Jongste aktiwiteit:

Uitkoms op Toekoms

Dit is reentyd in Namibia, of veronderstel om te wees. Maar dit was ‘n droë Februarie, dor en warm en dit lyk of daar ‘n droë jaar op Namibië wag.
Dit herinner my onwillekeurig aan droogte op ons plaas, Toekoms, in die dorre suide. Geduldig moes ons maar altyd wag vir die reen wat gewoonlik eers in Februarie sou kom. Met groot verwagting word uitgesien na die lafenis wat die reen moes bring na die versengende hitte in Desember en Januarie.
Warrelwinde jaag stofduiweltjies op uit die sonverskroeide aarde, swart en hard gebak. Mika glimmer soos diamante op die kaal vlaktes waar gras moes staan, ‘n verwronge skoonheid wat die oë en siel van ‘n verpletterde boer verblind.
Droë veld vir die vee word skaarser en boorgate droog op. Die gras is net nog verskroeide stoppels, tot in die wortels afgevreet deur verhongerde diere. Skape begin vrek in die veld en die wat darem nog kondisie het, word as maer slagvee mark toe gevat. Daar sal voer gekoop moet word vir die klein stoet wat uitgehou word, hopelik sal die landbank help. Skape en springbokke hardloop soos kraalvee agter die jeep aan as droë mielies in die veld uitgestrooi word.
Die westewind jaag die windpomp aan, maar die waterstraaltjie word dunner en die gesug van die pype in die dieptes al hoe holler soos die boorgat met elke trek leër raak. Al wat die westewind bring is verstikkende stof wat na droë kraalmis en doodsvrot ruik. En waai die paar wolkies wat moedig opsteek soos verflenterde rafels uitmekaar tot hulle heeltemaal verdwyn.
My pa tel sy hoed op na middagkoffie en sug “so is dit” terwyl hy kraal toe stap. My ma kyk wes met ‘n ontredderde kyk in haar oë, “die stomme diere” sê sy en vee ‘n lastige traan weg. Die bietjie reën wat af en toe druppelsgewys val, is net genoeg om te keer dat die boorgate heeltemaal opdroog. Die grassies wat darem uit die grond opbeur skiet vroeg saad sodat daar iets is om te ontkiem as dit dalk volgende jaar weer reën.
En so gaan dit soms jaar na jaar, sewe jaar of meer met net bietjies reën om darem die jaar uit te sien. Boere moet ander planne maak, innoverend wees om op ander wyses geld te maak, of heeltemaal uitboer om as bywoner op ‘n ander man se grond te gaan bly. Want boer is al wat hy is en grond het hy nie meer nie, gevat deur die landbank om te veel skuld te dek.
Ons was van die gelukkiges want my pa was ‘n man met ‘n plan. Hy het hom nooit laat onderkry nie, altyd nog ‘n plan gemaak om te sorg vir sy gesin en plaas. Sy motto was daar bestaan nie ‘n woord soos “kannie” nie, ‘n ingesteldheid wat hy van jongs af by my gekweek het. En so het hy bly oorleef tot die reen weer kom.
Soos daardie Januarie in 1976. Die eerste wolke wat opsteek is wit en vol belofte. So mooi soos my ma se oë wat altyd maar onrustig wes kyk of die westewind nie weer als kom wegwaai nie. My pa klop op die barometer wat net hy kon verstaan. “Daar’s ‘n storm aan die kom” sê hy. En ‘n bang-bly gevoel kom sit op die krop van my maag. Gaan die storm groot reën wees wat met ‘n wilde woeste krag dalk ons huis se dak gaan afwaai, die groot ou bloekombome se takke afskeur en op ons dak gaan gooi, water wat dalk alles gaan wegspoel? My pa skiet met die .303 ‘n paar bloekomtakke wat te na aan die huis hang af, want skiet kón hy skiet.
Laatmiddag roep hy ons om te kom kyk. Die wolke is dik saamgepak en donkerpers, swanger met baie water en met ‘n sierlike spierwit pluim soos die stoom van ‘n stoomtrein. Hier is ons storm sê hy. En ons hoor ‘n gedreun soos die van perde op galop soos die reën deur die wind aangejaag word. Tot op die laaste moontlike oomblik bly ons in verwondering staar na ‘n skouspel soos ons in jare nie beleef het nie voor ons laggend soos opgewonde kinders by die kombuisdeur inhardloop, reeds deurdrenk van die reen. En ons drie sit om die kombuistafel en drink koffie saam met my ma se boerbeskuit terwyl ons na die kakofonie van donderweer, bliksemstraal en stormreen luister.
Later die aand is daar nog geen teken dat die reen gaan opklaar nie. Al wat ‘n hol ding is staan reeds op die vloer om water deur die lekkende dak op te vang, en dit moet gereeld leeggemaak word. Ons het daardie nag nie veel slaap gehad nie. Blydskap oor die reen sit gou om in kommer oor die veiligheid van die plaasvolk, vee in die veld, die damwal wat gaan breek en ‘n honderd ander goed wat verkeerd kan loop in so ‘n storm.
Ek kon my altyd verkyk as die weerlig silwer lig oor die donker vlaktes gooi, maar daardie nag het ek die kussing oor my kop gedruk en gebid dat dit asseblief tog maar moet ophou.
