Waar Liefde Begin – Hoofstuk 6
Hoofstuk 6 — Die Begin van ʼn Toekoms
Die volgende dag het Laurie nuwe moed as hulle pad vat met die nuwe voertuig en sleepwa vol benodigdhede, ʼn kragopwekker en medisyne. Sy sal nie toelaat dat enige iets haar wegdryf nie, sy sal veg vir dit wat sy weet haar hele lewe is, Matthew en die seuns.
Matthew sien die vreemde voertuig teen die bergpad opkom en hy stap terneergedruk nader — seker mense wat verdwaal het, dit gebeur baie. Hy sien die armpies waai deur die afgedraaide vensters en hy hardloop die bakkie tegemoet — Laurie is terug, sy en die seuns is hier en hy spring in die lug en swaai sy vuis.
Laurie sien die vuis en sy vrees maar hy is daar en pluk die deur oop. “Julle is terug,” sê hy uitasem.
Skielik weet Laurie hy was bang sy kom nie terug nie, en sy dink — O nee meneer, so maklik gaan jy nie uit my kontrak kom nie, ek gaan bly, ek gaan jou lief maak vir my. — “Het jy gedink dat ek geskrik het en weggehardloop het, nee so maklik gaan jy nie van my ontslae raak nie, ons het ʼn kontrak onthou.” Hy lag en swaai die seuns aan die rondte deur die lug.
Dan verskuif die aandag na Metando wat ewe flink uit die bakkie klim en skielik is al haar mense daar. Sy word dadelik omring en ewe braaf knoop sy haar rok oop en wys waar die pasaangeër is en almal gee ʼn harde sug van verligting.
“Jy sal moet bottels koop, ek dink die volgende hans kalwers kan dalk vanmiddag of môre opdaag,” lag Matthew ewe selfvoldaan en sy beker loop oor.
Hulle ry met die nuwe voertuig en sleepwa op na die huise om Metando met haar sakke medisyne en inkopies eers veilig in die huis te kry. Tot Laurie se verbasing is daar ʼn splinternuwe bed in die huis en sy kyk vraend na Matthew — “Ek dink nie Metando moet meer op die ou bed slaap nie, hulle is nou te oud,” en Laurie voel deernis vir die man, dis die kant van hom wat sy so bemin.
Terug by die kombuis, trek hy vir haar ʼn stoel langs die tafel uit en skink vir haar ʼn koppie koffie in en vir die twee seuns elk ʼn glas melk. Wanneer die seuns opspring en na die kamer hardloop om te gaan speel, gaan sit hy teenoor haar en sy vertel hom van Metando se operasie en die goeie vooruitsigte vir haar gesondheid.
Hy verkyk hom aan haar oë, haar pragtige hare, haar pragtige mond en hy weet sy is sy hele lewe. Hy vra met gemaakte groot oë — “Wat is die nuwe “duur” viertrek se storie.”
“Ek dink nie ʼn Duitse semi-sportmotor is ʼn plaas voertuig nie, hy kan te min laai — so “Whala” ʼn nuwe viertrek vir ons met ʼn sleepwa, met ʼn kragopwekker as jy sal toelaat dat ek een kan insit vir die kliniek en al my voorraad vir die eerste twee maande.”
“Jy was besig “dokter” en hy lag in haar oë en skielik is die ou kameraadskap terug en haar hart sing.
“Wel ek het ook iets om oor te spog.” Hy staan op, steek sy hand na haar uit en roep die seuns om saam na buite te stap. Hy tel Christopher op sy skouers en neem Kyle en haar hand stewig vas en begin in die rigting van die voerkamers stap. Laurie voel die bekende opwelling in haar liggaam, nou verwelkom sy dit, dit is soos sy wil voel as hy haar aanraak — altyd en vir ewig hierna.
Toe sy voor die nuwe kliniek staan, is daar vreugde in haar stem. “Is dit vir my en dit alles in drie dae?”
“Vir jou sodat jy vir eers sal bly en nie planne maak om weg te gaan nie.”
“Ek gaan nie weggaan nie, al raas jy en al skree jy.”
“Ek is jammer,” en die keer, keer hy haar hand wat hom wil stilmaak. “Nee ek is verkeerd en ek is jammer. Ons gaan praat oor alles, ek gaan regmaak wat ek verkeerd gedoen het, nie nou nie, miskien nie vanaand nie maar voor die naweek uit is sal ons twee praat.”
Hy kyk ernstig in haar gesig en Laurie weet, die is die begin waarvoor sy so gebid het. “Vir eers net een ding, ek wil nie die plase oorneem nie. Ek wil nie wag tot die regsondersoek afgehandel is nie. Ek glo Johan was voortvarend maar besef ook niks wat tot nou gesê is, bewys regtig dat die grond myne is nie.” Hy vat haar gesig tussen sy hande vas — “Ek wil nie die grond hê nie Laurie, ek wou dit nooit gehad het nie.”
Hy wag een lang minuut voor hy voortgaan — “Wat ek die ander aand wou sê, ek het vir Johan gesê om op te hou met sy hekse jag en om weg te bly van jou en jou pa af. Hy was woedend. Laurie, ek begin ook dink dat Johan iets persoonlik aan die gang het, wat niks met my te doen het nie.”
