
Waar Liefde Begin – Hoofstuk 7
Hoofstuk 7 — Sondes uit die Verlede
Matthew voer die heelnag deur ʼn stryd en vroeg oggend neem hy ʼn besluit, hy sal met die seuns na haar toe gaan en hy sal by haar staan want sy hart breek vir haar en iewers moet hy begin regmaak. Hy begeer Nathan Kilber se vergifnis meer as wat hy enige iets anders op die oomblik begeer.
Hulle ry tien uur die volgende oggend en kwart oor drie stap hy en die seuns die hospitaal binne. Hy vra na Nathan en die staf vra hom om in die wagkamer te wag. Skielik is die gevoel daar — Nathan is dood en Laurie is weg. Terwyl die seuns langs hom op die rusbank lê laat hy sy kop sak en hy bid woordeloos — Here wees my genadig asseblief.
Matthew voel die hand op sy skouer en wanneer hy opkyk in die oë van die gryskop dokter, hou hy een minuut op om asem te haal.
“Dokter Froneman.” Kom dit kalm en hy vat die uitgestrekte hand vas. “Die staf sê jy vra na Nathan Kilber.”
“Ja — ja ek is Matthew St. Nicolas… Townsend — Laurie se…” Skielik weet hy nie wat hy van Laurie is nie, kan hy geen woorde vind om dit wat tussen hulle is te beskryf nie en Koot se hart bloei vir die jong man.
“Nathan is nie meer hier nie,” en Matthew sak ineen en dit vat al Koot se krag om hom op die bank te laat sit.
“Nee — nee, net nie dit nie — sy gaan my haat.”
“Nathan is met ʼn helikopter oorgeplaas na die Unitas Hospitaal in Pretoria.” Matthew se brein vat ʼn lang tyd om dit te registreer.
“U bedoel hy is nie dood nie — hy leef nog?”
“Ja, hy is baie ernstig siek maar hy leef nog.”
“Waar is Laurie?”
“Sy is weg met haar voertuig Pretoria toe.”
Skielik weet Matthew nie wat om te doen nie. Sy skouers sak en Koot sien die absolute oorgawe in die pragtige blou oë, die tipe oorgawe wanneer ʼn man besef dat hy sy grootste skat verloor.
“Wat presies is verkeerd met Laurie se pa?”
“Ons vermoed die ou brein besering wat hy opgedoen het as jong man, het nou in ʼn geweldige brein tumor ontaard. Was moontlik vir ʼn geruime tyd besig om te vergroot maar nou is dit ʼn lewens gevaarlike tumor.”
Matthew voel die verwyt in hom — Hy is die oorsaak van almal se ellende? Matthew staan op, skud Koot se hand, neem sy twee seuns en begin stadig wegstap. Hy draai om en kyk Koot in die oë. “Indien u met Laurie praat, sal jy vir haar sê, ek is jammer en dat ek bid dat haar pa gesond sal word.”
“Jy kan self bel as jy wil,” en Koot sit Laurie se visitekaartjie in Matthew se hand.
“Die selfoon werk, jy kan bel as jy wil. Ek sal wel die boodskap oordra wanneer ons praat.”
Matthew hoor die woorde maar dit gaan by hom verby.
“Laurie het gereël dat Dokter Duane Malherbe van môre af die kliniek sal behartig tot sy terug is.” Dit hoor Matthew wel — tot sy terug is — en daar is ʼn dun ketting van hoop by hom.
Matthew draai om en met hangende skouers begin hy die pad terug huis toe met twee seuntjies wat onophoudelik huil en hulle ‘mamma’ soek. Sy hart wil gebreek — hy soek haar ook. Hy weet van hier af is dit in Laurie se hande wat verder tussen hulle sal gebeur. Hy kan haar nie verder lastig val nie want hy het reeds haar lewe opgemors. In hom is daar ʼn klein saadjie van hoop, die afgelope intiemheid wat hulle gedeel het, en die — tot sy terug is — en hy bid.
Hy neem ʼn besluit, hy sal vandag na die sendingstasie gaan, vandag sal hy al sy pa en ma se goed gaan haal. Indien daar enige iets is wat die geheime kan oopvlek moet dit vandag gedoen word.
Die rit na die sendingstasie is vandag gehul in hartseer en nie eers die majestueuse berg, die ongelooflike blou hemel, die vars reuk van gras wat belaai is met blomme kan nie die hartseer verdryf nie.
Die ontvangs van hom en sy seuns is soos die van ʼn seun wat huis toe gekom het na ʼn lang afwesigheid. Die staf omhels hom en dra die seuns op hul hande. Hy gaan saam met Vader Rudolph, wat al die jare saam met sy pa gewerk het, na sy kantoor. Sonder dat Matthew wou, loop die woorde net uit sy mond en uit sy hart uit en hy vertel aan sy vriend alles wat gebeur het, al die twyfel, al die hartseer en al die liefde.
Vader Rudolph druk Matthew aan sy hart — Kan een liggaam soveel weemoed verduur sonder om mee te gee? Hy hou Matthew vas teen hom tot die hartseer uitgewoed is.
Hy neem Matthew se hande en begin ʼn gesprek met Matthew oor die toekoms, die geluk en liefde wat uit die duister verlede kan kom en saam kniel hulle voor die God wat tot hier by hulle was.
Wanneer Matthew uiteindelik gereed is om voort te gaan, neem hy Vader Rudolph se hande — “Dankie vir die genade, ek kan net wag en bid dat sy terug sal kom. Die ander waarhede sal ek self probeer kry maar Laurie is in beheer van haar hart en ons toekoms, ek sal wag.”
Vader Rudolph help hom om al die kartondose met sy pa en ma se besittings in sy voertuig te laai en Matthew weet, daar sal antwoorde wees. Moontlik nie alles nie maar daar sal iets in die baie dokumente moet wees.
Hy en die seuns oornag daar, gebaai in die liefde van die mense wat sy lewe so verryk het en Matthew voel rus in hom.
Na ontbyt die volgende oggend ry Matthew huis toe, versorg sy seuns, speel met hulle deur die dag en sit hulle in die bed na aandete. Laataand gaan sit hy by die kombuistafel, daar waar hy soveel vreugde saam met Laurie en die seuns gedeel het — hy maak die eerste kartondoos oop en haal die inhoud uit.
Matthew voel ʼn onkeerbare drang om net elke koevert oop te maak en te begin lees. Hy weet, as hy homself nie wil verwar en frustreer nie moet hy die massa dokumente uitsorteer sodat hy by die begin kan begin, al brand hy om net te begin lees.
Een vir een haal hy die dokumente uit en soek na ʼn datum op die dokument of ʼn datum op die posstempel van die briewe. Hy is oorstelp as sy oog woorde en name raaksien maar hy dwing homself om dit eers te los, net te sorteer maar die opgewondenheid is in hom — hier sal antwoorde wees.