Die volgende oggend beskou ons met verbasing die watermassa wat ons om ons sien. Daar is nie ‘n voetsool grootte droëgrond nie, net water so ver soos die oog kan kyk. Die rivier, minder as ‘n kilometer van die huis af, is ‘n bruisende bruin watermassa, groot soetdoring- en kameeldoringbome is uitgeruk en spoel soos dryfhout in die rivier af. Die dam se klipwal is plek-plek weggespoel en rondom die huis is net water en nogmaals water. Kommer bestaan oor die plaasvolk wat heelwat nader aan die rivier bly, maar genadiglik daag hulle kort voor sonop by die huis op nadat hulle met die hoëgrond langs geloop het. Hulle huise en besittings op die effense hoogtetjie gelukkig meesal ongeskonde.
‘n Wolkbreuk sê my pa en ons meet oor die vier duim, in vandag se terme is dit oor die 100mm. Om die waarheid te sê ek dink nie die meter kon meer as dit op een slag neem nie. Maar dit was ook nie werklik belangrik nie want ons kon sien die reen was baie.
Dis eers heelwat later die dag voordat ons oudergewoonte kon veld toe ry om te gaan kyk waar dit orals gereen het en of daar ander skade is. Daar is geen lekkerder gevoel op aarde as om in die veld te ry na die reen nie. Waterplasse staan oral, die fonteindam loop oor, en die rivier is ‘n gesig om te sien. My pa het jare daarna nog hout gesaag en verkoop van al die ontwortelde bome wat daarna in die rivier gelê en verdroog het.
En dan die veld wat binne weke in ‘n wonderwêreld van groen en geel verander, die gras wat al hoe hoër word tot dit skitterblink in die pluim staan, roomwit en pienk. Ek onthou hoe ek as jong kind met ‘n ooraktiewe verbeelding saam met my pa in die veld gery het tussen die wuifende blink gras – ek die prinses met die onderdane wat grasieus vir my buig as ek verbykom.
Na so ‘n reenbui loop die fontein weer sterk met die soetste water wat vir maande lank aan ons drinkwater voorsien nadat die gorras in die rivier lankal opgedroog het. Want die boorgatwater was maar brak en ons het op alle moontlike bronne van soet water benut.
My pa maak die fonteindam vol met vis wat hy in die Visrivier gaan vang want hy was lief vir sy vissie. Ons gaan swem in die heerlike koel water wat ‘n verbetering is op die sementdam met groen slik op die bodem waar watergoggas rondswem. Vandag weet ek nie wat is erger nie – die watergoggas of ‘n klomp glibberige vis wat saam met jou rondswem. En ons maak piekniek in die droë lopie tussen die koppe oppad Garib toe terwyl die bobbejane vir ons uit die koppe uit boggom.
Dan onthou ek weer hoe ons met die jeep teen die bergpaadjie op is wat my pa self uitgekap het, steil teen die koppe uit tot bo en anderkant af. Daar waar ons rabas gepluk het, ‘n veldkruid wat herinner aan marjolein en wat ons in melk gekook het soos ‘n lekker melkerige tee. Daar waar ek die mooiste rooi veldblomme gepluk het van ‘n plantjie wat seker nog nooit naam gekry het nie omdat hy op so ‘n onbegaanbare plek groei.
Die kokerbome blom welig en goudgeel in die koppe terwyl die dassies smul aan die lekkerny. Fonteintjies borrel orals uit in die poort tussen die kysterklip koppies waarlangs die pad dorp toe loop. My pa sê Suidwes is ‘n land van fonteine – as ons net meer sou reen kry.
Dan bars die driedoring en brosdoring uit in ‘n kleurspel van wit en pienk en brons tot die hele veld lyk soos ‘n blommetuin. En wanneer my pa in die riviere die lyndrade gaan herstel na die verspoelings soek ons in die sagte riviersand na die rooiste rooi fluweel reengoggatjie wat dán so algemeen is.
En as dit laat in die jaar goed gereen het, so teen Meimaand se kant, kan jy maar weet ‘n groot lekkerte wag – !Nabas, ook bekend as die Kalahari truffel, wat net “opkom” as dit in Meimaand reen. Net so na die reentjie gaan ons hele gesin gewapen met ‘n skerp ding veld toe en daar waar die grond so oplig onder ‘n graspol sal jy hy hom uitgrawe. En dan het my ma dit vir ons in skywe gesny en met uie in botter gebraai met ‘n heerlike roomsous daarby.
So is die siklusse van droogte en reen deel van ons lewens, daarom dat ek die reen so mis hier waar ek nou teen die kus bly. Ek sal nooit kla as dit hier reen nie, die morsige paaie ten spyt want die dankbaarheid vir reen is te diep gesetel. En ek besef weer eens hoe gelukkig is diegene van ons wat in die veld kon grootword met die bloudruk van die natuur se eweninge in ons wese opgesluit. Nooit sou ek dit vir iets anders wou verruil nie.




Maak 'n opvolg-bydrae

op
Top Ranked Users

[joinup_core_top_members columns=”1″ space=”no” max_members=”3″ behavior=”columns” columns_responsive=”predefined”]

Activity Feed