Jongste aktiwiteit:

SÊ DIT WEER

SÊ DIT WEER
Hy maak sy oë toe, weet nie eers ingroei toonnaels kan soveel pyn veroorsaak nie, ‘Die vervlakste Amerikaners met hulle tien gemiddelde skoen grootte,” en hy kyk na sy nommer twaalfs, sien die blase aan sy voete, en is seker hy het nog nooit soveel pyn gevoel nie.
Hy probeer sy gedagtes wegvat van hierdie seer voete, en sy gedagtes stap ʼn lang pad terug, drie jaar terug – daar toe Wayne, hy wat hulle almal met hulle lewens vertrou het, hulle in die rug gesteek het, en hy weet, hy het al seerder gehad as hierdie voete, die verraad van ʼn boesemvriend.
Hy verkwalik homself weer, hulle moes dit sien kom het – die Jeeps vir hom en vroulief, die huis wat ses-en-dertig duisend rand per maand gekos het, die kort-betaling daardie laaste vier maande, die ewige ontwykende antwoorde – en toe die verdwyn in die nag met die laaste groot betaling van die kontrak, en hulle ander tien, sonder geld, sonder heenkome, in totale gemors.
Die oppak van sy paar besittings, die skaamte om geld te vra om die uitstaande huur te betaal, die veg om sy voertuig te behou, en hy wonder of hy ooit in sy lewe oor daardie gemors sal kom.
Hy dink aan sy eie ineenstorting, die teruggaan na sy ma se huis, haar simpatie, haar inneem van hom en haar versorg van hom – meer as wat van die ander spanlede gehad het.
Hy herleef die maande se depressie, die onvermoë om werk te kry, en hy kyk na sy twee voete, en hy weet, hierdie blase is niks in vergelyking met daardie pyn nie.
Hy voel die oplewing in hom, onthou die dag toe sy ma besluit het om Kaapstad toe te verhuis, en hy onthou haar woorde, “Hier is niks vir ons oor nie seun, kom ons gaan maak ʼn lewe op ʼn nuwe plek.”
Hy beleef weer die verandering in hom, die oppak, die rit af Kaap toe, die intrek in ʼn nuwe huis, ʼn nuwe lewe, en hy weet, dit was die begin van beter dinge vir hom.
Hy onthou die werk soek, die besluit om meer kwalifikasies by sy reeds bestaande kwalifikasies te voeg, die gedurige druk van sy ma om seker te maak hy val nie terug in sy depressie nie, en hy dank haar weer.
Die terugval in die depressie wanneer aansoek na aansoek onsuksesvol was, en toe, daardie raad van ʼn kollega van sy broer waar hulle met ʼn paar vriende die werk situasie bespreek het – “Jacques, ek ken jou nie persoonlik nie, maar waarom gaan werk jy nie met jou kwalifikasies in Amerika nie.” Die aangee van die servet met die webwerf se besonderhede, die woorde wat hy altyd wil onthou – “Indien hulle hier te blind is om kwaliteit te waardeer, gaan lewer daardie kwaliteit werk vir hulle wat dit wel sal waardeer.”
Nou, hier, is hy met vreugde gevul omdat hy nie in Suid Afrika werk kon kry nie. Die week vandat hy hier in hierdie land geland het, die vreemde ontvangs by sy aankoms, die deurneem van hom na die werkswinkels, die toets voor hy begin werk het, en hy sien die man se gesig weer, hoor sy stem in daardie vreemde Amerikaanse aksent.
“Jy het gesê jy kan vleklose staal sweis, wys my,” en hy glimlag soos daar in die werkswinkel, as daar een ding is wat hy kan doen, is dit met vleklose staal werk.
Hy voel weer die genoegdoening, onthou die presisie van sy werk, die ligte polering, en die merklose produk.
