
Oor groot woorde en goeters
ek kan in die Ha Aa Tee
na groot woorde gaan soek
‘n vers oor liefde probeer skryf
in metafoor jou jy-wees knap
allitereer en assoneer
gepas vir ‘n groot verseboek
wat oor ‘n honderd jaar of wat
stof opgaar in ‘n solderhoek
dalk eendag uitgegrawe word
deur nóg ‘n sensitiewe siel
wat oe en aa daaroor
dat hartstaal soveel mooier was
in jare van tevoor
maar ek wil sommer eintlik net
terwyl jy hier is, nóú
in gewone krabbelwoorde sê
ek is báie lief vir jou
©️Elize Kruger
25 September 2022
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.