Jongste aktiwiteit:

Hoe diep die vreugde

Hoe Diep die Vreugde

Die skok tref hom soos ʼn vuishou op die hart, ‘Rastor Battle, ʼn baie jong Rastor Battle’, flits dit deur hom, maar dit kan nie wees nie, dit weet hy. Hy sien dit asof in stadige aksie, die oopswaai van die luukse motordeur, die pragtige hakskoene met die perfekte enkels en kuite, en die perfekte slankheid wanneer sy buite die motor staan bevestig dit is ʼn vrou, ʼn treffende mooi vrou.
Dat sy Rastor Battle se kind is, is seker, van die raafswart hare tot die ongelooflike groengrys oë, en wanneer sy haar hand na hom uitsteek, sien hy die effense knik van die regter oog, en die skaam glimlag om die mond, en hy weet, nie net Rastor Battle se kind nie.
“Middag, ek is Marty Battle,” en haar stem klink soos hy geweet het dit sal klink, Marelè se stem. Die perfekte Afrikaans in die bekoorlike buitelandse aksent tref hom wel, dit is eie aan haar.
“Middag, ek is Baxter Melville.”
Die effense opheldering van die gesiggie verhoog die jeugdigheid van hierdie vrou, en dit raak hom, want hy weet, sy is nie ʼn dag jonger as dertig nie, presies dertig jaar, ses maande en vier dae, al lyk sy soos ʼn agtienjarige.
Weer die knik van die oë, en die pragtige stem, “Dit is u na wie ek soek, meneer Roberts van die prokureursfirma het my geadviseer om met u te praat, aangesien u my sal bystaan.”
Hy voel die vreugde in hom, en sy sien dit op sy gesig wanneer die plooie wat vyftig jaar se lewe verteenwoordig versag en verander in ʼn glimlag.
“Ja ek sal baie graag.”
Sy is effens meer verleë, “Waar is my huis, waar is Battlefields?”
Baxter Melville lag uit volle bors, ‘Marelè se Marty is hier, en sy soek haar huis’. Hy draai om en wys met sy vinger na die kasteel oorkant die meer, “Daar is hy, daar is jou Battlefields.”
Haar regteroog knik weer so effens, Marelè se knik, en sy sê, “Die wêreld behoed my, wat vir ʼn naam is dit?”
“Dit was jou groot oupa se idee, hy was maar ʼn strydlustige mens.”
Sy lag, en die klank daarvan is pragtig, “Ek is nie strydlustig nie, ek is ʼn vredeliewende wese,” en sy glimlag, en dit vat aan hom.
“Dankie vir die hulp, ek sal u seker Maandag by die myn sien?”
Baxter voel die vreugde in hom, ‘Dankie Here vir U genade’, flits dit deur sy gedagtes.
“Jy sal definitief, en onthou asseblief, ek sal altyd daar wees indien jy hulp nodig het.”
Wanneer haar regter oog weer effens knik, is dit Marelé se pragtige gesig wat in sy gedagtes vassteek, en hy weet hierdie mens voor hom hou al die geluk wat Marelé toekom in haar hande, en hy is haastig om by sy prag vrou te kom. Haastig om haar hierdie ongelooflike goeie nuus mee te deel.
Wanneer sy in die motor sit, sê sy weer dankie, en hy vra sonder om te huiwer, maar met ʼn vasberadenheid wat hy nog nooit gevoel het om iemand in hulle lewens in te trek nie, “Môre is Sondag, kom eet in die middag by my en Marelè, ons woon in die groot wit gewelhuis teen die water,” en hy wink met sy kop in die rigting van hul huis.
Vir ʼn oomblik is Rastor se frons op haar gesig, maar met Marelè se glimlag aanvaar sy die aanbod.
Hy kyk na haar, voel die leeftyd wat verby is se wanhoop in hom, hy weet, hulle stryd om hierdie kind se liefde is nog lank nie verby nie, en hy wonder wat Rastor haar vertel het wat haar al hierdie jare weggehou het van hulle.
Hulle kom die tyd ooreen, en met ʼn groet ry sy die pad af na haar ‘Battlefields’.
Hy kyk die motor agterna, onthou Rastor Battle in sy jeug in ʼn soortgelyke model, en hy wonder of hierdie seldsame motor die een uit die verlede is, maar hy laat dit gaan, dit maak werklik nie saak nie.

Wanneer die deur oopbars kyk Marelè Melville op, en die vreugde op haar man se gesig tref haar. Hy gee haar nie kans om te praat nie, en die opgewondenheid in sy stem laat haar orent kom, “Sy is hier, Marty is hier, jou Marty is hier.”
Vir een oomblik is Marelé versteend, dan dring dit tot haar deur, ‘Marty’, hy het haar dan tog Marty genoem soos sy altyd begeer het.
Die oomblik is vir Marelè Melville te veel, sy bars in trane uit, en hy neem haar in sy arms, hou haar teen sy hart vas, en laat haar, haar trane stort.
Die wonderlikste wete is in haar, ‘My kind is hier na dertig jaar is my kind terug,’ en hy soen haar sag op haar voorkop terwyl hy haar troos, “Toemaar my lief, al ken sy jou nie, sy sal jou leer ken, en sy sal jou liefkry.”

Die huis is stil wanneer Marty die groot deure oopstoot, maar dit pla haar nie, sy is gewoond om alleen in stilte te wees.
Vir een minuut herroep sy die prokureur se openlike vreugde vroeër toe sy die sleutel gaan haal het, en ook Baxter Melville se vreugde en vriendelikheid, en sy glo dit kom van hulle vriendskap of kennis van haar pa, en sy voel ʼn vreugde om hier te wees.
Sy weet sy is alleen in die huis tot die volgende week wanneer die staf terug sal keer, en vir nou is sy dankbaar daarvoor. Sy het ʼn paar dae alleen nodig in hierdie huis, net tyd nodig om iets van haar pa se mense te sien en te beleef.
Die eerste indruk van die huis, herinner haar aan die huisinhoud van haar en haar pa, en sy weet haar pa en haar oupa se geaardhede moes baie dieselfde gewees het, want die huis kon net sowel haar pa se huis gewees het, geoordeel aan die meubels, die matte, die skilderye, en die atmosfeer wat dit skep.
Sy dra haar tas deur die vertrekke tot sy die slaapkamers vind. Sy besluit op die kamer met die swaar donker outydse meubels, die liggrys mure, en die pragtige kleurvolle lappies kombers. Sy trek die gordyne oop, en die prentjie wat die meer met die kleurvolle huise aan die oorkant skep, bring vir ʼn oomblik ʼn heimwee na haar pa in haar.
Sy gaan sit op die bank voor die venster, trek haar bene onder haar in, voel die warm son om haar vou, maak haar oë toe, en onthou haar pa, en sy verlang.
Sy sit laat aand by die groot kombuis tafel, eet die wegneem ete wat sy saamgebring het, en drink koffie uit die pragtige beker wat sy geneem het waar dit onder die kombuiskaste aan hakkies hang, en dit voel of sy tuis is, tuis in die berge waar haar lewe is.
Daar is vir haar geen slaap in die nag nie. Sy dwaal deur die huis, hierdie huis waar haar pa gebore is en groot geword het. Hierdie huis wat hy dertig jaar gelede verlaat het om nooit weer terug te kom nie. Sy soek antwoorde op al die vrae in haar gemoed, maar sy kry dit nie, want sy weet nie waar om te soek nie.
Die oggendson kry haar langs die meer, en deur sy venster sien Baxter Melville haar alleen aan die oorkant van die meer staan. Hy sien aan haar klere sy het nie geslaap nie, moontlik nooit eers gaan lê het nie. Sy hart gaan uit na haar, en hy weet hy sal haar moet help, veral teen Erhard, hy wat so ʼn geweldige wrok teen Rastor Battle het.
Marelè se vrees en opgewondenheid ken geen perke nie. Ook sy het nie vannag geslaap nie. Sy het weer die dae beleef nadat Rastor dertig jaar gelede haar kind gesteel het en land uit gevlug het.
Sy het weer elke hartseer dag van die afgelope dertig jaar beleef, daardie hartseer omdat haar kind nie weet sy het ʼn moeder nie, nie weet dat sy Marelè, haar moeder is nie.
Marelè voel die pyn in haar, sy weet nie eers hoe haar kind lyk nie. Die ergste is, sy kan nie vir Marty sê sy is haar moeder nie, sy weet, Marty het nie haar moeder kom soek het nie, anders sou sy lankal hier gewees het. In haar diepste wese weet sy, Rastor het nooit vir Marty van haar vertel nie, en dit breek haar hart, maar sy weet hy sou nooit, dit het sy veradderlike daad verseker.

Wanneer Marty aanklop, wag Marelè en Baxter reeds in die portaal. Die eerste sien van haar kind bring die trane na haar oë, maar sy dwing dit weg, kyk net na hierdie ongelooflike pragtige mens, en sy voel ʼn ongekende rus in haar.
Die vat van die skraal handjie, die voel van die krag daar in, die sien van die grysgroen oë, die groet wat kom saam met die pragtige stem, is oomblikke waar alles om Marelè verdwyn, net hierdie mens voor haar bestaan.
Hulle staan teenoor mekaar in die portaal, en dit is vir Marelè ʼn pyniging, ʼn pyniging omdat sy weet haar kind ken haar nie, sal haar nooit eers eien as haar moeder nie.
Die oomblik wanneer Marty in hierdie vrou se oë kyk, weet sy daar is iets so ontsettend bekend aan haar, maar sy kan dit nie plaas nie. Sy weet nie waarom nie, maar sy voel ʼn oombliklike aangetrokkenheid.
Marelè steek haar hand uit, vat die pragtige mens se hand weer, en trek haar liggies saam met haar deur die huis tot in die groot sonvertrek. Sy voel die onwilligheid in haar om hierdie hand te laat gaan, maar sy weet sy moet, vandag is nie die dag om hierdie mens in dertig jaar se hartseer in te trek nie.
Dit word ʼn dag soos geen ander in Marelé se lewe, sy wys met trots haar huis aan Marty, wys elke klein detail wat sy so oor die jare versamel het met die hoop dat haar kind terug sal kom. Marelé kyk na die hande en die gesig van hierdie prag mens, en probeer die paar dae oue babatjie wat sy verloor het vind, maar hierdie wonder wat voor haar staan kan sy nie regtig in die paar dae oue baba wat sy onthou vind nie, en dit ontstel haar geweldig.
Hulle besef albei so stil in hulself, hoe baie hul smaak en voorkeure ooreenkom. Terwyl dit ʼn geweldige vreugde in Marelé bring, en sy dit beleef soos ʼn moeder dit met haar kind sal beleef, is Marty verwonderd, maar haar onkunde oor hoe vroue, of selfs hoe ʼn moeder en haar dogter dinge sal deel, laat haar dit net verby laat gaan, want sy ken geen ander vroue nie, haar vader het nooit ʼn dame aan huis gebring nie, nooit eers na een verwys nie, dit was net altyd hulle drie, hy, sy en oom Richard.
Marty drink alles in wat sy sien en hoor, maar al wat vir nou saak maak, is, hierdie mense is vyftig jaar deel van hierdie wêreld wat al die geheime hou wat sy ʼn antwoord op soek.
Dit is wanneer Marty die foto’s op die klavier sien, dat sy oorloop van vreugde, vir een oomblik glo sy, sy eien haar vader op die foto, en gil sy van opgewondenheid, maar Baxter Melville help haar reg, “Dit is jou oupa, jou pa se pa.”
Hy sien die teleurstelling wat een oomblik in haar oë flits, maar dan verdring Marelé se glimlag en lewenslus die teleurstelling, en gaan sy aan met die verwyt in haar stem, “Ek is so bitter spyt ek het hom nie geken nie, en hy nie vir my nie.”
Baxter en Marelé kyk vinnig na mekaar, en Baxter kry vir ʼn enkele sekonde die begeerte om hierdie prag mens reg te help, maar hy onthou die belofte aan ou Rastor, en hy laat die oomblik verby gaan. Laat hy Marty alleen in haar ellende, want ou Rastor het meer as hulle gely, en indien Rastor weet sy pa leef nog, sal hy nooit terug kom nie.
Almal se hoop is gevestig op die koms van Rastor Battle om sy menslikheid, indien hy so iets nog het, te wys, en hierdie myn, hierdie mense, en veral sy ouers te red.
Vir ʼn vlietende sekonde bruis die haat in hom op teen die man wat hierdie dorp en hierdie mense so swaar laat kry, het, Marelé so swaar laat kry, het, maar hy dwing dit weg, ‘Nie vandag die heerlikheid bederf nie,’ weet hy.
Marty skud die hartseer van haar af, en kyk na die ander foto’s, haar oog val op die van ʼn forsgeboude jongman en sy glimlag na Marelé, “Julle het ʼn aantreklike seun.”
Marelé se oë glimlag wanneer sy praat, maar in haar hart sê sy, ‘en ʼn lieflike dogter’.
“Ja dit is Erhard ons aangenome seun, hy is die Bestuurder van Eastern Levels.”
Marty voel die skok en kommer in haar, die prokureur het haar gewaarsku teen Erhard Kruger, en sy herroep sy woorde. “Hy is ʼn mens met ʼn ontsettende woede in hom, en die Battles is nie deel van sy vriendekring nie.”
Marty wonder steeds hoe hy die Battles kan haat, hulle is tog die mense wat almal se werk en lewens verseker, net soos met die tientalle ander ondernemings waar sy oor die afgelope maande reg oor die wêreld aangedoen het.
Die Battles is geliefde mense daar, waarom sal dit hier verskil, hier waar haar pa nie in dertig jaar was nie, en sy glo dit moet iets met haar oupa te doen hê.
Vir een vlietende oomblik wonder sy weer waarom haar pa nooit hierdie myn genoem het nie, en nooit eers aan enige finansiële state geraak het nie.
Die vraag brand in Baxter se gemoed, en hy weet teen sy beterwete hy wil dit vra, “Waarom is jy hier Marty?”
Sy kyk hom lank en intens aan, “Om na ons sake om te sien, om my verlede te vind, eerlik, ek weet nie regtig wat my hoofdoel is nie, maar die regstel van die myn se sake is my eerste prioriteit.”
Baxter sien die frons op Marelé se gesig, en hy weet hy moet sy vrae eers laat rus, hy moet sy ongeduld hokslaan, vir Marelé se onthalwe.
Die kuier verloop wonderlik, en die drie vind vele onderwerpe om te bespreek, sonder om aan die Battles of die verlede te raak. Daar is ʼn versigtige respek tussen hulle, al drie te bang om die nuutgevonde vriendskap te skaad.
Dit is laataand wanneer Marty uiteindelik in die Jensen klim en huiswaarts keer. Sy voel vreemd tot rus, sy weet die antwoorde op haar vrae is hier, sy moet net geduldig wees, sy weet sy sal dit vind.
Wanneer sy uiteindelik met ʼn gevoel van rustigheid gaan lê, gaan haar gedagtes na Marelé, en sy raak amper onmiddellik aan die slaap.

