Splinters van my lewe
vlae van herinnerings soos drome
warrel immer deur my kop
soos winterswind deur bome
soms fluisterend sag
gerusstellend in die nag
soms huilend soos ‘n roubeklag
herinnerings, herhalende refreine
die melodieuse roep van kelkiewyne
wat kom water drink by die krip
voor die son agter die horison inglip
korhaanpare se liefdesduet,
weemoedig mooi, soos ‘n silhoeët
teen rooi kalahariduine
die natuur se roep in Februariemaand
‘n voorspel tot die liefde
as ‘n grondgeitjie met ‘n kiek-kiek-kiek
‘n maat soek in die skemeraand
die sagte roep van die rooiwanguil
‘n uitgerekte tjakoo-chirrrrrr
tot hy in die nag sy maat ook vind
en wegvlieg op hul liefdesbaan,
voor die opkoms van die maan.
Die vleipaddas sing ‘n kettingsang
wat opklink na die eerste reen
‘n uitbundige kãnonkoor
sodat maats mekaar nie moet verloor
In die hitte van die dag
sit sonbesies en teem
hul eentonige lied ‘n skelle klag
teen ‘n ewige tekort aan reen
die windpomp sing sy eie lied
sugtend bekla hy sy verdriet
as hy moeisaam in die skamel wind
water in die dieptes vind
knarsend sy wiel as dit vinnig draai
aangedryf deur die wind se waai
tot hy in oorvloed sy offer stort
‘n silwer stroom wat lafenis word
as ons op somersnagte buite slaap
hou die sterre oor ons wag
met die melkweg wat ons stil bewaak
die maan op sy tog deur die nag
die oggendson deur die boom se blare
speel skadus teen die muur
en ek luister in verwondering
as voëls hulle morelied sing
Onthougoed uit my verlede
kom klim telkens in my kop
van tye lank gelede
soos strelende melodieë
die splinters van my lewe
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.