My Ouma – So onthou ek haar. (Brons)
(Woordtelling – 500 woorde)
Christelle kom laggend nader gestap.
Monja beduie dat sy moet sagter lag. “En nou?” fluister-vra sy.
“Nee, ek lag vir ‘n ou wat nou sy eie spook gevang het.” Christelle grawe in haar handsak tot sy haar sakdoek raaktas; dit te voorskyn bring om versigtig ‘n lagtraan weg te vee.
“Nou hoekom het die ou geskrik?” Monja gewaar mense by die ingang ingestap kom. Sy knik in hul rigting. Die man en vrou beantwoord haar groet. “En?”
“Man,ek was nog besig in die badkamer, toe ‘n man skielik ingestorm kom, geskok gaan staan en verleë mompel ‘verskoon my’. Hy kon nie gou genoeg spore maak nie. Amper soos wat Ouma sou doen. Onthou jy … sy was eendag haastig op pad na dokter Frielingsdorf en sy was so bietjie laat gewees toe die natuur besluit dis nou sulke tyd. In haar haas het sy by die naaste badkamer in gestap. Toe sien sy daar staan ‘n man by ‘n wit trompetter en in plaas daarvan dat sy net vinnig stilletjies weer uitstap, nee, toe moes sy mos nader stap, die man aan die skouer gaan tik en vir hom sê: ‘Verskoon my, haastigheid is ‘n lastigheid’, alvorens sy weer uitgestap het. Ek kan net dink wat deur daai ou se kop moes gegaan het.” Christelle proes weer soos sy lag.
“Sjuut.” Monja plaas haar wysvinger voor haar lippe, haar oë skitter in die flou sonlig wat by die ingang instroom. Skielik begin haar skouers ruk. “Wat van die tyd toe Oupa en Ouma hul winkel se deur gesluit het vir die nag. Toe het hulle nog in Keetmans gebly. Oupa se spiksplinternuwe rooi Zephyr was voor Ouma Ans se groen Vauxhall geparkeer gewees. Ouma het net mooi haar kar aangeskakel en Oupa se wegtrek was bietjie te stadig na haar sin, toe sy afhaak en sê: “Ek stamp jou nou”. Net daar glip haar voet van die rem af. Hoe het sy altyd gesê: Die blinde sambok slaan seer. Ek onthou Oupa was glad nie ingenome met die nuwe gekreukelde voorkoms van sy rooi Zephyr se agterkant nie.”
“Maar wat van die keer toe die predikant uitgekom het plaas toe, na Springboktrek-Suid. Ouma wou hom skrikmaak, min wetend dat die predikant al heeldag karprobleme ondervind het. Hy het uit sy kar geklim, Ouma gegroet en was op pad voordeur toe, toe sy agter hom die passasiertoeter van sy Ford gedruk het. Daai predikant het so groot geskrik dat hy omgevlieg, klippe opgeraap …
“Klippies, bedoel jy.” korrigeer Monja haar.
“Man! Klippe!” Christelle klik haar tong. “Ouma het gesê dat hy sy kar met klippe gegooi het en toe sy kar toegesnou het: “Het jy nie nou genoeg moeilikheid gemaak nie.” Ouma moes toe mooi paai.” Christelle vee weer ‘n traan af. “Ja, Ouma Ans was ‘n karakter en ‘n half gewees.”
Sagte orrel musiek bereik hulle ore. Monja loer na die binnedeure van die kerk. “Kom, ons moet gaan, anders is ons laat vir Ouma Ans se begrafnis.”
© Taai Bonthuys
1 Kommentaar
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
Anze
Pragtig, dankie vir jou bydrae vir September 2024 – OOP projek