Met die opstaan die Maandag môre kom lê die onrus in haar gemoed, hoe sal die mense by die myn haar ontvang, sy die nuwe Battle wat die leisels hier by die Eastern Levels goudmyn kom oorneem vir ʼn tyd.
Die benoudheid maak haar naar voel, en hoe nader sy aan die myn kom, hoe benouder raak sy, en skielik twyfel sy aan wat sy wil doen, skielik voel sy die ou vrees, ‘sy Marty Battle pas nie in nie, sy staan alleen’, en sy sien dertig jaar se alleen wees in haar geestesoog.
Die ou sekuriteitswag by die hek groet haar vriendelik, “Môre juffrou kan ek u help?”
“Ja asseblief, ek soek die Administratiewe Kantore,” Kom dit in haar pragtige helder stem, met die uitlandse Afrikaanse aksent, wat so bekoorlik is.
Hy kyk haar glimlaggend aan, en beduie dan terwyl hy met sy groot hand na ʼn rooi gebou agter die bome beduie, “Net daar agter die bome, al langs met die pad. Vul net eers die besoekers register in, en dan kan u deurgaan.”
Marty skryf haar besonderhede met ʼn hand wat effens bewe, hier is sy, besoeker vir een dag, en dan die nuwe Battle, indien hulle haar gaan toelaat.
Wanneer Aron Slabbert die naam Battle in die boek sien, weet hy, sy is hier, Marelé se Marty is hier. Hy weet al die ou garde sal vandag feesvier, want Rastor Battle kon Marty nie vir ewig weghou van haar huis nie. Hy voel die haat in hom wat almal dra teen Rastor Battle, en hy wonder of hierdie Marty, ʼn Rastor, of ʼn Marelé is.
Hy kyk na die gesiggie, sien iets van Marelè daarin, en sê vriendelik, “Baie welkom hier by “Eastern Levels” juffrou.”
Marty voel ʼn warmte in haar, ‘Dankie Here vir hierdie bietjie vriendskap op hierdie môre van vertwyfeling’.
“Baie dankie, en ʼn goeie dag ook vir u.”
Aron voel dit aan, hier is ʼn Marelé, en hy wonder net soos Baxter en Marelé, waar is Rastor, waar is die lafhartige dief. Die een wat almal se lewens verwoes het. Waarom kom hy nie terug nie, waarom laat hy hulle nog steeds na al die jare so ly.
Sy bly in die motor sit wanneer sy stilhou, vertoef vir daardie een oomblik langer in die veiligheid van alleen wees. Sy kyk na die ou geboue, na die meer, en na haar kasteel daar anderkant die meer, en sy vra sag, “Here, kan ek hier gelukkig wees, is hierdie uiteindelik my huis?”
Vir ʼn oomblik val die ouderdom van alles haar op, maar ook die netheid, en sy weer die feit dat alles so oud is uit haar gedagtes.
Sy sluit haar oë vir ʼn baie lang oomblik, ‘Wat gaan ek hier van my familie vind, daardie familie waarvan sy die laaste is, waarvan daar niemand anders oor is nie’.
Wanneer sy uit die Jensen klim, draai sy onwillekeurig om en kyk na die groot draaiende wiele, en dit maak ʼn heimwee in haar wakker wat sy nie ken nie, en sy voel die rilling deur haar liggaam gaan.
Dit tref haar, die foto in haar pa se kamer, hy by die een wat hy liefgehad het, en die wiele skree skielik ʼn doodse skel skreeu, en in haar hart weet sy, hier moet antwoorde wees, want hier het ook haar pa en haar ma geleef. In haar hart pyn dit, ‘Here jy moet my help, waarom het jy my alleen in hierdie wêreld gelaat, alleen in hierdie vreemde lewe?’
Wanneer sy die hand op haar skouer voel, skeur sy haarself los van die skreeuende, huilende wiele.
“Klink erger as wat dit is, dit klink maar net soos huilende vroue, dit is eintlik ʼn vreugde roep.”
Sy kyk stadig om, in Baxter Melville se blou oë vas, en met ʼn frons sê sy, “Regtig.”
Hy kyk na die skreeuende wiele, en terug na haar, “Soort van, vir die wat opkom uit die buik van die aarde, maar vir ons ander, is dit, en bly dit, ʼn gekla wat deur ons sny.”
“Raak ʼn mens dit ooit gewoond.”
“Indien jy lank genoeg bly, sal jy dit wel gewoond raak.”
Marty voel die twyfel in haar, en sy kan nie besluit of dit oor die ‘lank bly’, of oor die ‘gewoond raak’ is nie.
“U is lank hier,” Vra-sê sy, terwyl sy op na hom kyk.
“My hele lewe, eers as kind, en daarna dertig jaar van leef en werk hier op die ‘Levels’.”
Sy kyk terug na die draaiende wiele, “Is u gewoond hieraan?”
Hy glimlag, “Ja ek is, maar vir my bly dit ʼn geweeklaag en ʼn gehuil, en so sal dit bly tot die dag wat aan ons teruggegee word, wat van ons weggeneem is,” en sy hoor die woorde, en skielik voel sy of dit met haar pa te doen het, en sy wonder, ‘Is dit waarom hy weggegaan het, en nooit weer terug gekom het nie.’
Hy draai na haar en kyk in haar oë, “Meeste van ons is lank hier Marty,” en in hom worstel hy met al die geheime, terwyl Marty voel of elke woord skielik vir haar ʼn betekenis moet hê.
Die spontane gebruik van haar naam, val haar op, maar die, ‘wat van ons weggeneem is,’ is weer terug, en vir een oomblik beleef sy dit as ʼn waarskuwing, maar sy skud dit af, ‘Dit kan niks met haar, of haar pa, te doen hê nie’.
Sy kyk hom in die oë wanneer sy vra, “Kan ek een of ander tyd met u gesels oor my mense?”
Hy knik sy grys kop, en wanneer hy glimlag, is die paar minute se ongemak verby, “Ja jy kan, ek sal graag met jou gesels wanneer jy die behoefte daartoe het.”
“Dankie, meneer.”
Baxter lag luidkeels vir die erns in die ongewone kleur oë, en in hom voel hy die vreugde aan hierdie mens se teenwoordigheid, en hy weet, hy moet vir eers al die negatiwiteit laat rus, eers net hierdie mens help, haar hier by hulle hou.
“Niks se ‘meneer’ nie hoor, ek is Baxter vir almal, en ek hoop ook vir jou.”
Marty voel weer die warmte teenoor hierdie man, en instinktief weet sy, hy is haar goedgesind, ongeag daardie woorde wat sy as ʼn waarskuwing beleef het, en sy dwing haarself om te ontspan.
Marty voel die oë van al die administratiewe staf, en ook van die myners wat in die ontvangslokaal sit op haar, sy weet almal weet teen hierdie tyd van haar, van die Battle wat hier opgedaag het.
Sy probeer onaangeraak deur die gange stap, maar sy kan nie, dit is nie haar manier nie, en sy glimlag en knik vir almal, terwyl sy hulle direk in die oë kyk, en daarvan hou hierdie vriendelike, eenvoudige mense. Sonder dat sy dit besef, wen sy die eerste rondte, wen sy ʼn plekkie in die harte van veral die ouer mense wat die jare se leed saam met Marelé deurgemaak het.
Hulle swyg, want die afgelope week vandat daar sprake was dat die ‘klein Battle’ gaan kom, is daar tussen almal wat ‘weet’ besluit, dit sal Marelé se voorreg sal wees om vir haar kind die volle waarheid te vertel. Almal was dit eens, die skurk is te bang om self te kom, en nou stuur hy sy kind om te kom regmaak wat hy verbrou het.
Teen die tyd dat Baxter Melville die eikehout deur met die naam van ou ‘Rastor Battle’ daarop agter Marty toe-stoot, is sy aanvaar. Almal is dit eens, hulle is bly sy is hier, en hoop sy sal die stoel volsit wat so lank reeds leeg is, baie langer leeg is, as die tyd wat verloop het vandat ‘ou Rastor Battle’ besluit het die myn sal nooit vir hom en sy gesin geluk kan bring nie.
Nie een van die ou garde wonder nie oor ‘ou Rastor’ nie, en of hy weet sy kleinkind is hier om die myn oor te neem. Die myn wat hy jare gelede vir sy seun nagelaat het met die hoop dat hy sal terugkom en die gesin weer herenig sal wees, sonder enige sukses, net die dertig jaar stilswye.
Almal wonder steeds waarom is Marty hier, en waarom het die wilde aantreklike jong Rastor Battle nooit teruggekom nie. Die aanklagte is reeds meer as twintig jaar gelede teruggetrek, met die hoop dat hy die vrymoedigheid sou hê om terug te kom. Maar hy het nie, en nou is sy hier, en almal bid dit sal vir altyd wees, en hulle weet dit kan so maklik wees, as dit nie vir die haat van ‘Erhard Kruger’ was nie.
Dit is ook hierdie naam wat spook in Baxter Melville se gedagtes, ‘ag Here gee tog dat Erhard nie hierdie wonder vir Marelé sal bederf nie.’ Maar hy hoor weer Erhard se bulderende stem vier dae vroeër toe die prokureurs laat weet het die ‘klein Battle’ sal wel die myn kom besoek, met die doel om moontlik aan te bly.
Erhard het so hard geskree, die totale Administratiewe gebou het tot stilstand gekom, en hy het met ʼn ongekende woede die woorde uit geskree, “Gaan dit nie wonderlik wees om die inhalige klein vrek hier te hê nie. Wel laat die klein inhalige vrek kom, ek is reg vir haar, ek hoop sy versuip in haar geld, want die myn het amper ten gronde gegaan as gevolg van haar, en haar pa se inhaligheid en belangeloosheid.”
Daarmee het hy sy tas en baadjie gegryp, deur die groot deure van die kantoor gestap en onder ʼn stofwolk verdwyn vir ʼn volle vier dae, dit is te sê indien hy vandag terug sal wees op kantoor.
Baxter bly staan in stilte, met net die gedagte aan die vreugde wat hierdie mens se koms in Marelé se lewe gebring het wat deur hom gaan, terwyl Marty elke klein detail van die groot kantoor inneem.
Die oomblik toe sy die indrukwekkende naambord ‘Rastor Battle’, op die deur gesien het, het sy geweet dit sal haar oupa se kantoor gewees het, want die jonger Rastor kon nooit ʼn kantoor hier gehad het nie, dit het sy vir haarself uitgemaak op die vliegtuig, en haar kop voel dof van al die baie, en lank ‘dink’, wat sy die afgelope maande na haar pa se dood gedink het.
Dat hierdie myn nie haar pa se biljoene gebring het nie, weet sy, maar hoekom hy nie maar net hier aangebly het na haar ma se dood nie, kan sy nie verstaan nie. ‘Dat hy geen begeerte na die plek gehad het na haar ma en sy ouers oorlede is nie’, het oom Richard haar baie kere geantwoord, wanneer sy hom daarna gevra het.
Nadat sy bewus geword het van hierdie ander ‘lewe’ wat haar pa en hy gedeel het, maar waarvan sy eers ses maande gelede van gehoor het met haar pa se skielik en tragiese dood, het sy sonder ophou probeer uitvis wat hierdie plek in haar pa se lewe beteken het, met bitter min sukses.
Terwyl haar oë met koorsagtige haas alles in die kantoor inneem, jaag haar gedagtes deur die gang wat hulle so pas deurgeloop het. Sy dink aan die name op die deure, Baxter Melville, Assistent Hoofbestuurder, maar veral die deur van Erhard Kruger, ‘Hoofbestuurder’, spook by haar. Sy voel ʼn vrees in haar, Joseph Alrecht het haar ingelig, nee gewaarsku, ‘Hy haat die Battles’, wees gewaarsku.
Hy het haar ingelig oor die skade wat die myn gely het, en dat almal glo haar pa daarvoor verantwoordelik is, omdat hy nooit een enkele keer enige versoek van die myn wou toestaan nie. Sy woorde bly in haar gedagtes, “Jou oupa se testament was duidelik, jou pa kon doen wat hy wou met die myn, maar verkoop, dit kon hy nie, en almal glo hy het besluit om die myn dan dood te smoor deur geen addisionele fondse daarheen te kanaliseer nie.”
Hy het deur sy woorde regverdiging vir Erhard Kruger gesoek, en sy kan steeds nie glo dat dit iets met haar, of haar pa te doen het nie, “Weet net hy het reg om so te haat, want daardie myn het sy lewe vernietig as kind, en is steeds vyftienduisend gesinne se brood en botter.”
Dit het haar laat besluit, ‘sy sal dit regmaak, al is dit al wat sy doen, hierdie onreg, die enigste wat sy weet haar pa ooit begaan het, dit sal sy regstel’. Sy het simpatie vir haar pa gehad, want het sy haat vir die myn nie gekom omdat hierdie myn sy geliefde van hom geneem het nie.
Vir die eerste keer wonder Marty oor haar pa, en of hy geweet het van die myn se probleme, hy moes tog geweet het sy pa het die myn vir hom nagelaat, en tog vind sy ʼn verskoning vir daardie wonderlike sterk mens wat haar pa, wat Rastor Battle, was.
Baxter Melville sien die emosie wissel in die mooi oë, en dit is Marelé se karaktertrek, net met hierdie mensie, in die absolute onmoontlike kleur van Rastor Battle se oë, en hy weet hierdie pragtige mens met al die kennis, van al die verlore jare, plus al die emosies wat van Marelé en Rastor Battle kom in haar, moet ʼn geweldige worsteling deurgaan. Hy besef, so baie goed, en so baie kwaad, in een mens se lewe, moet hel wees indien jy nie die volle waarheid ken nie, en hy kry haar jammer, en hy haat Rastor Battle met die felheid van die afgelope dertig jaar.
Marty ruk haarself reg, “Ekskuus, maar alles is vir my geweldig emosioneel, die baie nuwe vreemde onbekende dinge, dit is ʼn bietjie baie vir enige iemand op een slag, selfs al is jy ʼn Battle.”
Dit vat aan Baxter, waar is Rastor Battle sodat hy sy kind se vertwyfeling kan sien en beleef, die magtige Rastor Battle moet tog weet hy sal soos al die ander mense eendag sy Heiland moet ontmoet, al het hy nog nooit een enkele oomblik geglo dit sal gebeur nie.
Sy gedagtes loop na ou Rastor Battle en ou tante Julia, en hy weet, niemand weet watter leed daardie twee ou mense al deurgemaak het deur die man wat hul seun is nie. Hy voel die wilde Rastor, het niks ooit reg gedoen, behalwe om lewe aan hierdie pragtige kind te gee nie.
Baxter Melville kyk na hierdie uitsonderlike pragtige mens, en hy wonder soos al die ander lede van die ou garde, wat was hierdie kind se lewe tot nou, wat het Rastor Battle in hierdie mens ingebou deur die jare – sy haat!
Haar stem trek hom uit sy gedagtes, “My pa het nooit ʼn kantoor hier gehad nie, nê?”
Baxter wil nie eers aan Rastor Battle dink nie, wat nog sy naam uitspreek. Daarom skud hy net sy kop stadig heen en weer, terwyl hy haar oë vermy, en die gedagte maal deur sy kop soos deur almal se gedagtes, hoekom het sy nie vroeër gekom nie, en hy vra haar sonder om te dink wat hy doen.
“Waarom het jy nou eers gekom?”
Sy kyk ver oor die meer na daar waar Battlefields se torings uitsteek, en sy laat die vraag verby gaan, dit wat haar pa se skuld is sal sy dra, en sy sal hom wat haar so lief gehad het nooit verraai nie, nee sy sal regmaak totdat alles van die verlede reg is.
Marty Battle besef nie hoe baie, hoe groot, en hoe diep die regmaak sal wees nie, want sy besef nie hoe verskriklik groot die onreg was nie.
Wanneer sy omdraai sien Baxter die diepe leed in haar oë, en met ʼn knik van die kop sê hy sag, “Ek het gereël, al die kantoor staf al om tien-uur in die ontspanningsaal wees om jou te ontmoet, en dan van more af, elke skof wat uitkom so ʼn uur nadat hulle bo is, ek sal jou tien voor tien kom haal.”
Hy draai om en stap uit, nie by magte om die leed verder te aanskou nie, en hy laat haar alleen in haar hartseer en verlorenheid, en vir ʼn vlietende sekonde voel Marty om hier uit te stap en om huis toe te gaan, terug na die plek waar jy kan vergeet dat daar ander wesens in hierdie wêreld is. Sy weet, indien sy nou gaan, sal dit vir die laaste keer wees, terugkom na die buite wêreld sal sy nooit weer nie, want dan sal sy soos haar vader wees, een wat nie hoort en pas tussen ander mense nie.
Sy staan stil op, sluit die groot eikehout deur sag, en dan huil sy soos eenkeer voorheen in haar lewe, daardie dag toe die magtige Rastor Battle in die sneeu dood gelê het, en vandag huil sy weer vir hom, haar vriend, leermeester en geliefde vader.
Sy sit lank so stil deur die venster en kyk, en sy wonder in watter huis het haar moeder groot geword, sy weet haar moeder was hier van die myn se mense, en sy weet dit is haar tweede grootste verlies, die feit dat sy nooit haar moeder geken het nie, en sy wonder weer waarom haar pa hierdie plek so gehaat het, wonder vir die eerste keer hoe haar moeder dood is.
Wanneer Baxter Melville tien-voor-tien aan die deur klop, is die deur oopgesluit en Marty is reg, daar is geen teken van trane of leed in haar gesig te bespeur nie, en Baxter Melville weet hierdie klein Marty Battle is sterk, dalk sterker as wat Rastor Battle was, en hy kry die gevoel dat Erhard dalk net sy moses gaan teëkom.
Sy stap trots en regop langs Baxter, en hulle kan die gesoem van stemme van ver af hoor, albei weet hierdie sal die toets wees, en Baxter wonder hoe hierdie mensie dit gaan hanteer. Marty weet, behalwe vir ʼn effense senuweeagtigheid het sy geen vrees vir hierdie mense nie, nee sy het ʼn simpatie en empatie vir hulle, en bo alles is sy hier om iets reg te stel, en dit kan sy doen.
Die stilte kan met ʼn mes gesny word wanneer hulle die vertrek betree en op die verhoog op stap. Marty bly langs Baxter staan en glimlag vriendelik na die massa gesigte, en sy hoop haar verblyf hier sal vir hulle reg laat geskied.
Baxter se stem klink effens krakerig wanneer hy haar voorstel aan die mense, en Marty wonder daaroor, maar stap regop na die podium, en wanneer haar stem, ʼn stem soos Marelé se stem, die saal vul, gaan daar ʼn luide sug deur die gehoor, wat selfs vir Marty onkant vang, maar sy skud dit af, en sy spreek haar mense toe in Afrikaans, met haar pragtige uitlandse aksent, en die bekoring lê in haar stem.
“Vir my is dit vreemd om hier te wees, vreemd omdat julle my mense is, en tog ken ons mekaar nie, omdat julle die afgelope dertig jaar my geken het, en ek nie julle nie.”
Marty sien die verbasing op almal se gesigte, en sy weet hulle het nie verwag dat sy op so ʼn persoonlike vlak sal optree nie.
“Maar nou gaan dit verander, ek sal my plek volstaan, en ons sal nie net kennisse wees nie, maar vriende hoop ek. Saam sal ons regmaak wat hier verkeerd is.”
Die totale stilte in die vertrek, vertel vir Marty wat sy wil weet, sy weet haar eerlike erkenning van die probleme word goed deur hierdie mense ontvang, en dat hulle die eerlikheid waardeer.
“Oor die volgende paar weke wil ek almal nie net ontmoet nie, maar ek wil julle te woord staan oor alles wat skort, en alles wat aangespreek moet word, van die kleinste tot die grootste sake.”
Die volgende oomblik gaan daar ʼn roering deur die vertrek, en Marty weet sonder om haar oë te draai, Erhard Kruger het wel vanoggend opgedaag, en by haar vrees is sy dankbaar die ontmoeting tussen hulle sal vandag afgehandel kan word, sodat sy kan voortgaan met die taak wat sy haarself opgelê het.
Terwyl Marty ongestoord voortgaan met haar gesprek, bestudeer Erhard haar, hy besef haar voorkoms het hom onkant gevang, van die fyn postuurtjie tot die pragtige stem, hy dwing dit weg, hy dwing die omgekraptheid terug wanneer hy sien hoe sy die mense bind en hulle meesleur met haar stem, en hy neem weer stilswyend ʼn eed, hy sal haar laat boet vir elke persoon, se elke oomblik van leed oor die afgelope dertig jaar.
Die oomblik wat Marty van die verhoog af beweeg, begin die gesoem van stemme, en sien sy hoe Erhard Kruger beslis omdraai en uit die saal stap. Vir ʼn oomblik is sy bly die ontmoeting is minstens vir ʼn tyd uitgestel, want sy voel erg aangedaan na die gesprek met haar pa se mense.
Wanneer Marty die groot deur met die naamplaat Rastor Battle oopstoot, is Baxter kort op haar hakke, albei is verbaas wanneer hulle die kantoor instap en Erhard met gevoude bene op die swaar statige lessenaar se hoek sien sit.
Deur Marty se kop flits net een gedagte, ‘Nou moet jy kophou soos jou pa jou geleer het, moet nie in ʼn woordewisseling betrokke raak nie, net nie vandag nie’.
Erhard bly ongestoord sit en hy hoor die aantreklike stem.
“Goeie môre Erhard, indien ek jou so kan noem.”
Hy staan lui op en ignoreer die pragtige slank hand wat na hom uitgesteek word, “Vir jou is ek mnr. Kruger, en daar is nie genoeg water in die wêreld om in die see te loop, voordat ek aan ʼn Battle se hand sal vat nie.”
Die felheid van die aanval tref Marty en Baxter soos koue water, en Baxter word wit van ontsteltenis, hy besef Erhard is nie homself nie, hy en ‘sy’ seun, ken mekaar, is sielsgenote.
Marty glimlag met net die effense knik van die regteroog wat haar ontsteltenis wys vir die wat haar goed ken, en sy weet daar is net een mens in die wêreld oor wat haar goed ken, en dit is niemand in hierdie vertrek nie.
Marty laat haar hand sak en stap stil om die groot man om by die groot leer stoel te kom. Erhard Kruger verloor momenteel sy selfbeheersing, en sonder waarskuwing gryp hy haar skouers vas, en skud haar dat haar perfekte tande op mekaar klap.
“Jy sal my nie ignoreer soos jy en jou moordenaar pa, ‘ons’ vir dertig jaar geïgnoreer het nie, hoor jy my.”
Marty is vir ʼn enkele oomblik ook haar selfbeheer kwyt, vir die eerste keer in haar lewe raak ʼn vreemdeling aan haar, en voel sy geweld teen haar as persoon. Sy ruk sy hande van haar skouers af, met ʼn krag wat Erhard Kruger stom laat.
“Moet nooit so lank jy leef, weer jou hande op my lê nie, nie jy of enige iemand anders raak ooit aan my nie, het jy my.”
Hulle oë vind mekaar en die haat in sy oë, vind nie weerklank in hare nie, en dit ontstel Erhard meer om simpatie te sien, as haat.
Haar stem kom sag, beheers, “Ek sal verkies dat jy my kantoor verlaat, en wanneer jy jou balans teruggevind het, is jy welkom om die myn se sake met my te bespreek. Ek is geen verduideliking aan jou verskuldig, oor my, of my mense nie, en dit moet jy weet, jy sal nie weer my pa se naam noem, of sy persoon aantas nie, is dit ook duidelik, en indien jy nie as ʼn professionele persoon met my kan kommunikeer nie, bly dan uit my pad uit.”
Marty draai om en met ʼn vreemde bewing in haar binneste, stap sy by hom verby, en onder vele oë wat haar volg, en een teen tien die volle gesprek gehoor het, stap sy na buite die kantoor en uit die Administrasie blok, tot daar by die huilende wiele.
Marty vertoef ʼn wyle daar waar sy weet haar pa ook eenmaal gestaan het. Sy stap stil terug met ʼn vasberadenheid om reg te maak wat verkeerd is, en om uit te vind wat die donker geheim rondom haar pa is. Sy voel ʼn ontsettende vrees wanneer die woord ‘moordenaar’, deur haar gedagtes gaan, en vir die eerste keer in haar lewe, is sy nie seker van haarself nie, nie seker dat sy wat so selfversekerd is, wel reg tot soveel selfversekering het nie. Tot nou was die Battles vir haar soos gode, en nou is daar skielik ʼn effense kraak in die beeld, en dit onstel haar meer as enige iets anders.
Wanneer sy terugstap glimlag sy wanneer sy die verbasing op Erhard Kruger se gesig herroep, toe sy, sy hande van haar skouers weggeruk het, en sy dink woordeloos, ‘pasop mnr. Kruger, pasop vir die een wie se fisiese en psigiese krag jy nie ken nie’. Sy weet dit wat sy daar in die sneeubedekte berge vir dertig jaar saam met haar pa en Richard beoefen het, haar ʼn sterker mens gemaak het as wat Erhard Kruger ooit gesien of geken het, en dit gee haar ʼn ongekende satisfaksie.
Die oomblik wanneer sy haar kantoor instap, druk sy die interkom knoppie en ontbied die sekretaresse. Liza Theron voel die opgewondenheid in haar wanneer sy vinnig opstaan, haar nota boek vat, en flink na Marty se kantoor stap. Sy klop sag en Marty se stem kom dadelik vriendelik, “Kom in Liza.”
Liza Theron voel die toegeneentheid vir hierdie mens wat steeds haar voornaam onthou, terwyl sy aan talle ander persone vanoggend bekend gestel is.
Met ʼn welkom gebaar, “Kom sit, ons twee het baie werk om te doen.”
Liza weet sy wil met hierdie mens saamwerk, wil hê Marty moet dit weet, “Indien u later as gewone werksure, of op die naweek wil werk, wil ek u net sê ek definitief vir u kan help totdat u klaar is.”
Marty voel die toegeneentheid tot die vrou groei, en sy weet in hierdie vrou het sy ʼn bondgenoot, indien sy een wil hê, en sy weet sy wil, sy het nou ʼn vriendin nodig om haar deur hierdie volgende paar weke te help, en haar gedagtes gaan na Marelé, en sy weet sy het reeds twee vriende, en in haar is ʼn warmte.
Sy sê dit met ʼn stem wat haar dankbaarheid weerspieël, “Baie dankie, ek sal sekerlik van jou aanbod gebruik maak.”
Sodra Liza sit, en haar notaboek oopvou, begin Marty praat, “Ek wil ʼn strategiese plan saamstel waarvolgens ons al die sake wat aandag moet kry identifiseer, en ʼn agenda saamstel sodat ons die verantwoordelike personeel kan skeduleer vir besprekings.”
Liza sê vinnig, “Ek het reeds vir u ʼn lys van al die departemente, sowel as die bestuurders se besonderhede, en ook elkeen se rol en verantwoordelikheid beskrywing bymekaar gesit, sodat u kan sien wie doen wat. Ek het verder reeds vir u al die begrotings, statistieke en produksie verslae vir die afgelope drie jaar uitgehaal.”
Marty voel die bewondering en waardering vir hierdie vrou se poging om haar te help, en Liza sien dit in die oë met die vreemde, pragtige kleur van Rastor Battle se oë.
“Dit is ʼn groot hoeveelheid inligting, maar ek sal u help om te onttrek wat u benodig.”
“Baie dankie Liza, ek en jy gaan ʼn span maak wat nog nie hier gesien is nie, weet ek. Kom ek stap saam dan bring ons alles hier na my kantoor en begin ek en jy met ons werk.”
Wanneer hulle uiteindelik alles op die konferensie tafel uitgepak het, weet Marty, hierdie vrou se werk is haar trots, maar ook, wie ook al sorg dat al die administrasie en bestuur van die ‘Levels’ gedoen word, sy storie ken, en nougeset alles gedoen het, en sy is hierdie onbekende persone dankbaar.
Terwyl Liza sorgvuldig die verskillende jare se inligting begin sorteer begin Marty die verslae deurwerk. Dwarsdeur die dag sorg Liza dat Marty elke nou en dan koffie of tee kry, en dat haar middag en aandete vanaf die kantien gebring word. Hulle werk as ʼn span saam tot na agt voor Marty beef dit was lankal tyd vir Liza om huis toe te gaan, voel sy skaam wanner sy besef sy weet nie of Lize mense tuis het waarvoor sy moet sorg nie.
Marty is skoon verleë, wanneer sy vra, “Liza wat van jou mense tuis, ek het jou hier gehou sonder om te vra.”
“Dit maak nie saak nie juffrou, my man is gewoond aan my laat werkery, en dit gee hom in elk geval ʼn geleentheid om of bietjie met die ‘manne’ te kuier, of om sy stokperdjie te beoefen. Die kinders is reeds lankal uit die huis.”
“Ek is baie dankbaar, en noem my asseblief Marty. Ek dink ons twee het nou eers genoeg vir vandag gewerk, kom ons sluit toe, en dan neem ek jou huis toe indien jy nie ʼn motor hier het nie.”
“Dankie dit sal gaaf wees, ek bestuur nie self nie, my man kom haal my wanneer ek laat werk, dit is darem baie naby.”
“Maar solank jy saam met my laat werk, sal ek jou huis toe neem.”
Dit is stil en verlate wanneer Marty se Jensen stil deur die strate gly, die rustigheid stem haar tot kalmte, en in haar voel sy die spanning van die Erhard Kruger insident nou eers verdwyn. Sy kyk na die meer met die ligte op die wal, en sy voel ʼn vasberadenheid in haar om dinge hier te laat werk, en neem stil ʼn besluit om eers alle kanale te gebruik voordat sy moed opgee met Erhard Kruger en hierdie myn.
Marty volg Liza se aanwysings, en besef wanneer hulle stilhou hoe naby dit aan haar Battlefields is.
Sy bly sit, maar Liza vra spontaan, “Kom asseblief in en kom drink gou ʼn sjokolade drankie voordat jy huiswaarts keer.”
Marty dink een oomblik na, en vir die eerste keer in haar lewe, gaan sy spontaan na enige iemand se huis, neem sy vir die tweede keer in haar lewe so ʼn informele aanbod aan, want waar sy vandaan kom, was daar geen ander mense nie, en op universiteit het sy net een doel voor oë gehad, studeer, en nog studeer, klaarmaak, en huis toe gaan, daar na haar wit ysbedekte berge en landskap.
Die oomblik wat Liza die deur oopstoot, is haar man daar, neem haar sak uit haar hande, en druk haar teen sy bors, “Hallo my hart, dit is tyd, ek verlang wanneer jy so lank weg is.”
Liza lag, en vir Marty is dit soos Baxter en Marelé, en die wete is in haar, hier is geluk en liefde, en dit gryp haar aan, weet sy dat sy iets kosbaars gedurende haar opgroei gemis het.
Die lang man draai om, steek sy hand uit, en sê met ʼn glimlag, “Dit is vir my ʼn absolute voorreg om u te ontmoet, en u moet onthou, wanneer jy en my hart laat werk, moet jy altyd vir ʼn sjokolade drankie stop.”
Marty voel die toegeneentheid, en weet dit sal ʼn instelling wees wat sy sal geniet, en sy sê so.
Hy wys na die gemakstoele, en sê met ʼn opgewekte stem, “Sit julle twee hier op die stoep, ek bring die drankies.”
Wanneer Marty sit, sien sy die maanlig op die meer, net soos sy dit van haar Battlefields af kan sien, en Liza sien die heimwee, “Dit is een iets van jou oupagrootjie, hy het geglo almal moet die lieflikheid van die meer kan geniet, en daarom is die dorp op terrasse gebou, sodat ons wat hier teen die oewer is, en hulle wat daar bo teen die berg woon, altyd die meer kan sien.”
Marty voel ʼn toegeneentheid vir hom, en sy kan nie glo hoe sentimenteel sy voel nie, “Ek is bly hy het so gevoel,” sy wag ʼn lang oomblik, en sy voel haar hart bons wanneer sy vra, “Is julle lank hier, het julle my mense geken?”
“Ja ons is, ek en Josef is albei kinders van hier, ons is ons hele lewe hier, en was nog net met vakansies weg.” Liza oordink haar antwoord, “Ja ons ken jou mense, van die eerste Rastor, tot by jou grootoupa. Die Battles is die ‘Levels’, en alles wat jy hier sien.”
Die uitsluit van haar pa uit die ‘Battle’ bloedlyn, val Marty op, maak seer, maar sy weet sy moet dit laat gaan.
“Kan ons twee een of ander tyd bietjie praat oor my mense, nie vandag nie, en miskien ook nie môre nie, maar wanneer dit vir ons albei reg is.”
Liza knik haar kop, “Ja dit sal reg wees sodra jy daarna voel.”
Marty besef nie hoe lank, en tog hoe gou, die een of ander tyd gaan kom nie.
Alleen later in haar Battlefields weet Marty sy het tog met al die liefde en aandag wat haar pa en oom Richard haar gegee het, iets gemis, liefde tussen man en vrou en liefde tussen vroue, maar sy skud dit af, dit kan tog nie so belangrik wees nie, haar pa het daar sonder klaargekom, en hy was gelukkig, of was hy, wonder sy.
In die dae wat volg, werk Marty en die bestuurders lang ure, en spreek sy twee keer per dag spanne werkers toe. Daar is ʼn nuwe gees op die myn, en die veranderings begin baie gou wys. Die kantien se kos en voorkoms verander byna oornag, wanneer Marty opdrag gee die plek moet dadelik opgeknap word. Liza verwys laggend na die borde kos wat die hoofkok vir hulle stuur, as die ewige liefde vir Marty. Die pynlike nougesetheid waarmee die kos en bord voorberei word, is vir almal die teken van die toegeneentheid wat almal vir Marty Battle begin ontwikkel.
Baxter maak ʼn punt daarvan om Marty te oorreed om elke aan vinnig ʼn koffie by hulle te kom drink, en Marty besef na ʼn baie kort tyd sy wil nie haar dag afsluit sonder om daardie besondere mens te sien nie.
Midde in al die dinge wat gebeur, bly een vraag onbeantwoord, ‘Waar is Rastor Battle, en hoekom meld Marty niks van hom nie?’ Maar hulle respekteer haar, en hulle bewaar die swye oor Rastor Battle, en ou Rastor en Tante Julia, wat nie weet hulle kleinkind hier is nie.
Erhard werk in ʼn openlike nukkerigheid saam met Marty, en terwyl haar briljantheid deur almal besing word, weier hy om haar as enige iets ander as die ‘gehate Battle’, te sien.
Elke keer wanneer dit Marty opval, of haar enigsins raak, wys sy niks nie, en is sy so stil soos die graf wanneer dit by enige-iets van Erhard Kruger kom.
Marty takel elke probleem met die entoesiasme wat sy deur haar hele lewe, aan die lewe gewy het, en is dit ʼn riem onder die hart vir almal, en word sy die gees wat almal se gemoedstemminge verander, van die somberheid weke gelede, na ʼn openlike genot om te werk.
Die vriendskap en toegeneentheid tussen Marty en Marelé verinnig tot iets so mooi en kosbaar vir albei, albei weet, hulle wil nie vir een dag nie bymekaar wees nie.
Vir Marty is dit vreemd, en bly die vraag in haar gemoed, ‘Hoekom voel ek so oor hierdie mens,’ maar sy weier om verder daaraan te dink, en weet net sy het die begeerte om hierdie mens elke dag te sien.
Vir Marelé is dit hemel om haar kind so by haar te hê. Baxter por haar om met Marty te praat, maar die vrees is daar, ‘Wat indien Marty die verkeerd van die verlede nie kan hanteer nie, indien sy weer weggaan, en sy pleit vir nog ʼn paar weke se grasie, en hy wat haar so lief het, laat dit hom welgeval.
Erhard se wrewel verdiep wanneer hy besef hoe Marty in ‘sy ma’, se hart inkruip, en sonder dat hy dit wil erken, voel hy ʼn jaloesie teenoor haar, maar ook ʼn bewondering wat hy weier om te erken.
Marty se bewustheid van Erhard Kruger en sy briljante brein groei elke dag, en in haar het sy ʼn bewondering vir hom, maar hou sy dit diep binne haar, daar waar niemand nog ooit gesien het nie. Vir die eerste keer in haar lewe, is daar ʼn ander mans beeld as die van haar vader in haar gedagtes, en terwyl dit haar met verwondering vul, vul dit haar ook met ʼn vrees vir hierdie man se mag oor haar gedagtes.
Marty neem aan alles op die myn deel, selfs wanneer die manne haar versoek om saam met hulle ondergrond te sak, neem sy die aanbod aan, en bring sy ʼn volle ses ure saam met hulle in die hart van die aarde deur, en wys hulle haar alles.
Sy is diep onder die indruk van die lewe wat hierdie mense leef, en weet sy al die goud in die wêreld is nie hierdie mense se lewens werd nie, en weet sy elke ding wat reg gemaak moet word, reggemaak sal word, maar weet sy ook sy het reeds ʼn lang pad in hierdie weke geloop na die regmaak.
Soos Marty en Marelé se lewens in mekaar begin loop, begin hare en Erhard se lewens ook ʼn pad saam loop, soveel as wat sy hom by die myn en by Marelé sien, soveel leef hy in haar gedagtes, en sy weet, sy voel vir hierdie mens iets wat sy nog nooit beleef het nie, en ook nie weet hoe om dit te hanteer nie, en is sy bang by die wete, daar is iemand wat haar wakkerwees oomblikke begin oorheers.
Sy erken aan haarself haar gevoel vir hom, maar sy noem dit bewondering. Sy erken die teleurstelling in haar wanneer sy soggens haar motor parkeer, en sy motor is nie daar nie. Sy erken die kort asem opgewondenheid, wanneer sy motor reeds daar is, wanneer sy, sy pragtige kop tussen die ander opmerk, wanneer sy, sy stem in die gang hoor, en alles hou vir haar ʼn ander wêreldse bekoring in.
In Erhard se gemoed woed ʼn storm, hy worstel met die beeld van ‘die klein Battle’, word dit sy laaste gedagte wanneer hy gaan slaap, en sy eerste wanneer hy wakker word, word haar nabyheid die barometer van sy geluk elke dag. Hy voel of hy twee wesens is, die ou Erhard wie net aan haat kon dink, en hierdie nuwe Erhard wie se liggaam hom verraai, wie se elke oomblik ʼn smagting is na hierdie mens wat van hom besit geneem het. Hy weet, in sy hart probeer hy twee wêrelde aanhang, en hierdie nuwe wêreld met haar as middelpunt is besig om die ander te verdryf, en hy voel skuldig teenoor sy ouers, en almal wat as gevolg van Rastor Battle gely het.

