Jongste aktiwiteit:

Hanna se otterjasie jaar

Hanna se otterjasie-jaar

Hulle dink verniet dat sy nie hoor wat hulle oor die koektafel fluister nie. “Bitter, oujongnooi, suur, lewensmoeg…” Ja die susters hou hulle verniet so heilig. Teetyd by die kerk is alles behalwe heilig en as ou Dominie steeds daar was sou sy al lankal gaan kla het, maar die nuwe dominie is ‘n perd van ‘n ander kleur.

Tant Sus, ou Dominie se vrou, het altyd reg gestaan met ‘n teetjie en stukkie tert voor sy hulle alleen gelaat het in sy studeerkamer. Sy het nooit vreemd of aardig gevoel nie. Wanneer sy en Dominie hulle sake klaar bespreek het, het sy sommer bietjie by Tant Sus in die kombuis gekuier en weer verkwik huis toe gegaan. Die nuwe predikant is egter ‘n wewenaar en net die gedagte dat dit net hulle twee in die huis sal wees as sy hom gaan sien, gee haar sommer die bewerasie. Sy kan in haar gedagtes al die susters hoor skinder. Nee wat, sy sal haar maar doof moet hou en as dit te erg raak miskien ‘n afspraak maak en hom in die kerkkantoor gaan sien.

“Hanna, het jy gehoor wat ek gesê het?” Suster Annatjie staan hande in die sye vir haar en staar.
“Nee jammer, ek was ingedagte…” Hanna voel hoe ‘n gloed in haar nek opstoot. Sy is sommer ergelik,vir haarself. Magties, sy is al in haar laat dertigs en sy bloos nog steeds. “Wat het jy gesê Annatjie?”
“Ek en Susan het gesels… jy weet mos sy doen gesigsbehandelings en naels en sulke goete. Wel die Kersfees en Nuwe Jaar is net om die draai… Herkie se suster en haar man kom mos die jaar by ons kuier en ek voel altyd verlep teen haar. Wel, die jaar wil ek nie so voel nie en toe vra ek vir Susan of sy my bietjie onder hande sal neem en net daar kom sy vorendag met ‘n blink plan. Ai Hanna, jy moet net hiervoor instem, asseblief tog…”
“Hoe kan ek instem tot iets as ek nie die vaagste idee het waarvan jy praat nie Annatjie.”
“Wel, toe ek met Susan praat stel sy voor ons maak ‘n dag daarvan. Jy weet…soos toe ons tieners was… Susan het voorgestel ek kry ‘n klompie vrouens bymekaar, dan doen sy ons naels en gesigte, kry haar neef om te kom hare sny en daarna gaan ons stad toe en gaan koop vir ons elkeen ‘n nuwe uitrusting. Later kan ons ook iets lekkers by ‘n restaurant gaan eet. Ag man Hanna, dit sal so lekker wees en wanneer laas het jy jouself bietjie bederf?”
Hanna skud haar kop, maar sy voor sy die aanbod in soveel woorde van die hand kan wys, dink sy aan haar klerekas wat terug dateer na die negentiger jare, haar hare wat ook seker twintig jaar laas behoorlik gesny was en ‘n opstandigheid steek ‘n lont in haar aan die brand. Vir ‘n oomblik hoor sy die ander vrouens se nydige woorde om die koektafel en voor sy haarself kan keer stem sy in om een van Annatjie en Susan se groepie te wees.

Dit is eers toe sy terug is by die huis dat sy begin twyfel aan haar besluit. Sy werk al jare vir Mnr Vosloo, die dorp se prokureur, maar sy weet maar al te goed dat haar salaris nie naastenby tred hou met die van sekretaresses in die stad nie. ‘n Krag groter as haarself dwing haar na die badkamerspieël toe. Die gesig wat vir haar terugstaar is nog rimpelloos en behalwe vir die titseltjie ligpienk lipstiffie is haar gesig skoon en byna kleurloos. Hanna knyp haar wange in ‘n poging om kleur in hulle te sit. Nee, dit sal nie deug nie, miskien is dit tyd, tyd vir ‘n verandering.

Ten spyte van haar goeie voornemens het die vooruitsig van die honderde rande wat sy gaan spandeer swaar op haar gemoed geweeg vir die volgende twee weke, maar uiteindelik breek die dag aan en Annatjie is sommer ‘n halfuur vroeër by haar as wat hulle ooreen gekom het. Hanna het haar hare oudergewoonte in ‘n bolla gedraai, pienk lipstiffie aangesit en een van haar kerkrokke aangetrek. Hoewel dit vir jare die beste was wat sy kon doen, was sy vandag veral, bitter ontevrede met haar voorkoms.

Die ander vrouens is reeds by Susan se salon. Susan het sjampanje en tee uitgesit, maar dit was duidelik dat die vrouens vanoggend meerendeels sjampanje verkies het. Hanna het in haar spore vasgesteek toe sy die luide stemme en gelag van die ander vroue hoor. Miskien was dit nie so goeie idee nie. Sy het nog nooit ‘n manikuur of gesigsbehandeling gehad nie en het geen idee gehad wat vir haar voorlê nie. Sy weet nie of sy die kans wou waag om n gek van haarself voor die ander vrouens te maak nie.

“Hanna! Annatjie! Kom kry vir julle ‘n glas sjampanje.” Sonder seremonie of om vir hulle ‘n keuse te bied tussen sjampanje en tee, druk Susan vir elkeen van hulle ‘n glas in die hand. Dit was nou te laat vir Hanna om om te draai.

Die gesigsbehandeling was ‘n absolute plesier. Susan se koel hande het hulle werk geken.

