Jongste aktiwiteit:

Spore van onthou

Spore van onthou

Daleen draai die kar se venster wyd oop toe sy oor die bekende brug ry. Vir ʼn oomblik oorweeg sy dit om by die klein parkeerarea in te draai en soos die oorsese toeriste te vinkhang oor die reling. Daar is nog baie tyd vir dit, herinner sy haarself.
Regs by die T-aansluiting – Pep Stores en die bottelstoor aan haar regterkant en verder af in die straat die bekende grasdakrestaurant waar hulle altyd seekos kom eet het die laaste aand. Die straat is ongewoon stil so na die besige Desember vakansie. Hulle was nooit buite seisoen hier nie. Herinneringe spoel oor haar. Hoekom het sy so lank weggebly, was sy so bang vir die onthou? Sy sluk aan die emosie wat dreig om haar te oorweldig.
ʼn Bekende gesig begroet haar toe sy voor Hippo Lodge tot stilstand kom. Sy vlieg byna uit die motor en gooi haar arms om die dagwag se lyf.
“Thomas! Dis goed om jou te sien!”
Met ʼn verleë glimlag tree die swartman agteruit. “Long time no see. miss Daleen. Ek’s sorry om te hoor van mister Brandt. Hy was ʼn goeie man. Hier’s miss Daleen se sleutel. Ek het die yskas aangesit toe ek hoor jy kom. Als daarbinne is reg vir jou. Kan ek help dra?”
“Ek het net my tas vandag. Sal later gaan kos koop. Ek sal regkom, dankie jong.” Sy skuif ʼn dik lêer eenkant toe, toe sy haar tas en skootrekenaar uit die kattebak lig. My hele Desember vakansie, dink sy vies, opgeoffer vir net mooi niks!
ʼn Rukkie later stap sy – kortbroek aan die wit bene, ingevryf met sonskerm en ʼn hoed op die kop, selfoon, ʼn botteltjie water en geld in haar rugsakkie – by die deur uit. Dis tyd om op die spore van onthou te gaan stap.

St. Lucia was haar en Brandt se plek. Twee keer per jaar sou hulle hierheen kom, weg van die stad en sy bekommernisse. Vir 10 dae elke Julie en Desember vakansie sou hulle hier kom afskakel. In die stad met sy gejaag het hulle dikwels by mekaar verby geleef maar hier sou hulle dit wat hulle aan mekaar verbind het weer terugvind. Hulle kon ure lank op die strand sit, plat op die sand, visstok in die hand. Dis hier dat hulle vrede gemaak het met hulle kinderloosheid, dit wat hulle byna uitmekaar gedryf het. Sy het Brandt verwyt vir die feit dat sy nooit ʼn kind sou kon baar nie. Haar arme man, dink sy terwyl sy met die pad na die meer stap. Hy het stiller en stiller geraak en langer ure begin werk in ʼn poging om weg te kom van haar ewige verwyte. Dit was sy skuld dat hulle nooit sou kinders hê nie. Lae spermtelling, het die dokters gesê toe hulle na vyf jaar se vrugtelose probeer uiteindelik gaan hulp soek het. Daleen het met haar hele hart gesmag na ʼn baba van haar eie en die man wie sy liefgehad het met haar hele hart, kon dit nie vir haar gee nie. Hulle het verder en verder uitmekaar gedryf tot hulle, in ʼn laaste poging om hulle huwelik te red, St. Lucia toe gekom het.