Marty werk deur die winter, en sy is soos ʼn onblusbare vlam wat almal warm en aan die gang hou, en steeds kan sy nie met die mense oor haar pa praat nie, en dra sy die kennis van sy dood, alleen.
Steeds kan Marelé nie die moed bymekaar skraap om Marty te vertel sy is haar ma nie, want dan moet die vreeslike geheim uitkom van Marty se verwekking, en dit kan sy hierdie prag kind nie vertel nie, nie noudat hulle so na aan mekaar is nie, nie noudat sy haar elke dag in haar lewe het nie.
Die sosiale komitee bespreek hul eie begroting met Marty, en vra of fondse bewillig kan word vir ʼn lente dans vroeg in Oktober, en Marty keur alles goed. Sy het skielik ʼn geweldige behoefte om met hierdie mense fees te vier, in haar hart is daar ʼn gevoel wat sy nog nie ʼn naam voor gegee het nie, ʼn gevoel wat dreig om haar, haar kop te laat verloor.
Erhard weet die ou geskiedenis is nie meer die enigste rede vir sy teenkanting teen die Battles nie, hy weet sy hart en sy liggaam het hom verraai, hulle is besig om Marty Battle aan te hang, te bewonder, lief te kry, en dit vul hom met vrees.
Om homself te probeer red uit hierdie mag wat Marty se persoon oor hom het, kanaliseer hy met mag en mening alles wat hy beleef en voel vir Marty na sy haat teenoor die Battles, herinner hy homself elke keer wanneer hy naby haar is aan die verlede, en word dit ʼn obsessie by hom om haar seer te maak, so seer as wat hy gekry het toe sy ouers dood is.
Die lentefees kom nader en Marty vra Marelé om saam met haar ʼn rok te gaan soek. Vir Marelé is dit die geskenk waarvoor sy dertig jaar gewag het, om saam met haar kind klere te koop, en steeds swyg sy. Die dag met haar kind in die winkels, die koffie drink in die koffiehuis, die sagte druk van haar teen die warmte van haar kind, wanneer sy dankie sê vir die hulp, vul haar met ongekende geluk, en sy weet nie wat sy moet doen nie.
Die feesdag breek sonnig en pragtig aan, en wanneer Marty die saal binne stap, kom daar ʼn stilte oor die mense in die saal, sy is pragtig, meer pragtig as enige ander persoon wat ooit oor hierdie danssaal gesweef het.
Marty dans sonder om een dans uit te sit, en in haar hart skryn dit oor Erhard se openlike ignorering van haar as mens. Binne in haar hart huil sy, en weet sy, sy is bewus van sy elke beweging, elke lag, elke gebaar, en sy weet sy voel iets vir hom wat nooit weg kan gaan nie.
Erhard Kruger voel die spanning in hom, hy voel hoe hy homself bewustelik moet dwing om nie na Marty te staar nie, om nie na Marty te stap en haar aan sy hart te druk nie, en hy haat homself vir die gevoel in hom.
Dan kwart voor twaalf swaai twee baie sterk hande haar aan die rondte, en staan sy in die arms van Erhard Kruger, en daal daar ʼn stilte oor die saal, en in almal se harte gaan die gebed op, ‘Here moet net nie dat hy haar seermaak of verneder nie.’
Vir Marty gaan staan die tyd stil, en maak sy haar oë toe wanneer sy, sy sterk hand om haar middel voel, en die grofheid van sy baadjie teen haar wang, sy het iets gevind waarvoor sy haar hele lewe gewag het, en sy weet wat sy begeer.
Erhard voel die fynheid van haar postuur, voel die woeling in sy gemoed, smag een oomblik om haar styf vas te hou, en dan neem die vrees van hom besit, en hy skud die gevoel met geweld af.
Hy swaai haar stil deur die groot deure tot daar waar net hulle alleen op die balkon staan, en sonder dat hy beheer oor homself het, druk hy haar teen hom aan, en wanneer sy teen hom beweeg voel hy die opwelling van sy manlikheid tussen hulle, en dit ruk hom tot nugterheid en woede.
Sy ontsteltenis met sy liggaam se verraad is so groot, dat hy haar ru van hom weggooi. Marty struikel en begin val, hy gryp haar aan die arm en ruk haar ru orent, en wanneer hy in die vreemde oë van Rastor Battle kyk, verloor hy momenteel sy beheer, soos daar weke gelede, en sonder dat hy hom kan beheer kom die woorde.
“Jy is nie net die werpsel van ʼn moordenaar nie, maar jy is soos hy, ʼn veraderlike kruiper wat haarself inwurm in mense se lewens in waar jy nie hoort nie. Hierdie is nie jou mense nie, jy is ʼn indringer en sal altyd een wees, want hierdie mense haat Rastor Battle en hier sal jy nooit gelukkig wees nie, want julle hande is met bloed bevlek, my mense se bloed.”
Wanneer hy die skok op die pragtige gesig sien, weet hy, hy haar getref waar niks nog ooit getref het nie, en ruk hy haar teen hom vas en soen hy haar met ʼn geweld wat albei se lippe kneus en die bloed laat vloei. Vir een oomblik klou hulle aan mekaar vas, nie om regop te bly nie, maar omdat albei se liggame skreeu na mekaar, en is daar ʼn vlam in hulle wat nie een ooit beleef het nie.
Die waarheid ruk Erhard, ‘Hy het hierdie mens lief, liewer as enige iets of iemand in sy lewe,’ en terwyl hy veg teen wat hy voel, stamp hy Marty ru weg, en hardloop hy soos ʼn besetene die trappe af, vir een enkele oomblik het hy haar begeer soos wat Rastor Battle eenkeer vir Marelé begeer het, net dit weet hy nie.
Marty bly versteend staan, haar gekneusde liggaam gloei van begeerte na hierdie mens wat haar so haat, en sy voel die vrees vir die gevoel in haar, groter as alle ander emosies word, en al wat deur haar gedagtes gaan is, ‘Hier moet sy weg, teen hierdie man kan sy nie staan nie,’ en sy weier om verder te dink. Sy ruk haarself reg, en na ʼn lang tyd kry Baxter haar, en weet hy daar het iets geweldig tussen Erhard en Marty gebeur, en in hom kom ʼn vrees groter as enige iets wat hy voorheen gevoel het, ‘Here moet nie dat Erhard dit vir Marelé verongeluk nie, asseblief,’ en hy weet Marelé moet môre met Marty praat, anders is dit dalk te laat.
Hoe Marty deur die laaste halfuur gekom het, weet sy nie, maar wanneer sy in haar oupa se groot leerstoel gaan sit, begin sy soos ʼn besetene werk, een ding weet sy, vir Erhard Kruger kan sy nooit weer in die oë kyk nie, sy moet vannag alles klaarmaak, en sy moet vannag hier weg.
Sy bel die private redery wat sy altyd gebruik, en huur ʼn vliegtuig om gereed te maak om op te styg, sodra sy vannag op die lughawe aankom.
Sy werk koorsagtig, skryf mandate, gee delegasies sodat die myn kan voortgaan, en dra miljoene dollar van haar en haar pa se persoonlike fortuin oor na die myn. Gee sy Erhard Kruger alle mag om saam met Baxter die myn te bestuur, na hulle, die prokureurs, en ouditeurs firmas se goeddunke, en verseker sy elke begroting sal altyd klop.
Sy laat al die briewe op Liza se tafel met ʼn brief aan haar, om haar te bedank vir alles, en om haar opdrag te gee hoe om die dokumente te hanteer. Alles tot in die fynste besonderhede, maar nie ʼn woord oor die rede waarom sy gaan nie.
Sy skryf ʼn brief aan Marelè, en stort sy haar hart uit oor wat hierdie wonderlike vriendskap, die enigste in haar lewe, vir haar beteken het. Sê sy dit in haar pragtige handskrif, “Vir my is jy soos die moeder wat ek nooit geken het nie, die een wat ek so begeer het deur my lewe, en weet ek nie hoe dit gebeur het nie, maar tussen alles deur het ek jou liefgekry, soos wat ek daardie moeder sou hê.”
Haar trane drup op die fyn skryfpapier wat sy vir haar persoonlike korrespondensie gebruik, maar sy laat dit so, want haar verlies is in daardie traan druppels.
Sy skryf ʼn brief vir Baxter en verduidelik alles behalwe haar rede om te gaan. Sy gee hom die mandaat om voort te gaan en sluit Erhard se mandaat daarby in. Sy plaas beide briewe op Baxter se lessenaar waar hy dit Maandag sal kry, en kyk vir oulaas na alles wat so dierbaar vir haar geword het. In haar voel sy of sy gefaal het teenoor hulle wat haar so goed behandel het, en hoop sy Baxter se boodskap aan hulle, wat sy vir hom gelaat het, hulle sal help om haar te vergewe vir die lafhartige weggaan in die nag.
Sy haal gemaklike klere uit die kas in haar kantoor, vir die eerste keer is sy dankbaar vir hierdie klere wat Liza haar laat saambring het, en sy huil oor die verlies van hierdie vriendin.
Sy huil openlik wanneer sy die swaar deur agter haar toetrek, en in haar sterf iets soos so lank gelede in haar pa toe hy die laaste keer hier uitgegaan het, maar dit weet sy nie.
Wanneer sy in die Jensen sit, sny die gekla van die wiele deur haar, en sy weet ook vir haar sal dit vir ewig ʼn geweeklaag wees, ʼn geweeklaag na iets wat sy nie geken het tot vandag nie.
Sy voel die geweldige verlies wanneer die bestuurder van die private redery haar vra wat hulle met die Jensen moet doen. Sonder dat sy besef, laat sy die effense moontlikheid vir terugkom, “Hou hom eers net hier, ek sal laat weet in ʼn paar maande wat julle moet doen.”
Dan is dit afgehandel, die tyd wat oorbly te kort vir afskeid neem, is Marty te hartseer om op te kyk na die helder sterre hemel om vir oulaas in te neem wat vir haar so pragtig geword het, die Afrika hemelruim.
Wanneer sy uiteindelik in die gemaklike bed in die private vliegtuig lê, laat sy die trane vrylik vloei, herken, en erken sy die gevoel in haar, liefde vir Erhard Kruger, hy wat haar ʼn moordenaar met bloed aan haar hande genoem het, en sy voel om te sterf van ellende.
Dit is wanneer die vliegtuig opklim teen die swart nag dat Erhard Kruger op die trappe van Battlefields se voordeur besef, Marty gaan nie vannag huis toe kom nie, en in hom kom daar ʼn vrees dat sy nooit weer gaan kom nie, en hy spring in sy motor en jaag soos ʼn besetene na die myn, hy weet, hy moet haar sien, hy moet regmaak wat hy opgemors het, want in hom is daar ʼn sekerheid sy is die enigste een vir hom, sy besit sy wese, en hy kan nie meer stry nie, kan nie meer haat nie, en die weke se geveg teen hierdie gevoel laat hom weer voel soos daardie kind wat sy ouers verloor het. Hy weet, indien sy weg is, wil hy die verlies nie voel nie, dit sal hom doodmaak.

