Tydsberekening
Tydsberekening
Daar is ‘n dik bank wolke in die weste. Dit lyk na reën in die laat namiddag. ‘n Drywer raak ongeduldig waar hy geparkeer staan met sy trok. Hy kyk op sy horlosie. Dis skuins voor tien. Hy moet sy vrag opgelaai kry, dit gaan aflaai op Hartbeespoort en teen sluitingstyd terug wees in Krugersdorp. Die man met die vurkhyser is lus vir speel. Asof hy almal wil beïndruk met sy bestuursvernuf. Uiteindelik neem die voorradeklerk die laaibrief by die drywer van die trok. Die vurkhyser bring die vrag uit. Versigtig word die vrag in die vragmotor gelaai. Gewillige hande pak alles netjies agter in. Dit wat kan plat lê, lê plat. Dit wat kan regop staan, staan regop. Alles word aan die binnekant vasgemaak sodat daar niks is wat kan rondskuif of beskadig nie. Ou matte word gebruik om as kussingmateriaal te dien. Die voorradeklerk kontrolleer alles met noukeurigheid. Net verlede week het iemand probeer om ‘n paar vensterrame deur die stelsel te laat glip vir ‘n privaattransaksie. Hy kon dit gelukkig raaksien. Sy werkgewer het met groot lof van hom gepraat. Hy het selfs ‘n bonus gekry aan die einde van daardie week saam met sy loon. Dit was baie welkom. Nou is hy dubbeld so versigtig. Werk is skaars. Uiteindelik stempel die voorradekklerk die laaibrief met ‘n “VERSEND/ DISPATCHED” stempel. Die drywer teken. ‘n Afskrif bly in die voorradeklerk se besit. Saam met die laaibrief is daar ‘n afleweringsnota wat hy aan die voorradeklerk by die hardewarewinkel in Hartbeespoort moet gee. Hy skakel die vragmotor aan. Dis net na twaalf. Ongeveer twee ure se ry van Krugersdorp af is Hartbeespoort. “As dit goed gaan,” sê hy vir homself, “as dit goed gaan is ek voor sluitingstyd terug in Krugersdorp,” en hy stoot die vragmotor in eerste rat. Stadig ry hy tot by die hek. Die sekuriteitswag kyk vlugtig na die dokumente en slaan ‘n “CHECKED” stempel op die laaibrief. Die verkeer is druk in Factoria, Krugersdorp. Die drywer draai in Barratstraat in. Hy draai af op die R24. Later draai hy in Coronationstraat in, gaan oor die R28 in Commissionerstraat en draai dan regs op die R563. Soms hou die verkeer hom vas. Ander kere kan hy weer bietjie spoed optel net om weer te rem vir ‘n voertuig wat skielik van die kant af voor hom inswaai. So gaan dit maar elke keer. Vinniger, stadiger, stop by die verkeersligte, stopstrate, ‘n groter voertuig op die pad wat sy spoed heeltemal breek. Geleidelik raak die huise al minder. Die verkeer begin afneem. Plotte lê links en regs van hom. Hy voel meer op sy gemak. Dis altyd senutergend as hy met ‘n swaar vrag in verkeer moet ry. Motoriste is baie onbedagsaam. Hulle dink niks daarvan om skielik voor jou in te swaai en rem aan te slaan nie. Met so ‘n vrag soos wat hy vandag agter in die vragmotor het is dit moeilik om vinnig uit te swaai, laat staan nog remme aan te slaan. Sy gedagtes dwaal terwyl hy Hekpoort se bordjie verby gaan. ‘n Ent voor hom lê die Magaliesberg van Oos na Wes. Hy dink aan sy vrou en kinders by die huis. Vannaand wil hy vroeg by die huis wees. Sy vrou verjaar, en hy wil haar uitneem vir ete; ‘n bietjie bederf. Die kinders sal by sy ma bly vir die aand. Hy wonder of sy al die blomme gekry het wat hy gister bestel het. Pienk en wit. Dis haar gunsteling kleure. Sagte kleure; soos sy. Hy werk baie ongereelde ure, en soms gaan daar dae verby dat hy sy vrou en kinders nie sien nie. Sy werk vat hom baie keer ver weg van die huis af. By die T-aansluiting draai hy regs op die R560. Die pad is ongelyk en die vragmotor skommel. Hy hoop al die goed agter in die vragmotor is stewig vas. Dis altyd ‘n rompslomp