Vaarwel
Vaarwel
dit is stil om my
waar herinnering my lei
ek hoor ’n speld val
met jou terugkeer
om meer van my angs te kom haal
as gyselaar woon ek tussen jou woorde
waarmee jy daagliks psigiese moorde pleeg
stukkies van my hart kom vat
jou vertoning sal ek
ontbloot
sonder vermomming
die wêreld wys hoe boosheid lyk
stilletjies sluip jy nader
staar vasberade met leë oë
om met jou kilheid ’n kleed oor my te gooi
sodat koue nydigheid my omhels
ek proe die drup van nektar
uit jou opgewende woorde
jou stem wat intimidasie vibreer
om vanuit die binnekamers van my hart
’n woedegeveg te eggo, luidrugtig hard
vlugtend soos ’n terroris
ontsnap jy van jou eie verwoestende plan
ek maak al jou gemene woorde stom
mishandelaar…
my trane was nooit jou gewetenloosheid gespaar
ek was maar net ’n stukkie in jou legkaart
maar, sodra hierdie dag sy koppie knik
sal ek my laaste traan wanhopig pik
jou houvas in welvaart verbreek
’n blink vooruitsig lê nou voor
ek draai finaal my rug
op al jou kwetsende woorde
soet val die spore van splinternuwe hoop
as verlossing van ’n bose kringloop
(c) Emsa Haasbroek
1 Kommentaar
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
Anze
Pragtig, dankie vir jou bydrae vir September 2023 – OOP projek