Wanneer Erhard ure later die voordeur oopstoot en Marelé en Baxter langs die tafel sien sit, voel hy of die dood in hierdie huis is.
“Wat het jy gedoen seun, weet jy nie wat sy vir ons beteken nie?”
Erhard staan daar in absolute leed en onkunde, maar hy weet wat hy nou gaan hoor die hele lewe van hierdie mense gaan opsom.
Baxter staan moeg op en gee aan Erhard die album wat Marelé in haar hande vashou.
Wanneer Erhard eindelik opkyk, huil hy soos daar lank gelede, maar nou huil hy ook vir Marelé se verlies.
“Sy is ma se kind, ag Here wat het ek gedoen?” Hy swaai om en strompel uit die huis die swart nag in.

Die sneeu slierte slaan teen Marty se gesig wanneer sy stram teen die vliegtuig se trap afklim. Dit maak min indruk op haar, sy voel die doodsheid in haar, en dit is kouer as die ys teen haar gesig.
Sy stap oor die bekende loopvlak van die klein lughawe hier hoog in die toegesneeude berge. Sy kyk op na die berge, haar berge, en sy weet, hier is sy veilig, hier gaan niemand haar kry en seermaak nie, want niemand weet van ‘hier’ nie.
Sy stap deur die hekke in die klein ontvangs lokaal in, en die vriendelike groet-woorde kom van die klein personeel korps wat aan diens is. Hierdie is haar mense, hier het sy vir dertig jaar gebly, en net een enkele dag se hartseer beleef, daardie dag, toe die groot Rastor Battle, dood in die sneeu gelê het.
Sy gaan deur die formaliteite sonder om dit werklik te beleef, en wanneer sy koers kies na die uitgang, vra die lughawe hoof, Heinz Köhler “Gaan jy dadelik boontoe, Marty.”
Wanneer sy instemmend knik, wink hy die sekuriteit beampte nader, “Bring Juffrou Battle se voertuig om asseblief, Hennzmann.”
Marty wag skaars, dan is die voertuig daar, sodra sy binne die jeep sit, en sy die bekendheid daarvan inneem, loop die trane oor haar wange, en neem sy haar voor, hierdie is haar laaste rit na bo. Afkom sal sy nie weer nie, sy is nou tuis, hier waar haar pa sy lewe geleef het.

Dit is asof Erhard en Marty se lewens vir een oomblik in tandem is, ook hy sit in sy motor, en terwyl hy die huilende wiele in die verte aanstaar, loop die trane oor sy wange. Hy voel ʼn eensaamheid en afgeslotenheid van die wêreld soos nog nooit voorheen nie.
Met sy ouers se dood was Marelé en Baxter daar, maar nou voel dit asof hy hulle so teleurgestel het dat hy alleen is. ‘Here waarom kon ek nie maar net vroeër die gevoel in my erken het nie, waarom het ek so hardnekkig gestry teen iets wat so verterend wonderlik in my brand’.
Hy skakel die motor met ʼn baie moeë gebaar aan, en dit is ʼn weerspieëling van die prentjie wat hy skep. Gekreukelde hemp en broek, half losgeknoopte das en ʼn blouheid onder sy oë wat duidelik die afgelope ses en dertig uur se wakker wees verklik.
Hy voel die trane koel teen sy wange en nek wanneer hy die venster afdraai en die vars oggend lug inlaat, hy weet die lewe het sy glans verloor, hy het sy energie en lus vir die lewe verloor, die lewe strek soos ʼn baie nou en donker gang voor hom uit, en sonder dat hy weet, beleef hy die depressie wat sy moeder daardie dag beleef het toe sy ʼn einde aan haar lewe gemaak het.
Soos God se plan met almal se lewens is, laat hy Erhard weg beweeg van daardie put van depressie, en kom Marty se beeld by hom op. Asof soos gister beleef Erhard die dag toe sy ouers dood is, nie hulle dood nie, maar Baxter se woorde daar langs die oop grafte. ‘Jy kan gaan lê seun, of jy kan hierdie helse ding takel en hom oorwin, jy kan in daardie graf spring, of jy kan die lewe aangryp, en uit hom kry wat jy wil hê, dit is jou besluit.’
Hy het gedink hy het gekry wat hy wil hê, totdat Marty Battle met haar snaakse kleur oë sy lewe ingestap het.
Hy maak sy oë toe, beleef die gevoel van haar aanraking van sy liggaam daardie eerste dag toe sy met soveel krag hom van haar losgeruk het, en die intensheid daarvan voel hy teen sy vel. Hy voel sy asem gejaagd raak, wanneer hy weer daardie laaste aanraking beleef, en in sy liggaam voel hy ʼn tinteling en ʼn opwelling wat hy nog nooit voorheen voor daardie aand beleef het nie, en nooit met enige iemand anders sal beleef nie. Hy weet, hy sal nooit weer in sy lewe gelukkig kan wees indien hy nie weer daardie mensie in sy arms kan hou nie.
Hy sit die motor met vasberadenheid in rat, en die spoed waarmee hy wegtrek laat die bande skree in die oggend stilte, sy stem weergalm deur die stil môre, “Marty Battle ek sal jou vind, al is dit die laaste ding in my lewe, maar sonder jou sal ek nie oud word nie.”
Duisende myle weg, sweer Marty luid, wanneer sy teen die ysbedekte bergpad uitsukkel, “Niemand, sal my ooit weer kry nie, ek is klaar met die lewe daar buite,” en die sneeubedekte hange beaam dit, want hier het hulle Rastor Battle weggesteek teen die wêreld daar buite totdat hy hier by hulle gesterf het.

Erhard ry sonder huiwering, direk na Marelé en Baxter, hulle is sy ouers, en hy weet, al het hy hulle hierdie vreeslike ding aangedoen, sal hulle hom nie verstoot nie. Hy weet net, nou moet hy alles weet, nou moet hy weet sodat hy sy soektog kan begin.
Baxter maak die deur oop voordat Erhard die stoep bereik, hy en Marelé het ʼn bitter en bekommerde agtien uur beleef vandat Erhard die nag ingestrompel het. Hulle het albei onthou van Rosanne Kruger se depressie, van haar onvermoë om alleen sonder Karl Kruger voort te gaan en haar selfmoord. Die bittere verwyt dat hulle, hulle seun, die nag ingestuur het, het hulle amper tot raserny gedryf.
Marelé voel Marty se brief in haar voorskoot se sak. Baxter het dit van die kantoor af vir haar gebring. Sy ken reeds die inhoud woord vir woord, en sy het berusting, God het sy pad en sy tyd met alles. Sy voel warm wanneer sy dink dat Marty haar lief gekry het sonder enige voorbehoud, en sy weet in hierdie lewe is daar niemand wat sy ooit liewer as hierdie kind sal hê nie. Sy is tevrede, God sal weer na haar kind kyk soos voorheen.
Hulle het deur baie ure se hartseer ʼn besluit geneem, en alhoewel dit Marelé in die diepste hartseer gedompel het, weet albei hul verantwoordelikheid is by hulle seun, hierdie kind wat hulle nog net vreugde gebring het.
“Kom in seun, moeder wag in die kombuis met koffie en iets te ete.”
“Dankie pa, dit sal heerlik wees.”
Hy stap reguit na Marelé en druk haar teen sy bors, “Ek is jammer mamma, maar ek beloof ek sal regmaak, al is dit die laaste ding wat ek doen.”
Sy sit haar hand op sy lippe, “Nee seun, ons moet aanvaar wat gebeur het, het gebeur met ʼn doel, dalk is dit my nie beskore om haar as my dogter te hê nie, dalk is dit beter so, dat sy liewer leef sonder die kennis van al die negatiewe dinge van Rastor wat ons glo sy definitief nie ken nie.”
Erhard skud sy kop heftig, “Ek sal haar vind, ek sal geen steen onaangeraak laat nie.”
“Moet dit nie vir ons doen nie seun, ons het vrede gemaak, vir ons is dit genoeg dat sy hier was, en dat jy hier is vir ons.”
“Nee, ma, ek het verbrou, ek met my haat, het almal te na gekom. Ek het nie eers moed om die myn se mense in die oë te kyk nie. Ek weet nie eers hoe ons deur hierdie gemors gaan kom waarin ek ons nou gedompel het nie.”
“Laat slapende honde rus my kind, ons het tot rus gekom. Ons het haar gesien, en ons het haar wonderlikheid beleef, vir ons is dit meer as wat ons ooit geglo het sal gebeur.”
“Dit is nie vir julle nie ma, dit is vir myself dat ek haar moet kry, moet smeek om verskoning.”
“Sy sal dit nie teen jou hou nie, die bietjie wat ons van haar leer ken het, het gewys sy is groter as dit.”
Sy gee hom Marty se brief, en hulle albei sien die trane in sy oë wanneer hy die brief een oomblik styf teen sy hart druk. Wanneer hy die brief terug gee, sonder om in hulle oë te kyk, sê hy sag met die hartseer in sy stem, “Dit is nie net vir die verskoning vra nie ma, dit is sodat ek sal kan leef.”
Wanneer Baxter en Marelé die pyn in sy stem hoor, weet hulle voordat hy dit uitsnik, “Ek het haar so lief, sonder haar is daar geen sin in hierdie lewe nie,” en hy staan daar, en snik sy verdriet op sy ma se skouer uit.
Wanneer hy tot rus kom, sê hy beslis, “Nou wil ek alles weet, waarom het julle my nooit vertel nie, waarom het julle my toegelaat om so onbeheersd voort te gaan in my haat? Waarom het ma my nie gesê Marty is ma se kind nie, hoekom nie?”
“Wat sou dit verander het my kind, ons het lankal ophou glo dat sy sal kom, waarom sou ons jou te na kom vir iemand wat ons geen hoop voor gehad het nie.”
“Vertel my van haar, van ma en Rastor Battle, sommer net van alles, asseblief.”
Wanneer Marelé styf teen Baxter op die groot bank gaan sit, weet sy, vandag moet sy haar gemoed skoonmaak, vandag moet alles uit, want môre moet sy reg wees om voort te gaan met haar lewe, ʼn lewe sonder Marty, sonder Rastor se spook, sonder verdere hoop en verwagtings.
“Ek, Rastor, Richard May en Baxter was altyd deur in die selfde klas, was seker maar altyd vriende. Ons het nooit sonder mekaar gewees nie, en ek was Rastor Battle se nooientjie vir solank as wat ek kan onthou. Dit was eers in ons matriekjaar dat ek skielik besef het ek hou meer en meer van Baxter Melville, ek wou meer en meer by hom wees.”
Sy voel Baxter se ligte drukkie op haar arm, en sy voel die warmte daarvan tot in haar hart.
“In ons tweede jaar op universiteit het ek die moed bymekaar geskraap om met Rastor Battle uit te maak.”
Marelé voel die hoendervleis op haar vel en sy voel weer die vrees van daardie dag so lank gelede, “Vir Rastor was dit ʼn grap, hy het geweier om dit te aanvaar, en het vir Baxter ʼn afgedankte loesing beloof indien hy hom ooit naby my vang. Ek het probeer om my gevoel vir Baxter af te skud, maar liefde vra nie, hy vat net,” en Erhard ken nou die waarheid van daardie stelling.
“Aan die begin van ons derde jaar het ek formeel met Rastor uitgemaak, en het ek en Baxter begin uitgaan. Gedurende die Maart reses het Rastor my tuis besoek en my gesmeek om saam met hom ʼn entjie te gaan ry sodat ons kon praat, ek het geweier, maar my ouers het daarop aangedring dat ek gaan.”
Erhard sien die weemoed in sy ma se oë, en hy weet wat hy nou gaan hoor baie pynlik vir almal gaan wees.
“Dit was ʼn vreeslike dag, Rastor het na geen rede geluister nie, hy het my geslaan en om alles dood te maak wat ooit tussen ons was, het hy my verkrag!”
Erhard se snak na sy asem, klap soos ʼn geweerknal in die stilte, vir een vreeslike oomblik voel dit vir hom of hy dieselfde daad met Marty gepleeg het toe hy haar oorweldig het, en toe net so weggegooi het, en sy ouers sien die pyn op sy gesig.
Hy gaan op sy knieë voor Marelé, “Ek is so jammer mamma, ek is so jammer vir dit wat hy aan jou gedoen het, en vir dit wat ek aan jou kind gedoen het.”
Marelé vryf haar hand deur sy hare, “Toemaar my kind, God het my genadiglik deur daardie hel geneem, en sal ook vir Marty daar deur neem, moenie laat dit jou tot wanhoop dryf nie.”
Sy dwing sy oë om in hare te kyk, “Beloof,” en hy knik sy kop woordeloos. “Dit is die groot rede waarom ek nog nie vir Marty kon vertel ek is haar moeder nie, hoe sê ʼn mens vir jou kind in hoeveel haat sy verwek is, hoe sal sy glo ek het haar so lief soos die lewe self wanneer sy so verwek was?”
Dit vat Marelé ʼn lang tyd om haar balans te vind, “Dit was ʼn geweldige tyd vir almal, my pa het onmiddellik ou Rastor Battle gaan sien, en binne ʼn maand was dit duidelik dat ek swanger was. ʼn Week later was ek en Rastor Battle getroud, getroud in naam, sodat my baba die van Battle sou dra.”
Erhard sien hoe sy pa, sy ma se hand druk, “Ek en Baxter het stil met ons lewens aangegaan, en het Rastor net een of twee keer weer gesien terwyl ek geweier het om met hom te praat. Rastor was soos ʼn woedende storm, en hoe meer maande verby gegaan het, hoe erger het dit geword. Rastor Battle kon nie glo of aanvaar daar is iets in die lewe wat hy nie kon kry nie.”
Erhard hoor die hartseer in Marelé se stem en hy sien dit op haar gesig, “Terwyl die verhouding tussen my en Baxter verinnig het, en ons trou aan mekaar beloof het, het die verhouding tussen Rastor en sy pa telkemale amper op geweld uitgeloop. Ou Rastor het Rastor die huis belet, en ook die myn gronde, dit was die grootste fout van sy lewe, Rastor het moord gesweer, en dit bedoel.”
Erhard voel om weg te hardloop voor soveel leed, maar hy weet, vandag se vertelling moet ook hierdie duiwel in hom aanspreek, “Soos wat die klein mensie in my gegroei het, het alle haat en wrewel wat ek en Baxter gevoel het verander, en het ons uitgesien na daardie babatjie, het ons drome begin droom oor die kindjie wat ons gaan kry, en gaan grootmaak, en het ek dit ook so aan my ouers en almal oorgedra. Rastor het ons laat weet dit is sy kind, en ons het geen reg op daardie kindjie nie, en ons het ons min gesteur, te min.”
Sy moeder huil nou openlik, en Erhard weet, hierdie is die pynlikste verhaal wat hy ooit in sy lewe sal hoor, “Marty is die twintigste Desember gebore, en sy was alles waaroor ons gedroom het, piepklein, rosig, so volmaak en so pragtig.”
Erhard hoor die deernis in sy ma se stem, hy weet sy het Marty Battle liewer as die lewe, het haar altyd liewer as die lewe gehad, “Ek het haar ʼn skamele twee keer vasgehou, en toe steel Rastor haar uit die hospitaal en verdwyn soos ʼn groot speld, om nooit weer terug te kom nie.”
Die trane loop nou vry oor al drie se wange, “Dit was die ergste wat kon gebeur het, het ek gedink, totdat my vader en moeder by die hospitaal opgedaag het. Rastor het die skag gesaboteer het almal gesê, en sestien mense het daardie dag in daardie skag gesterf,” en Erhard voel die pyn in hom, hy onthou daardie dag toe sy lewe so ʼn knou gekry het.
“Hoekom het hulle ooit die saak teen Rastor teruggetrek pa.”
Baxter wag een oomblik, so asof hy oorweeg of hy moet sê wat hy wil sê, “Daar het ander getuies jare later voor die dag gekom seun, getuies wat bewys het Rastor Battle was nooit by die skag nie, hy was wel op die myn, maar hy het definitief nooit enige sabotasie gepleeg nie, dit is seker.”
Erhard voel sy ore suis, en hy voel asof iemand hom hard op die krop van sy maag slaan, “Hoekom het julle my nie gesê nie, hoekom het julle my laat bly glo dit was hy,” Kom dit deur sy saamgepersde lippe.
“Want daar was ander dinge ook wat ons nie aan jou wou vertel nie.”
Wanneer hy in Baxter Melville se oë kyk, weet hy, dit het iets met sy pa te doen, sy pa was die skofbaas op diens daardie rampspoedige nag, en die bevestiging lê in Baxter se oë.
“Nee, nee!” Kom dit hygend van Erhard, en net die feit dat hy reeds sit keer dat hy nie op die grond neerstort nie.
“Seun jou pa was nie vir die mense se dood verantwoordelik nie, daar was so baie ander dinge wat daardie nag saamgewerk het om die ramp te veroorsaak, los dit nou en kom tot rus.”
Erhard weet, hy gaan nooit weer tot rus kom nie, daardie woorde wat hy Marty toegesnou het, is nou op hom van toepassing, “Wat het Rastor dan by die myn gemaak?”
“Hy het die kluis oopgebreek, en duisende rande gesteel, dit is wat hy daardie nag gedoen het.”
Dit vat ʼn lang tyd voordat Erhard opkyk in hulle oë. Hy praat asof die naakte waarheid wat in Baxter se oë was nooit daar was nie, Erhard probeer die wete dat sy pa se nalatigheid dalk die ‘moordenaar’ was, uit sy bewussyn sny, want dit kan hy nie vandag beleef nie. Miskien later, later wanneer hy Marty om verskoning gevra het, maar nie vandag nie.
Sy volgende woorde bevestig aan Baxter en Marelé hul vermoede dat hy nie vandag wil hoor van daardie dag nie, en hoe dit hom en sy mense raak nie, en hulle laat dit hulle welgeval, want hulle wou hom in elk geval nooit sê nie.
Hy kyk na hulle met daardie pyn op sy gesig, “Waarom dink julle het Rastor nooit terug gekom nie.”
Baxter is eerlik, “Seun, ons kan net aanvaar hy het nooit geweet dat al die sake teen hom teruggetrek was nie.”
Erhard se stem dra sy verwyt en hartseer, “Marty weet seker niks hiervan nie, so sy sal hom ook nie kan sê nie, sy weet nie eers dat ou Rastor en tante Julia nog leef nie. Hel ek het opgemors hierdie keer, hierdie keer is ek die skuldige, nie Rastor Battle nie, en dit gaan my versmoor.”
Marelé vat sy hande vas, en skud haar kop heen en weer, maar die pyn op sy gesig is daar om te bly, “Wat gaan mamma nou doen?”
“Ek gaan alles wat mooi is van Marty, en my ewige liefde vir haar, in ʼn lang brief skryf, dan gaan ek daardie brief en hierdie album wat ek so getrou vir haar saamgestel het, aan die prokureur gee, en hom vra om dit deur daardie kanale wat al die jare so versteek was te stuur na my kind toe, en dan gaan ek elke dag bid vir die terugkoms van my dogter.”
“En indien sy nie terugkom nie moeder?”
“Dan sal ek elke dag van my lewe hierdie afgelope maande herleef.”
Wanneer Erhard opstaan om te gaan, wil hy nie glo hulle het Marty verloor nie, kan hy nie glo met vandag se moderne alles, iemand vir ewig kan verdwyn nie. In hom is die twyfel en die vrees soos ʼn monster, want hy weet die hele wêreld kon Rastor Battle nie opspoor nie, en kan nog steeds nie.
Dan draai hy om, en hy sê dit so ingedagte, “Wat het van Richard May geword, die ander een van julle viermanskap?”
In Baxter se stem hoor Erhard die hoop, “Ons weet nie regtig nie, maar hy was ʼn baie goeie mens, sag en ordentlik, en ons het deur al die jare geglo en gehoop, dat hy by Rastor gebly het, en na Marty omgesien het, maar ons weet nie, want hy het dieselfde nag as Rastor verdwyn, om ook nooit weer terug te kom nie.”
Erhard dink een oomblik na en stap sonder ʼn verdere woord met skouers wat hang die vertrek uit.

