Jongste aktiwiteit:

Skenker

Skenker
Al is dit Desember, is die wind snerpend koud. Dis moes iewers gehael het. Die reën swiep teen die ruite vas. Water hardloop in straaltjies oor die vensterbanke teen die mure af. Op die teer word dit poele, vorm stroompies, en loop in die afvoerpype weg. Die ambulans swaai met loeiende sirenes by die groot hekke van die hospitaal in. Dokters en ander verpleegpersoneel staan reeds in ongevalle en wag. ‘n Gru ongeluk op die snelweg ‘n paar kilometer daarvandaan het drie lewens geeis. Twee persone is uiters kritiek. ‘n Ander een het wonderbaarlik net met ‘n beenbreuk, ‘n paar snye en enkele kneusplekke ontkom. Terwyl die paramedici op die ongelukstoneel besig was om die beseerdes en dooies uit die wrakke te sny, is die hospitaal in kennis gestel van ‘n noodsituasie. Teaters word in gereedheid gebring. Opgeleide personeel skarrel heen en weer. Die ambulans rem skerp voor die deure van die ongevalle afdeling. Die deure vlieg oop en draagbare met liggame daarop word uitgelaai en ingestoot. Dokters en verpleegsters neem beheer van die situasie. Bevele klink skerp maar gedemp in die wit gange. Die paramedici ontspan. Hulle taak is afgehandel. Hulle is moeg. Dis sover ‘n besondere besige aand. Desember is nie speletjies nie.
Die eerste familie kom die hospitaal angstig binne. Almal se gesigte is strak. Hoe ernstig die aard van hulle geliefdes se beserings is, is nie seker nie. Hulle weet net dis baie ernstig. Dis jong lewens waarmee die dokters daarbinne werk. Kosbare, jong lewens. Bruisend van energie; van jong lewe. Vol drome van eendag. Woordeloos en stil bid elkeen. Party se oë is toe. Ander se oë is oop. Trane rol teen ‘n middeljarige man se wang af tot in sy kortgeknipte baard. “Here, spaar hom asseblief!! Hy is nog so jonk! Asseblief!” Minute voel soos ure.
Een van die dokters kom uit. Sy gesig is strak. “Wie van u is die meisie se naasbestaandes?” ‘n Middeljarige vrou se gesig is vol skok en afgryse. “Dokter!! My kind! Is sy…is sy??!!” “Ek is jammer mevrou. Ons het alles gedoen wat ons kon. Ons kon haar nie red nie.” “My kind…….my arme, dierbare kind!! Nee!! Dit kan nie wees nie! My kind, my kind, my kind!!” Rou snikke skeur deur haar lyf. Die vrou stort ineen. ‘n Verpleegster kom nader en spuit vinnig ‘n kalmeermiddel in die vrou se arm. ‘n Middeljarige man vou sy arms om die vrou terwyl trane oor sy skoongeskeerde wange loop. Hulle kind; hulle enigste is weg. Hulle sonstraalkind is vir altyd weg. Sy, die een wat die lewe voluit gelewe het, is vir altyd stil. Sy skouers ruk.. Die verpleegster kom met nog ‘n spuitnaald nader. Gedwee hou die man sy arm. Ander famile en vriende bondel om die paar.
Eenkant staan ‘n ander groep. Die man met die baard gaan na die man en vrou toe. Hy praat gedemp; skud hand met die man. Sit sy arm om die vrou en druk haar vas.
Wat sê ‘n mens?
Hoe sê ‘n mens ….. wat?