Hy besef gou dat die dokumente meestal uit die jaar negentien ses en tagtig kom, en sorteer hulle in die verkillende maande. Hy wil begin by die begin — nie hier by die einde nie.
Na ure se dose oopmaak en sorteer, is al die dokumente op hopies en maak hy sy seer rug reguit na die gebukkend werk. Hy kyk na die horlosie en sien dit is reeds na drie in die oggend. Hy wik en weeg of hy eers moet gaan lê en of hy tog wel ʼn paar dokumente wil oop maak. Die begeerte om ‘te weet’ neem oor en hy besluit om net ʼn paar dokumente oop te maak voor hy gaan lê.
Die eerste dokument is sy paspoort toe hy vier jaar oud was, ʼn Britse paspoort en hy weet een feit wat deur die afgelope maande duidelik geword het is waar — hy is van Britse afkoms en hy het saam met, moontlik sy ma, Suid-Afrika toe gekom.
Hy sien homself as ʼn baie klein seuntjie in die foto Matthew Gregory Phillips Townsend en alhoewel die middelname geen verband vir hom hou nie, is die “Townsend” ʼn wonderlike bevestiging van wie hy eintlik is — hy voel skielik of hy ‘iemand’ is, aan iemand behoort het voor die lewe wat hy ken.
Hy vou een van die vergeelde dokumente oop wat binne in die paspoort was. Dit is sy geboortesertifikaat en nou weet hy wat die ‘Gregory Phillips’ verteenwoordig, want daar staan sy pa se naam — Gregory Rochester Phillips IV en — Selma Elizabeth Townsend en die ontdekking is vir hom so groot dat hy eers terug moet sit teen die stoel se leuning om sy balans te herwin.
Vir die eerste keer in sy ‘onthou’ lewe, weet hy wie beide sy biologiese ouers is en hy weet dat dit saak maak, al het hy die afgelope maande gedink dat dit nie sou nie. Hy weet ook, as sy oorspronklike paspoort en geboortesertifikaat hier tussen hierdie dokumente is, dit ʼn doel gehad het, die doel om hom uit die land te neem. Definitief nie iets wat iemand sou doen wat hom leed wou aandoen nie.
Met ʼn tamheid wat dreig om hom te oorval, los hy eers die dokumente en gaan stook die stoof sodat daar vuur sal wees as Metando inkom om ontbyt te maak. Hy verlang na Laurie, hy gaan in haar kamer in en gaan lê op haar bed. Met haar parfuum om hom en die lamheid van verlange na haar liggaam in sy lende, raak hy aan die slaap.
Vir Laurie is die rit na Pretoria ʼn nagmerrie. Deels omdat sy vrees haar pa sal sterf voor sy in Pretoria is en deels omdat sy weet wat Matthew moet deurgaan. Sy weet op die oomblik kan sy hom nie gerusstel nie want sy weet nie of haar pa nog leef nie, en sy weet dat indien hy sterf daar vir haar en Matthew geen lewe sal wees nie.
Wanneer Laurie vyf ure later navraag doen by die ontvangs in die Unitas Hospitaal, stuur hulle haar onmiddellik na die hoë sorg eenheid — hulle verwag haar. Die staf neem haar onmiddellik na haar vader se bed. Hy is onder verdowing, en sy weet hy sal so bly totdat hy deur die operasie is.
“Dokter Carl Rutovich se opdrag is dat ons hom moet skakel sodra u hier is Dokter Kilber. U kan hier by u vader bly tot hy kom.”
Laurie knik en sak met dankbaarheid langs die bed in die stoel neer — Here dankie dat hy nog hier is, dankie vir u hand oor hom — flits dit deur haar gedagte.
“Dokter Kilber?” Laurie skrik uit haar effense beswyming.
“Ja — ja, ek is Laurie Kilber.”
“Carl Rutovich,” en hy vat haar hand in beide sy hande. “Jou pa se toestand is baie ernstig maar ek glo as hy deur die operasie kom, sal hy weer sterk word.”
Laurie voel die dofheid uit haar kop gaan, voel die helderheid wat sy altyd kry wanneer dit nodig is vir ʼn pasiënt se lewe.
Carl Rutovich is amper spraakloos as hy die krag sien waarmee Laurie Kilber opstaan en sy hand vasvat. “Jou pa is geskeduleer vir môre oggend en die operasie kan tot agt ure duur.”
Carl Rutovich en Laurie bespreek die operasie en hy neem weer haar hand en sê met oortuiging — “Ek glo daar is ʼn baie goeie kans dat jou vader deur die operasie sal kom.”
Laurie druk sy hand — “Dankie.”
“Ons het fasiliteite waar jy kan oornag. Ek sal suster Engela vra om te reël, as jy daarvan gebruik wil maak.”
Laurie aanvaar die aanbod met dank en stap saam met Carl Rutovich na die saal se ontvangs. Nadat Dokter Rutovich met haar gepraat het, neem Suster Engela de Jong haar deur die gange na die eenheid waar sy kan oornag.
“U kan enige tyd deurkom na die hoë sorg eenheid as u, u vader deur die nag wil kom sien dokter.”
“Baie dankie Suster — ek waardeer dit opreg. Ek wil net ʼn rukkie rus voordat ek sal deurkom om vir ʼn wyle by hom te vertoef.”
Wanneer Laurie uiteindelik op die netjiese bed met die wit linne gaan lê, is die moegheid in haar en bid sy — Here moet asseblief nie dat hy sterf nie, bly by ons asseblief — en Here kyk asseblief na Matthew en die seuns.
Sy stel haar selfoon wekker sodat sy vir ʼn uur kan probeer slaap. Met die absolute uitputting wat haar oorval, vat dit net ʼn paar minute voor sy in ʼn diepe slaap verval — met die wete — God is met ons.
Matthew staan vyfuur op en selfs die min slaap kan nie sy opgewondenheid demp nie. Daar is ʼn nuwe vasberadenheid en berusting in hom — hy sal vandag alles weet wat in die dokumente is, of dit goed is en of dit sleg is, hy wil weet.
Hy maak koffie en help Metando met die ontbyt, skielik is daar ʼn rustigheid in hom. Weet hy, hy sal sy tyd neem om deur die dokumente te gaan. Die klein bietjie insig in sy verlede het hom geraak — meer as wat hy gedink het dit sal.
Hy hoor die seuns wakker word en terwyl hy deurstap na die kamer weet hy, die twee seuns en die gevoel tussen hom en Laurie is vir eers genoeg motivering om aan te gaan.
Hy versorg hulle eers en na hulle gaan speel het, lig hy Seshla en Metando in oor Laurie se pa en Metando bars spontaan uit in trane. “Matthew ek en Seshla weet dat dit wat oom Nathan oorgekom het ons skuld was en ons is jammer.”