as daar skade aan die vrag gekom het. Hy swets binnensmonds vir ‘n taxi wat teen ‘n blinde hoogte by hom verby gaan. Hy moet vinnig spoed verminder toe die taxi voor hom inswaai om te voorkom dat hy kop aan kop bots met ‘n plaasbakkie vol werkers wat oor die rug van die blindehoogte kom . Hy sien die bordjie wat rigting beduie na Bill Harrop se ballon safari’s. Eendag, eendag, wil hy nog sy vrou bring en dan wil hulle oor die aarde sweef. Hy wil sien hoe lyk die wêreld van bo af. En hy wil vonkelwyn in ‘n mandjie pak saam met ander lekkernye. En dan gaan hulle iewers piekniek hou. Net sy en hy. Hy skuld haar. As hy so lank van die huis af weg is, moet sy maar alleen aangaan. Alleen gaan slaap. Alleen opstaan. Die kinders skool toe vat. Dis ook maar eensaam vir haar. Vir hom ook. Haar foto
is op sy selfoon se skerm. Sy en die kinders. Elke keer as hy op sy selfoon kyk, is daardie foto die eerste wat hy raaksien. Dan roer daar iets in hom. Hy wens hy kan ‘n meer bestendiger werk kry sodat hy ook meer by die huis kan wees. Maar soos dit met die ekonomie gaan, moet hy bly wees hy het ‘n werk. Daar is baie ander wat alles sou gee om sy werk te kon hê. By Van Gaalen se kaasfabriek draai hy skerp regs op die R512. Dis nou nie meer ver nie. Hartbeespoort lê nou net aan die oorkant van die Hartbeespoortdam. Hy moet by Pelindaba verby ry en oor Saartjiesnek om by die hardewarewinkel uit te kom. Die vragmotor is te groot en te lank vir die tonnel. Hy verminder spoed vir die S-draai by die treinspoor wat lank reeds nie meer gebruik word nie. ‘n Ent voor hom staan ‘n klomp Bloekombome dig bymekaar. In hulle skaduwee is ‘n klompie winkeltjies met ‘n plek wat potte en tuin ornamente verkoop, langsaan. Duskant die Bloekoms, regoor ‘n kwekery, draai ‘n pad links uit wat oor die dam gaan. Ook die R512. Hy ry ‘n skaflike spoed. By die T-aansluiting van die dam se kant af staan ‘n klompie voertuie in ‘n ry en wag.
Dis net voor twee. Die middag van Maandag, 6 November 2006.
Tien voor een van dieselfde dag sit ‘n jongerige vrou in ‘n grys Nissan Sentra. Haar ma het iets in die huis vergeet, en dit gou gaan haal. Die vrou kyk op haar horlosie. Sy hoop nie haar ma draai te lank nie. Hulle moet twee uur by ‘n vriendin in West Lake wees. Dis ‘n raps minder as ‘n uur se ry van die dorp af. Sy hoor die geklingel van haar ma se armbande voor sy haar sien. Dis altyd so. Haar ma kon haar nog nooit onverhoeds betrap nie. Die ouer vrou klim in die Nissan, skakel dit aan en sit die voertuig in trurat. Dis vier minute voor een. Versigtig ry sy agteruit tot in die straat. Die honde hardloop saam tot by die hek. Bedroë staan hulle en kyk hoe die jonger vrou uitklim om die hek toe te maak. Hulle kyk die voertuig agterna toe dit in Dikariastraat afry. Om die draai word dit Kortstraat. By die T-aansluiting draai die ouer vrou links in Troupandstraat. Vroeër die oggend het sy nog die orrel vir ‘n begrafnis gespeel. Sy was net betyds terug by die huis om haar dogter op te laai sodat hulle West Lake toe kan gaan. By die aansluiting met Schuttelaan moet sy wag vir ‘n TLB wat stadig aangekruie kom. Hy is net te naby om ‘n kans te waag om voor hom in te draai. Agter die TLB kom nog ‘n motorfiets met ‘n brullende enjin aan en toe draai sy links. By die T-aansluiting met Spoorwegstraat draai sy regs, ry onder die brug deur, by ‘n hardewarewinkel verby, oor die hoofstraat, skuur verby taxi’s by die taxistaanplek en ry reguit aan tot by die vierrigting stop by die Laerskool. Sy draai links. Tussendeur gesels hulle oor alles en nog wat. Sy vertel van die oggend se begrafnisdiens en die