My wandelpad van rou
My wandelpad van rou
“ek neem jou op ‘n verbeeldingsvlug en nooi jou uit om jou rugsak te pak
jou stapskoene aantrek met jou stapbagasie in jou sak
ek en jy stap vir oulaas ons wandelpad
na die stilte van die natuur uit die oerwoudstad
met ons wandelstokke in ons hand
deurkruis ons soos van ouds ons lieflike land
ons het uitgetrapte stapskoene aan
en rugsak op ons wandelbaan
dis op en af en oor klip en sand
met afgrond neffens teen die kant
rus plek-plek uitasem gestap en waardeer die skoonheid
neem slukkies energie en word aan ‘n energie stafie gebyt
see, berge, dale, riviere, boom, bos, blom en struik langs die pad
klim soms hande viervoet soos ‘n kat
die sonsopkoms maak ons wakker wat oor ons tent skyn
maan en sterre wat agter die horison en voor die son verdwyn
eerste koppie boeretroos pruttel op die vuur
met seer moeë voete wat ons met opgewondenheid verduur
opgewonde vir wat op ons wag op ons avontuur
as ons op ons wandelpad met dankbaarheid die verte in tuur
kry ons ‘n rusplek langs ons wandelpad
‘n grondbankie langs die pad wat ons na stilte vat
om vir ‘n wyle te rus maak nie saak of dit ‘n blou bankie
rooi bankie, groen bankie of grond bankie is nie
met opgewondenheid elke onthouplekkies ervaar
of in eerbied net na die natuur en skeppingswerk staar
dan … in my eenmansgesprek draai ek om na jou
om net te besef ek is alleen – alleen op my wandelpad van rou
as ek vir jou laaste rusplek die houtkissie uithaal
in die strooi van jou as die stilte sag om ons kom daal …”
©Kopiereg Linda du Plessis 2021
1 Kommentaar
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
Anze
Pragtig, net 2 inskrywings per projek per maand. Die ander gedigte plaas jy net onder gedigte sonder om met die projekte te koppel