Hy druk haar aan sy hart — “Nee moeder, wat daar lank terug gebeur het, is verby, dinge het geloop soos dit moes loop. Ek wil nie en ek glo Laurie wil ook nie dat julle, julle self verwyt nie,” en sy vind troos maar albei weet, die skuld is groot, dalk te groot om terug te betaal.
Hy stuur Seshla en die mans alleen land toe — vir nou wil hy net konsentreer op wat in hierdie hopies op hierdie tafel is. Die manne aanvaar dit so. Hulle besef dat daar nou vir Matthew groter dinge as die plaas is en hulle weet hulle kan alles vir hom behartig.
Hy ontmoet Dokter Duane Malherbe wanneer hy uitklim uit die bakkie en terwyl hulle bladskud weet hy dat die man is die regte persoon om hier oor te neem. Hy help hom in setel, stel hom aan almal voor en gee hom die sleutels vir die medisyne kaste.
“Die kook span by die kliniek sal na u etes omsien en daar sal deurgaans koffie en vars gebak wees as u iets benodig. Daar is ook ʼn kamer met geriewe in die huis vir u, waar u kan rus en oornag. U kan net sê en Metando sal verseker omsien na alles vir u. Weet net, as u enige iets nodig het, die huis is oop.”
Duane Malherbe voel ʼn bewondering vir die orde en selfversorgdheid wat hy sien en beleef. Hy weet, dit is hoe Laurie haar lewe lei en hy kyk na Matthew en hy hou van wat hy sien.
“Dankie Matthew ek sal verseker. Ek voel geëerd om hier aan te gaan vir Laurie. Sy weet dit is my begeerte om in so ʼn kliniek te werk en nou het sy my die geleentheid gegee. Ek gaan voltyds hier wees, het nie op die oomblik ʼn ander praktyk of verantwoordelikhede nie. So as dit reg is, sal ek graag van die kamer op ʼn permanente basis gebruik wil maak solank ek hier is.”
Matthew knik sy goedkeuring terwyl hy sê — “Ek sal dit waardeer as jy hier sal bly Duane. Dit sal al my bekommernis oor die kliniek wegneem — dankie hiervoor.”
Hy los die seuns by die kliniek personeel waar hulle rustig sit en speel. Hy staan ʼn oomblik en kyk na die pragtige kliniek wat Laurie begin het en hy weet, sonder haar sal nie hy of die seuns of die plaas ooit weer reg voel nie.
Hy maak ʼn besluit, ongeag wat in die dokumente is, hy gaan Johan opdrag gee om nou alles te stop, hy wil niks verder weet of doen nie. Hy wil Johan nooit weer sien nie. Daarvoor is Laurie te belangrik vir hom.
Matthew gaan sit by die kombuistafel en maak die volgende dokument oop.
Vir die eerste keer in al die jare begin dinge sin maak — pluis hy sy verhaal uit soos dit in die dokumente vasgevang is. Dokumente wat bevestig dat hy deur Vader Christopher en Suster Beatrix aangeneem is. Dokumente wat Vader Christopher se oorplasing tussen die twee Sendingstasies bevestig, en dokumente wat Vader Christopher en Suster Beatrix se van verandering bevestig. In hom voel Matthew ʼn onrus — Waarom moes Vader Christopher sy naam verander, watse gevaar was daar?
Hy vou die brief van ‘sy pa’ aan Vader Christopher oop —
31 Julie 1986
Liewe oom Christopher,
Teen die tyd is ek seker dat u ook bewus is van al die berigte wat gepubliseer is oor die terreurdaad in Durban. Asook dat ek, Selma, Josh en Laurika aan die daad gekoppel is. Ek wil hê u moet weet, ons het nie aan die daad meegedoen nie. Ek wil hê u moet weet dat ons nooit so iets sou doen nie.
Ek wil ook hê u moet die waarheid weet indien ons nie lewendig uit die gemors kom nie. Op die oomblik word ons deur elke polisieman in die wêreld gejag en ek is bevrees dat hulle ons een of ander tyd gaan vang. Ek is die oorsaak dat ons vier in die gemors sit en sal sekerlik daarvoor boet — vra asseblief dat God my vergewe.
Selma en Laurika wou geen aandeel aan enige iets gehad het nie maar ek en Graham Hill het hulle gedwing. Selma wou net in vrede by Louis Olivier en Nathan Kilber bly en dit het ek haar ontneem. Ons is deur ʼn slim slenter van Graham na Pietermaritzburg gelok en amper in ʼn lokval gelei. Weet asseblief indien Louis Olivier nie tot ons hulp gekom het nie, sou ons reeds gevange geneem gewees het. Ek het regtig ons lewens opgemors.
Ek en Selma is reeds verskeie jare geskei maar ons het vriende gebly en ek is ongelooflik jammer vir wat ek aan haar, Laurika, Josh en ons kinders gedoen het. Ons het ʼn ongelooflike fout gemaak om Graham Hill te vertrou.
Matthew, ons seun, en Laurie, Laurika se dogter, is steeds in Suid Afrika by Louis Olivier en Nathan Kilber. Ons gaan probeer om ʼn plan te maak om hulle Engeland toe te neem, ek sal u laat weet as ek kan.
Bid vir ons asseblief,
Gregory.
Matthew voel hoe hy homself moet dwing om asem te haal. Hy voel die klopping in sy bors en in sy kop — Waarmee was sy ouers besig? — Vader Christopher was sy eie pa se oom — gaan dit deur sy gedagtes. Wanneer die waarheid hom tref weet hy, dit wat hy geglo het ʼn oplossing vir hom en Laurie sou bring — die grootste verwydering bring.
Sy ouers het terroriste ondersteun — was in werklikheid dalk self terroriste. Sy ouers het in hulle onbesonne jeugdigheid sy lewe, die van Laurie en Nathan Kilber en Louis Olivier vernietig.
Matthew voel lus om teen die hemele te skree maar hy weet niks sal verander nie. Hy vrees wanneer die waarheid uitkom, en hy weet dit sal, sal Laurie hom haat want sy ouers was verantwoordelik vir die tragedie.
Daar is ʼn groter vraag in hom — wanneer presies is sy ma dood — want hier in die brief blyk dit dat sy nog leef. Skielik is die ken van die datum ʼn obsessie by hom. Hy weet die antwoord is op die plaas by haar graf want hier op een en dertig Julie negentien ses en tagtig, het sy ma nog geleef. Hy herroep Laurie se woorde die dag toe sy hom meegedeel het dat sy ma dalk nie in negentien ses en tagtig oorlede is nie.
Hy is kortasem as hy die tweede brief oopmaak, hy voel die beklemming in hom groei tot iets wat hom wil versmoor.
12 November 1986.
Liewe oom Christopher,
Ek vertrou dat u en u mense veilig is, ons weet dat verskeie persone ons die afgelope weke bygestaan het en dat u, Nathan en Louis dit gereël het. Met al die hulp van Nathan, Louis, jouself en die kerk het ons dit gemaak tot in Europa.