Marty stap baie stil die hout paleis binne, sy sien die pragtige houtsnee werk, sy ruik die reuk van die hout meubels en mure. Sy kyk met liefde na die sag gebreide velle op die stoele, en op die glimmende plankvloere, en sy voel die vrede in haar, sy is tuis, sy is waar sy moet wees, en sy onderdruk die gevoel van weemoed.
Sy draai beslis weg uit die groot vertrek, en stap met ʼn vasberade stap deur die gange na die noorde kant van die huis, na oom Richard se deel, want daar is baie dinge wat sy wil weet, en wanneer sy weet wil sy hierdie hoofstuk van haar lewe afsluit, en nooit weer oopmaak nie.
Hy sit rustig in die diep leunstoel voor die knetterende vuur, en die silwer in sy blonde kuif flikker soos liggies soos die vlamme se gloed daarin speel. Hy voel haar nabyheid voordat hy haar hoor of sien, en ʼn geweldige vreugde en weemoed kom tegelykertyd in sy hart. Hy spring uit die stoel en die vreugde op sy gesig wanneer hy haar sien, laat haar in trane uitbars, en hy gryp haar vas en druk haar aan sy bors.
“Wat het hulle jou aangedoen, Marty?”
Marty kan nie deur die trane praat nie, wil nie praat nie, sy wil net hier teen hierdie mens, wat haar tweede pa is, se hart vasgedruk word, sy wil vandag voel daar is iemand wat haar liefhet, maak nie saak wat gebeur het, of wat die Battles verkeerd gedoen het nie.
Dit vat ʼn geruime tyd voordat sy haar los wikkel uit die omhelsing, en Richard May kan aanvoel uit haar hele houding dat Marty seergekry het, en hy weet al het Rastor hoe probeer om al die seer van sy kind weg te hou, dit het haar wel ingehaal, en vir hom is dit ʼn bittere dag.
“Ons het dinge om oor te gesels oom Richard,” en sy kyk hom stip in die oë.
Richard May knik net sy kop stadig in erkenning, praat kan hy nie nou nie. Hy sal baie versigtig moet wees, want ʼn verkeerde woord of sinspeling kan hierdie lieflingskind se hele verlede, hede en toekoms vernietig.
Richard staan met oë wat vêr staar, en in sy gedagtes maal die baie dinge wat hy weet, en wat hy nie met sekerheid weet nie, en hy kry die gevoel dat sy onverbiddelike lojaliteit aan Rastor, nee aan hierdie pragtige wese, dalk nou die einde van haar liefde en vertroue in hom sal bring.
Here hoeveel swaar dae het hy nie al meegemaak nie, hoeveel duisende male het hy geweet wat hulle gedoen het, en steeds doen, verkeerd was nie. Hy het elke dag geweet die leuen waarin hulle drie leef moet een of ander tyd op ʼn einde kom, en nou is dit hy, en hy alleen, wat die hartseer en moontlike ontnugtering in haar oë sal moet aanstaar en beleef.
“Oom Richard!”
Wanneer hy sy oë stadig op haar pragtige fyn gesiggie fokus, en daardie wonderlike kombinasie van Rastor se oë en Marelé se sagtheid sien, weet hy dit wat hy so lank terug vir Marelé gevoel het, oorgegaan het in haar kind, en weet hy alles wat hy reg en verkeerd gedoen het, vir Marelé was, vir sy gevoel en liefde vir Marelé.
Die wete was altyd in hom, maar die erkenning van die gevoel, en sy motiewe om Rastor al die jare so aan te hang, staan skielik naak geskryf op die gesig van hierdie kind wat soveel mense se lewens in totaal verander het. Hy weet dit nou, vir Rastor het hy niks gedoen nie, maar vir Marelé het hy na haar kind gekyk en verseker dat niemand haar leed of hartseer sou aandoen nie, en nou is sy terug, en die pyn en haar oë, ken hy, want het hy nie al die jare daar op die myn as jongman, en hier in die sneeu dieselfde pyn in sy eie oë gesien nie, ‘Liefde, O Here, onbeantwoorde liefde!’
Marty sien die kleur, en grootte van sy pupille verander, en sy weet die waarheid is in sy gedagtes, en dit is meer as pynlik.
“Ek kan jou alles vertel wat ek weet, maar Marty ek mog dit nie doen sonder dat ek weet hoe die een ander persoon wat alles in hierdie verhaal is, voel nie.”
Sy sien die beslistheid op sy gesig.
“Gee my kans om sekere dinge uit te sorteer, en dan praat ons weer.”
“Nee oom Richard, die waarheid, die naakte waarheid, al maak dit hoe seer. Ek wil weet waarom my pa gevlug het van die plek waar hy en my ma so gelukkig was, ek wil weet wie my ma was, hoe sy gesterf het, en waarom my pa as ʼn moordenaar uitgekryt word deur ʼn sekere persoon.”
Richard May voel of ʼn hammer hom teen sy kop tref, dan het Marty nie haar moeder gevind nie, het sy geen antwoorde gekry nie, maal dit in sy kop. ‘Here wanneer en hoe maak ek ʼn einde hieraan,’ en vir die soveelste keer voel hy naakte haat in hom opstoot… ‘Rastor, Rastor wat het jy gedoen,’ maal dit in sy kop.
“Marty jy moet my eers alles vertel wat gebeur het, alles wat gesê is, en almal wat nog daar is.”
“Hoekom oom Richard, sodat jy draaie kan loop?”
“Nee Marty sodat ek kan bepaal wat gebeur het nadat ons weg is van die myn af, sodat ek kan sin maak van wat aangaan, jou pa het my nie altyd alles vertel nie, daar was dinge wat hy diep binne homself weggesteek het, dinge wat ons saam sal moet ontdek.”
Hulle gaan sit in die skemer vertrek voor die knetterende vuur, en Marty vertel hom alles van die besigheid, van Baxter se hulp tot by Erhard se haat, sy gee hom elke snydende woord wat Erhard gesê het, maar oor Marelé swyg sy, en oor haar gevoel vir Marelé en Erhard weier sy selfs om aan te dink, dit kan sy nie deel nie, dit is te wonderlik en terselfdertyd te pynlik.
Richard sit en wag met sy geslote oë, hy weet alles wat sy sê, en hy ken die antwoorde, maar hy wag vir dit wat hy nie weet nie, wat van Marelé, wat van ou Rastor en tante Julia, en in hom kom lê die vreeslike wete, ‘hulle is nie meer daar nie, daarom is Marty terug, hulle sou haar nooit weer afgestaan het as hulle daar was nie, want hulle het reeds ʼn leeftyd vir haar gewag’.
Wanneer Marty stilbly, voel Richard die lewe uit hom gaan, ‘Here ons het haar kind gesteel, en sy is dood sonder om hierdie lieflike wese te ken,’ en Richard May voel die benoudheid in hom, hy voel die gevoel van iemand wat sweef, en dan kom daar ʼn pyn deur sy liggaam wat sy bewussyn uit hom vat.
Marty sien hom vooroor val en neerstort op die vloer, sy hoor die verskriklike benoude roggel, en sy sien die grysheid van sy gelaat verbleek tot die witheid van die honderde meters diepe sneeu buite teen die berge, en sonder dat sy weet, of hoor, gil sy soos daardie dag toe die sterke Rastor Battle dood gelê het in die sneeu teen die berg.

Erhard Kruger kyk die prokureur smekend aan, “Josh ons is mos ou vriende, ons is saam deur alles op die ‘Levels’, die Universiteit, ek was jou strooijonker man. Help my asseblief, ek smeek jou met alles in my, gee my Marty Battle se adres.”
“Erhard indien ek kon sou ek jou gehelp het, maar verstaan asseblief, daar is geen adres nie, daar is geen land nie, daar is geen plek op die aardbol waar iemand haar kan plaas nie. Marty Battle en haar pa bestaan nie sover dit enige owerheid aangaan wat ooit genader was deur Interpol nie.”
Erhard se verstand verstaan wat Josh Koenig sê, maar sy hart weier om dit in te neem, en te glo, “Josh sy bestaan, sy was hier, en jy weet sy moet iewers wees.”
Josh Koenig skud net sy kop, hy weet hoe daar al gesoek is na hierdie twee Battles, het hy dan nie sy hele lewe in die huis gewoon van die prokureur wat ʼn lewenslange opdrag van ou Rastor Battle gehad het om sy kleinkind op te spoor nie. Was dit nie al wat sy pa vir dertig jaar lank oor gepraat, en voor geleef het nie, Here die verlore Battles en hulle geskiedenis het ook hulle Koenigs se geskiedenis geword, het die Koenigs so oorheers dat hulle niks behalwe die Battles kan onthou nie.
“Erhard ek kan nie help nie, ek wil nie ook my gesin in ʼn ewige Battle soektog in dompel soos my pa met ons gemaak het nie. Besef jy daar is meer sketse van Marty Battle in ons huis in albums, as wat daar foto’s van ons hele gesin is. Besef jy ek het elke dag vir dertig jaar my lewe gedeel met ʼn suster wat ons huishouding oorheers het en nooit tuis gekom het nie. Besef jy ek het Marty Battle in elke mens op straat en op TV gesoek terwyl ander mense hulle lewe geniet het, besef jy ek voel vandag nog soos ʼn boetie wie se suster ontvoer is, en dit oor iemand wat ek nooit gesien of geken het nie.”
Erhard sien die breekpunt in Josh Koenig se oë.
“Besef jy julle daar op die ‘Levels’ het gekry waarvoor my pa sy lewe opgeoffer het, en julle het dit verbrou. Besef julle, julle is net so skuldig soos Rastor Battle, en kan jy besef dat ek nie verder betrokke wil wees nie.”
“Josh ek is jammer.”
“Nee Erhard dit is nie genoeg nie, sy was hier, sy was gelukkig, sy wou hier bly, en julle het dit opgemors, en nou wil jy hê ek moet soos my pa die gemors oplos.”
Erhard draai verslae om, ook hy het die einde van sy uithouvermoë bereik, ook hy kan nie verder, dit is twaalf maande van dat Marty weg is, ʼn volle jaar en hy het nog nie tot rus gekom nie, hy het elke steen omgekeer, elke moontlikheid gevolg, en hy weet, hierdie is die einde van die pad, Marty Battle is weg, weg vir ewig, behalwe as sy self terug wil kom.
“Nee Josh, ek het dit opgemors, ek het haar verdryf vir ewig, en daarmee moet ek saamleef,” Hy trek die jong prokureur se kantoor deur sag agter hom toe, dit is die einde van hierdie episode weet hy, indien hy nie nou tot rus kom nie, vernietig hy nog meer mense as die wat klaar seergekry het. Hy word weer bewus van die pakket in sy hand, ‘Marelé se boodskap aan haar kind’.
Hy weifel vir een oomblik, en draai om, stoot die kantoor deur oop, en sonder om iets te sê, sit hy dit sag op die lessenaar se hoek neer, en stap hy sonder ʼn blik in Josh se rigting deur die deur, en uit in die helder sonskyn.
Wanneer hy buite by sy motor staan, kyk hy op na die helder son, en sê hy sag, “Here as hierdie selfde son ooit op Marty Battle skyn, laat dit haar in warmte en geluk baai.”
Dan klim hy in sy motor, en ry vasberade na die ‘Levels’, hy het genoeg tyd verlore laat gaan, hy moet nou gaan doen waarmee sy hom vertrou het, hy moet die ‘Levels’ gaan regruk. Vir die eerste keer het hy simpatie met Rastor Battle, om iets so wonderlik soos Marelé en Marty te verloor, sal enige mens tot verdwyn dryf, dit weet hy nou.

Marelé vra geen vrae wanneer Erhard laat aand die kombuis binne kom nie.
“Het ma ietsie vir my om te eet,” en sy sug van verligting, die ou Erhard is terug, in elk geval op die oppervlakte is hy terug, want sy weet hy dra in sy hart die verlies wat sy al die jare alleen gedra het, en sy kry hom innig jammer.
Terwyl Marelé so na Erhard kyk, ervaar sy die hartseer en verlange van al die vergete jare, en neem sy ʼn besluit om nooit weer Marty se naam te noem totdat sy terug is nie. Sy weet, Erhard het nou hulle ondersteuning nodig, hy is hulle seun en hulle het hom lief.

Marty staan stil en alleen langs die vars graf langs die graf van die groot Rastor Battle teen die helling van die berg. Dawid en Jonathan dink sy, maar sy weet ʼn baie hartseer en selfverwytende Jonathan op die einde, en miskien ook so ʼn Dawid.
Sy het baie aan haar pa gedink hierdie twaalf maande wat oom Richard verlam in die groot bed in die hout kamer met sy glimmende kaggel gelê het. Sy het baie ure in die vlamme gestaar totdat die trane haar verblind het en teen haar wange afgeloop het. Dit kon nie die hartseer weg was nie, dit het net die wonde skoon gewas.
Sy draai om en kyk na die groot Rastor Battle se graf, “Jy het my ontneem van so baie, maar jy het my so baie gegee, ek het jou vergewe en ook vir oom Richard,” sê sy sag aan die twee grafte.
Haar hart huil in haar, sy is werklik alleen in hierdie wêreld, en sy weet dit is pynlik. Terug na die myn kan sy nooit nie, sy weet nou haar pa het haar in werklikheid gesteel van haar ma, sy weet van die myn ongeluk, en sy weet hy was nie daarvoor verantwoordelik nie. Sy weet dit want hy en Richard was nooit by die skag daardie rampspoedige nag nie, hulle was net by die administrasie gebou, hulle het die kluis oopgebreek en al die geld, duisende rande gesteel om mee te vlug. Dit was haar pa se misdade, nie die ongeluk in die skag en die dood van al daardie mense nie, daarvoor was iemand anders se agterlosigheid verantwoordelik, dit weet sy met sekerheid.
Marty is tot die dood toe uitgeput wanneer sy stadig deur die sneeu na die hout kasteel stap, die lewe lê soos ʼn baie lang eensame pad voor haar, en sy weet sy sal een of ander tyd haarself moet regruk, anders sal hierdie twee grafte in die sneeu kort voor lank drie wees.
Marty voel haar gedagtes weer wegsweef na al die gesprekke met Richard May, kort onsamehangende gesprekke meesal. Gesprekke waarin hy net geantwoord en vertel het wat hy wou, gesprekke wat een ding duidelik gemaak het, Richard May het haar moeder bemin tot in sy graf, Richard May het geweet in hoeveel woede en geweld sy Marty verwek was, hy het geweet haar ma het haar liefgehad, hy het geweet wie haar ma was, en hy het haar nie gesê nie, en dit maak seer.

