Jongste aktiwiteit:

DIE EKLOGIE EN DIE KWESSIE VAN RENTMEESTERSKAP – ’N WOORDOMSKRYWING (Silwer)

Die ekologie is iets wat my baie na aan die hart lê. Wanneer ek oor die ekologie praat of daaroor nadink, kom daar  noodwendig drie woorde by my op, naamlik: ‘rentmeester,’bioom’ en die woord ‘biotoop.

Nou vra jy seker: ‘maar wat is ’n rentmeester, die ekologie, ’n bioom en ’n biotoop; en voorts, wat het dit met my te doen?

Laat ek verduidelik. Die woord ekologie is afgelei van twee Griekse woorde naamlik oikos wat ‘huishouding’ beteken en  logos wat  ‘studie’ beteken. Dus is die ekologie, ’n studie van die huishouding.  Meer spesifiek, ’n studie van die huishouding van God, hier op aarde, deur die mens wat as rentmeesters oor Sy huishouding aangestel is. Kripties gestel kan ekologie beskryf word as ‘omgewings-biologie’, daar dit hom bemoei met die wetenskaplike bestudering van alle lewende organismes in die natuurlike habitat waarbinne hulle deur die Skepper gehuisves is.

’n Bioom daarenteen, is in ’n neutedop, die versamelwoord vir fauna (diere) en flora (plante), wat in ’n bepaalde habitat leef. In hierdie geval, die aarde. Die heersende klimaat asook die geografie binne hierdie bioom, wat as vegetasiegordels bekend staan, word bepaal deur die verspreiding van fauna en flora. Essensieël is daar ses belangrike biome op die aarde waarmee daar deeglik rekening gehou moet word, tydens die bestuur en ontwikkeling daarvan deur die mens as verantwoordelike rentmeesters van God. Hierdie ses biome is: Tropiese bosse, loofbosse, naaldbosse, graslande, woestyne en toendras. Binne tropiese bosse en tropiese reënwoude is daar ook sogenaamde mikrobiome geleë, soos onder andere die risosfeer. Vir doeleindes van hierdie artikel sal ek nie op die verdere detail hier ingaan nie, daar dit buite die skopus van die artikel geleë is.

Die woord biotoop is weer afgelei uit die Griekse woord biostopos. Bios  beteken ‘lewe’; en ‘topos’ beteken ‘plek’. In die letterlike sin van die woord is ’n biotoop dus ’n bepaalde gebied, bekend as ’n ekologiese sisteem, geleë binne ’n bioom, (die aarde in hiedie geval), waarbinne die omgewingstoestande van sodanige aard is dat dit ’n natuurlike leefplek, (habitat), bied vir sekere spesies insluitend die mens. Binne sodanige biotoop is daar voortdurend ’n natuurlike wisselwerking tussen lewende en nie-lewende elemente. Sodoende ontstaan daar ’n gesonde ekologiese balans.

God het die mens aangestel as Sy rentmeester op aarde. ’n Rentmeester is iemand wat deur iemand anders aangestel is om sy eiendom tot sy beste voordeel te bestuur, en om gereeld aan die eienaar verslag te doen oor sy rentmeesters-aktiwiteite. Met ander woorde. rentmeesterskap is nie eienaarskap nie. God het die mens as rentmeesters van Sy skepping aangestel, nie as eienaars nie. Die mens, as rentmeesters van God, moet Sy skepping bestuur en gebruik tot God, wat eienaar is, se beste voordeel.

In Genesis 2:15 gee God vir die mens opdrag om Sy skepping:

* te bewerk en te bewaak (shama) of te wel op te pas. En dit is inderdaad volgens Taalkundiges, wat met die vertaling van die Hebreeuse woord, shamar, geïmpliseer word;

* wat betref die woord ‘onderwerp’, wat vertaal is uit die Hebreeuse woord kabash, is dit volgens die vertalers van die Bybel wel so dat laasgemelde Hebreeuse woord, die gedagte van ‘trap op’ en ‘oorwin’, ondervang; en

* wat betref die woorde ‘heers oor’, en vertaal is uit die Hebreeuse woord radah, kan die vertolking van vertrap, daaraan geheg word. Hoe vertolk ons hierdie ‘teenstrydighede’?
Indien ek die hele skeppingsverhaal in sy volle konteks lees, maak alles my mooi sin. God sê vir die mens, Adam, en dus vir alle mense, ‘bewerk en bewaak, My skepping’ en dit is eenvoudig. ‘shamar’. Kortom, om die ekologiese balans binne Sy bioom op verantwoordelike wyse te bestuur.

