Jongste aktiwiteit:

Op reis: Die ander dae; George (al die pad)

Die dag na die KKNK was ons rustig. Om jouself soos ’n student te gedra is opwindend en lekker maar in jou 30’s is verlore slaap en baie wyn iets wat jou na ’n rukkie beginne inhaal. My sloertoer het verander in ’n vashaak in George (en ’n een-dag-terug-tog huis toe).
Die res van my kuier het bestaan uit ’n ete langs ’n rivier, testosteroon op ’n skietbaan en ’n visbraai met ’n uitsig oor die see. En natuurlik uitstel … elke dag was propvol uitstel. As ek terug dink moet ek mooi dink oor die ware en die watte. Alhoewel ek by elke plek ’n nuwe betekenis en ’n nuwe herinnering daaraan gekoppel het, word herinneringe vaag. Sonder twyfel sal elke detail homself onwillekeurig uit die onthou gaan haal tydens herbesoeke want hierdie dinge bêre mens diep in jou hart …
Wat ek wel duidelik kan onthou van elke dag is die lag. Dit was die beste lag en sorgelose week van my lewe. Ek kon verdrink in grappies, vergeet van enige ding wat pla en myself oorgee aan die oomblik. Dit was laaaaaat aande met rooiwyn en country. Geselse oor woorde, oor verledes en toekomste, oor die nou en hier.
En toe begin ek wonder. Miskien is dit waaroor die lewe werklik gaan? Om soveel lag in een dag te prop; om verlore te raak in oomblikke sonder om jouself met vorentoe te bemoei. Natuurlik sonder onverantwoordelikheid of om skade aan te rig, maar sonder om jouself werklik te veel te kwel. Miskien is dit net geloof en vertroue? Dalk is dit die afbreek van mure of die oopsluit van ’n deur. Miskien is dit om jou eie oë oop te maak, of jou hand in iemand anders sin te plaas …
Het ek myself onthou gedurende hierdie vakansie? Ja ek het. Ek het onthou hoe lief ek vir my land en sy mense is. Ek het onthou hoe lief ek vir klein dorpies en die platteland is. Ek het onthou hoe lief ek vir my taal is. Ek het onthou hoe lief ek vir my vriende is en hoe kosbaar my familie is. Ek het onthou hoe bevrydend die lang pad is en dat ek nie kan sing nie. Ek het onthou wat my gelukkig maak en waarin ek glo. Ek het onthou waarheen ek oppad is. En toe het ek onthou dat daar wel mense is wat ek blindelings kan vertrou. Ek het onthou dat jy ’n maatjie kan hê wat deure vir jou oopmaak en blommetjies vir jou in die tuin pluk, wat met jou die gek kan skeer en jou dan weer bêre in ’n stywe druk. Ek het onthou dat ek my kop kan los by werk maar dat ek my hart kan volg en my pad deur die lewe kan voel. Ek het onthou dat komplikasies nie bestaan nie en dat die lewe eintlik bitter eenvoudig is. Ek het onthou om the lééf.
Môre sal mós vir homself sorg …




Maak 'n opvolg-bydrae

op
Top Ranked Users

[joinup_core_top_members columns=”1″ space=”no” max_members=”3″ behavior=”columns” columns_responsive=”predefined”]

Activity Feed