Soos die weke aanstap, weet Marty daar is nie rus vir haar nie, die wete dat haar ma nie gesterf het toe sy klein was nie, lê soos ʼn sonstraal in haar lewe. Bly die wete in haar dat haar ma nog kan leef en dit hou haar aan die lewe.
Sy krap haar pa se laaie om, sy ontsien niks, sy lees elke dokument, en sy leer in die volgende weke elke klein detail van haar pa se versteekte lewe ken, en sy kry hom meer lief, en sy haat hom by tye oor dit wat hy van haar weggehou het.
Sy vind die koerant uitknipsels oor jare, en sy weet iewers in die wêreld het iemand van hulle bestaan geweet, want haar pa het nie hierdie koerante gekoop nie, hulle is spesifiek deur iemand aan hom gestuur, en sy bid dat God weer deur hierdie persoon iets sal stuur, iets vir haar, en haar lewe verder.
Sy vat die storie vanaf die rampspoedige dag in Desember 1988 toe die kleinkind van Rastor en Julia Battle uit die hospitaal ontvoer is, tot by die dag in die negentigs toe alle sake teen die jong Rastor Battle teruggetrek is, en in haar skree dit, ‘hoekom pappa, hoekom het jy my nie vir my ma gaan gee nie,’ maar sy weet daar is geen antwoord nie.
Sy soek ʼn foto van haar ma, maar sy vind niks, en sy pak ʼn rugsak en vroeg oggend vat sy die lang stap op teen die moordende berg na die berghut, dit is die laaste plek waar sy moontlik iets kan vind, en sy weet, indien sy daar niks vind nie, sal sy tot rus moet kom, en dit is finaal.
Dit is ʼn drie dae lange tog van koue en hel, en net Marty se jare lange ondervinding van hierdie berg, en die hoop dat daar iets van haar ma sal wees, hou haar aan die beweeg en aan die lewe.
Wanneer sy die berghut se deur agter haar toe stoot, sak sy inmekaar en huil sy soos die dag toe Rastor Battle dood in die sneeu hier voor die deur gelê het, en alles is net te veel vir die klein lyfie.
Dit vat Marty ʼn baie lang tyd om orent te kom, en sy het nie die moed en die krag om na enigiets te begin soek nie, sy weet, indien hier niks is nie, is al haar hoop verlore, en daarvoor sien sy nie vandag kans nie. Die vandag word môre, oormôre en ʼn week verder, en nog kan sy nie die kaste oopbreek en deur die inhoud gaan nie.

Buck Warden kyk aandagtig na die pakket op sy lessenaar, hy weet waar dit vandaan kom, en hy weet waar dit veronderstel is om heen te gaan, en hy wonder daaroor. Hy dink aan al die baie ander briewe en pakkette wat op dieselfde manier hier gekom het, en op die selfde manier verder tot by Rastor Battle gegaan het. Hy weet hy is die enigste mens wat die geheim van Rastor Battle ken, wat die groot beer se lê plek ken, en hy dink hoeveel geld daardie inligting hom die afgelope dertig jaar kon besorg het, en hoeveel dit hom wel besorg het, en in hom flikker die opwinding van sy jongdae.
Rastor is dood, en Richard is dood, en hy weet dit sal nie lank wees voordat dit sy tyd is nie. Hulle al drie was op geleende tyd die afgelope dertig jaar, hulle was so gelukkig, so ontsettend bevoorreg, en hy wonder of Marty Battle weet hoe ʼn groot rol haar klein lewetjie in die regmaak van hulle lewens gespeel het.
Hy onthou die wilde dae van hom, Rastor en Richard, hy voel weer die opwinding van hul togte, hy ervaar weer die lekkerte soos daardie dag toe hulle, hulle eerste miljoen gemaak het, maar ook die vreeslike leed toe hulle besef het hulle miljoene kan nie die selfopgelegde ballingskap wat hulle wilde lewe hulle nagelaat het, wegvat nie.
Buck Warden is nie ontevrede nie, hy het gekry wat hy in die lewe wou hê, avontuur, twee maats wat van hom afhanklik was, en hom baie ryk gemaak het, en die aandeel aan daardie wondermens wat Marty Battle geword het, se lewe.
Sy gedagtes loop ʼn lang pad terug na die tagtigs, nee na daardie spesifieke Kersnag. Hy was die kaptein op een van sy pa se visserskuite wat net buite Lourenço Marques, af van die Suid Afrikaanse kus vis gevang het. Hy onthou die wilde partytjie op die strand, en hy onthou Rastor Battle soos hy daardie nag gelyk het, ongelooflik sterk en aantreklik, maar nugter, nugter tussen al die drinkende vakansie gangers. Later het hy geweet dit was so beplan, Rastor het sy huiswerk gedoen. Hy wou landuit, hy het geld gehad, baie geld gehad, en hy Buck het die boot gehad. Die boot wat hom, sy kind, en Richard na vryheid en vergetelheid moes neem.
Hy onthou daardie nag se kontrak tussen hulle, en hy voel die warmte in hom wanneer hy dink hoe nougeset Rastor elke belofte deur die dertig jaar nagekom het.
Buck Warden kyk om hom heen, en hy weet, alles, al hierdie weelde, al sy eie ordentlikheid en aansien, het gekom van daardie nag se kontrak. Hy onthou Rastor se woorde maande later toe hulle daar in die sneeu in die berg gevestig was. “Jy is in alles in Buck, maar ons gaan ordentlik wees, ons dae van gemors wees, is verby, ons het nou ʼn kind om groot te maak, my kind om groot te maak,” en grootmaak het hulle haar.
Hy was haar voltydse lyfwag, al die jare sonder dat sy dit geweet het, en dit gee hom weer daardie warm gevoel soos deur sy lewe, want hy het dinge van haar beleef wat Rastor en Richard nooit gesien het nie. Haar prestasies, haar Universiteits jare, haar vorming tot die pragtige mens wat sy geword het, elke weg wees minuut uit die sneeu wêreld was syne, sy alleen ondervinding van die kleine Marty Battle.
Hy wonder oor die reg, of verkeerd, van al die briewe en pakkies wat hy deurgestuur het, en die wat hy nie deurgestuur het nie, hy weet hy, en hy alleen, sal voor God gaan staan oor die rigting wat hy Rastor en sy kind se lewe ingestuur het, omdat hy gedoen het wat hom, Buck Warden gepas het.
Hy wonder oor die deurstuur of die terughou van hierdie lywige pakket, hierdie pakket wat vir Marty Battle ʼn ewige lewe of ʼn ewige eensaamheid kan inhou, en hy draai weg van die pakket, dit is reeds dae op die hoek van die lessenaar, en hy soek ʼn antwoord vir sy vertwyfeling.
Rastor Battle is dood omdat hy hom ʼn brief gestuur het, ʼn brief wat gesê het jou pa is dood, kom erf sy miljoene, en hy mis sy vriend, en hy haat hierdie pakket.
Dan kom die besluit, hierdie is die laaste, hy sal hierdie pakket deurneem na die Ysland van die groot beer, want hy onthou Richard se woorde daar so lank terug aan hom, “Ons is nie die stuurder van ander se lewens nie, dit is God se werk, en as jy nog aan God glo, laat die lewe loop soos God dit bedoel het.”
Hy het nie altyd die lewe laat loop soos God dit bedoel het nie, maar met hierdie pakket is die oortuiging in hom, en hy stap na sy kamer, en begin sy tas pak. Dit is tyd vir ʼn besoek aan die beer se lêplek, tyd om Marty Battle se laaste boodskap in die berge vir haar te gaan gee. Hy weet hierdie is die pakket wat Marty Battle se lewe sal stuur, en sy moet self besluit wat sy wil.

Die lewe gaan stil voort op die ‘Levels’ en tussen die oënskoulike normale daaglikse lewe, weet almal, die verlies van Marty Battle is nog so seer, so bitter, en lê die wete van die pyn wat die komende Kersgety gaan bring wanneer Marty se een en dertigste verjaarsdag in Desember kom, soos ʼn pynlike sweer in almal se gemoed.
Erhard Kruger gaan aan asof alles normaal is, maar hy weet, en almal op die Levels weet, niks sal ooit weer normaal wees nie, sy lewe is net ʼn halwe lewe, sy lewe is leeg, en hy voel die warmte van Marty se lyf teen syne soos daardie aand na die dans, en sy asem jaag. Hy hoor die wiele kreun en hy haat dit skielik meer as ooit, ‘Here sal hierdie doodsheid dan nooit weggaan nie,’ huil hy.

Marty blaai deur die laaste lêer wat sy uit die oopgebreekte kas gehaal het, en die trane val op haar hande, niks van haar ma nie, net haatlike finansiële state, net haatlike geld en die vergaar van rykdom, en sy weet sy is seker een van die rykste mense ter wêreld, maar sy voel so arm soos die armste mens in die wêreld, en sy verlang na Marelé en die rustigheid wat haar nabyheid gebring het, en sy huil.
Tydens die aftog na die hout paleis, bereik Marty die laagste punt in haar lewe, voel sy die lus en die wil om te lewe verdwyn, en vat dit amper bomenslike krag om nie te gaan lê in die sneeu nie.
Die welkome gesig van die hout kasteel kom net betyds, wanneer sy die rook bo die skoorsteen sien, en die huis ingaan weet sy, sy is nie alleen in die wêreld nie, weet sy hier is iemand uit die verlede al is dit amper onmoontlik om te glo. Niemand weet van hierdie plek nie, maar sy weet, iemand weet, dit is waarom al die dokumente daar bo in die jagters hut is, iemand het dit gebring, want Rastor Battle was nooit een enkele dag van haar lewe weg van hierdie berg af nie.
Sy voel geen vrees nie, sy weet net hierdie persoon is deur God gestuur, want sy is aan die einde van haar rede, en Hy het haar gebede verhoor.
Hy sit voor die knetterende vuur, en wanneer sy instap staan hy op, en sy ken hom, sy het net nog nooit met hom gepraat nie, maar sy ken hom. Hy was altyd iewers waar sy was, en skielik weet sy, hy is haar hoeder, hy is die een wat oor haar gewaak het wanneer sy weg van die berg was, hy is Rastor Battle se mondstuk, hy is Rastor Battle vir die wêreld daar buite.
Skielik weet Marty hoekom niemand hulle ooit kon kry nie. Rastor Battle, die werklike Rastor Battle, het nooit bestaan na daardie rampspoedige nag nie.
Buck Warden sien die ‘verstaan’ in Marty se oë, en hy voel die trots deur hom gaan, ‘Here sy is skerp, sy is soveel meer as wat hulle drie mans ooit saam kon wees. Sy is hulle al drie en soveel meer as hulle al drie, en hy is trots.’
Hy sê nie ʼn woord nie, stap na die lessenaar, vat die pakket, en gee dit sonder woorde vir haar, dan stap hy uit, en laat haar alleen, hy weet, sy sal hom kom soek wanneer sy reg is, want sy het vrae en hy sal haar antwoord.
Hy stap die pragtige hout kombuis binne en begin outomaties vir haar ʼn ete voorberei. Hy ken hierdie huis soos sy eie, alhoewel sy hom nooit hier gesien het nie, daarvoor was hulle drie te versigtig, en hy wonder daaroor.

Marty bly versteend staan, haar oë vasgenael op die handskrif op die effens verweerde koevert, fyn, vroulik, en dit is aan haar gerig, en sy voel die lewe in haar terug kom.
Die oopmaak en deurlees van die groot koevert word ʼn kruistog wat sy moet stap. Sy sien die artikels wat sy ken, en die wat sy nie ken nie, sy ruik die vrou aan die papier en dit slaan in haar hart vas, en sy bid ʼn gebed so groot soos die lewe self.
Dan staan dit daar, ‘Van jou mamma, Marelé, wat jou so liefhet, wat jou so mis en wat jou al hierdie pyn wou spaar, maar wat jou ook soveel pyn moes veroorsaak. Ek sal vir ewig vir jou wag, geen tyd sal te lank wees nie, vergewe my, en probeer my liefkry.’
Marty druk die brief teen haar hart, en tussen die trane skree sy die wonderlikheid uit, “Ek het ʼn mamma, en sy leef, en sy wag vir my, en sy is Marelé.”
Sy spring op en hardloop deur die huis na daar waar sy weet die draer van hierdie boodskap, van al hulle boodskappe wag, en hy maak sy arms oop, en sy sê dankie, en Buck weet, sy besluit was reg vir hulle kind, vir daardie piepklein babatjie wat hulle grootgemaak het, en hy lag vir die eerste keer in jare.
Dit vat ure om al haar vrae te antwoord. Sy huil en sy lag, sy frons, en sy skater, en hy weet dit is ʼn voorreg om haar, haar lewe te vertel, en hulle is dit eens, sy moet huis toe gaan, sy moet gaan vat wat hare is, sy moet gaan lewe.
Hulle bly daar deur haar verjaarsdag, deur Kersdag en dan is sy reg, reg vir die lewe wat voorlê.
Sy pak in, laat alles soos dit vir haar moet wag, sy gee hom die sleutel, hy sal sorg totdat sy laat weet, sy sal definitief terugkom, sy sal haar nuwe pa en ma kom wys waar sy geleef het, sy sal Erhard, en daar slaan sy vas, ‘Here sal sy ooit saam met hom kan wees, sal hy haar vergewe, kan vergewe binne die waarheid oor haar pa en sy pa daardie nag’. Sy bid, en sy weet, sy sal nog huis toe gaan, al wag hy nie, want haar ma is daar, en sy hou nie op bid nie.
In die vliegtuig weet sy net hulle sal haar pa moet vergewe vir wat hy gedoen het, want hy is haar lewe se herinneringe, daarsonder kan sy nie haarself wees nie. Dit sing in haar hart, sy gaan na haar ma toe, en die ses en dertig uur vlug is soos ʼn leeftyd. Sy dink, sy onthou, sy beplan, alles deurmekaar en aanmekaar deur die ure.
Dit is vroegoggend van die dertigste Desember wanneer Marty haar voete op die Afrika bodem neersit, en sy sit dit neer met ʼn vreugde en ʼn opwinding wat dreig om haar te laat skree van plesier. Sy onthou haar vertrek maande gelede, en Erhard se beeld spring in haar gedagtes asof hy reg voor haar staan, sy voel haar vrees, maar sy skud dit af, sy is hier want sy het ʼn ma wat vir haar wag, en niks anders maak op hierdie oomblik saak nie.
Sy voel die vreugde van haar besluit vroeër om die Jensen net eers hier te laat, hy is blinkskoon en ruik soos sy onthou, die egte leer bring die onthou van haar pa, en sy weet hierdie motor sal hom vir altyd naby haar hou wanneer sy daarmee ry.
Die twyfel tref haar weer, kan sy net opstap en aan haar moeder se deur klop, kan sy net terugstap na al die maande, sal haar moeder daar wees vir haar. Sy skud dit af, en die woorde op daardie brief sê, sy kan net aanklop, haar moeder wag, sal altyd wag het sy gesê.
Die kilometers blits verby en Marty weet sy sal vandag ʼn spoedkaartjie kry indien daar ʼn lokval op hierdie pad is, maar sy gee nie om nie.
Wanneer sy die ‘Levels’ se gebied binne ry, is die vreugde in haar, is die gevoel van ‘ek is tuis,’ by haar, en wanneer sy voor haar moeder se huis stop, kom die laaste gedagte, ‘ek is by my moeder’, en sy maak die deur van die motor oop en toe met dieselfde beweging. Nou is daar geen oomblik te verloor nie, agter daardie deur, is haar mamma.
Sy klop en sy wag, en wanneer die deur oopgaan, is sy daar, Marelé in al haar moeder liefde, Marelé in haar rustige sagtheid, en dan vloei die trane wanneer hulle hande raak deur die veiligheidsdeur.
Marelé sukkel deur haar trane om die deur oop te kry, dan swaai hy oop, en trek sy haar dogter die huis in, en vas teen haar hart, en hulle huil van vreugde, van verlange, van hartseer, sommer net van alles.
Dan hoor sy die woorde waarvoor sy haar hele lewe gewag het, “Mamma, my mamma, ek het so verlang na jou.”
Wat in Marelé gebeur ken net ʼn moeder, sy smaak die geluk van elke moeder, om jou eie vlees en bloed wat meer as die lewe beteken teen jou hart te hou, en te weet, dit is vir ewig en altyd, niks kan dit weer wegvat behalwe God nie.
Dit vat ʼn baie lang tyd om beheer oor hulle gevoelens te kry, die wete is daar, ‘hierdie is eerste dag van die lewe van ʼn moeder met haar dogter, en hiervoor het hulle een en dertig jaar gewag.
Wanneer hulle uiteindelik in die kombuis met elk ʼn koppie koffie sit, weet albei dit is soos dit moet wees. Kry hulle kans om net na mekaar te kyk, en die heerlikheid daarvan in te neem.
“Ek gaan nie nou oor my verlede praat nie, maar eendag sal ek en mamma sit en oor alles praat, alles van ons lewens saam beleef.”
Sy kyk Marelé in die oë, sy weet daar is iets wat sy wil hê Marelé moet weet, vandag moet weet, al maak dit hoe seer om daaraan herinner te word, “Mamma,” sê sy sag, en druk Marelé se hand styf vas, “Ek weet wat my pa jou aangedoen het, ek weet hoe ek verwek is, en ek is jammer daaroor,” wanneer Marelé haar mond oopmaak om te praat, sit sy sag haar vinger op Marelé se lippe. “Nee hoor my uit, ek is so dankbaar dit het gebeur, want nou is jy my mamma, en niemand anders nie, en dit is soos ek dit wil hê.”
Marelé huil openlik, en in haar is die dankbaarheid, ‘dankie Here vir hierdie wonderlike kind’.
“Ook ek is bly daaroor vandag, ek was reeds bly daaroor voordat jy gebore is, jy was, en is alles wat ek begeer het.”
“Ek wil ook hê mamma moet weet, ongeag my pa se foute, ek het ʼn wonderlike vader gehad, en elke oomblik saam met hom was vir my kosbaar,” Met dit gesê, kom die spook in albei tot rus, albei weet, die seer wat in die verlede lê, is die verlede se seer, hulle het die geleentheid om ʼn wonderlike toekoms saam te leef, en dit is al wat tel.
Later kom Erhard ter sprake, moet hy ter sprake kom, albei vroue weet hoe belangrik hy vir hulle albei is, en Marelé weet hoe belangrik hierdie pragtige mens vir Erhard is, maar sy weet, Erhard moet self regmaak wat hy weet verkeerd is, anders sal daar nooit vrede tussen haar twee geliefdes wees nie.
Marty voel die vrees om Erhard vandag hier in haar moeder se huis te sien, sy weet, sy sal nie die teleurstelling kan verwerk indien hy haar nie aanvaar nie, en om haar self tyd te gee om haarself voor te berei vir daardie eerste sien van hom wat sy bo alles lief het, bedink sy ʼn plan. Hulle sal nie vandag vir enige iemand sê sy is hier nie, sy sal in ʼn hotel oornag, en Marelé sal môre saam met haar kind, soos maande gelede, ʼn rok gaan koop vir die Nuwejaarbal by die ‘Levels’.
Marelé wil eers niks hiervan weet nie, sy wil haar kind in haar huis hê, elke dag van haar lewe, maar sy besef, Marty sien nie kans vir Erhard op hierdie wonderlike dag nie. Vandag kan sy net liefde vat, nie haat nie, en daarom laat sy dit haar welgeval.
Marelé ry met haar eie motortjie agter Marty aan na die hotel, en bly daar tot na donker.
Terwyl Marty uitgeput van die vlug en die dag se gebeure gaan lê en aan die slaap raak, kan Marelé wat haar ʼn laaste soentjie gee skaars die opgewondenheid onderdruk, sy weet, sy het beloof, en sy sal stilbly.
Baxter sit rustig met ʼn drankie op die voorstoep en wag vir Marelé, hy weet nie of sy ʼn afspraak gehad het nie, en dit pla hom nie dat sy effens laat is nie, hy weet, terugkom sal sy altyd na hom, en hy na haar.
Hy sien die vreugde op sy vrou se gesig, en dit is vir hom vreemd, sy wat so depressief was die afgelope jaar sedert Marty weg is. In hom kom die hoop, en wanneer hy die lag in haar oë, en die huppel in haar stap sien, sê hy sag, “Dankie Here vir wat dit ook al is.”
Sonder dat sy kan keer, borrel dit oor, “Sy is terug, my kind is hier,” en Baxter gryp haar vas en swaai haar in die rondte.
“Dankie Here, dankie Marty, dankie lewe, dankie Nuwejaar,” Sing hy deur sy trane.
Hulle val-stap die huis binne, en hy druk haar teen sy hart, skielik voel hy of sy huishouding vir die eerste keer in dertig jaar reg is, volledig sal wees, hulle kind is terug. Hy weet, of Rastor Battle Marty verwek het, of nie, hy het elke dag vandat Marelé swanger geword het hierdie kind se lewe saam met haar geleef, en dit maak hom geregtig op hierdie kind, en hy is tevrede.
“Waar is sy?”
“Tuis in die hotel.”
“Nee, kom ons gaan haal haar dadelik.”
Marelé glimlag, sy het geweet dit is hoe hy sal reageer, “Nee, dit is môre se verrassing vir die ‘Levels’, vanaand moet sy rus want sy was ses en dertig uur op die vliegtuig, en het nog geen oog toegemaak nie. Buitendien wil ons dit ʼn regte verrassing hou, vir almal en veral vir Erhard.”
Baxter skud die teleurstelling van hom af, hy weet wanneer hierdie vrou besluit het, dit so sal wees, en hy dink Marty is baie soos haar ma, so hy sal dit moet laat gaan vir nou.
Marelé sê beslis, “Môre gaan ek heeldag uit wees, ons gaan van ontbyt tot middernag saam wees, ons gaan vir haar ʼn tabberd koop, haar en my hare laat doen, saam kuier tot aantrek tyd, en dan sal ek huis toe kom om saam met jou na die saal te gaan. Marty sal so ʼn uur na die opening kom.”
Baxter besef sy twee vroue was baie besig vandag, en sê laggend, “Maggies maar alles is deeglik beplan tussen julle twee,” en Marelé glimlag net geheimsinnig.
Baxter vra tog, “En Erhard, hoe sal hy reageer wanneer sy instap sonder dat hy weet.”
Sy sê dit met oortuiging, “Hopelik soos ons begeer, oorstelp van geluk en blydskap, soos dit moet wees. Dit is waar hulle geëindig het, en dit is waar hulle die drade weer moet optel, op daardie dansvloer.”
“Liefling, dit is die wonderlikste tyd in ons lewe, ek het niks aan hierdie jaareinde en Nuwejaarsdans gehad nie, maar nou gaan dit een van die hoogtepunte in my halfeeu wees, dit kan ek jou verseker,” en Marelé se beker loop oor van geluk.