Nog ‘n dokter maak sy verskyning. Hy kom vinnig aan. “Die jongman se mense? Sy ouers?” Hy kyk rond. Die man los die ander man se hand en stap haastig na die dokter toe. Sy vrou kom van die teenoorgestelde kant af aan. “Dokter, hoe gaan dit met hom? Is hy …. is hy???” Die man is angstig. “Here, bewaar ons asseblief hiervan!!” bid hy terwyl hy wag dat die dokter moet antwoord. “Jou seun is stabiel, maar uiters, uiters kritiek. Ons hou hom onder sedasie. Hy word in die intensiewe afdeling opgeneem. Gee ons asseblief net geleentheid om hom gemaklik te maak en hom aan die masjiene te koppel. ‘n Respirator sal hom help met asemhaling. Hy sal deur die nag gemonitor word en ek het opdrag gegee dat ek inkennis gestel word van die geringste gebeurtenis. Ons doen alles wat ons kan. Dis nie meer in ons hande nie, meneer. Ek is jammer. Die suster sal julle kom roep sodra hy gemaklik is. Julle kan hom net vir ‘n baie kort rukkie sien.” “Dankie dokter! Baie dankie!!” sê die man skor. Hy hou sy vrou vas. Ander familie kom binne. “Hoe gaan dit???” “Hy is stabiel, maar uiters kritiek.” Die man herhaal wat die dokter gesê het. Nog ‘n man kom binne. Hy is nog jonk. Sy oë is angstig, die gesig strak. “Hoe gaan dit hier oom?” “Ai Dominee,” sê die ouer man en sy skouers ruk. Die jongman sit sy arms om die ouerpaar. Hy druk hulle vas. “Kom ons bid,” sê hy. Ander familie staan nader. Die jongman nooi die meisie se ouers en familie om saam te bid. Hulle gehoorsaam in stilte. Hulle vorm ‘n sirkel. Hou mekaar se hande vas. Die gange word stil. “Here, ons is verslae as ons hier voor U staan….” Dit word ‘n gebed van hoop. Hoop vir die ouers van die meisie om deur hierdie ondenkbare tyd te kom. Hoop vir die ouers van die jongman dat hy gespaar sal bly. Dit gaan ‘n bitter lang nag word.
In ‘n ander hospitaal vêr weg, sit ‘n ander vrou met haar hande in haar skoot. Twee opgeskote kinders, ‘n seun en ‘n meisie, sit weerskante van haar. Daar is niemand saam met hulle nie. Haar oudste kind, ‘n seun van sestien, is in die intensiewe afdeling. Hy wag op ‘n skenker. Sy hart kan nie meer nie. Hy is wasbleek soos hy teen die kussings lê. Hoeveel dae sit hulle nou al hier? Sy weet nie meer nie. Ander mense hou vakansie. Hulle kyk teen hospitaalmure vas. Eet kafeteria kos. Drink kafeteria koffie. Hulle gaan net huistoe om te gaan bad en skoon klere aan te trek. Hoeveel keer het sy nie al gebid nie. Gevra: “Here, red hom asseblief!! Moenie hom van my af wegvat nie!!” In nog hospitale oor die land heen sit nog mense en wag. Spanning is op almal se gesigte te sien. Hulle geliefdes wag op skenkers. Hulle benodig harte, niere, longe, lewers, retina’s. Almal bid: “Here, red asseblief!! Ons vra; ons smeek. Asseblief.”
Dis tien oor twee die volgende dag. Die jongman is breindood. Daar is geen breinfunksie meer nie. Die dokter het dit so pas vir die man met die baard en sy vrou gesê. Daar is niks wat hulle kan doen nie. Hulle het die stryd om ‘n lewe te red, verloor.
“Wil julle nie oorweeg om sy organe te skenk vir ander nie. Hy is jonk en sterk. Fiks. Sy longe is skoon. Hy het nie gerook nie. Daar is so baie daar buite wat wag op organe sodat hulle kan lewe. Asseblief, dink daaroor. Al sy organe is geskik vir oorplanting. Hy kan baie lewens red. Asseblief. Ons het nie baie tyd nie.”
Hoe hard kan die lewe nie soms wees nie.
“Here, spaar hom asseblief!”
“Here, red hom asseblief!!”