Alhoewel ons weet dat dit verskriklik gevaarlik is, wil ons tog probeer om Matthew na Engeland te bring. Selma is in absolute depressie oor Matthew, en ek moet probeer om hom minstens by haar ouers te kry. Ek het daarom teen alle advies gereël dat iemand hom op sestien Desember by die missie sal kom haal om hom na Dorset County na Selma se ouers te neem.
Matthew sal saam Nathan te voet oor die berg na jou gebring word, so help ons asseblief daarmee.
Indien enige iets verkeerd loop, neem Matthew asseblief terug na Louis en Nathan, hy sal veilig en geliefd daar wees.
Net sodat u weet, Laurika se Laurie sal nie terug Engeland toe kom nie, Nathan het dit duidelik gemaak, hy kan nie sonder haar leef nie. Alhoewel Laurika absoluut platgeslaan is, het sy dit aanvaar en sy weet dat Laurie by iemand sal wees wie haar ongelooflik lief het. Ek bid dat die verskuiwing van Matthew nie die volgende groot fout is wat ons sal begaan nie.
Bid vir ons — liefde.
Gregory.
Die lewe kom terug in Matthew, sy ma het nog geleef op twaalf November negentien ses en tagtig en nou glo hy niks verder wat Johan ooit gesê het nie — Daar was geen ‘geluk’ vir Louis Olivier omdat sy ma konsuis ‘binne enkele maande’ dood is nie.
Matthew weet nou verseker dat sy ma leef, leef iewers omdat Louis haar ʼn skerm gegee het met ‘haar dood’. Hy weet verseker dat sy ma se liggaam in geen graf in die land sal wees nie. Sy het die land lewendig verlaat en in hom is daar nie net nuwe hoop nie maar daar is ʼn vreugde wat vir die oomblik alles oorheers — sy ma kan nog leef, iewers in die wêreld kan sy nog leef.
Matthew voel die verwyt — Ek het nie net Nathan Kilber en Louis Olivier beskuldig van moord nie maar ek het Louis Olivier se dood veroorsaak terwyl hulle al mense was wat werklik omgegee het in die land.
Nou huil Matthew, hy huil omdat hy nie weet hoe hy dinge ooit met Laurie en Nathan Kilber reg sal maak nie. Ook vir die eerste keer weet hy verseker dat hy, as sy eie ma en pa nog leef, hy hulle wil vind — vir homself, sy seuns, Nathan Kilber en veral vir Laurie.
Hy weet nou dat sy ouers hom wou hê, hy weet net nie waarom hy nog in Suid Afrika is na al die tyd wat verloop het nie. Het sy aangenome ma en pa hom doelbewus hier gehou vir hulself of was daar ander omstandighede? Waarom het hy hom nie teruggeneem na Louis Olivier soos sy pa gevra het nie?
Hy wonder vir die eerste keer oor Laurie se ma, wie is sy, hoe het hulle ma’s mekaar geken? Dat hulle wel saam in die gemors was, is wat hy kan aflei uit die briewe?
Matthew weet dat die waarheid wat hy nou het hom verhoed om die selfoonnommer wat Koot hom gegee het, te gebruik — Wat sê jy vir die persoon wat jy bo alles liefhet, daardie een mens wat jou ouers se dade in die diepste ellende gedompel het?
Matthew weet dat hy sy seuns gaan vat en Engeland toe gaan, hy gaan sy ma en pa soek, hy gaan die waarheid soek want daarsonder sal hy nooit weer vrede hê nie.
Vir die eerste keer is hy dankbaar vir Judith se jag na plesier. Indien dit nie was dat sy hom gedwing het om paspoorte en die onverkorte geboorte state vir die seuns te kry vir hulle vakansies in Mosambiek nie, sou hy nou in die diepste verknorsing gesit het as hy die seuns die land wou uitvat. Vir die eerste keer besef hy ook — die vakansies wat haar ʼn nuwe liefde besorg het, het hom ook vry gemaak om Laurie te bemin.
Daardie vakansies en die hof uitspraak na haar afteken van die twee seuns is nou sy redding. Skielik is sy verwyt weg, skielik is die dankbaarheid daar — Dit is soos Vader Rudolph gesê het, ‘God alleen stuur ons op paaie’ — en hy weet nou dit was die voorbereiding van die pad vir hulle toekoms — hy, Laurie en die seuns se toekoms as sy hom ooit sal vergewe.
Matthew besef verder dat alles wat gebeur het die afgelope maande, die pad oopgemaak het vir hom om vir ʼn tyd weg van die plaas te wees. Laurie wat beslis was dat hy van die geld sal vat en dit in sy rekening laat inbetaal het. Laurie se maande se werk om opgeleide staf ten alle tye in die kliniek te hê. Die feit dat Duane hier is en veral omdat hy sulke betroubare mense het, is alles ʼn bestiering van bo. Daar is niks wat in sy pad staan om sy seuns te vat en Engeland toe te gaan nie.
Matthew besluit dat hy die volgende oggend saam met die seuns die rit na Pietermaritzburg sal onderneem om aansoek te doen vir Britse Visas vir die besoek. Die brief van sy pa het spesifiek verwys na Dorset County — en dit is waar hy sal begin.
Hy laat die dokumente eers net daar op die tafel, hy sal die seuns vat en opstap land toe, daar waar hulle in die skaduwee geëet het. Hy wil vandag eers net weer haar onthou — alles van Laurie onthou.
Die selfoon se deuntjie maak Laurie wakker en sy laat die deuntjie van Celine Dion vir ʼn wyle langer speel voordat sy dit stop. Sy stap deur na haar vader se saal en die woorde maal deur haar gedagtes —
“When you call on me
When you reach for me
I get wings to fly
I feel that I am alive
When you bless the day
When you bless, you bless the day
I just drift away — I just drift away
All my worries die
I know that I am alive.”
Laurie weet net dat sy die afgelope maande vir die eerste keer in haar lewe ‘Lewendig’ gevoel het — ‘emosioneel lewendig’, en sy weet dit het alles met Matthew en die seuns te doen. In haar voel sy dat alles op die ou end goed sal gaan, met hulle almal goed sal gaan, al sal sy en Matthew nie saam as ʼn eenheid wees nie — maar sy bid daarvoor.
Laurie verlang na Matthew met ʼn fisiese pyn in haar, en sy wens dat sy ʼn boodskap na hom kon deurkry maar sy weet sy kan nie deur die polisie stasie ʼn boodskap stuur nie. Wat sê sy — sê hom my pa leef nog maar kan enige oomblik sterf — Sy weet dit sal hom breek — Hy moet dink dat sy hom versaak het — en dit gee haar meer pyn as enige iets anders.