Daleen se kuite brand toe sy uiteindelik op die muurtjie langs die meer neersak. Sy het vergeet hoe ver dit werklik is. Sy was nog nie weer hier vandat die mond oopgespoel het nie. Môre, neem sy haarself voor, sal sy omstap na die mond toe. Nou wil sy net hier sit, hier waar sy en Brandt soveel gelukkige ure deurgebring het, en na die krokodille en seekoeie op die eilandjie kyk. Ten spyte van die pyn in haar hart glimlag sy toe sy die klein seekoeitjies sien speel soos kinders. Uitbundig hardloop hulle oor die eilandjie om met ʼn boog in die water te duik en omswem om aan die anderkant uit te klim en die proses te herhaal. Dis hier dat ʼn krokodil vasgestrengel geraak het in Brandt se vislyn en hulle gekyk het hoe hy op die eiland uitstap en ewe vies sy kop skud om van die lyn ontslae te raak.
Sy trek haar asem rukkerig in. Die sielkundige wat sy gaan spreek het in daardie verskriklike jaar na Brandt se skielike dood het gesê dat sy, wanneer sy gereed was, op hierdie onthouspore moet kom loop. Sy het nie gedink dat sy ooit gereed sou wees nie. Sy was bang. Bang vir die onthou se seer, bang dat dit haar weer sou laat terugval in die donker gat van depressie waarin sy geval het die dag toe sy daar langs sy bed, sy hand in hare, moes totsiens sê.
Sy kan nie veel van daardie jaar onthou nie. Net die verskriklike donker wat haar ingesuig en vasgevang in sy swart modder gehou het. Sy wou, kon nie leef sonder Brandt nie. Na ʼn skamele drie weke menslikheidsverlof moes sy terug skool toe, voor ʼn klas gaan staan en probeer entoesiasties raak oor Romeo en Juliet, terwyl sy eintlik, soos Juliet, ʼn einde aan haar eie lewe wou maak. Haar kollega’s se simpatie het mettertyd gekwyn. Sy was dikwels in die moeilikheid oor werk wat nie betyds afgehandel was nie, punte wat verkeerd verwerk is, haar onentoesiastiese benadering tot die kinders wat voor haar gesit het. Eers het haar vriendinne haar probeer beskerm, take op hulle geneem, die skuld gevat vir dinge wat verkeerd geloop het. Maar selfs hulle het moeg geraak vir haar ewige donkerte. Hulle kon haar nie vir altyd dra nie. Dit was Kate wat een middag haar onseremonieël in die kar geboender het, dokter toe en van daar sielkundige toe. Kate wat by haar ingetrek het en elke dag seker gemaak het sy drink haar pilletjie en kom haar weeklikse afsprake by die sielkundige na. Kate het haar kruk geword tot sy weer op haar eie voete kon staan.
Brandt sou trots wees op my, dink sy. Hier sit ek nou, op ons plek, my hart seer maar vry. Sy lig haar kop en kyk op na die hemel, daar vanwaar hy sekerlik afkyk op haar. “Ek het dit gedoen, my lief!” prewel sy. Skaars vier-en-twintig uur het verloop sedert sy uit die hoof se kantoor gestap het, haar kop omhoog, lêer vasgeknyp onder die arm.

