
Moeder Aarde (Droogte, Vrystaat, 1980 +)
haar lewe is nou die droë seisoene
waar die gras en kleinvolk lewe
van áls gestroop sodat sy pretensieloos
haar skurfgeid, onbeskaamd na die horisonne uitstrek
haar melk-kanne, omgeval, áls uitgestort
geroes toe die tere aanraking van dou opgedroog het
die heuning sandsuiker tussen haar tande
die lewe het dof geword van roói, poeier sand
waar troppe vee, van weikampe na weikampe
kuier by die graspol tussen haar bene
die soutlek die enigste klammigheid
ná myle en myle van uitgestrekte vlaktes
‘n aanbod van vrugbaarheid tussen niks
sy het soos ‘n hoer selfsugtig geword
perverse nát kolle gelaat waar dit
haár behaag het – die goed genot van léwe versaak
terwyl alles om haar in bedroë ellende verstik
haar lewe het stil geword, leeg
terwyl alles versengend óm haar tot stilstand kom
en wag
terwyl haar jags asem stof in hul oë blaas.
(labri©)
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.