Erhard Kruger kyk traag na die horlosie aan sy arm, dit is ʼn halfuur voor middernag en sy gemoed voel ook soos middernag. Here kan ʼn mens so pynlik verlang na iemand wat jy net een keer in jou arms gehou het? Kan ʼn liggaam so smeek na die aanraking van ʼn ander wat vir so ʼn kort stonde teen hom geraak het?
Hy sug diep en sonder vreugde, hoe leeg en saai strek sy lewe voor hom uit. Hy sien so op teen die Oujaarsdag en Oujaarsaand dans môre, en onwillekeurig gaan sy gedagtes na die laaste dans hier op die ‘Levels’, “Here ek het droog gemaak, hoe kan ek ooit daar oor kom?” Vra hy terwyl hy deur die venster na die sterrehemel kyk.
Hy weet hy moet huis toe gaan, hy moet gaan rus, hy moet môre se funksie bywoon, maar hy het nie werklik die krag nie.
Hy dink aan sy huis oorkant die meer, oorkant ‘haar Battlefields’, en sy gemoed skiet vol, sal hy haar ooit weer sien, sal hy die Jensen ooit weer voor die kasteel geparkeer sien?
Hy staan op en loop die nag in, daar na die skreeuende wiele waar Marty gestaan het die dag toe hy Rastor Battle ʼn moordenaar genoem het. Hy sien haar in sy gedagtes soos sy daardie dag gelyk het, en dit skreeu in hom, ‘Wat ʼn indruk het die ‘klein Battle’ op hom en almal gemaak’.
Hy beleef weer die skok toe hy haar die eerste keer in die saal gesien het, die gejaagdheid van sy hart toe hy in haar kantoor haar aan haar skouers geskud het, en die onmenslike krag toe sy, sy hande van haar lyf af weg geskeur het. Hy moet sy oë toeknyp om van die sensasie in sy liggaam ontslae te raak, en al wat oorbly wanneer hy sy oë oopmaak, is die smagting van sy manlikheid na haar wese.
Die huis toe gaan, die gaan lê en gaan slaap, en die rondrol tot vroegmôre, is deel van Erhard en Marty se nag, maar nie meer van Baxter en Marelé se nag nie, ‘hulle kinders is albei tuis’.
Die oggendson vind Erhard en Marty vroeg buite in die oggend lig en net Hy is getuie van die wroeging en bekommernis in albei.

Die dag breek heerlik en wonderlik vir Marelé en Baxter. Marelé sing vir die eerste keer in ʼn jaar terwyl sy ontbyt vir Baxter neem. Gister was die begin van haar en haar kind se lewe saam, en sy kan nie wag om te ry na Marty toe nie.
Sy wag totdat die horlosie agt uur wys, nou kan sy nie meer nie, netnou is die dag verby en dan het sy tyd by haar kind verloor, en sy ry met ʼn vreugde in haar die kilometers na die hotel.
Marty hou al van seweuur die ingang van die hotel dop, sy voel die opgewondenheid in haar oplaai wanneer sy Marelé se motor die hek sien inkom, en drafstap sy na die ingang.
Hulle hou mekaar vas, die kus van moeder en dogter is ʼn wonderlike nuwe dimensie in hulle lewens, en met hande ineen gestrengel stap hulle uit na die tuin waar hulle ontbyt saam gaan geniet.
Die kos, die gesels, die indrink van mekaar se teenwoordigheid, is loutere vreugde, en hulle weet hulle is volkome gelukkig.
Die aanpas en uitsoek van ʼn tabberd is hemels vir albei, Marelé met haar besonderse smaak vir kleur en kledingstuk, lei Marty om die fynste en fraaiste ougoud tabberd te kies wat haar soos ʼn feë prinses laat lyk en laat voel.
Die sessie by die haarsalon gaan rustig verby, almal is dit eens, Marty met haar perfekte vel en gelaatskleur het weinig nodig om haar prentjie perfek te laat lyk.
Deur al hierdie dinge bly die bekommernis in Marty onuitgespreek, wat as Erhard nie kom nie, erger wat as hy haar nie wil hê nie, hoe sal sy dit oorleef?
Marelé sien dit in haar oë, en sonder om haar seun te bind, of te verloën, sê sy sag, “Alles sal regkom my skat, moet asseblief nie so bekommerd en treurig lyk nie.”
“Maar Erhard.”
“Niks ʼn ‘maar’ Erhard nie, los dit vir vanaand, vanaand sal self vir sy probleme sorg.”
Kort voor drie-uur laai Marelé vir Marty by die hotel af, en dwing haar om ʼn paar uur te gaan rus. Marty verval in ʼn rustige slaap, en is verbaas wanneer sy om vyfuur wakker skrik, en Marelé steeds voor haar bed kry, glimlaggend met liefde.
“So ja, nou kan jy gaan bad en aantrek, terwyl ek ook nou ry en gaan regmaak.”
Marty hou haar ma vas, en met ʼn laaste, “Onthou agt uur stap jy in die saal in,” trek Marelé die deur sag agter haar toe.

Die saal is tot oorlopens toe vol, en oral klink die gelag op, die ‘Levels’ ontspan vir die eerste keer in ʼn lang tyd, en daar is niemand wat nie aan Marty dink nie, hoe wonderlik dit sou wees as sy nog hier was.
Almal se harte gaan uit na die twee ou mense aan die hoof tafel, ou Rastor en tante Julia is albei ʼn baie oue sewentig vanaf die dag toe hulle gehoor het Marty was hier, en is weer weg sonder dat hulle haar gesien het.
Vir almal is dit opvallend dat Baxter en veral Marelé vanaand so volkome gelukkig lyk, almal weet dit is net om die oumense op te beur, en hulle harte gaan uit na hulle, maar veral na Erhard. Hulle het hom vergewe vir daardie aand, hy is een van hulle, ook hy het seergekry, en hulle is bitter jammer vir hom.
Erhard kyk op sy horlosie, vyf voor agt, hy weet die feeskomitee se dames wil hê hy moet om agtuur die aankondiginge doen oor die pryswenners van die pryse wat aan sekere paartjies gaan. Hy voel die koevert in sy baadjiesak, weet dit is tyd, en hy staan stadig op, en met die onthou van haar agter daardie podium stap hy stadig die verhoog op.
Hy is ʼn gemaklike spreker, en sy mense geniet hom, hy deel die pryse uit, skud die hande, sluit af, en die doodsheid bly in hom.
Sy oë gaan oor die koppe van die glimlaggende gaste en hy verstar, sy gesig word spierwit, en hy sluit sy oë, ‘Here wat sal van hom word wanneer hy so sonder ophou Marty in elke mens sien?’
Die mense in sy groep sien die bleekheid in sy gesig en hulle kyk na waar sy blik rus. Die snak van asems is oorverdowend, en Marty kry lus en hardloop uit hierdie saal met sy herinneringe, maar voordat sy kan beweeg is Marelé by haar, en sy neem haar in haar arms en omhels haar, en almal weet, ‘Marelé het geweet Marty is hier, dit is die bron van haar en Baxter se vreugde’.
ʼn Oorverdowende applous bars los, almal beweeg gelyk na Marty en Marelé toe. Dit is ʼn gelag en ʼn gegroet, terwyl Marelé Marty beslis deur die mense stuur, ‘Nou is dit eers tyd om Marty aan grootouers voor te stel’.
Wanneer sy voor hulle staan, is die skok te groot vir al drie mense. Marty weet onmiddellik dit is haar pa se mense, haar ouma en oupa, en sy voel haar ore suis, voel of sy haar bewussyn gaan verloor, maar Marelé hou haar stewig vas, nou is daar geen keer nie, hierdeur moet almal gaan, so gou as moontlik.
In ou Rastor Battle is die wete, ‘hierdie is sy kleinkind, hierdie is die laaste van die Battles’, en hy is meer as tevrede. Hy weet nou met sekerheid, hy sal Rastor nooit weer sien nie, dit sê haar teenwoordigheid, en die pyn in hom is versmorend. Hy vat sy vrou se hand en die twee statige ou mense staan op, en al drie stap gelyk om die tafel na mekaar toe.
Die omhelsing en trane snoer hulle saam, almal het huis toe gekom, almal het hierdie rus nodig wat hierdie ontmoeting bring. Die wete is in hulle, daar sal nie vanaand gesels word nie, dit sal hulle rustig môre en die dae vorentoe doen. Vanaand is gemaak vir geniet en ontspan, en dit sal hulle doen.
Erhard staan steeds vasgenael in sy spore, en wanneer hy sy pa se arm om sy skouers voel kom hy tot sy sinne. Dit bruis deur hom, ‘Dit is sy, sy is hier, dankie Here, dankie hiervoor’.
Hy weet hy kan haar nie nou hier tussen al die starende oë groet nie, hy moet eers tot homself kom, en hy draai om en stap die saal uit om in die donker nag sy vreugde te gaan uithuil.
Marty sien hom deur die deur verdwyn, en dit voel of sy wil sterf, ‘Ag Heer gee asseblief dat hy my en my pa sal vergewe en my lief sal hê, want sonder hom is ek verlore’. Marelé druk haar hand gerusstellend terwyl sy haar op ʼn stoel langs ou Rastor neer help, “Toemaar hy sal nou terug wees, ek weet.”
Marty probeer haar aandag by die gesprek hou, maar sy kan nie, sy vra verskoning en stap met al die oë op haar deur die deur waar Erhard deur verdwyn het.
Hy staan by die reling op die stoep, daar waar hy haar daardie aand gelos het, en hy ruk van die skrik wanneer hy haar stem hoor, “Erhard,” en wanneer hy een oomblik huiwer voor hy omdraai, kom dit hartseer, “Haat jy my so dat jy my nie eers kan groet nie, kan ons nie maar die strydbyle begrawe nie, asseblief.”
Hy draai om, en die trane loop oor sy wange. Hy stap vorentoe, maak sy arms oop, en sonder enige verweer stap sy in sy arms in, tot teen sy warm bors.
Daar is geen woorde vir die gevoel van vreugde wat in hulle is nie, albei weet, die gevoel was van die eerste dag af daar, en sal vir ewig bly.
Hy voel haar hand op sy hare, en dit laat sy liggaam die wonderlikste vreemdste sensasie kry wat hy ooit beleef het, en sy neem haar hand vinnig weg, “Jammer,” en hy skud sy kop, neem haar hand en soen dit sag.
Hy kyk haar in die oë, “Ek is so ongelooflik jammer oor wat ek gesê het, oor die pyn wat ek jou aangedoen het, kan jy my ooit vergewe,” en hy kry sy vergifnis wanneer sy haar pragtige kop knik, en die trane spontaan uit haar oë val.
Hy vat haar gesig tussen sy hande, lig haar gesig sodat hy in haar oë kan kyk, “Ek weet hierdie oomblik is nie die regte tyd om te praat nie, maar sal jy asseblief nie weggaan nie, sal jy vanaand hier by my bly, my geleentheid gee na die feesvieringe om te probeer regmaak wat ek opgemors het.”
Sy knik haar kop, en hy sit sy lippe op haar hare, “Weet net, van die dag wat ek jou so seergemaak het, was al my lewensvreugde weg, was die dood in my,” en sy kry hom bitter jammer.
Hy gee haar ʼn oomblik, “Weet net jy is so ontsettend dierbaar vir my, was reeds voor daardie aand, ek was so bang vir die gevoel, so ʼn idioot, ek het my verdiende loon gekry, maar ek weet, ek moes jou ongelooflike pyn besorg het, en daarvoor sal ek my hele lewe boet.”
Hy sien die trane, probeer dit weg vee met sy hand, dan druk hy haar weer teen hom vas, “Sal jy saam met my ingaan, met my dans asseblief, en indien jy kan, sal jy die hele aand by my bly,” en sy knik haar kop, te bang om te praat, en sonder ʼn woord stap hulle oor die stoep wanneer die musiek begin speel, en wanneer hulle die saal binnestap, neem hy haar in sy arms, en dans hulle deur die paartjies tot in die middel van die dansvloer.
Hy hou haar teen hom vas, voel elke beweging van haar liggaam teen syne, en hy weet, sy regmaak van die onreg wat hy haar aangedoen het moet vannag wees, want hy kan haar nooit weer laat gaan nie. Hoe hy sal regstel wat hy verkeerd gedoen het, weet hy nog nie, maar hy sal op sy knieë gaan, sy sal hom net moet vergewe, anders is daar vir hom geen lewe vorentoe nie.
Hulle gaan saam na die twee oumense se tafel, trek hulle ouers in die vreugdevolle groep in, en baai in al die liefde wat vir dertig jaar gewag het vir hierdie dag.
Albei weet hulle het so baie te bespreek, maar albei weet dit moet eers wag, hierdie is die aand waarna hul so gesmag het, die aand wat moet eindig soos daardie aand maande gelede moes geëindig het.

Hoe die aand verby gegaan het, weet hulle nie, maar hulle is uiteindelik deur al die groet wense alleen voor die groot saal, “Sal jy asseblief saam met my ry, saam met my huis toe kom sodat ons kan gesels,” en sy is reg daarmee.
Die intiemheid van die kajuit omvou hulle, sy sien sy sterk gesig in die flou lig van die paneel liggies, en vir haar is hy die mooiste mens wat sy ooit gesien het, en sy weet, sy het hom meer lief as enige ander mens ooit.
Met die opstap na sy huis se voordeur, voel sy die vreugde, ‘Uiteindelik sy huis,’ en dit is hy, van die matte op die vloer tot die skilderye aan die mure, en hy hou sy arms oop, en sy stap daarin, “Dankie dat jy hier is, die Here alleen weet, hoe diep my verwyt is.”
Sy omvou sy gesig een oomblik met haar sagte hande, sy sien hoe diepbedroef hy is, sy weet daar is vir hulle geen toekoms saam indien hulle nie die verlede wat tussen hulle staan kan oorbrug nie.
Sy kyk na die emosie op sy gesig, voel dit in sy liggaam teen haar, maar sy weet, hierdie is nie die tyd waar daar intiemheid kan wees nie, nie vir haar nie.
Sy vat sag aan sy gesig, en hy neem haar hande in sy hande, “Eerstens wil ek iets regstel,” en sy sien die trane, “Toe ek gesê het ‘Daar is nie genoeg water in die wêreld om in die see te loop, voordat ek aan ʼn Battle se hand sal vat nie,’ was ek so verkeerd, want al wat ek elke dag sedert daardie dag voor gewens het, was om jou hand in my hand te voel. Sal jy my ooit kan vergewe vir daardie wrede woorde.”
Marty bring sy hande tot teen haar lippe, en sê sag, “Dankie, hiervoor, want ek wil elke dag my hand in jou hand voel,” en Erhard bars in trane uit.
Sy hou sy kop teen haar totdat hy bedaar, en sê sy sag teen sy hare, “Miskien moet ons koffie maak, en net sit, net deur alles praat, ek het ook ongelooflik baie om vir jou te vertel. Ek weet indien ons nie alles uitpraat en skoon maak nie, daar nie vir ons ʼn toekoms saam vorentoe kan wees nie.”
Hy hou haar hand vas en hulle stap deur na die kombuis toe, en hy trek vir haar ʼn stoel uit, soen haar op die voorkop, en maak sy oë een oomblik toe, ‘Dankie Here, dat sy hier aan my tafel by my sit.’
Hy voel hoe die rustigheid in hom kom, ‘sy is hier, en hy gaan haar nooit weer laat gaan nie.’ Hy stap om die tafel, sit die ketel aan, en haal die bekers uit, en maak vir hulle koffie.
Hy kyk na haar, sy sien daardie trek op sy gesig wat vir haar so pragtig en perfek is, en hy sê die woorde wat vreugde in haar bring, “Swart met geen suiker,” en die hoop is in haar, ‘Indien hy dit weet, moes hy wel in haar belang gestel het’.
Hy sien die opflikkering, “Ek weet hoe jy jou koffie drink, hoe jy jou eiers vir ontbyt wil hê, hoe jou volkoring geroosterde broodjie moet lyk,” en hy staan voor haar en hy huil, “Ek weet alles van jou, van hier, maar in werklikheid weet ek niks van jou af nie,” en sy kry hom bitter jammer.
Hy gaan sit oorkant haar aan die tafel, en hy kyk na haar met daardie ongelooflike bedroefde oë, en sy voel om op te spring en hom teen haar hart te druk, maar sy weet, hulle albei sal vanaand deur die verlede moet werk indien daar enige kans hier in die hede op ʼn toekoms saam sal wees.
“Kan ek asseblief eers begin by die verlede vandat jy gekom het, voor ons teruggaan na die miserabele verlede voor dit,” en sy knik haar kop, sy is reg daarmee.
“Daardie eerste dag toe ek in die saal ingestap het, en jou daar by die podium met die liggroen bloese, en lemmetjie groen truitjie gesien het, het my hart gaan staan, jy was so ontsettend pragtig, so vroulik, so alles wat ek in my droom vrou gesoek het,” Hy kyk na haar, en die trane loop oor sy wange, en sy laat dit gaan.
“Die klank van jou stem was so pragtig, so bekend, en ek het die vreeslikste weemoed ondervind, ek het verneuk gevoel, hoe kan jy alles wees wat ek kan liefkry, en jy was ʼn ‘Battle’.” Sy sien die hartseer, weet hy moet alleen hier deur werk vandag, en wag geduldig vir hom om voort te gaan.
“Die feit dat ek jou vasgegryp het, en jou geskud het daar in die kantoor, is die tweede grootste hartseer wat ek tot in my graf sal neem,” Hy hou haar oë gevange, en sy sien die glimlag, “Die krag waarmee jy my hande weggeruk het, die woorde wat jy kalm en sag vir my gesê het, het my oordonder, ek het besef jy is van beter stoffasie as ek gemaak.”
Hy glimlag, en sy oë lag saam, “My teenkanting teen jou het nie eers die eerste week gehou nie,” en Marty kan dit nie glo nie.
“Jy was so ongelooflik slim, toegewyd, pragtig, en jy was die barometer van my geluk, elke dag, tot hierdie dag, en sal dit vir ewig wees,” en hy hou haar hand vas, dwing haar om na hom te kyk, te bevestig dat sy weet, hy bedoel wat hy sê.
“Ek wil hê jy moet weet, my grootste verwyt is wat ek daardie aand met die dans gedoen het, ek het jou met alles in my begeer, ek het my liggaam gehaat vir die verraad,” Hy laat die trane uitloop op sy hande, “Ek het voor myself met die waarheid gestaan, Marty Battle, ek het jou so lief gehad, en ek het dit daardie oomblik besef. Ek het gevlug voor die monster in my, ek het nooit een dag gedink dat ek tot sulke ongelooflike diepte iemand lief kan hê nie, en ek was bang vir die mag wat jy oor my gehad het,” en dan is dit gesê, en sy weet, dit is genoeg vir haar.
“Ek het op jou ‘Battlefields’ se trappe gewag daardie nag, ek wou jou vergifnis vra, my liefde bely, maar jy was weg, en alles in my het dood gegaan.”
Sy staan op, loop om die tafel en druk sy kop teen haar vas, “Dankie hiervoor, dankie vir jou eerlikheid.”
Hy kyk op na haar deur die traan benatte wimpers, “In die maande wat verby is, het ek twee waarhede oor myself leer ken. Ek weet nou, ek het ook my eie moeder se depressie in my, en ook dieselfde ‘begeer’, wat jou pa na ons moeder gehad het, en ek verstaan sy wanhoop.”
Hy sak van die stoel af, gaan op sy knieë, en smeek haar, “Marty Battle, sal jy my asseblief vergewe, sal jy probeer om my lief te kry,” en sy soen hom op sy hare, en sê sag, “Ja, ʼn duisend maal ja, want ek het jou lief, en wil nie sonder jou leef nie.”
Hy staan op, gaan sit en trek haar om op sy skoot te sit, en met haar teen sy hart begin sy praat, “Jy het van my wese besit geneem, ek het iets gevoel wat ek nie geken het nie, en ook nie verstaan het nie. Jou teenwoordigheid het my gemoed opgelig, en wanneer jy weg was, my in die diepste eensaamheid ingedwing.”
Sy soen hom sag op die wang, en sê met dieselfde eerlikheid, “Ek het daardie aand gevlug omdat ek geweet het ek kan jou nooit weer in die oë kyk sonder dat jy my liefde sou sien nie. Ek het terug na my Ysland gevlug, omdat ek myself nie naby jou vertrou het nie.”
Sy vertel hom van haar begeerte om te sterf daar in die berge, die vreugde van die pakket se inhoud, en haar gebede dat hy haar sal kan liefkry, en hy huil teen haar hare sy hartseer uit.
Hy sien die moegheid op die pragtige gesig, “Kom ons gaan lê,” en sy kyk met kommer na hom, “Ek is jammer hieroor, moet asseblief nie kwaad wees nie, maar ek is nie reg om intiem met jou te wees nie,” en verskonend, “Ek was nog nooit intiem met niemand nie.”
Hy staan op, tel haar in sy arms soos wat jy ʼn kind sal dra, en sê terwyl hy in haar oë kyk, “Dit is reg met my liefste mens, ons sal nie daardie pad loop voor ons albei nie reg is daarvoor nie, maar ons gaan wel nog lê, en ek wil jou by my hê, jy kan my vertrou,” en sy weet sy kan.

