Druppelgolwe
die reën ween
plas konsentriese kringe
druppels piering in ʼn poel
ʼn snyding van versamelingsirkels
kaats verwronge gedeelde elemente
blink in tydelike skyfies oorgespoel
na oogwink se perfekte rondheid
stort die bui neer en neer
en versteur wulpse golfkurwes
wat kineties uitbrei
net om weer en weer
die suiwer storie in spatsels
se golfverspreidings te keer
soos in stadige aksie
van tydsverloopfotografie
skryf waterkoeëls in spat
oor die kringe van geboorte
oor die hobbels van die lewenspad
wat dan
ná jakkals trou met wolf se vrou
onder lui sirkelson
en reënboog se halfsirkel oor my werf
in liniaal te platlyn op spieëlpoel
want golflewe het gesterf
Etna Wepener ©️
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.