In Psalm 8: 6-9, sê Dawid, met verwysing na die mens as rentmeesters van God, die Skepper: U het hom net ‘n bietjie minder as ‘n hemelse wese gemaak en hom met aansien en eer gekroon, U laat hom heers oor die werk van U hande, U het alles aan hom onderwerp: skape en beeste, alles; selfs die diere in die veld, die voëls in die lug …

Die mens, en dit sluit alle mense in, nie net ’n gesellekteerde groep nie, is getaak vir die verantwoordelike bestuur en ontwikkeling van hierdie bioom tot voordeel van alle fauna en flora. Dit is dringend nodig dat die letterkunde, die ornitologie, die teologie, die ekologie en die wetenskap hande vat binne die breë spektrum van die ekologiese sisteem wat God met die skepping van die aarde in werking gestel het, om sodoende Sy opdrag van rentmeesterskap effektief te kan vervul.

Die vraag wat ek by die leser van hierdie artikel wil laat is:

        • * Hoe heers en waak jy as rentmeester van God, oor Sy skepping?’ Anders gestel: I

      s jou skakel in die ‘ekologiese ketting’ wat God vir die aarde uitgewerk het, waarin jy as Sy rentmeester ingeskakel is, stewig in lyn met die opdrag van God?;

                                                                            OF

* gaan ons maar ook nongelant die houding inneem van die woorde wat ek eenmaal op ’n ‘bufferplakker’ van ’n luukse motor gesien het:-

“ONS IS BESIG OM HIERDIE PLANEET TE VERNIETIG. ONS SAL LATER BY DIE ANDER PLANETE UITKOM‘.”

————————————–oo00oo———————————————–
©Pieter Mostert

                  BIBLIOGRAFIE

  • Abrams, M.H. 1999. A glossary of literary terms. Heinle & Heinle. Boston.
  • Becky, H.  1967-8.  Anthologia Graeca. 4 bande. 2de verbeterde uitgawe. (Griekse teks met Duitse vertalings.) München: Ernst Heimeran.
  • Cock, J, & Koch, E 1991 (eds). Going green: People, politics and the environment in South-Africa. Cape Town: Oxford University Press.
  • Conradie, Erenst. 1996. Rus vir die hele aarde: Lux Verbi, Kaapstad.
  • Cuddon’s Dictionary of Literary Terms (1984).
  • Dake’s Anotated Reverance Bible Old and New Testament (1963) J. Dakes Dakes Bible Sales Inc. Lawrenceville, Georgia.
  • Die Bybel 1953 vertaling Bybelgenootskap van Suid- Afrika, Roggelbaai, Kaapstad.
  • Du Plessis, Isak. God en Wetenskap – en ons wat glo. 2003: Lux Verbi, Kaapstad.
  • Jan van der Walt ed.al (2012) Interliniêre Bybel Grieks – Afrikaans Nuwe Testament Christelike Uitgewersmaatskappy, Vereeniging.
  • Joubert, S. 2012 Ontsluit die Nuwe Testament: Omvattende Bybelse Reis vir ’n beter verstaan van die Skrif. Christelike Uitgewersmaatskappy, Vereeniging.
  • Odendal, FF. (hoofred.) 2005. Vyfde uitgawe. Verklarende Handwoordeboek van die Afrikaanse Taa Johannesburg: Perskor.
  • Simpson, D.P. (1979). Cassell’s Latin Dictionary (5th ed.). London: Cassell Ltd.
  • Van der Watt, Jan, Barkhuizen, Jan, & Du Toit Herman. (reds.) 2021 Interliniêre Bybel, Grieks – Afrikaans nuwe Testament: Vereeniging: Christelike Uitgewersmaatskappy.
  • Vine’s Expository Dictionary of Old and New Testament Words (1971) F.F. Bruce. ed. Flemming H. Revelal Company, Old Tappan, New Jersey.
  • Vos, CJA & Muller, JC 1991.God, mens en wêreld: Mens & Omgewing: Orion, Halfway House.
  • Webb, M. De Villiers, M. Du J.J. & Du Toit, P. 1983 Verklarende Biologiewoordeboek: Nasionale Opvoedkundige Uitgewery Beperk, Bloemfontein.
  • Wilkenson, L. Earthkeeping in the Nineties: Stewardship of Creation, (Rev, Ed. 1991) Wm. B. Eerdmans Publiushing Co. USA.

 

 

 




1 Kommentaar

Maak 'n opvolg-bydrae

Up
Top Ranked Users

[joinup_core_top_members columns=”1″ space=”no” max_members=”3″ behavior=”columns” columns_responsive=”predefined”]

Activity Feed