Daardie woorde in daardie Amerikaanse aksent wat hy elke dag wil onthou, “My vader, uiteindelik ʼn man van sy woord, jy is ʼn ware kunstenaar met vleklose staal. Reik sy uitrusting uit Jack, hierdie is die man waarvoor ons gebid het,” en iewers in hom het die selfwaarde weer kop uitgesteek.
Die week se werk, die ander ouens se aanvaarding van hom, hulle belangstelling in hom en in Suid Afrika, en hy weet, die breek waarvoor hy en sy ma gebid het, het gekom.
Hy hoor hulle, laggend na die week se werk, op pad uit glo hy, en hy hoop hulle sal ʼn lekker aand hê.
Die klop aan die deur, die swaar Amerikaanse aksent, “Hey Jacques, is jy reg om te ry,” en hy skud outomaties sy kop, ‘Ry, is hulle mal, met voete soos syne’.
Die oopstoot van die deur, en die vyf drukkend teen mekaar in die noute van die klein kamertjie.
“Nog nie aangetrek nie,” en hy skud sy kop, “Nee, ek loop nêrens heen met hierdie voete nie,” en hy lig sy nommer twaalfs sodat hulle die blase kan sien.
“Ag, dit is niks, ons maak dit gou reg,” en hy probeer hulle weghou van sy voete af, maar hulle hou sy hande vas, neem die salf, sit dit op die gaas en draai die verbande om sy voete.
Hy sien hoe hulle sy reissak oop rits, ʼn denim, kouse en sy pantoffels uithaal, en hy laat hulle begaan. Met die rondstoot van hom weet hy hoe ʼn baba voel wanneer hy gebad en aangetrek word, en wanneer hy wankelrig tussen hulle staan, ten volle aangetrek deur hulle, tel hulle hom op en dra hom sonder enige seremonie uit die kamer, af met die trappe, en stoot hom behoorlik die viertrek in.
Hy luister na hulle, hoor die sorgelose praat en lag, en hy weet, hy wil weer eendag so sorgeloos wees, nie elke oomblik net hierdie mens in vertwyfeling wees nie.
Die stop by die kroeg en die indra en neersit van hom by die kroeg toonbank laat hy net gaan, en wanneer hy uiteindelik homself reggeskuif het, voel hy of hy net op sy arms wil lê.
Hy kyk na al die verskillende drank agter die toonbank, sien die kroegman besig aan die vêr-kant van die kroeg, en berus, ‘Hy sal geduldig wag, dit gaan ʼn baie lang aand vir hom hier langs die kroeg toonbank wees’.
“Hi ouens, kan ek gou julle bestelling neem,” en hy sit orent, draai om en soek die eienaar van daardie pragtige Amerikaanse stem, en dan sien hy haar, en al wat hy kan dink, “Wat het die Here besiel om so ʼn pragtige mens te maak.”
Hy voel hoe hy hom vererg vir die ouens wat so met haar ‘flirt’, sien die pragtige mens laggend met hulle gesels en hulle bestellings neem, en uit pure moedeloosheid draai hy net terug na die kroeg, ‘Wat het dit met jou te doen Jacques, sy sal tog nooit in jou belangstel nie,’ maar hy weet, dit is die mooiste mens wat hy ooit gesien het.
Hy wag geduldig, probeer dink aan die afgelope tyd, maar die kroegman se stem ruk hom terug in die werklikheid, “Wil jy jou drankie nou bestel,” en hy probeer onthou wat hy wou drink, maar die mooi mens het elke gedagte wat hy gehad het uit sy kop laat gaan.
Hy verhef sy stem so effens bo die gelag, “Wat het julle ‘on-tap’.”
Voor die kroegman kan antwoord is die stem by hom, “O, sê dit weer.”
Hy is een oomblik stom, sien die gesiggie, “Wat.”
“Herhaal asseblief jou bestelling.”