Hy gee haar ʼn stel van sy nagklere, en wanneer sy uit die badkamer kom en hy sien hoe die nagklere aan haar klein postuurtjie hang, besef hy weer hoe klein en perfek sy is. Hy tel haar op en sit haar versigtig in die bed in. Hy sit die lig af, trek haar na hom toe totdat haar wang in die holte van sy arm teen sy sterk bruingebrande bors lê, soen haar sag op die lippe en gaan slaap.

Die son sit hoog wanneer sy uiteindelik haar pragtige ‘Rastor Battle’ oë oopmaak, en die eerste iets wat sy sien, is sy gesig teen hare, en sy trek sy kop na haar toe, en soen hom sag op sy lippe. Sy sien die passie in sy oë, sy weet dit is ook in haar, en wanner hy haar terug soen besef sy hy is die enigste man naas haar pa en oom Richard wat sy ooit gesoen het. Is daar een oomblik se vrees in haar in die wete dat sy nog nooit die naaktheid van ʼn ander se liggaam gesien, of ervaar het nie, en sy is dankbaar daardie eerste ondervinding iewers in die toekoms met Erhard sal wees.
Hy hou haar teen hom vas, ruik haar hare en haar reukwater, en hy weet hy is so ontsettend bevoorreg om hierdie pragtige mens se eerste te wees, en hy weet, hy sal dit nie opmors nie, nooit nie.
Hy sê sag, “Ons sal moet opstaan, ons twee se moeder en vader, en jou oupa en ouma wag vir ons,” en Marty weet dit is iets wat sy vandag bo alles wil deurmaak, sy wil haar ma sien, haar aan haar hart druk, en so ook haar nuwe pa, oupa en ouma.
Sy weet sy wil almal wat sy liefhet na haar huis in die berge neem, gou, baie gou, sodat hulle kan verstaan van haar, haar pa en oom Richard se lewe, dan wil sy terugkom en vir ewig in Erhard Kruger se lewe wees.
Sy weet skielik sy wil met hom trou, en saam met hom klein swartkop Kruger babatjies hê, sodat almal wat haar opgroei misgeloop het, genoeg klein Krugers met Battle bloed sal hê om groot te maak, en sy sê hom dit, en Erhard Kruger skater van die lag, en sy beker loop oor van vreugde.

Wanneer Erhard Marelé bel, sê hy haar Marty is by hom, en hy sê sonder om te weet waarom, “Maar, daar het niks tussen ons gebeur waaroor ons twee skaam hoef te wees nie,” en daar is ʼn geweldige respek in Marelé vir haar twee kinders.
“Wat is die dag se reëlings moeder”, en Marty hoor die moeder, en sy is ongelooflik bly dit is ook haar moeder. “Almal eet om en by twaalf-uur by ou Rastor en tante Julia, maar julle twee moet asseblief vroeër probeer gaan, ou Rastor het al twee keer laat bel om te hoor waar Marty is.”
Marty voel die blydskap, sy kan nie wag om haar mense vir ʼn hele dag vir haarself te hê nie.
Erhard gaan stort en Marty bly lê en drink die heerlike koppie koffie wat hy vir haar gemaak het.
Wanneer hy inkom met die handdoek om sy pragtige bruin lyf, sien Erhard die bewondering in haar oë, en sonder dat hy beheer oor homself het, begin sy manlik hier onder die handdoek lewe, hy knip sy oë in diepe verwondering, hy besef die smagting van sy liggaam na haar is net te groot, maar hy weet, net die gevoel, niks meer vir nou nie.
Hy trek groot oë vir haar, “Jy laat my effens beheer oor my liggaam verloor,” sê hy sag maar ernstig, en sy voel die ekstase in haar.
Hulle ry na die hotel met vingers inmekaar gestrengel en Marty se hand vryf liefkosend oor Erhard se been, hy voel die tinteling in sy liggaam, en hy weet elke aanraking van Marty Battle, van die begin af, en tot die einde van sy lewe, sal hierdie gevoel in hom bring.
Marty bad, klee haarself in die badkamer in ʼn ligte langbroek pakkie. Sy weet indien sy dit waag om met net ʼn handdoek om haar uit hierdie badskamer te stap, sy nie seker is of sy haar voorneme van geen intiemheid sal kan nakom nie.
Die rit na die Battle plaas net buite die dorp is vir Marty ʼn belewenis, alles pragtig en groen, en sy weet hierdie dag het soos ʼn mooi droom vir haar gewag.
Wanneer die motor die werf inry, kom haar ma, Baxter en haar oupa en ouma uit die huis uit. Sy spring uit die motor en stap direk in haar ma se omhelsing in, almal weet Marelé sal altyd eerste by Marty kom, en hulle voel vreugde vir haar.
Sy ruik haar moeder se sagte parfuum, voel haar tere aanraking, en in haar hart sing dit, ’Dankie Here, dankie’.
Sy omhels haar ouma en oupa, en sy moet haastig help om haar ouma se trane met ʼn sakdoekie af te vee, skielik is alles weereens soos gisteraand, te veel vir die oumense.
Hulle gaan sit op die ruim veranda, Marty weet, nou is die tyd, nou moet hulle die belangrikste deel van al die geheime opklaar, sy moet dit wat sy weet hulle vermoed oor haar pa se dood bevestig.
Sy kyk haar oupa in die oë, weet sy sal nie die koppel van haar pa se dood aan die boodskap ‘dat sy vader oorlede is’, aan hierdie ou mens erken nie, daarvoor het hulle reeds genoeg gely. Sy praat soos iemand wat alles wil sê in een asem, “My pa is twee jaar gelede oorlede, hy was saam met my by ons jagtershut in die berge, hy het gesterf in die wit sneeu waar hy dertig jaar lank geleef het, en dit was die grootste ramp in my lewe.”
Rastor kyk na haar, herroep die periode waarin hy die brief laat stuur het, hy weet sy kind se dood is daaraan gekoppel, en hy weet hy sal daardie verwyt ewig self dra.
“Die tweede grootste hartseer is die feit dat oom Richard ʼn maand gelede oorlede is nadat hy ʼn beroerte gehad het die dag wat ek terug huis toe gegaan het van hier af,” en nou huil Marty openlik.
“My pa was baie lief vir my, en het my met soveel liefde en deernis grootgemaak, een iets wat ek vra, julle moet hom vergewe vir alles wat verkeerd was, anders sal ek nie by julle kan bly nie. Hy was my hele lewe, en nou is julle dit, so indien ek my twee wêrelde bymekaar moet bring, moet julle hom en oom Richard vergewe, en beloof om nooit weer teen hulle te praat nie. Ek weet wat hy gedoen het, was verkeerd, maar dit is verby, ek sal regmaak vir hom wat reg te maak is.”
Marty wag in spanning, sy weet, indien sy nie hulle vergifnis kry nie, sy nie eers die moeite sal doen om hulle van haar, haar pa en oom Richard se lewe te vertel nie, want dit sal ʼn mors van haar herinneringe wees.
“Ons het lankal vergewe my kind, ons wil net voortgaan en alles uit die lewe kry saam met jou wat daar vir ons oor is,” Sê ou Rastor Battle, terwyl hy oor haar arm streel.
Marty sien dieselfde antwoord in al die ander se oë, “Dankie oupa, nou kan ek julle vertel van my, my pa, en oom Richard.”
Sy draai na haar moeder, “Ek wil ook hê moeder moet weet, oom Richard het jou moontlik so lief gehad soos oom Baxter jou nou het, en al daardie liefde het hy elke dag op my uitgestort, hy was ʼn tweede vader vir my.”
Marelé voel die trane in haar opwel, voel Baxter se hand op hare, “Dankie my kind, dankie vir hierdie bekentenis, ek het altyd geglo hy is ʼn baie goeie mens, en gebid indien hy by julle was, hy na jou sal kyk vir my – en hy het, en ek sal hom elke dag verder in my gebede bedank.”
Dit gaan die hele dag aan, sy vertel hulle van die houtkasteel, van die jagters hut, van haar pa se besighede, sy suksesse, sy rykdom, sy laagtepunte, sy hartseer, haar lewe, oom Richard se aandeel aan alles, en laaste Buck Warden en die waarhede wat hy haar meegedeel het, en hulle weet, niemand sou Rastor Battle ooit kon opspoor nie, hy het nie bestaan nadat hy Suid Afrika verlaat het nie.
Nog is dit nie genoeg vir haar oupa en ouma nie, sy weet, hulle sal almal na die huis in die sneeu moet gaan, dit sal die finale antwoorde bring, die finale berusting bring, en sy sê dit, en hulle aanvaar dit dankbaar.
Die opgewondenheid is groot by almal, meer by ou Rastor en tante Julia om hul seun se laaste rusplek te sien, maar by die ander drie gaan dit uit en uit om Marty se huis in die sneeu te sien. Vir Marelé om Marty se kindwees herinneringe daar te vind, dit in haar diepste onthou te bêre vir haar onthou vorentoe, en hulle besluit om binne die volgende vier weke te vertrek.
Laat aand sit almal rustig op die veranda en voel Marty ʼn drukkie op haar arm, wanneer sy opkyk is Baxter daar, “Dankie Marty, ek weet net ek moet vandag vir jou dankie sê vir al die geluk, Marelé se geluk en ons geluk.”
Sy neem sy groot hand in hare en druk dit teen haar lippe, “Dankie pappa, dankie vir jou liefde en jou geduld, dankie dat jy my ma so liefhet, altyd so liefgehad het. Dankie dat jy my jou eie kind gemaak het terwyl ʼn ander my gemaak het onder sulke hartseer omstandighede,” en ʼn pa en dogter smee ʼn band vir altyd.
“Wat ek elke oomblik in my getroetel het oor jou, was dat jy al die wonderlikhede van jou moeder en jou vader in jou gehad het, en ek het geweet jy sal meer as hulle albei wees, oor die liefde wat in jou sal wees, en ek was reg.”
Daar word laat aand gegroet, met die belofte van ʼn kuiertjie die volgende dag. Erhard neem Marty se hand wanneer hulle uiteindelik alleen in die motor sit.
“Nou gaan ons jou klere by die hotel haal, en ons gaan huis toe, na my huis toe indien jy nie beswaar het nie. Ek weet jy wil terug na jou ‘Battlefields’ toe gaan, maar dit sal moet wag vir môre, vanaand slaap jy nog by my.”
Hy soen haar hand liggies, “Weet net ek sal jou niks aandoen wat nie reg is nie, ek weet jou begeerte is geen seksuele intiemheid tussen ons. Ek weet dit wat ons moeder oorgekom het weerhou ons daarvan, en dit is reg met my, maar jy moet weet, jy laat my liggaam leef, en wanneer jy die opwelling voel, help my net om daaroor te kom, maar ek sal nie sonder jou naby my kan wees nie.”
Sy druk sy hand teen haar hart, “Dit het niks met jou te doen nie my liefling, dit is ek, ek het nog nooit so iets ondervind nie, en dit is asof ek nie kan ophou om die ekstase te wil ondervind nie.”
Marty voel haar wange rooi word in die donker van die kajuit, maar sy weet vir hom sal sy nooit kan jok nie, hy moet weet hy is die eerste, die enigste en die wonderlikste ondervinding van haar lewe.
Wanneer hulle in die kombuis gaan sit, neem Erhard haar hand in sy groot hande, sak op sy knieë voor haar, en vra met trane in sy oë, “Trou met my, asseblief my liefling, trou met my en word my vrou.”
Marty weet, sy het huis toe gekom, werklik huis toe gekom, “Ja ek sal, ek wil, ek wou nog elke oomblik vandat ek jou ontmoet het.”

Die nag bring ʼn nuwe dimensie in haar lewe, lê sy teen die sterk bors, voel sy die ekstase wat sy nabyheid bring, voel hoe haar liggaam polsend reageer op sy aanraking, en sonder om die daad te volbring is die passie in hulle, en Marty weet – dit was nooit in daardie Marty wat maande gelede net wou kom ‘regmaak’ wat verkeerd was nie, daardie Marty het nooit een dag besef tot watter diepte passie kan gaan nie.

Die nuus van die ewige trou tussen hulle kinders, bring die finale versekering by almal, ‘hulle kinders is albei tuis’, en die weke wat volg is vir almal ʼn droom van regmaak vir die troue, van die werklikheid beleef om net bymekaar te wees, om die ekstase om naby mekaar te wees te ondervind.

Hulle troue op die Levels, met die hele myn as getuies van hulle trou aan mekaar, is die mooiste dag in hulle lewens. Sy, ʼn prentjie-boek bruid, in die sagste sy van ivoor, genestel teen sy lang sterk liggaam, en die ‘Levels’ is tevrede, aan hulle is teruggegee wat van hulle gesteel was, en hulle vergewe Rastor Battle sy jeugdige onbesonnenheid, en hulle kom tot rus.

Marty kom vir die soveelste keer uit die sluimering, ruik hom in die kussing, hoor hom sag in die stort neurie, voel weer die sagte streling van sy hande oor haar liggaam, die saamtrek van haar vrouwees met die sagte suiging van haar tepel, die volmaaktheid van sy manlikheid se polsing, en sy maak haar oë toe, weet hierdie nag het vir hulle gewag, dertig jaar lank vir haar gewag, en sy is ongelooflik gelukkig.

Die opgewondenheid is voelbaar in die vliegtuig wanneer hy afdaal na die lughawe aan die voet van die toegesneeude berge, uiteindelik is hulle hier. Groot opgewondenheid heers ook in die lughawe gebou, Rastor Battle se ouers kom kyk na die laaste rusplek van die ‘groot beer’, en hulle is bly, dit verdien die hy wat so goed vir almal was die afgelope dertig jaar. Hulle weet, Marty sal nooit haar hand vir hulle toemaak of hulle vergeet nie, hierdie is haar huis, en sy sal altyd terugkom.
Die sneeu lê ekstra dik en wit teen die hange wanneer hulle voor die hout paleis teen die wit hange van die berg stilhou, hulle hoor die trots in haar stem, “Die vesting wat my pa vir ons gebou het teen die koue, en ook julle vesting as julle wil.”
Die oumens trane dra die hartseer, maar die trots vir dit wat hul seun vermag het skuif die jare se hartseer en leed op die agtergrond.
Die vertrekke is warm wanneer hulle instap, Buck Warden wag in die voorvertrek soos hy Marty beloof het, sy is dankbaar vir sy teenwoordigheid, en vir dit wat hy ou Rastor en tante Julia sal kan vertel van hulle kind.
Die atmosfeer omvou hulle, en ou Rastor Battle weet, hier was liefde, baie liefde, en hy sien sy kind in die meubels, in die matte, in die mure so dig en mooi, en sy hart huil oor die noodlot wat hulle so ʼn streep getrek het, en hy verlang na sy kind.
Dit word ʼn aand van gesels, van herleef en ‘van die eerste keer beleef’, vir almal, ook vir Marty. Buck is ʼn wonderlike verteller, en Marty besef sy respek vir almal, die versigtigheid om niemand te na te kom nie, en sy respekteer hom daarvoor.
Die nag kom en Rastor en tante Julia kniel langs hul seun se bed, dank die Here vir sy genade, en wanneer hulle gaan lê met hul hande ineengestrengel kom die rus vir die eerste keer in dertig jaar. Hulle het ook huis toe gekom, na die huis van hulle kind.

Hulle gaan op na die twee grafte in die sneeu, en Marty staan in stilte langs haar oupa, sy weet hulle twee, sy en haar oupa, het hierdie stil wees in die sneeu nodig, meer nodig as enige iets anders.
Sy gee hom tyd om tot homself te kom. Vandag het hy al die trane gestort wat hy moes stort, vandag is al die woede en teleurstelling uit hom uit, vandag het hy werklik sy seun vergewe, en bid hy dat God goed sal wees vir hom.
Sy vat hom aan die hand, “Ons gaan elke jaar gereeld kom om hulle te kom groet. Indien een van ons twee iets oorkom, moet die ander kom, en ek gaan baie Krugertjies met Battle bloed in die wêreld bring, en wanneer ons albei weg is, sal hulle moet kom groet, dit beloof ek oupa.”
Sy voel die druk van sy hand, en sy weet alles is reg, hulle twee Battles weet wat hier is van hulle, en hulle sal altyd onthou.
Hulle draai weg van die grafte, en in die laatmiddag lig stap hulle in die rigting van die hout kasteel, en in die verte sien sy Erhard aankom, en sy weet hy sal altyd vir haar wag, hy sal haar mis, soos sy hom mis, en sy weet dit is hoe dit vir ewig sal wees.
Al die spoke is weg, al die vrae is beantwoord, en sy stap in Erhard se arms in, en hy tel haar op en hou haar teen sy hart.
“Jy is my hart, en my lewe, moet my nooit verlaat nie,” Sê hy ernstig, en sy voel die sekerheid in haar, “Ek sal nooit nie, nie vir jou nie, nie vir al die ander nie, en nie vir my pa en hierdie plek nie.”




Maak 'n opvolg-bydrae

Up
Top Ranked Users

[joinup_core_top_members columns=”1″ space=”no” max_members=”3″ behavior=”columns” columns_responsive=”predefined”]

Activity Feed