O, die donkie is ‘n wonderlike ding…
Oorlede oom Chris Blignaut het die donkie besing as ‘n wonderlike ding. Ek glo nie saam nie, want mý ken van donkies is dat hulle soms satan troef met die verneuk van die mens se siel. Gaan vra maar ons jongerdae se Boerseuns wat nog kan onthou van donkie ry tot bliknêrs toe. En Oupa het mos gesê dat as jy ‘n donkie en ‘n donkie so langs mekaar staan maak en jy bekyk hulle behoorlik in die bek en jy sien die een het sulke dooie pokeroë, dan weet jy sonder lieg hýs die rêrige donkie! En met Oupa kon jy nie stry nie, want hy was nou vir jou ‘n oumensslimmigheid. Kon vir my selfs met somme kennig maak dat ‘n halwe sonder nóg ‘n halwe ‘n volle is want, seg hy, ‘n halwe waarheid is ‘n volle leuen omdat daar nie so ‘n ding soos ‘n halwe leuen is nie en daarom dan is ‘n halwe mos ‘n volle! (Oupa het ook al lánk voor oom Louwtjie haarfyn geweet dat ‘n donkie deur sy ore kyk om met toe oë onder jou uit te kan struikel wanneer jy jou onbehoeds laat betrap…)
Maar my donkie waarvan ek wil vertel, staan een droë somersoggend voor ek skool toe stap hier neffens ons voorhekkie. En grootboet wat al werk loop hom toe eerste daar kop onderste-bo raak en verbaas hom nie ‘n bietjie om ‘n donkie hier in die hartjie van die dorp so een-saam alleen te staat en oopmond groet nie, en ek word van die tafel weg gekommandeer sonder dat Ma iets gewaar. (Maar Ma’s sien mos ook nes donkies met toe oë hélder in ‘n mens se toe-koms in. Weet al voordat ‘n ding nog nie gebeur het nie!)
Buite sien ek ook die donkie staan. So rustig asof hy al van die vorige eeu daar vertoef. En ek sien dit is ‘n bielie wat styf op net drie van sy pote staan met die vierde so half-epilepties op en ingetrek sodat die hoef net-net aan die grond raak. En ek sien van sy kop tot by sy stert maak hy ‘n sekel met snykant grond se kant toe en hiérdie body language sê duidelik: “Pasop, ek is nie rêrig dood nie en my rug is nie hol gesit nie!” En ek onthou so met die naderstap hoe ons die plaasdonkies wat potensieel ryryp was vooraf getoets het: As jy die hare in die middel van sy rug op die rugstring so ‘n bos probeer uittrek en hy maak sy rug hol dan kan jy maar klim en ry. Maar boeta, maak hy kromrug soos ‘n kat wat deur die weerlig raakgeslaan is, pasop dan! (En terwille van die bloeddruk van die D.B.V.-mense: ‘n Kind kan nie rêrig ‘n bos hare op ‘n donkie se rug uittrek nie!)
Ek laat my deur grootbroer -wat self te bang is om die donkie bloots te klim- ompraat en kry vir my ‘n lat waarmee ek die donkie kan stuur. Grootboet help my nogal oordadig-on-handig om die donkie teen die draad vas te keer en ek weet dat, as ek hiérdie asjas wil ry, ek my spring sal moet ken om blitsig my tone tussen sy voorbene in te haak want spring wéét ek gaan hy. Met die dat ek spring, gee grootboet met opset die donkie so ‘n onverwagse steek in sy lies en met die dat ek in my springpoging afkom om my sit te kry en voete in te haak, gaan donkie se kind alreeds opwaarts en siedaar! My teder nêrs teen sy benerige rug-string! En so stamp ek my aan die verkeerde kant van my keelgat skoon winduit en daar gaan ek wéér ‘n keer opwaarts, hemel toe, en met die afkom tas my grypende hande die hele grote donkie mis want hy’t hoeka reeds gesystap en staan toe dóér eenkant met dieselfde pokeroë my as ‘n onbeholpe en onstuitbare mesiel en gebondelde hopie verleentheid oor die Wes-trans-vaalse leiklipvlaktes te sien afnerwe! Og, ek weet nie meer wat my val op die Richterskaal gemeet het nie, maar onder ‘n sewe, agt kon dit beslis nie wees nie. Mens sou dit seker in die Argiewe kon gaan naslaan as ek nog die datum kon onthou…
My dag was vooruit bederf! Ek wou grootboet voeter omdat hy eintlik die rede tot my dubbele val was. Ja mens, sien: die een val was toe die Richterskaal getril het en die anner val was van my troontjie af omdat ek al beginne glo het géén donkie kan my afgooi nie. En die laaste val was verseker die hardste…
( Pa sê later na skooluitkom so ewe dat die slag en die skudding -wat hy aan die annerkant van die huis gehoor en gevoel het- het hom laat glo maak dat die Amerikaners alweer jeuke-rig met hulle atoombomme staan en raak het. Hy maak nog verdere stories – natuurlik om dié pekelrigheidjie verder my nerf-af knië en stukkende lyfwonde in te smeer. En glo my, Pa spaar my verkneusde gemoed nie, vryf behoorlik in: “…en ek sien toe so tussen die rooistowwe hoe waggelwydsbeen jy ken teen die bors van oorgee druipstert wegdros terwyl die wolla jou so met geel glimmende tande agternakyk en jou belag…” En toe lag Pa daardie lag-gie wat my ‘n geweldenaar kan maak en ek sweer wraak!
Oom Daantjie van oorkant die straat het later kom verklik (net om vergoeding te eis, die ou vrek!) en dit net omdat ek hulle hond aangehits het om die askoek te byt oorlat Ma my van grootboet weggehou het en oorlat Pa gelag het en oorlat die dekselse donkie agter my rug met Pa se sien vir my gegryns het en oorlat die donkie hulle hond se stert afgebyt het! En is dit dan nou my skuld as ‘n hond meer onnosel as ‘n donkie gaan staan en word het deurdat hy sy stert vir ‘n donkiebyt adverteer?
…Ja, Oupa se som van ‘n halwe wat eintlik ‘n volle is laat my soms onrustig verlang na die harde klipperigheid van my geboorte se geweste. Dan word Oupa se som duidelik waar want mens kry mos ook nie so ‘n ding soos ‘n halwe verlange na jou jeugjare nie, net ‘n hele volle! Wys jou maar net weer die waarheid van die gesegde dat die wysheid in die grysheid lê…
6 Kommentare
-
Evelyn van der Merwe
Ek het hierdie nou terdeë geniet. Heerlik om bydraes met humor in raak te lees. Dankie vir die deel en gooi maar nog 'n paar.
-
neels
Lekker gelees hier
-
Kiekies
Heng 'n puik beskrywende vertelling! Ek sien jy verstaan goed van verlang wat nie half kan wees nie.
-
Mariette
Jinne man hoe voel ek nou so 'n donkie se rugstring se seer onthou daar uit Namakwaland se wêreld. Ek het ook sulkie donkies geken en glo my jou storie is nie 'n liegstorie nie. Ek het dit terdee geniet en myself omtrent slap gelag. Puik!!!!!!
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
Anze
Ai ek het heerlik gelees en lekker gelag.. ja met grysheid kom wysheid ne!!! Ons wag vir jou inskrywings onder liegstories ook ....