!!
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
neels claasen
Toe ek die opskrif sien toe weet ek, kan net Carma wees wat ons weer met haar pragwerk trakteer