“Hanna, gaan jy omgee as ek jou wenkbroue pluk? Jy het sulke pragtige oë, so paar plukkies hier en daar en jou oë gaan soos smaragde uitstaan.”
Hanna het amper aan die slaap geraak tydens die gesigsbehandeling en kon net stom knik. Die eerste pluk het haar egter vinnig na die werklikheid terug geruk.

Toe Hanna voor die spieël gaan sit vir haar haarsny kon sy net verbaas na haarself staar. Sy was nie seker of dit haar verbeelding was of nie, maar sy kon sweer sy lyk ten minste vyf jaar jonger.

“Wat gaan ons vandag hier doen?” Susan se neef was welbekend onder die susters. Ruan het omtrent al die dames in die kerk se hare gesny en sy lewensmaat Johann omtrent al die mans s’n. Saam het hulle ‘n baie suksesvolle salon in ‘n ander voorstad bedryf.
“Miskien maar net die punte Ruan” het Hanna skamerig laat hoor. Sy kon nie onthou wanneer laas sy haar hare laat sny het nie. Omdat sy ook nie juis ‘m modetydskrif aanhanger is nie, het sy geen idee gehad van die nuutste modes nie.
“Ek dog vandag gaan oor ‘n nuwe voorkoms… dink jy nie ons moet iets nuuts probeer nie?”
“Jy sal seker beter weet as ek Ruan…”
Toe Ruan se skêr deur haar hare girts en sy die hare op die vloer sien val kon sy nie anders as om haar oë benoud te sluit en te bid dat sy nie soos ‘n ontsnapte bandiet gaan lyk wanneeer hy klaar is nie.
“Jy kan jou oë nou maar oopmaak.”

As Hanna nie van nature ‘n stil, versigtige mens was nie het sy net daar hardop gegil. Haar hare het veersag teen haar wang gelê, die korter haarstyl en subtiel geboogde wenbroue het haar oê, soos voorspel, twee maal groter laat lyk. Hierdie keer het sy haar nie verbeel nie, sy het regtig ten minste 5 jaar jonger gelyk.

“Hanna! Ek glo dit nie! Is dit jy?” Annatjie het voor haar gebuk en te oordeel aan haar gesigsuitdrukking was sy werklik verbaas.

Skielik het Susan haar hande geklap om almal se aandag te kry.

“Dames, dit is tyd vir die volgende gedeelte van ons avontuur. Ons bussie het gearriveer. Ek hoop julle het vet beursies gebring want vandag gaan ons ‘shop till we drop…’”
Hanna het gevoel asof sy in ‘n droom meergevoer word. Terwyl die ander vrouens steeds in die bussie gejil en gegiggel he,t het sy in skok stil agter in ‘n hoek gaan sit. Die kort rit na die inkopiesentrum was te gou verby en Hanna kon dit nie regkry om heeltemal te herstel nie, nogtans het sy braaf uitgeklim. Sy was egter dankbaar toe Annatjie by haar kom inhak en haar die deure insleep.

Hanna het gou agtergekom dat die ander dames nie van plan was om sommer by enige kettingwinkel te gaan inkopies doen nie. Met Susan heel voor is hulle van die een boetiek na die ander. By die tweede een kom staan Susan voor haar.

“My mens, jy het dan nog niks gekoop nie! Kom, ek weet presies waarin jy pragtig sal lyk.” Hanna kon niks anders doen as om vir Susan soos ‘n skoothondjie deur die rakke te volg nie en het eers begin tot verhaal kom toe Susan haar met ‘n arm vol klere by ‘n aantrekhokkie indruk en aandring dat sy elke uitrusting eers vir haar kom wys.

Die rompe en bloese – en selfs ‘n langbroek of twee, iets wat Hanna nog nooit besit het nie – het sag en vloeiend oor haar liggaam geval en weereens het Hanna ‘n euforie beleef soos nog nooit tevore nie. Toe sy met die eerste uitrusting uit die aantrekhokkie kom was sy verbaas om vir Susan, Annatjie en ‘n paar van die ander vrouens te sien wag. Soos een mens het almal na hulle asems gesnak.

“Hanna! Ek het nie woorde nie….jy lyk…asemrowend.” Kry Susan uiteindelik uit.

Of dit die nootlot was of ou Satan, kon Hanna tot nou nog nie verklaar nie, maar al wat sy weet is dat toe sy met sakke vol klere by die winkel uitstap, was sy aansienlik armer.
In die bussie oppad terug huis toe het sy weer agter gaan sit en verkies om eerder na die ander te luister as om aan die gesprekke deel te neem. Haar hart het gejubel, maar haar verstand wou haar kort-kort aankla oor haar onverskilligheid. Dis juis toe dat sy een van die vrouens hoor vra “ek wonder hoekom noem die Chinese 2019 die jaar van die vark?”

Hanna het haar antwoord gehad. Miskien was sy so gulsig soos ‘n vark, maar nes die vark kan sy mos ook soms in die modder gaan baljaar. Die lewe is mos nie net vreet en slaap nie, maar soms duik daar mos ook bietjie plesier op, of hoe? En miskien moet sy tog ‘n draai by hulle wewenaar dominie gaan maak, dit is mos nog nie heeltemaal te laat vir ‘n klein varkie of twee van haar eie nie…

Kopiereg L Lexow 2019
1710 woorde




1 Kommentaar

Maak 'n opvolg-bydrae

op
Top Ranked Users

[joinup_core_top_members columns=”1″ space=”no” max_members=”3″ behavior=”columns” columns_responsive=”predefined”]

Activity Feed