mooi boodskap waarna sy geluister het. Sy vertel van die orrel wat weer ‘n diens nodig het. Sy sê dat sy vir Joop Admiraal moet bel en hom sê van die fluit wat soms vashaak. Dis nogal lastig en steurend as dit op die onmoontlikste tyd op sy eie begin speel. Dit maak haar baie kriewelrig as die predikant streng oor sy bril na haar loer asof sy aspris ‘n noot gedruk het. Hulle gaan by die graan silo’s verby, verby die kwekery, Langplaas, oor die N4, tot by die T-aansluiting met die R104. Op die hoek is Cock & Bull Restaurant. Eens op ‘n tyd het sy en haar man daar gebly. Dit was rustig. Sy het die groot, uitgestrekte tuin met sy groot bome en baie voëls baie geniet. Sy was hartseer toe haar man die plek verkoop, en hulle dorp toe getrek het. Intussen gesels hulle land en sand aanmekaar oor alles en nog wat. Oor haar verjaardag oor drie dae. Sy sal dan 77 wees. Sy beplan net iets klein vir haar en haar kinders en kleinkinders. Vir haar kleinkinders was sy nooit Ouma nie. Hulle het haar Fielies genoem. Ouma’s is mense vol Deap Heat en pille. By Damdoryn se kruising draai hulle regs, gaan oor Kommandonek waar die Engelse fort op linkerkant duidelik sigbaar is. Hulle gaan by Kosmos se uitdraaipad verby en draai links op die R512. ‘n Lang brug neem hulle oor die dam. Hiasinte lê oral teen die oewers vasgewaai. Voor haar lê die Witwatersrandberge. Sy sien die stopteken by die T-aansluiting voor haar. Daar staan twee ander voertuie en wag vir die aankomende verkeer voordat hulle links en regs draai. Sy staan voor. Kyk links, dan regs, weer links en draai dan regs.
Dis net voor twee. Die middag van Maandag, 6 November 2006.
Sy het nooit die groot vragmotor gesien wat van regs af gekom het nie. Hy was oppad met ‘n vrag vir die hardewarewinkel op Hartbeespoort. Die sleep van rubber op teer, die geweldige slag, die klank van metaal wat skeur en frommel; dit alles beleef sy in die breukdeel van ‘n sekonde voordat die donker om haar toevou. Sy het die geweldige slag gevoel, maar nie die pyn toe haar ribbes breek en deur haar longe en hart steek nie. Sy was ook nie bewus van die nood helikopter wat minute later op die teerpad gaan sit het, maar onverrigter sake moes terugdraai toe die paramedics vir die vlieënier sê dat alles verby is nie. Sy kon ook nie voel toe hulle haar uiteindelik uit die wrak losgesny en op die warm teerpad onder ‘n blink kombers toegemaak het nie. Haar wit hare was met bloed bevlek. Haar dogter het verwese op die skouer van die pad gestaan. Sy het gebewe van skok. Van haar ma se bloed het oor haar gespat. Sy het dit eers later gesien. Iemand het haar broers gebel. Sy kon nie met hulle praat nie.
Agterna het ek dit moeilik gevind om daardie pad te ry. Elke keer as ek van Kommandonek se kant af oor die brug na die T-saansluiting toe aangekom het, het ek gedink: “Wie sou ooit weet dat aan die voet van daardie berg, by daardie T-aansluiting, die einde vir haar sou aanbreek?”
Die Here se beplanning is sekuur. Tot op ‘n miljoenste van ‘n sekonde. Die vragmotor met sy vrag moes vinniger en stadiger ry om op daardie spesifieke sekond op daardie punt te kon wees. En sy? As sy dalk nie die ding wat sy vir haar vriendin wou saamneem in die huis vergeet het nie, sou sy ‘n volle ses minute voor die vragmotor by daardie T-aansluiting wees. Ses minute is ver. Baie ver.
Iewers, eendag, sal daar ook ‘n berg voor my wees. ‘n T-aansluiting waar ek links of regs moet draai. Die vragmotor kan dalk siekte wees. ‘n Ander mens met ‘n moordwapen in sy hand. Iets.
Sal ék genade ontvang om te kan groet?
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.