Jy was my traan drumpel
Jy het my altyd rustig gemaak
met jou bossies, sterre en ruim vlak –
my aan jou heiligdom laat smaak,
met jou hemelse stilte wat oor my sak.
Kon ek sit vir ure wyl die son sy baarsel sluier,
rustig met sonbesies wat in my ore sing,
tot wind vir oulaas om jou hoek kom kuier
en jou sonsondergang roesrooi kleure bring.
Ek wou nog jou granaat pluk en proe,
die dorpers sien loop en in klipkrale wei,
jou windpomp sien draai en na water roep,
dan sou jy my sekerlik op jou wit klipkop kry.
Vandag is jou tyding sleg, jou tyding is seer –
want hier moet ons paaie nou skei,
toe kon ek die trane nie keer
want dit was net ek en jy…
Ja net ek en jy…
Nou wonder jy oor die kruik vol trane
wat begrawe lê by jou deur drumpel –
en my voetspore wat vir oulaas stof… in jou lane,
en my vingers wat oor jou dam waters rimpel.
Gegroet is jy – grond van die geslagte
jy behoort nou aan ‘n ander,
ja díe nuus was ek eendag te wagte
maar ek wou nog jou stof, jou vlak bewandel –
so vir oulaas jou vrede myne maak
jou stilte… voel magies raak.
Opgedra aan Lukas Vlakte met die Van Der Colff’s en Mosterts
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.