Jongste aktiwiteit:

Respek vir twee wiele Goud 518 woorde

Hippies. Takhare. Gamtoosvallei gommies. Ek hoor nog my pa se stem wanneer die ‘bikes’ verby die huis brul. Dan vryf hy oor sy yl hare en streel oor die letsel bo sy oor. Fietsketting. “Die bliksems het my vir dood agtergelaat”.

Ek swaai my been behendig oor die 1200R BMW.  Die koue staal klim deur die denim en klou ysig teen my bobene. Hoendervleis lekkerte. “Pa vergewe my”. Die sleutel draai. Die kragtige enjin stotter tot ‘n lewe van sy eie. Pa se woorde verdwyn saam met die wind oor my skouers.

‘Bikers’ word onregverdiglik geoordeel nog voordat mense werklik in die siel van die motorfietsryer kon kyk. Oupa en pa het kleintyd al gewaarsku teen hierdie euwel van die samelewing. Wanneer jy betrokke raak by die motorfietsgemeenskap, besef jy eers hoeveel hierdie mense regtig vir ander doen. Byeenkomste word gesien as, skoorsoek, goed vir niks, suippartytjies. Tog wanneer jy bietjie dieper krap sal jy besef dat daar altyd ‘n fondsinsameling in die agtergrond skuil.  Motorfietsryers is mense met klein hartjies en oop beursies.

Klubs staan saam om elke jaar komberse in te samel vir die minderbevoorregtes. Daar is ook die jaarlikse ‘toyrun’ waar duisende teddiebere en speelgoed ingesamel word. Die speelgoed word onder verskeie instansies verdeel en ook onder kinders in minder gegoede gebiede. Alhoewel al die verskeie klubs saamstaan, het elkeen sy eie stel reëls en regulasies.

Klublede word uitgeken aan die kenteken op sy rug. Wanneer jy daardie teken op jou rug dra, verteenwoordig jy die klub. Lede wat hulself skuldig maak aan wangedrag in die openbaar, sal deur die President van daardie motorsfietsklub aangespreek word. Elke klub bestaan uit ‘n Nationale President, President, Visie President, Tesourier, Kapelaan en dan ook die Padkaptein. Die padkaptein is verantwoordelik vir die padveiligheid van die lede op die pad.  Wanneer jy dus ‘n groep ryers teëkom, wees paraat en moet glad nie tussen lede inbeweeg nie. Hulle beweeg altyd in formasie en die padkaptein, wat altyd agter ry, sorg dat die pad skoon is sodat die ryers voor hom veilig in bane inbeweeg. By ‘n interseksie sal die padkaptein in die middel van die interseksie inbeweeg en die voertuie beheer totdat al die lede veilig oor die pad beweeg het. Motoriste is soms bitter ongeduldig en druk tussen die lede in. Dit kan noodlottige gevolge hê. Motoriste hoef slegs net aan ‘n voor of agterwiel van ‘n ryer te raak om die fiets buite beheer te laat tol.

Motoriste, stukke metaal of hout en slaggate is van die grootste gevare op die pad. Motoriste wat op hulle selfone klets terwyl hulle bestuur en van baan verander sonder om op te let, het al menige motorfietsryer se dood veroorsaak.  Stukke hout en metaal of selfs plastiek en slaggate op die oop pad kan ernstige ongelukke veroorsaak wanneer dit onder ‘n voorwiel van ‘n motorfiets beland.  Wanneer jy as motoris dus ‘n ryer teëkom, wees bedag en ekstra paraat.  Jy kan dalk net ‘n lewe red.

Die pad fluit onder die BMW se wiele. Ek bid terwyl ons ry. Mag die hand van ons Vader oor elkeen wees. Veilig ry.




1 Kommentaar

Maak 'n opvolg-bydrae

Up
Top Ranked Users

[joinup_core_top_members columns=”1″ space=”no” max_members=”3″ behavior=”columns” columns_responsive=”predefined”]

Activity Feed