Lukasvlakte
jou son mirasie
oor die oop einders
tot daar waar jou niks spikkel
en nie meer sien nie…
raak my asem stadig,
my mond gryns
toe hitte kom sonbesie
in jou stilte
ek sien jou wit klipkop
af ets teen die helderblou lug
langs die ou windpomp
wat krakerig en kreunerig sug
toe windjie deur sy arms flikflooi
en ʼn druppel water
die plaasdam se gesig
laat riffel-roer
dan voetloop my geheue
op jou plaaspad
wat effe kronkel
tot by die plaashuis
waar my siel hom neervly
op jou selfgemaakte
badwater
groenigheid…
sien ek myself
op jou stoep sit
en vir die meerkat kyk
wat eers stadig snuif in die lug,
dan trippel-trippel
oor die warm sand
tot hier agter
se oorskietgat
ek raak een met die ooptes
tot sterkskemer roes lê
en wind saggies,
dan dringend
aan die huishoeke pluk
om saam met maan
in eensaamheid
te verdrink
© Cornien Naudé/ Lukasvlakte 28/03/2022
1 Kommentaar
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
Anze
Pragtig, baie dankie vir jou bydrae tot die Maart 2022 – OOP projek