
Honderd vier en veertig maande.
In haar binneste bewe alles. Kefira se hart klop in haar keel. Sy besef dis nou of nooit. So kan sy nie voortleef nie. Dis bowendien nie leef nie, dis net bestaan. Sy kon netsowel dood gewees het.
Die wet is wet. Sy het geen kontak met haar familie nie. Haar dogter wat nou al twaalf is, was ’n pap baba toe sy die huis verbied is. Kefira kyk na die twaalf kepe wat sy agter die deur uitgekerf het en onthou hoe haar hart elke keur dieper geskeur het.
Wanneer sy saans op haar strooimat gaan lê het, het sy gewonder of Asher nog aan haar dink. Of hy haar met ’n ander vrou vervang het. Sy het verlang na sy aanraking. Na die aanraking van enige iemand. Maak hy moeite maak om vir Amirah te vertel van die ma wat aan haar geboorte geskenk het, maar wat sy nie ken nie?
Hier waar sy in afsondering sit, is haar dae lank en eensaam. In die eerste paar jare het sy van een geneser tot die volgende gegaan. Sy is daar weg met baie beloftes en ’n sak vol kruie en middels. Elke keer moes sy hoor: ‘Hierdie is die regte middele en jou toestand behoort binne dertig dae genees te wees.’ So het dit aangegaan totdat sy die laaste sikkel kwyt was, van die geld wat haar ouers na haar toe gesmokkel het. Die bloeding het egter nooit opgeklaar nie.
Tog het sy vandag, honderd vier en veertig maande later, vars hoop en diep geloof. Hierdie nuwe geneser wat nou van dorp tot dorp gaan, werk in die naam van God. Sommige sê hy is die Messias en stel God se almag ten toon aan almal wat in nood verkeer. Verder verkondig hy die vergifnis van sonde, versoening met God en ewige lewe na die dood van ons huidige liggame. Hy wys niemand weg nie.
Sy bid tot die God van Abraham, Isak en Jakob, dat sy ongesiens naby genoeg aan hom kan kom. In haar diepste hart glo sy met alles in haar, dat die man wat hulle Jesus noem, haar ook kan genees. As sy net naby genoeg kan kom om aan sy klere te raak. Dit sal genoeg wees. Hy mag haar nie aanraak en onrein word nie. Daarvoor sal sy sorg.
Niemand mag haar herken nie. Boonop moet sy dit waag om tussendeur die manne te beur, al word dit nie toegelaat in die Joodse tradisies nie. Vroue moet op die agtergrond vertoef. Maar vandag moet sy voor en ná aan Jesus kom. Die kans is goed dat sy in die menigtes wat hom soos altyd sal volg, in ’n see van gesigte kan wegkruip.
Kefira bind haar Sheila styf om haar kop vas, sodat dit nie per ongeluk in die stoot-en-stamp sal afglip nie. Sy maak seker dat daar net ’n groot genoeg gleuf oor haar oë is, sodat sy kan sien waar sy loop. Sou iemand haar herken, sal sy verseker gestenig word. Selfs met hierdie sekere wete, het sy ook ’n sekere geloof dat vandag haar dag van genesing is.
Tussendeur die maalkolk van mense, beur sy geleidelik nader. Haar krag is gedaan en soms kan sy haar voete oplig en vir ’n paar treë in ’n golf van mense saamdryf. Sy moet net seker maak dat sy nie struikel en vertrap word nie.
In ’n oomblik kyk sy op en gewaar hom reg voor haar. So naby dat sy sy liefdevolle stem kan hoor. Voor haar moed haar kan begewe, buk sy af en raak aan die soom van sy toga. Oombliklik voel sy dit. Die krag wat haar lendene binnevloei. En sy gaan staan doodstil, sodat die wat agter haar is, vies by haar verby druk.
Dis in daardie oomblik dat Jesus omkyk en vra wie aan hom geraak het. Sy dissipels antwoord effe beterweterig: ‘Meester hoe kan u so vraag vra? Kyk hoeveel mense staan om u. Dit kan enige een van omtrent twintig wees.’
Kefira buig haar hoof dieper om ongemerk te bly, terwyl sy haar asem ophou. In haar gedagtes wonder sy of sy dan tog vandag doodgemaak sal word, as Jesus haar identifiseer. Jesus het bly soek na die een wat hom aangeraak het en sy het besef dat sy sal moet erken.
Sy het vorentoe getree en op haar knieë voor hom neergesak en met ‘’n bewerige stem, bely wat sy gedoen het. Sy kan nie glo wat sy hoor nie, toe hy sê:
‘Dogter, jou geloof het jou genees. Gaan in vrede, jou leiding is beëindig.’
Haar gemoed skiet vol en haar hart jubel onbeheersd. Nie net omdat sy gesond is nie, maar ook omdat sy as dogter benoem is! En asof dit nie genoeg is nie, is sy vry om te gaan sonder dat iemand ’n vinger op haar sal lê!
7 Kommentare
-
Adelle
Kiekies, hierdie is 'n WOW storie!!
-
Viooltjie
So maak jy hierdie bybelverhale werklikheid vir ons. Het dit baie geniet. :-)
-
Anze
Ag dit was nou sommer lekker om hierdie bekende Bybelverhaal uit n ander hoek te kon hoor... pragtig Kiekies!
-
Ronel Janse van Vuuren
Geniet jou oorvertelling verskriklik :-) Goed gepen.
-
Arnold
Het ons maar die geloof van 'n mostersaad...
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
neels
Lynette ek moet jou geluk wens met hierdie pragwerk. Anchor klap klap klap