Sy sit langs haar pa se bed met sy hand in hare en sy kyk na sy dierbare gesig waarop die lyne van die pyn duidelik wys — en sy beleef die liefde wat sy van hom ondervind het deur die jare. Sy verlang na die sorgvrye dae — al weet sy nou, net sy het sorgvryheid beleef. Laurie weet, dit is tyd vir die oopmaak van die verlede — kom wat wil.
Sodra haar pa deur die operasie is, sal sy hom dwing om oor die verlede te praat, haar verlede, haar ma se verlede, oom Louis se verlede en veral Matthew se verlede. Sy sal nie ʼn ʼnee’ aanvaar nie.
Suster Engela de Jong kom sê haar, die operasie is vir agt uur die oggend geskeduleer. Sy vertoef nog ʼn wyle by haar — en Laurie waardeer dit.
Laurie sit tot na middernag by haar pa. Sy dank haar God vir elke oomblik hier by hom, sy weet, hy kan na môre weg wees, al weier haar hart en verstand om dit te aanvaar. Sy gaan terug na haar kamer in die gaste eenheid en stel haar wekker vir ses uur. Sy wil by haar pa wees vandat hulle hom voorberei en totdat hulle hom teater toe neem.
Wanneer Laurie vroegoggend instap is Nathan wakker, verdoof maar wakker. Laurie soen hom op die wang en in die beweeg van sy oë weet sy dat hy registreer dat sy by hom is en die dankbaarheid is in haar. Die oomblik wat sy gaan sit kom sy stem vanuit die duister waar Nathan die afgelope dae gehuiwer het, sag maar duidelik — “Jy moet jou ma gaan sien en sê ek is jammer oor alles.”
Laurie val amper van die stoel af en in haar houding sien Nathan sy is geskok. “Beloof, of ek leef en of sterf, jy sal haar gaan sien.”
“Waar is sy pa?”
“In Engeland.”
“Waar in Engeland?”
“Ek weet nie, beloof my net asseblief Laurie.” Sy beloof want sy wil dit doen, nie net vir hom nie maar vir haar, vir Matthew vir almal.
Hy maak sy oë toe en Laurie weet as sy nie nou met hom praat nie, daar nie verder vandag of moontlik vir baie dae gepraat gaan word nie.
Terwyl sy weet hy is tot die dood uitgeput, gaan sy voort, skielik is dit die belangrikste gesprek wat sy in jare gehad het. “Pa, luister, hoe sal ek haar kry?”
“Kyk na die briewe.” Die teater staf stap op die oomblik die saal binne en Laurie weet daar sal nie vandag verder gepraat kan word nie.
Sy stap saam met die staf tot voor die teater deure en Carl Rutovich kom uit die teater om haar te sien. “Ek sal laat weet hoe dit gaan gedurende die operasie, moenie bekommerd wees nie ek glo alles sal goed afloop.” Laurie bedank hom terwyl die hoop in haar opkom.
Sy gaan terug na die kamer in die oornag fasiliteit en gaan lê uitgeput op die bed, haar gedagtes is in ʼn warboel wat draai om haar pa se woorde — Jy moet jou ma gaan sien en sê ek is jammer oor alles. Sy toestemming vir haar om sy briewe te lees en Laurie voel die spyt omdat die briewe op Nuutgevond by haar pa se besittings is.
Laurie kom skielik regop van opgewondenheid, oom Louis se kondensmelk kartondoos, met die inhoud nog geseël agter die sitplek van haar voertuig. Laurie weet, vandag is die regte dag om die kartondoos oop te maak. Sy vat haar sleutels en drafstap deur die gange na die parkeerterrein waar haar voertuig geparkeer is, alle tekens van moeg is weg.
Wanneer sy die deur oopsluit is daar geen twyfel nie, sy sal die inhoud van die kartondoos in die volgende sewe ure deurlees. Sy wil weet, alles weet en eers wanneer sy deur die kartondoos se inhoud is, sal sy besluit wat verder moet gebeur.
Sy gebruik die motorsleutel om die lae kleefband oop te sny. Sodra die inhoud uiteindelik oop is, glo sy dat sy die vae geur van parfuum ruik en dit flits deur haar gedagtes — Selma Townsend — en sy weet as daar wel na al die jare iets is, sy reg is.
Sy haal die inhoud versigtig uit en voel die teleurstelling in haar — vier koeverte en verder net ʼn klomp ou koerante. Wanneer Laurie die koerante op die sitplek wil neersit, is dit dat sy haar verbeel dat die jongman in die foto Johan kan wees — jonger maar die ooreenkoms is merkwaardig, dieselfde dun lippe, skraal gesig en skrefies oë en sy weet dit is hy. Laurie sit al die dokumente op die sitplek neer, klim met die koerant nog in haar hand in die voertuig in, maak die deur toe en vou die koerant oop.
Laurie kyk na die datum op die koerant — veertien Junie negentien ses en tagtig —
”KRAGTIGE BOM ONTPLOFFING DOOD TWEE IN SUID AFRIKA.”
”ʼn Kragtige bom het buite ʼn restaurant in Durban ontplof wat twee blanke vroue gedood het. Die bom het motors en geboue beskadig in die omgewing. Die ontploffing kom drie dae nadat ʼn noodtoestand in Suid Afrika afgekondig is.
Geen groep het nog verantwoordelikheid geneem vir die daad nie maar daar is aanduiding dat die ANC verantwoordelik gehou sal word.
Die ontploffing is die eerste sedert verlede jaar en word direk gekoppel aan die verban op politieke vergaderings. Die toestaan van wye regte word aan die polisie toegestaan rakende ondervraging en arres aksies. Die noodtoestand is gemik daarop om opstand te beperk voor die tiende viering van die oproer in Soweto op Maandag…”
Laurie sluit haar oë en sy voel die bloed in haar kop opstoot — skielik het sy die vreeslikste gevoel dat die berigte ʼn baie noue verband hou met Selma Townsend, haar moeder en die twee mans. Een ding weet sy na haar vader se woorde en die briewe van oom Louis, die twee vroue wat gedurende die ontploffing gesterf het, was nie Selma Townsend en haar ma nie. Die ander twee persone waarna verwys word, wil sy ook nie glo dat dit een van hulle kon wees nie.
Sy lees die opskrif van die berig waar “Johan” se foto is — ʼn baie jong Johan.
“DURBAN STRAND FRONT BOM ONTPLOFFING.”
Die Durban stand front bom ontploffing wat voor die ‘Why Not Magoo’s Bar’ plaasgevind het, het die lewe van twee blanke vroue geëis. Die bom was geplaas in ʼn motor voor die kroeg en was bedoel vir sekuriteit polisie wat die kroeg gereeld besoek. Kaptein Graham Hill het bevestig dat die polisie reeds verskeie leidrade gevind het wat moontlik kan aandui aan wie die terreur daad gekoppel kan word. Hy het ook bevestig dat die polisie reeds verskeie persone, moontlik vier Britse Burgers, gekoppel het aan die daad en dat die polisie reeds op hul spoor is…
“Graham Hill,”… en Laurie is nou oortuig dat dit wel Johan is, en nou weet sy waarom Joos niks van Johan van Graan voor die negentigs kon opspoor nie. Hy het sy naam verander — maar waarom? — waarom was hy genoodsaak om sy identiteit te verander as hy nog steeds in die polisie is?
