Lig uit die donker
(goud)
Pa leun teen die deurkosyn;
in sy hand, ’n bruin kardoes.
*
Ek laat die steentjies tuimel
in ’n hopie op my bed
en stryk dit met my palm plat.
Die jaspis, wat so dieprooi roes
maak amber vuur in die agaat
die tieroog lê – vol strepies –
neffens rooskwartspienk
en smeulendbruin granaat
maansteen wit langs groen smarag
en ek was só bewus
van die blou van blou saffiere,
die pers van ametis.
Ek hark die steentjies bymekaar
tot ’n reënboogmengelmoes
‘wyl ek dié wete bly bewaar –
dat lig skakeer en sluimer
in die donker
van ’n bruinpapierkardoes.
© Carma Shaw
23 Mei 2019
1 Kommentaar
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
Anze
Pragtig, baie dankie vir jou bydrae tot die Mei 2019 projek