Daar is ʼn geroesemoes van stemme in die personeelkamer toe die nuwe roosters vir die jaar uitgedeel word. Daleen kyk in ongeloof na die vel papier voor haar. Sy hoor skaars hoe haar vriendinne met mekaar praat, werksladings vergelyk en jubel omdat die E-klasse nie op hulle roosters verskyn nie. Sy is vaagweg bewus van die hoof wat die vergadering beëindig en mense wat die personeelkamer geselsend verlaat. Sy voel hoe ʼn witwarm woede van haar besit neem, tel die lêer van die tafel voor haar op en stap met die gang af na die hoof se kantoor.
Hy kyk half gesteurd op toe sy die kantoordeur agter haar toemaak.
“Daleen. Kom sit. Waarmee kan ek …” Hy bly skielik stil. “Is iets verkeerd?”
Daleen plak die dik lêer voor hom neer.
“Verkeerd? Vertel meneer my of daar iets verkeerd is.” Sy lig haar hand toe hy sy mond oopmaak. “Nee wag, kom ek vertel sommer gou vir meneer wat verkeerd is. Kom ons begin by November 2021. Meneer, my departementshoof en ek het by hierdie tafel gesit. Oorkant my ʼn jong mannetjie, nog nat agter die ore, pas afgestudeer. Iemand se niggie se seun, as ek reg onthou, ʼn nuwe toevoeging tot die tanende mansgetalle op die personeel. Kranige rugby-afrigter. Taalonnie. Meneer was so dankbaar hy kom na ons skool toe want taalonderwysers is so skaars. Wat ʼn aanwins vir ons skool.” Die sarkasme drup uit elke woord wat uit haar mond kom. “Ek onthou elke woord wat meneer daardie oggend gesê het. ‘Daleen, ek gaan hom by jou plaas, vir hom een matriekklas gee. Ek kan nie dink aan ʼn beter mentor vir hom nie.’” Daleen sit vooroor in haar stoel en plaas haar elmboë op die hoof se lessenaar sodat hy nie anders kan as om haar reguit in die oë te kyk nie.
“Meneer het vir my my rooster gegee. Ek sou vyf matriekgroepe hê en dieselfde werkslading as die vakhoofde. Dit sou my geleentheid gee om een keer per week met watookal sy naam is te vergader om hom te help met sy lesaanbieding.” Sy plak die rooster wat sy ʼn paar minute gelede ontvang het voor hom neer. “Dit is wat ek vanoggend kry. Een groep matrieks, drie groepe graad elfs, twee groepe graad tiens. As dit nie te veel gevra is nie, kan meneer asseblief verduidelik?”
“Wel, Daleen… uhm, die saak staan so. Jou, uhm, track record die laaste twee jaar is, wel, uhm … nie goed nie. Ons het dit goedgedink om jou eers nog ʼn jaar te gee om heeltemal weer op koers te kom.”
Daleen verstik amper aan haar kleintongetjie. “Ekskuus? In November is ek die beste mentor wat meneer vir hom kan gee – jou eie woorde – nou, minder as twee maande later verander jy van deuntjie?” Sy kom nie eens agter dat sy nie die formele aanspreekvorm waarmee hulle die hoof aanspreek gebruik nie. “In Maart 2019 hét my lewe uitmekaar geval en het ek nie my werk goed genoeg gedoen nie. Ek is volwasse genoeg om dit te erken. Maar ek het verlede jaar meer as opgemaak daarvoor. Die graad 11’s het beter gedoen as in jare. Ek het elke stukkie werk wat ek dalk nie met hulle in graad 10 gedoen het nie, opgevang. Hulle voorberei vir matriek. Nou wil meneer vir my kom vertel my “track record” is nie goed nie? From hero to zero in minder as twee maande?”
Die hoof skuif ongemaklik reg op sy stoel.
“Wel, uhm, jy sien, die saak staan so. Jy weet dat daar maar min mans op die personeel is. Ons sukkel op die rugbyveld en die dissipline gaan maar agteruit as die seuns nie goeie manlike rolmodelle het nie. Jaco het, uhm, wel, ʼn ander skool het hom genader met ʼn beter pakket as wat ons hom kan bied. Die enigste manier wat ons hom kan behou … die beheerliggaam het die besluit geneem, nie ek nie … is om hom die matriekgroepe te gee. Dit gaan hier oor die groter prentjie, jy kan dit seker insien? Die beswil van die skool moet hier belangriker wees as jou eie ego.”
Daleen is seker haar mond hang oop. Haar eie ego?
“Nee dis reg, Meneer. Ek verstaan. Mans op die personeel is baie belangriker as ʼn honderd persent slaagsyfer.” Sy leun vooroor en maak die lêer wat sy voor hom neergesit het oop. “Hierdie, Meneer, is ʼn hele Desember vakansie. Elke gedig is ontleed en nota’s is opgestel. Hier is Life of Pi – elke hoofstuk opgesom. Dieselfde met Hamlet. Meneer se Jaco’tjie sou nie nodig gehad het om iets te doen nie, ek het sommer als vir hom gedoen.” Sy sien hoe die hoof se gesig ophelder.
“Sjoe, dankie! Dit gaan sy lewe baie maklik maak!”
Daleen glimlag.
“Nee, jy verstaan nie mooi nie, Meneer. Ek sê SOU, nie sal nie. Want meneer sien, as ek by hierdie kantoor uitstap, stap hierdie lêer saam uit. O ja, en amper vergeet ek. Ek bedank.”
Die hoof se mond gaap oop en toe. “Maar, jy kan nie … waar kry ek nou ʼn ander Engels onderwyser? Drie maande, jy moet drie maande kennis gee, jy kan nie sommer net bedank nie!”
Daleen voel ʼn oomblik van totale mag oor haar spoel. “Ek neem drie maande verlof, dit behoort julle genoeg tyd te gee om iemand in my plek te vind en om al die papierwerk af te handel. Julle het lank genoeg op my getrap. Ek is klaar.” Sy staan op, skud haar hare agtertoe, tel haar lêer op en stap by die kantoor uit.

Sy is van daar af reguit huis toe, net vir Kate gaan groet. Kate se fist bump en “You go, girl” was al wat sy nodig gehad het om te weet dat sy die regte ding doen. Hippo Lodge het haar huisie beskikbaar gehad en vroeg vanoggend het sy vertrek.
“Dankie, Brandt,” fluister sy hemel toe. “Dankie dat jy deel van my lewe was. Dankie dat jy gister daar langs my gestaan het in die hoof se kantoor, dat ek kon doen dit wat jy my so lank aangemoedig het om te doen. Dankie dat jy so mooi voorsiening gemaak het vir my, dat ek nie nodig het om ooit weer te werk nie. Ek gaan ons twee se storie skryf terwyl ek hier is, ons liefdesverhaal. Ek sal jou nooit vergeet nie, my lief, maar dis tyd om totsiens te sê. Môre gaan ek jou vrylaat daar waar die rivier vry is om in die see te spoel.”
Tien tree voor haar breek die wateroppervlak oop. Twee kraalogies loer vir haar voor die groot bek wydoop gaap en die seekoei weer onder die water verdwyn. Sy kan sweer hy het vir haar geknik.




1 Kommentaar

  • Madelé Burger

    Daleen! Well done! Jy het vir jou regte opgestaan! Jy is sterk op pad na heelword, indien nog nie heeltemal heel nie! Jy gaan dit maak! En Marianne, knap gedaan. Ek het so lekker gelees. Baie dankie.

Maak 'n opvolg-bydrae

Up
Top Ranked Users

[joinup_core_top_members columns=”1″ space=”no” max_members=”3″ behavior=”columns” columns_responsive=”predefined”]

Activity Feed