Die vrees is oorweldigend. Was haar ma en Selma Townsend twee van die Britse burgers wat betrokke was? In Laurie kom die gevoel, weet sy dat dit so is en skielik weet sy Johan soek Selma Townsend en haar ma en sekerlik ook die twee ander persone wat die viertal opgemaak het. Hy glo dat Matthew of selfs sy, hom na hulle sal kan lei. Nou weet Laurie dat Johan se agenda te doen het met die bomontploffings — het hy nie herhaaldelik bevestig dat hy is ʼn lid van die Spesiale Taakmag nie — Joos het verder bevestig dat hy by Terrorisme ondersoeke betrokke is.
Laurie weet, wat sy ook al uitvind, wat ook al in hierdie of haar pa se briewe is, mag nooit uitlek nie — vir haar eie, Matthew en wie weet wie nog, se onthalwe. Laurie is skielik in ʼn totale vertwyfeling — lees sy die briewe en weet sy waar Selma Townsend is, kan dit haar en haar eie ma, en die ander twee persone se lewens in gevaar stel. Dis te sê as hulle nog leef. Laurie besef die kans dat Selma Townsend of haar ma na al die jare nog op dieselfde plek sal wees, is hoogs onwaarskynlik.
Die feit dat oom Louis, Selma Townsend dood laat verklaar het, is die enigste rede waarom Johan haar nooit opgespoor het nie. Dit is duidelik uit Johan se woorde die dag toe hy haar pa en oom Louis beskuldig het: “Was dit nie julle gelukkige dag toe sy binne enkele maande oorlede is nie.”
Laurie wonder skielik — wie het die doodsertifikaat vir Selma Townsend se dood uitgereik? — en kry sy die gevoel dat die antwoord ook iewers tussen dokumente is wat sy wel oop sal maak. Sy weet sy sal teen die einde van vandag meer weet as waarop sy ooit gehoop het.
Nou wonder Laurie weer, het Johan se teenwoordigheid in die gemors te doen met Selma Townsend of eerder met haar pa en oom Louis? Laurie weet die antwoord op die vraag is moontlik die oorsaak van ʼn baie ou vete tussen haar pa, oom Louis en Johan van Graan.
Laurie weet nou ook waarom Selma Townsend, haar ma en die ander persone moes verdwyn, en sy voel ʼn koudheid oor haar — was haar ma en Selma Townsend in staat om onskuldige mense se dood te veroorsaak?
Laurie weet sy moet baie mooi besin oor haar besluit oor die toekoms want dit kan geweldige implikasies vir baie mense hê. Sy moet baie mooi dink of sy enigsins wil krap in die verlede of in sommige mense se hede.
Laurie neem ʼn volgende koerant en kyk na die datum — vyftien Julie negentien ses en tagtig en haar oë soek deur die hoof opskrifte. Sy snak na haar asem as sy die name herken aan die vertelling van Metando — en sy lees die kort berig.
”Kaptein Graham Hill het vandag bevestig dat die vier Britse burgers wat gekoppel word aan die terreur daad in Durban geïdentifiseer is as Gregory Phillips, Josua Parker, Selma Townsend en Laurika Ruben.
Kaptein Graham Hill het verder bevestig dat daar vermoed word dat minstens drie van die persone die land verlaat het en dat een persoon moontlik later dood is as gevolg van beserings wat opgedoen is tydens die terreur aanval…”
Nou is die vier persone geïdentifiseer en moet Laurie die waarheid verwerk. Sy weet Laurika Ruben is haar ma, alhoewel dit die eerste keer in haar lewe is dat sy haar ma se naam en nooiensvan in skrif sien. Haar pa het die naam Laurika honderde kere gedurende die afgelope jare geroep wanneer hy een van sy aanvalle gekry het, sy het net nooit besef dat haar ma se nooiensvan “Ruben” was nie. Laurie voel in haar ʼn weemoed — Laurika Ruben — waar was jy al hierdie jare? — leef jy nog?
Laurie besef weer hoe deeglik oom Louis Selma Townsend se lewe verseël het in ʼn leë graf — of het hy regtig — noudat Johan weer opnuut ʼn belangstelling in Matthew toon. Indien Johan reg sal hê tot die plaas en Selma se graf, as die hof uitslag in Matthew se guns is, wat sal die gevolg wees as Johan weet dat Selma Townsend se lyk nie in die graf is nie?
Te meer, wat sal Matthew doen as dit bevestig word dat sy ma nie in die graf is nie? Sy het wel daarop gesinspeel die dag op die plaas maar sy glo nou dat al die berigte dit bevestig — as daar ooit iemand in die ontploffing dood is, is dit nie Selma Townsend nie.
Laurie weet verseker dat sy teen haar beter wete oor wat Matthew sal dink, of voel, vir Joos opdrag sal moet gee om ʼn interdik teen Johan en Matthew te kry vir die beset van spesifiek The Buttress. Liewer dat Matthew kwaad is vir haar, as wat Johan die waarheid ontdek en Matthew se ontnugtering as hy van sy ma se daad en die leuen oor haar dood moet uitvind.
Laurie weet daar is geen terugkeer nou meer nie. Sy sal Engeland toe moet gaan. Sy moet haar ma en Selma Townsend vind of moontlik hulle families as hulle nie meer leef nie — as daar enige kans vir haar en Matthew is. Laurie wens dat sy Matthew gevra het wanneer Johan in sy lewe gekom het want dit sou ʼn aanduiding wees van wat hy weet en wat hy wil hê.
Laurie blaai vinnig deur die koerante en vind ʼn koerant gedateer Augustus negentien negentig waar ʼn reeks hoofgebeure aangehaal word tot die oploop van die sewe Augustus gesamentlike ANC en Nasionale Party Regering aankondiging —
“Die ANC en die Suid Afrikaanse Regering het ʼn gesamentlike deklarasie na die afloop van ʼn vyftien uur gespreksvoering uitgereik. Die ANC het aangekondig dat hul onmiddellik alle gewapende aksies sal staak, terwyl die Regering onderneem om die ʼnood situasie’ in Natal op te hef. Die Regering onderneem ook om die…”
Laurie sit terug teen die leuning en sluit haar oë, haar kop is in ʼn warboel van gedagtes, sy voel die naarheid in haar — is dit die saad waarvan sy en Matthew kom — sy weet as haar ma hierby betrokke was, sy haar pa se haat kan verstaan en sy weet sy wil haar nooit leer ken as sy wel betrokke by al die geweld was nie.