Hy doen dit, te deurmekaar geskrik om te weier, “Wat het julle ‘on-tap’,” en daardie pragtige stem, “O jou aksent is pragtig, vanwaar kom jy.”
“Suid Afrika,” en hy voel ʼn totale swaap.
Dan die stem, “Amanda, jou bestellings is gereed,” en sy vat een oomblik aan sy arm, “Ek moet gaan, maar ek wil weer met jou gesels.”
Hy hoor die kroegman die biere se name noem, kies sommer een sonder om te dink, en hy weet, hy is totaal uit sy gemak sone geruk deur daardie pragtige mens.
Hy hou haar dop, hoor elke woord soos die aand aangaan, en hy weet, indien daardie ‘Verlief met die eerste oogopslag storie waar is, dan is hy verlief.’
Kwart voor twaalf tel hulle hom op, dra hom die kroeg uit na die viertrek, en hy voel ʼn ongelooflike verlies dat die mooi mens nie weer by hom uitgekom het nie.
Die in dra in die kamer in, die op sy seer voete hobbel na die badkamer, en die uiteindelike gaan lê, word afgesluit met die beeld van daardie pragtige mens voor hy aan die slaap raak.
Hulle stap negeuur sy kamer binne, en waar hy langs die lessenaar sit sien hy die moeilikheid kom, “Waar is jou baadjie en pantoffels, kom ons kry jou uit hierdie klein kamertjie.”
Hy kyk van sy voete na hulle, weet hulle is doof en blind vir sy pyn, en soos die vorige aand, trek hulle hom aan, druk sy beursie in sy sak, dra hom doodeenvoudig na die viertrek en hy skuif maar in, nie die krag om teen hulle vyf the veg nie.
Hy sien die borde ‘Carousel’, en hy kan nie glo hulle doen dit aan hom nie, maar hulle dra hom deur al die mense wat hulle aanstaar en openlik lag, en sit hom op ʼn bank neer, “Sit hier Jacques, ons is later terug,” en sonder ʼn verdere woord loop hulle, en los hom daar.
Hy kyk na die stalletjies en die mallemeule, soek of hy die woord Toilet enige plek sien, en kan nie glo die vyf het hom so ʼn streep getrek nie.
Dan sien hy haar, die pragtige mens met ʼn ouer vrou en ʼn klein seuntjie aan die hand, en terwyl hy vreugde voel, voel hy die teleurstelling in hom – ‘so is dit, daardie een mens wat hy graag in sy lewe sou wou hê, is getroud,’ en hy probeer wegkyk, maar hy kan nie.
Hulle kom reguit na hom aangestap en hy weet nie wat om te doen nie, en dan is hulle by hom, “Hallo Jacques,” en sy hart wil gaan staan, ‘sy ken sy naam’, “Hallo,” en hy weet nie waarom nie, “Pragtige mens,” en hy sien die vreugde, en die blos.
“Hierdie is my moeder en my seun Abel,” en met effens meer rooi op die pragtige wange, “My naam is Amanda, sal jy saam met ons stap, Abel wil graag ʼn speelding by een van die stalletjies wen.”
Hy kyk rond om te sien waar die pa is, en sy sien dit, “Ons is alleen, daar is niemand anders nie,” en dit vat al die teleurstelling weg – ‘daar is nie ʼn man in haar lewe nie’.
Hy staan op, en hy kan nie onthou waarom hy nie wou loop nie, hy vat die klein seuntjie-handjie wat na hom uitgehou word, tel die mannetjie op, sit hom op sy skouers en stap in die rigting van die stalletjies, ‘Die mannetjie wil ʼn speelding wen, en hy sal daardie speelding vandag wen,’ en hy voel so lig op sy voete asof hy dans, en die jare se teleurstelling is skielik weg.




2 Kommentare

Maak 'n opvolg-bydrae

Up
Top Ranked Users

[joinup_core_top_members columns=”1″ space=”no” max_members=”3″ behavior=”columns” columns_responsive=”predefined”]

Activity Feed