Donker
daar is geen maan nie
geen lewensklankbaan
behalwe die dreunsang van ʼn see
en ‘n wolftjank van klam traanwind
wat snik oor ʼn swart strookstrand
waar golwe my vooruitgangvoetholtes
met fosforskuimtonge ont-spoor
selfs die melkweg het in melk verdrink
en sterglinster het in besoedeling vervaag
die daglig het al lank reeds leeggebloei
en die goue kim van my jeug
se moed se durf se waag
het die stryd teen rook en spieëls verloor
in my stad vol vakuumneonbuise
waar dwelms en skelms in stegies lok
het ek gekyk maar nie gesien nie
hoe verdraaide lig bedrieglik jok
oor drome en oor lig se jare
waar ek sterlig teen fluweelnag kon lees
die sterretekens was vreemde magie
wat ek wou pluk langs my toekomspoor
met lense van ongeloof se vergroting
in my soektog na helder verklaring
word duister die agtergrond in voorgrond
ʼn verdoeselde verdraaide openbaring
soos die stemme van ʼn valse koor
laat daar lig wees! het ek geroep
die nag van smarte weggejaag
tog is dit my tyd van tob en nabetragting
wat stroombreker teen verwagting
wanneer skynperfeksie van dag afskakel
en die donker die duiwels bekoor
is ek die nagkind
die enkeling
die drenkeling
wat in my swart tyd dronk versmoor?
het ek buite die kollig van voorgee
my ware self dalk reeds vermoor?
Etna Wepener ©️
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.