Laurie herroep hoe besield sy self as ʼn tiener saam met haar pa en oom Louis gewerk het in negentien vier en negentig vir die ‘vryheids-verkiesing’. Sy besef, die saad val nie vêr van die boom nie. Laurie wonder, as die vier persone nog leef waarom het hulle nie by die ‘Waarheid- en Versoenings Kommissie’ aansoek gedoen vir amnestie nie — groter terroriste as hulle is vrygespreek en selfs senior regeringsposisies gegee. Beteken dit, al vier persone is oorlede?
Laurie soek deur die koerante en is verbaas om ʼn gedrukte verslag wat dateer uit die vroeë 2000 van die Waarheid en Versoenings Kommissie se werksaamhede tussen die koerante te kry. Sy laat haar oë oor die eerste bladsy van die verslag gaan, daar registreer net hier en daar ʼn sin by haar —
Die Waarheid en Versoenings Kommissie was sekerlik die mees intensiewe ondersoek na die onregverdighede van die verlede wat die wêreld ooit gesien het. Dit was meer suksesvol as enige ander waarheidskommissie, as voorbeeld in Chili of Guatemala en is telkens gereken as ʼn model vir effektiewe konflik oplossing. Deur die openbaarmaking van historiese onregverdighede gedurende dramatiese publieke verhore, het die kommissie die mag gehad om Suid Afrika te stuur in ʼn demokratiese rigting…
Hierdie kontroversiële Komitee het amnestie aan 849 van 7,112 applikante toegestaan…”
Laurie besef sy het nooit belanggestel om eers te weet hoe weinig persone wel amnestie gekry het nie. Sy weet, indien haar ma hulle nog leef, die syfers sekerlik hulle verhoed het om wel na Suid Afrika te reis om ʼn aansoek na die kommissie te bring.
Laurie maak die volgende dokument oop en sien dit is ʼn verslag oor ʼn Amnestie aansoek van verskeie persone. Sy soek tussen die talle aansoeke na die name van die vier Britse Burgers maar dit is die naam van Graham Hill wat sy raaksien en sy lees deur die verslag.
“Die volgende lede van die Suid Afrikaanse Polisie het aansoek gedoen vir amnestie: Kolonel Graham Hill.
Die Kommissie het bevind dat die ondersoek na die bom ontploffings in Durban strandfront gekontamineer was deur ʼn sistematiese toesmeer van feite deur sekere polisie lede, sowel as die lewering van valse en misleidende getuies en die weiering deur polisie en regerings getuies om verskeie vrae te beantwoord tydens die tweede verhoor. ʼn Hooggeplaaste polisie offisier het die verbloeming van feite bewerkstellig deur die verwydering van verklarings van die ondersoek lêer en deur die vernietiging van bom skerwe wat van die oorlede persone se liggame verwyder was. Twee Regerings Amptenare en ʼn hooggeplaasde Interpol Offisier het die plasing van simpatiseerders uit die buiteland in die ANC geledere gefasiliteer om die ANC te infiltreer en ook om later die Interpol Offisier se rol tydens die bom ontploffings te regverdig.
Die kommissie het bevind dat die samewerkers se betrokkenheid by die ontploffings slegs op hul affiliasie met die ANC berus en dat daar tot dusver geen konkrete bewys van hul betrokkenheid is nie. Die Kommissie het ook getuies aangehoor wat daarop wys dat die tweede bomaanval moontlik gemik was om die buitelandse samewerkers te dood om sodoende getuies te vernietig.”
Nou weet Laurie dat sy uiteindelik die waarheid oor Johan van Graan gekry het. Weet sy ook dat hy beskerm word deur die affiliasie wat hy het deur sy huidige posisie en moontlik die Regering van die dag, en dat hy amper onaantasbaar is as gevolg daarvan. Daar gaan een gedagte deur haar kop — wie is die buitelanders? — is dit haar mense?
Die volgende dokument se datum is ʼn skok vir Laurie — agt Februarie twintig vyftien. Sy sien die naam van die Regsfirma — Baldwin & Gossard Inc. Londen.
Geagte Meneer,
Dit is vir ons ʼn voorreg om u in te lig, soos per u instruksie, ʼn korrespondent aangestel is wat die amnestie applikasie vir die volgende persone by die Waarheid en Versoenings Kommissie in Suid Afrika ingedien het.
Gregory Rochester Phillips IV
Josua Joseph Parker
Selma Elizabeth Townsend
Laurika Anne Ruben
Ten einde die veiligheid van die vier persone te verseker kan ons nie die identiteit van die korrespondent bekend maak nie.
Die applikasie is suksesvol ingedien en is geskeduleer vir konsiderasie later die jaar.
Ons sal u op hoogte hou van die vordering van die versoek, inaggenome die veiligheid van die applikante ten alle tye.
Voel vry om ons ter enige tyd te kontak vir hulp.
Cedrick Baldwin.
Laurie is oorweldig, nie net is dit die bevestiging dat al vier persone nog in Februarie die jaar geleef het nie maar veral oom Louis se liefde vir Selma Townsend deur al die jare. Meer nou het sy ʼn naam, sy kan met iemand praat wat haar kan help.
Laurie vou die laaste dokument oop en dit is Selma Townsend se Doodsertifikaat en haar oë gly oor die lyne:
Identiteit Nommer — doodgetrek en vervang met die woorde ‘Paspoort’ nommer:
Van — Townsend
Eerste Name — Selma Elizabeth
Geboorte Datum — 5 May 1961
Geslag — Vroulik
Huwelik Status — Geskei
Datum van Sterfte — 8 Julie 1986
Plek van Sterfte — Ladysmith, Natal
Oorsaak van Dood — Natuurlike Oorsake
Datum van Uitreiking — 18 Julie 1986
Uitgereik Deur — en die stempel van die Departement van Binnelandse Sake met die datum 18 Julie 1986 en die p.p. handtekening namens die Direkteur Generaal van Binnelandse Sake M. M. Vrey — en dit is asof die handtekening iets bekend is, iets wat sy voorheen gesien het maar sy kan dit nie nou plaas nie.
Die effense bekendheid van die p.p. naam, laat Laurie wonder of ʼn geneesheer betrokke was by die uitreiking van hierdie sertifikaat — oom Louis het iemand geken by die Departement of iemand anders het iemand geken in die Departement. Laurie voel een groot geheim is opgeklaar maar dit het haar niks nader aan die waarheid gebring nie.
Laurie neem haar foon en stelselmatig neem sy van elke berig, elke bladsy van elke dokument en koerant ʼn foto. Sy wik en weeg of sy die dokumente saam met haar moet neem maar is nie seker waar dit die veiligste sal wees nie. Sy neem ʼn besluit, sy sal die briewe by haar hou en die kartondoos koerier na oom Joos — vandag nog. Om dit hier te hou, is ʼn groot risiko.
