Die nuwe intrekker
Karin kyk ongemaklik rond. Haar hande is in mekaar geklem. Sy skuif effens rond op haar stoel terwyl Matrone die nuwe intrekker bekendstel.
“Dames en here, ontmoet vir mevrou Annelie Basson, ons nuwe intrekker. Sy is ’n vrou van vele talente en wil graag aktief betrokke wees hier in ons aftree-oord. Betrek haar gerus en laat haar tuisvoel …”
Komien tik liggies aan Elsabé se arm. Met haar oë sein sy iets en beduie onopsigtelik na Karin. Sy, Karin, sit kiertsregop in haar stoel. Dit lyk asof sy ’n besemstok ingesluk het. Haar gesig lyk soos ’n onweerswolk. Hier kom beslis moeilikheid.
Elsabé lig haar wenkbroue en glimlag effens. Ja, hier kom voorwaar moeilikheid. Soos altyd. Hoe voorspelbaar! Hulle ken al hulle mense. Nou kan sy net terugsit en ontspan en die konsert geniet. Want konsert gaan hier vandag beslis gehou word – dít kan ’n mens op ’n afstand sien.
Die volgende oomblik vlieg Karin op. “Verskoon my, asseblief,” kom dit afgemete deur stywe lippe. Sy hou haar handsak in die een hand vas en met ’n duidelike ontevredenheid mik sy na die deur. Haar liggaamstaal verklap baie.
Matrone, steeds besig om Annelie se goeie eienskappe en talente te besing, kyk gesteurd op. “Karin, is daar iets verkeerd?”
“Nee, Matrone, dis níks.”
“Gee net kans, dit sal nou-nou nie meer net niks wees nie”, fluister Komien.
“Sjuut, jy!” fluister Elsabé terug, dik van die lag.
So in die uitloop, sê Karin: “Ek ken jou, Mevrou Annelie Basson. Of moet ek eerder sê, Annelie de Kock? Ek weet wie en wat jy is. Die paar manne hier rond sal beslis nie omgee dat jy hier is nie.” Sy maak die deur harder toe as wat nodig is.
“Wat gaan tog nou weer aan?” vra Matrone ietwat moedeloos.
“Het ek iets verkeerds gedoen? Die manne? Wat bedoel sy?”, wonder Annelie.
“Dit klink my sy ken jou, Annelie. Ken jy háár dalk?”, vra Matrone.
“Ja, sy lyk ietwat bekend, maar ek is nie seker van waar ek haar ken nie.”
“Annelie. Mevrou Basson. Ek is jammer dat dit nou moes gebeur op jou eerste dag by ons in die oord. Ek wil so graag hê dat al ons inwoners hier gelukkig sal wees. Ek sal by Karin gaan hoor wat aangaan,” probeer Matrone die situasie red terwyl sy opstaan en vir Karin volg.
In die sitkamer heers daar vir ’n oomblik stilte, dan praat almal gelyk.
“Genade! Wat het vandag weer in ou Karin gevaar?”, frons Komien.
“Ag, ons ken haar mos maar so! Altyd ’n ‘Drama Queen’”, reageer Elsabé geïrriteerd.
“Behoorlik, ja! As sy een van ’n tweeling was, kon ons dink sy is ’n kween!”, antwoord Komien.
“Haai nee! Waar val jy nou uit met ’n kween?”, lag Elsabé geskok.
“En onse Karin het gewoonlik die kat aan die stert beet, dit weet ons mos almal,” sê Komien.
“Ja, maar ons is tog so lief vir haar, sy sorg altyd vir ’n bietjie pret,” paai Elsabé.
“En hoe! Sonder haar sou dit maar vervelig wees in hierdie oord. Soos die dag met die koeksisters,” onthou Komien.
“Wag, wat het nou weer daardie dag gebeur?”, vra Elsabé.
“Man, sy het mos vir Carli Koeksister behoorlik beetgehad oor hoe ’n mens kwansuis koeksisters vleg. Carli, van alle mense, wat in haar lewe derduisende koeksisters gebak het!”, vertel Komien.
