Die DAME SHONAGON se KOPKUSSINGBOEK
Die Dame Shonagon se Kopkussingboek
Die Keiser het die Keiserin in haar kamervlug besoek, en sy diener het agter hom aan ‘n stapel papier gedra. Dit was ‘n swaar las en het bestaan uit ‘n pak vars nuwe bloeiselwit papier wat ‘n ambassadeur hom as aantreegeskenk gebring het.
„Majesteit,” het hy gesê, „Skattie, ek het momenteel soveel papier op kantoor, ek weet nie wat om daarmee aan te vang nie. Het u gebruik daarvoor, of het u êrens plek om dit op te bewaar?”
„Hoei, Majesteitlief,” het sy deemoedig gehyg, „die laaste keer toe u ons met ‘n besoek geëer het, het u ook so ‘n pragtige meebringsel saamgevoer, en die voorlaaste, en . . .”
„Ja, ja, Majesteitskat, maar kan u hierdie een ook nog gebruik? Of een van u eerbare hofdames miskien? Dit sou skade wees as dit êrens in ‘n kelder moes slegword en verkom.”
„Nouja, dames, u het gehoor wat Keiserlike Majesteit sê. Het een van julle soveel minnaars dat sy soveel briefpapier nodig het?”
„Aai, Majesteit is te koddig, …”
„Ja, maar watter een van julle?”
„As dit Majesteit belief, …”
„Ja, Shonagon?”
„As u my vir nie alte onwaardig aansien nie… Ek sou graag papier wou hê.”
„Maar kind, het jy alreeds soveel minnaars? In jou ouderdom?”
„Kie-hie, kie-hie. Shonagon het alreeds soveel minnaars!”
„Stil, dames. Nou, Shonagon?”
„Uiters graag sou ek ‘n kopkussingboek wou skryf …”
„Kie-hie, kie-hie. Shonagon wil ‘n kopkussingboek skryf …”
„Dames! Stil nou! En wat wil jy in so ‘n kopkussingboek opteken, kind?”
„As dit u belief, keiserlike Majesteit, alles wat saans so deur my kop gaan. Wat in die loop van die dag gebeur het byvoorbeeld. Of my gedagtes oor die een of ander tema, in die hof, die kuns, die wetenskap, in die politiek, …”
„Dan moet jy ons mos van tyd tot tyd daaruit voorlees, nie waar nie?”
☼
En so het die Dame Shonagon haar eerste stapel papier gekry, en so het die Dame Shonagon begin om haar kopkussingboek te skryf, ‘n dagboek met liriese dele, waar sy haar liefde vir die natuur en ook alles wat esteties is, besing, met hoog-dramatiese passasies uit die vertellings van teruggekeerde matrose en uit onderhoude met besoekers uit verre lande, met menige kritiese bemerking oor die lewe aan die hof. En dit alles met so ‘n presiese waarnemingsvermoë en fyn vingerspitsgevoel, dat niemand – selfs die keiser – beledig kon wees nie. Sy is dikwels gevra om uit haar kopkussingboek voor te lees, geleentlik ook voor hoë besoek.
☼
En so het die Dame Shonagon ‘n duisend jare gelede die basis gelê vir die Japaanse vertelkuns.
☼
©.23e.Januarie2017…………………………………(.2012.).tje
2 Kommentare
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
Toom
Hierdie verhaal behoort óók in die groep VERRE-OOSTLIKE VERHALE saam met ,Lang Moen en die Tier' en ,die Keiser se Hoender. GvT