Dis stil in die wagkamer. Ure het verby gegaan. Stadig, afgemete; onverbiddelik, al in die rondte; al in die rondte. Die man met die baard sit geboë met sy kop in sy hande. Sy andersins netjiese hare is deurmekaar. Die nag was lank. So, ontsettend, lank. Hy het nie eers gesien toe die son opgekom het nie. Die helder strale van die son kon nie tot in die donkerte van sy siel deurdring nie. Hy bid. Hy vra wat moet hulle doen. Moet hulle toestemming gee dat die masjiene afgeskakel word? Is daar nie dalk iewers in die kompleksiteit van die brein nog ‘n sprankie lewe nie? Kan die God wat lewe skep dan nie ‘n lewe red nie? Die ouetehuise is vol mense wat uitsien daarna om te sterf. Nie net ouetehuise nie. Orals om hom hoor hy dat mense sê hulle is moeg van sukkel. Moeg van probleme met kinders. Moeg vir so baie goed. Hulle bid om nie die volgende dag wakker te word nie. Hoekom nie een van hulle nie? In die saal hier langsaan lê sy seun. Vol sprankelende jeug. Uitdagend energiek. ‘n Jong man met planne vir die toekoms. As hulle die masjiene afskakel, dan is dit vir altyd verby. Vrae … keuses. Altyd keuses. Tussen reg en verkeerd. Een verkeerde keuse vandag, en dis onherroepelik verby. Een verkeerde keuse en sy seun is dalk verstandelik gestrem vir die res van sy lewe. Of dalk sal hy nie wees nie. Wanneer hy bykom sal sy oë blink. Sal hy vra waar hy is. Hoe lank hy al so lê. Sal hy oor ‘n paar dae of weke ontslaan word en kan huistoe gaan. Here, watter kant toe??!! Hy besef dat daar vandag nie ‘n regte keuse is nie. Watter kant toe ookal; dit sal verkeerd wees.
Sy vrou staan voor die groot venster van die wagkamer. Sy staan met haar rug na haar man toe. Sy kan nie meer huil nie. Sy sien die helder water van die fontein wat omring is met roosbome. Water is lewe. So staan dit geskryf. “ ‘Ek is die water wat lewe gee. Wie daarvan drink sal in der ewigheid nie weer dors word nie.’ ‘Gee vir my van daardie water Meneer.’ ” Roosblare is ‘n teken van laaste afskeid; van erkenning dat ‘n lewe klaar geleef is. Rondom ‘n oop graf. Hoe ironies is die kombinasie nie? Water en rose. Hoekom dink sy nou aan ‘n graf? Sy ril. Haar kind lewe. Hy sal oor ‘n dag of wat sy oë oopmaak. Daardie diep, bruin oë wat so onnutsig kan blink. Deernisvolle oë. Oë wat skitter as hy lag. Wat soos weerligstrale kan skiet as hy kwaad is. Sy draai om en stap by haar man verby. Hy sit met sy kop in sy hande. Sy hare is deurmekaar. Sy weet hy bid. By die ingang na die intensiewe sorgeenheid spuit sy ontsmettingsmiddel op haar hande en arms. Sy vryf dit in en stap deur die groot deure. Die personeel laat haar begaan. Ander dae hou hulle streng by die voorgeskrewe besoektye. Vandag is hulle meer tegemoetkomend. Hulle voel haar pyn. Haar angs.
Sy staan langs sy bed. Hy lyk so weerloos op die wit lakens. Die respirator laat hom asemhaal. Die hartmonitor piep ‘n eentonige reëlmaat. Sy bloeddruk val en styg. Val, verder af, tel weer op. Sy wil hom optel soos toe hy klein was. Spoegies op die seer plekke smeer. Sy rooi borselkop streel. Hom troos. Sy steek haar hande onder die laken in. Voel aan sy voete. Hoekom is hulle so koud? Sy fluister by sy oor. Kyk of sy die geringste teken van lewe kan sien. Voel aan sy hand. Druk dit. Hoop sy kan ‘n klein, klein drukkie voel. Net iets wat wys dat hy nog lewe. Dat hy op ‘n manier bewus is van wat om hom aangaan. Die dokter het gesê hy kan baie lewens red. ‘n Paar se lewenskwaliteit verbeter. Twee mense kan dalk niere kry. Een kan sy hart kry. Nog een sy lewer. ‘n Ander een sal sy longe kry. Sterk, gesonde longe. Sy retina’s. Iemand kan dalk weer sien. “Boeta, Boeta, praat met mamma my kind. Wys vir my jy lewe nog. Druk my hand. Voel jy as ek jou hand druk? Knip net jou oog dat ek kan sien jy hoor my. Daardie diep, sielvolle oë van jou. Asseblief, maak hulle oop. Al is dit net ‘n klein, klein skrefie. Boeta, hoor jy my???”
Die suster by sy bed tik met ‘n sneesdoekie oor haar oë. Hoeveel kere het sy nie al hierdie toneel wat nou voor haar afspeel, beleef nie. Mense wat naarstigtiglik soek na die geringste teken van lewe. Dan het sy ook gesien hoe mense wat verby alle hoop was hier uitstap. ‘n Wonderwerk van Hom wat red. Sal Hy dit weer doen? Sal Hy dit vandág weer doen?