“O ja! Ek onthou nou! En op die ou end het sy erken dat sy net een keer in haar lewe koeksisters help bak het toe sy by haar ouma gekuier het. Sy was tien jaar oud,” voeg Elsabé by.
“Ou Annelie, as ek jou kan raad gee, dink ek nie jy moet jou te veel aan Karin steur nie. Dalk voel sy effens jaloers omdat die aandag nie vandag op háár gefokus is nie,” paai Komien.
“Dalk,” sê Annelie, maar so tussen die lyne deur het sy darem lelike aantygings gemaak.”
Dan kom Matrone en ’n duidelik onwillige Karin by die deur ingestap.
“Annelie,” sê Matrone, “dit lyk my hier is iets wat Karin graag onder jou aandag wil bring. Dis iets waarmee sy al vir jare worstel.”
“Onthou jy Laerskool Postmansburg?”, vra Karin kortaf.
“Ja, ek was vir ’n kort rukkie daar in die skool. Is dít vanwaar ons mekaar ken?”, vra Annelie.
“Ja, moenie maak asof jy nie onthou nie”, antwoord Karin beskuldigend.
“Wat moet ek onthou? Wat het gebeur?”, vra Annelie, fronsend.
“Dan lieg jy ook nog! Asof jy nie kan onthou nie,” beskuldig Karin.
“Weet jy, Karin, ons was net vir ses maande by Postmansburg. My pa het by die bank gewerk en is baie keer verplaas. Ek kan onmoontlik nie almal en al die stories onthou nie. Ons is elke keer na ’n nuwe dorp en dan moes ek nuwe maats maak. Ek is jammer, maar ek weet regtig nie waarvan jy praat nie. As jy kan sê wat ek verkeerd gedoen het, sal ek dit graag wil regmaak,” antwoord Annelie, nou ook ietwat kortaf.
“Regmaak? Wil jy regmaak? Dis nóú heeltemal te laat!”, krys Karin.
Karin kyk na die ander en wys met haar hand na Annelie.
“Goed. Dan sal ek maar vir jou én die ander hier vertel wat jy so gemaklik vergeet het. Sy … sy het my kêrel afgevry in standerd vier!”
“Wat? Waarvan praat jy? Jou kêrel afgevry? Waar kom jy daaraan? Ek het geen kêrel van niemand afgevry nie. Veral nie in die laerskool nie! Ek het my eerste kêrel eers op universiteit gehad en het met hom getrou ook. Daar was nie tyd vir kêrels nie. Ek moes musiek oefen en telkens aanpas in ’n nuwe skool. Karin? Dra jy sowaar nog jou hele lewe hieraan en dit is nie eers waar nie?”
Vinnig en bloedrooi in die gesig maak Karen haar weer eens uit die voete.
“Oeps,” sê Koemien.
“Skaamkwaad … dit sal ’n rukkie neem om te verwerk,” bevestig Elsabé kopskuddend. “Annelie, ek dink jy kan dit maar afskud van jou skouers af.”
“Ja wat, intussen het ons ’n lekker sappige storie om aan te herkou,” antwoord Komien laggend.
“Onse Karin,” sê Elsabé goedig. “Dis mos maar hoe ons haar ken.”
“Liewe Annelie, welkom by Huis Sonbesie. Jy gaan sommer nog lekker bly hier,” sê Komien. “En weet jy wat? Ek voorspel dat jy en Karin ook nog goeie maats sal raak sodra sy hierdie wolhaarstorie verwerk het.”
“Ja, baie welkom, en soos Matrone tereg gesê het, is ons soos ’n familie. En net soos in enige familie kan ons soms lekker onder mekaar stry, maar dis gewoonlik gou oor. Ons lag saam, ons huil saam, ons skinder saam, maar ons is lief vir mekaar. En tog te gereeld is hier drama op drama wat ons lewe interessant maak,” sê Elsabé.
1 Kommentaar
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
Anze
Pragtig, baie dankie vir jou bydrae tot die Januarie 2022 – Drama projek