Sy sluit die voertuig aan en ry na die PostNet kantoor in die Silver Creek Sentrum in Centurion. Sy skakel Joos voordat sy PostNet binnegaan en hy is so oorbluf as wat Laurie was — hy stem saam. “Stuur die dokumente dadelik hiernatoe Laurie — dit sal veilig hier wees.”
Sodra die kartondoos ingeneem is deur die klerk, voel Laurie ʼn verligting in haar, sy wil definitief verseker dat geen ander persoon die dokumente sien nie, al maak dit moontlik na al die jare nie meer saak nie — maar vir haar en Matthew sal dit altyd saak maak.
Sy neem die vier koeverte en sit dit in haar dokumente tas. Sy neem die dokumente tas saam met haar, sluit die voertuig en stap haastig na die ontvangs by die teater.
Die suster by ontvangs dui aan dat Carl Rutovich laat weet het alles verloop goed. Laurie dui aan dat sy in die restaurant sal wees en die suster beloof om haar te laat weet indien sy weer nuus uit die teater kry.
Na die inligting wat sy nou het, weet Laurie dit is moontlik die verkeerde tyd in haar lewe om die koeverte in haar tas oop te maak maar sy weet, na wat sy nou weet, daar nooit weer ʼn ‘Regte’ tyd in haar lewe sal wees nie. Sy weet ook dat die kennis wat sy nou het, haar lewe vir altyd verander het en dat sy, en sy alleen, die gemors sal moet oplos.
Skielik weet Laurie presies wat sy gaan doen. Sy sal Engeland toe binne die volgende paar weke. Sy moet die prokureur sien en vra om haar te help om Selma Townsend en haar ma, of enige van die twee mans genoem in die berigte, te vind. Sy moet die verlede se geheime oopmaak — alles oopmaak.
Sy haal die regsfirma se brief uit en vind die telefoonnommer. Sy skakel die nommer en hou asem op totdat sy voel of haar longe bars. Die Engelse aksent kom duidelik: “Goeie dag Baldwin & Gossard Inc. — hoe kan ek u tot hulp wees.”
“Kan ek asseblief met meneer Baldwin praat?”
“Met wie praat ek asseblief en in verband met watter saak doen u navraag?”
“Ek is Laurie Kilber en skakel van Suid Afrika in verband met die saak van Gregory Phillips, Josua Parker, Selma Townsend en Laurika Ruben.”
“Hou asseblief die lyn.” Daar volg ʼn tasbare stilte van verskeie minute en Laurie dink eers dat sy kontak verloor het maar dan kom die stem — “Hou asseblief aan, u gaan deur na meneer Baldwin.”
“Goeie dag Cedrick Baldwin, met wie praat ek?”
“Laurie Kilber van Suid Afrika.”
“Hoe kan ek tot hulp wees?” Laurie herhaal die name en nou is die stilte voelbaar en kom die stem nou openlik agterdogtig. “Wie het u die besonderhede gegee?”
“Ek het dit gevind in ʼn brief wat u aan Meneer Louis Olivier op agt Februarie hierdie jaar gestuur het.”
“Kan ek met meneer Olivier praat om die inligting te verifieer?” Laurie vind die omstandighede nie vreemd nie — sy besef hoe sensitief die situasie is.
“Meneer Olivier is ʼn paar maande gelede oorlede.”
“Wie is u dame.”
“Ek is die dogter van Laurika Ruben,” — nou is daar ʼn hoorbare onsteltenis aan die ander kant van die lyn.
“Aangesien ek nie kan verifieer wat u my so pas meegedeel het nie, sal u verstaan dat ek die oproep onmiddellik gaan beëindig. Indien u is, wie u sê u is, het u my gegewens en stel ek voor u reis na Engeland en u kom sien my persoonlik en bevestig u identiteit. In daardie geval sal ek met u gesels.”
“Meneer asseblief…”
“Nee dame, u is besig om persone se lewens in gevaar te stel. Indien u na Londen kom kan u met my ʼn afspraak maak.” Gevolg deur ʼn klik op die lyn en ʼn doodse stilte wat volg.
Sy voel die moedeloosheid van haar besit neem en skielik val die trane spontaan — So naby die waarheid en tog so vêr. Sy weet nou sy sal haar pa gaan sien en hom sê dat sy Engeland toe gaan, so gou as moontlik. Sy sal nie eers terug na Matthew toe gaan nie — nie voor sy sekerheid het oor alles nie.
Nathan kom wonderbaarlik deur die operasie. Dokter Rutovich bevestig — “Ons het ʼn gewas gevind wat oor ʼn groot oppervlakte aan sy brein geheg was en wat ontsettend baie druk veroorsaak het. Ek is oortuig alles is op die stadium verwyder sonder skade aan sy brein, so sy kans op herstel is baie goed. Ons sal hom maar net moet dophou oor die volgende paar maande.”
Laurie bly by haar pa deur die nag en die volgende dag. Laurie gaan slaap en wanneer sy na ʼn paar uur terugkom, is Nathan wakker en by homself. Daar is dankbaarheid en aanvaarding in Nathan se oë. “Onthou jy wat ek gevra het voordat ek na die teater is?”
“Ja, pa het gesê ek moet my ma gaan soek.”
“Dankie my kind, maak die een ding ook vir my reg, sodat ons in vrede vorentoe kan gaan.”
Sy hou sy groot hand in hare en sy weet iets het tussen haar ma en pa gebeur wat haar pa tot in sy dood sal volg as sy dit nie reggestel kry nie.
Laurie is dankbaar dat sy haar paspoort sedert haar terugkoms uit Namibië, nog steeds in haar mediese tas het.
Laurie wag net tot haar pa slaap, dan ry sy na ʼn agentskap en bespreek haar vlug na Engeland en haar verblyf in Londen.
Die agent lig haar in oor al die dokumente wat sy sal benodig vir die goedkeuring van haar Visa. Sy waarsku Laurie dat die Visa aansoeke die tyd van die jaar tien tot vyftien dae kan neem voor die Paspoort terug kom.
Laurie voel geen irritasie met die tyd wat dit sal neem om die Visa te verkry nie, haar pa gaan nog minstens tien dae in die hospitaal wees en sy wil by hom wees. Sy het vir solank as wat sy kan onthou, nie geweet wat sy nou weet nie en al voel sy haastig om die waarheid te gaan oopmaak, weet sy dat sy nog ʼn week of twee kan wag.
Laurie weet ook dat die besoek en al die reëling nie beteken dat sy haar ma en Selma Townsend sal vind nie, moontlik ook nie die waarheid sal vind nie. Dit is van minder belang, sy moet ten minste probeer vir haar pa se onthalwe want sy weet, sonder die waarheid sal daar geen rus vir haar pa wees nie. Ook sal daar geen kans vir haar en Matthew wees nie, nie saam nie.
Sy gaan terug na haar pa en al waaroor hy kan praat is haar besoek aan Engeland, skielik maak niks verder sin nie — “Ek kort haar vergifnis” — is al wat hy vra.
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.