In die wagkamer sit ‘n jong vrou met haar rug in die hoek van ‘n groot rusbank ingedruk. Sy kyk na haar pa wat met sy kop in sy hande sit. Sy weet dat hy bid. Sy het hom al baie so gesien. Haar jonger broer lê in die saal hier langsaan. Die dokter praat van organe skenk. Iemand moet doodgaan om ander te red. Sy is dankbaar sy hoef nie daardie besluit te neem nie. Dis seker dié moeilikste besluit wat enige ouer óóit moet neem. Sy dink aan haar eie kleinding by die huis. ‘n Regte klein woelwater. Hoe sal sy dit ooit kan doen as sy eendag voor daardie keuse moet staan. In stilte bid sy dat sy dit gespaar mag bly. Sy bid vir haar broer. Vir haar ouers. Veral vir haar ouers. Dat hulle die regte keuse sal maak. Is daar vandag ‘n regte keuse?? Hoe weet ‘n mens??
Die vrou staan regop langs die jong man se bed. Vryf nog ‘n keer oor die rooi borselkop; druk sy hand. Dan draai sy om en stap by die saal uit. Haar besluit is geneem. Sy gaan staan langs haar man. Vat aan sy skouer. Hy kyk op. Sy sien die leegheid in sy oë. Dieselfde bruin oë as haar kind s’n. “Wat gaan ons doen, Henk? Wat gaan ons doen? Tyd hardloop uit. Tyd het nog nooit so stadig, maar ook so vinnig verby gegaan nie.” Die jong vrou staan styf op en stap na haar ouers toe. Sy druk hulle styf vas. Meer kan sy nie doen nie. “Doen wat julle moet doen Mamma.” “Wat as hy nog lewe? As hy net diep weg in ‘n koma is. So diep dat masjiene wat deur mense gemaak is dit nie kan opspoor nie? Helena, wat AS!!!???” sê die man wanhopig. “Hy is besig om te sterf, Henk. Sy voete is koud. Hy is besig om onder ons hande uit te gly. As hy sterf kan hulle niks met die organe maak nie. As ons toestemming gee dat hulle die organe verwyder, kan hulle ander mense red. Ons kind sal lewe al in dit in ander mense se liggame. Hy sal steeds lewe. Ons begrawe net ‘n dop. Dis al.”
Hulle stap na die saalsuster toe. “Suster,” begin die man, maar sy stem knak. “Suster, ons het besluit om die masjiene af te skakel. Laat weet asseblief die dokter sodat hy kan reëlings tref om die organe te verwyder. Ons wil hom nog net een keer sien voordat julle dit doen. Asseblief.”
Die suster trek die gordyne om die bed toe. Sy gun hulle hul laaste oomblikke saam met hulle kind, maar sy wil dit nie sien nie. Emosioneel is sy nie sterk genoeg nie.
Een vir een kom hulle agter die gordyne uit. Eers die jong vrou. Dan die man met die baard. Daar is lyne op sy gesig wat gister nie daar was nie. Laaste kom die ouer vrou uit. Sy draai om en kyk weer na haar seun op die bed. Dan trek sy die gordyn finaal toe en stap vinnig, met haar kop onderstebo, by die saalsuster verby.
In ‘n ander hospitaal sit die vrou met haar twee kinders weerskante van haar. ‘n Man in ‘n wit jas kom na haar toe. Sy tred is haastig. Asof hy goeie nuus kan bring. Hoopvol kyk sy na hom. Hoop vlam in haar op. Is dit ….? Kan dit wees….? “Mevrou, ek het goeie nuus. Ons het ‘n skenker gekry. Ons is reeds besig om die teater in gereedheid te kry. Jy kan vir jou seun self die goeie nuus gaan gee voordat ons hom moet voorberei vir die operasie. Ons sal alles doen wat ons kan. Julle moet net bid dat dit goed sal afloop.” “Dankie dokter!! Baie, baie dankie!!” Die vrou huil, maar nie soos gister en eergister nie. In haar is ‘n vreugde; blydskap; hoop. Haar kind het ‘n kans om daar op te staan en saam met haar huistoe te gaan. Hoe mooi is die wêreld nie skielik nie!?
In ander hospitale oor die land heen speel dieselfde toneel hom af. Organe word per motor, per vliegtuig vervoer. Tyd is die bepalende faktor.
In baie wagkamers word daar gebid.
Gewag.
Gebid.
Gewag.

Operasies word suksesvol uitgevoer. Daar is hoop! Daar is lewe!!!

Elders, op ‘n plek nie ver daarvandaan nie, maak mense reg vir ‘n begrafnis.

Eendag, lank, lank gelede, het Iemand ook gesterf sodat ander die kans op lewe kan hê.




Maak 'n opvolg-bydrae

Up
Top Ranked Users

[joinup_core_top_members columns=”1″ space=”no” max_members=”3″ behavior=”columns” columns_responsive=”predefined”]

Activity Feed