Laurie is oorstelp.
“Soos jy weet, dit was Johan wat julle amper met sy viertrek van die pad gedruk het. Ek glo nie dit was so bedoel nie, hy het dalk in sy woede net te vinnig gery, maar ek wil hê jy moet versigtig wees,” bieg hy en sy is sprakeloos, dit is die teken waarvoor sy gewag het wat beteken dat daar hoop is vir ʼn toekoms vir hulle twee.
“Wie sal die plase bestuur?” Laurie kyk bekommerd na hom.
“Die reëling bly soos julle dit nou het, die voormanne wat jou prokureur aangestel het, bly. Dit is jou grond Laurie en ek en Johan het niks daarmee te doen nie.”
In Laurie is die dankbaarheid — vir eers net die geheime los, die eienaarskap los maar veral die moontlikheid dat Selma Townsend se graf leeg is en sy dalk nog leef — of sy reg of verkeerd hieroor is, dit raak Matthew intens.
Vir nou moet sy net vir Johan weghou van die graf af, Matthew het dit nou help verseker en sy laat haar welgeval met sy besluit.
Matthew moet sy oë sluit by die aanskou van haar — Hoe lief het hy haar nie.
Laurie se ekstase oor ‘haar kliniek’ is duidelik en Matthew en sy mense lag van oor tot oor, oor haar vreugde. Hulle weet die is die vrou wat hier hoort, wie altyd hier moes gewees het vir hul seun en hul vriend.
Die indra van die medisyne en die rangskik en regpak van alles doen hulle saam, skouer aan skouer, nooit vêr van mekaar en tussen hulle, die twee seuns wat hardloop, speel en lag, en vir die oomblik is hul lewens volmaak.
Sondag aand na almal tot rus gekom het en hulle met stomende koppies koffie tussen hulle sit, is dit tyd om te praat. Matthew weet wat hy wil sê en hy wil haar goedkeuring hê — “Wat wil jy hê moet ek doen? Enige iets wat jy vra is reg vir my.” Die smeking is in sy oë en in sy stem.
Sy weet al wat sy wil hê is dat hy haar lief sal kry, haar sy vrou sal maak maar dit weet sy, dit is nie wat hy vra nie. “Kom ons vat die geld en gebruik dit vir die welsyn van ons mense hier en daar by die ander twee plase, jou kinders en die grond. Elke sent wat gegee is, is met opregtheid gegee — as jy dit so kan aanvaar.”
“Ek weet nie of dit my toekom nie Laurie. Soos ek gesê het, wet regtelik sou ek graag eers versekering wou hê.”
“Dit is die grond Matthew, nie die geld nie. Die geld is geld wat uit die opbrengs van die boerderye kom en waarop jy ʼn gedeelte reg op het, as jy wil.”
“Laurie maar dit is jou en jou pa en Louis Olivier se persoonlike geld.”
“Nee die plase word as besighede bedryf Matthew — jare al. Ons kry net ʼn gedeelte van die geld soos bepaal is deur oom Louis, die res van die geld is in die ‘besighede’.”
Matthew besef dat Johan Louis Olivier verkeerd geoordeel het. Hy weet wat daardie dag op die plaas gebeur het, ʼn verkeerde besluit was. Hy het gehelp om ʼn man se lewe te neem, ʼn goeie man wie se lewe ontydig kortgeknip is.
“Asseblief dink daaroor Matthew, vir ons al twee se onthalwe,” en hy wil iets in die “vir ons al twee se onthalwe” lees maar hy weet dat hy verkeerd kan wees maar hy weet ook hy sal enigiets vir haar doen — “Kan jy bevestiging van die prokureur kry rakende my regte en indien wel, kan ons môre begin beplan as jy regtig dit saam met my wil doen. Ons gaan die werkers se huise en die totale infrastruktuur oordoen. Ek sal vir jou en die seuns ʼn nuwe huis bou waar ons almal ʼn nuwe “eie kamer” kan hê as jy dit wil hê, ek sal enigiets bou wat jy vra.” Die smeking is in sy stem.
Sy lag want sy is gelukkig — “Ons gaan besig wees, dit kan ek sien, ek sal dalk langer as die kontrak tyd moet bly. Sal dit ʼn probleem wees?”
Hy lag van genot — Ag Heer kan ek U vra dat sy my lief sal kry soos ek vir haar het — flits dit deur sy gedagtes.
“Ons sal streng reëls in plek moet sit wat bindend sal wees.” Speel hy saam.
So maak hulle planne langs die kombuis tafel tot laatnag, nie een lus om eerste die bekoring te breek nie maar helaas weet albei hulle moet gaan slaap. Sy staan op, kyk hom lank in die oë en met ʼn vryf van sy kuif sê sy nag. Sy stoot die deur agter haar kloppende liggaam toe: hoe sal sy dit kan hou as hy haar nooit lief gaan kry nie?
Matthew bly langs die tafel sit, vir eers nie in staat om op te staan en kamer toe te gaan nie, hy weet sy hart begeer die swartkop vrou en om haar sy vrou te maak.
Laurie ry vroeg oggend deur na Mothotlong en skakel vir Joos. Sy gee hom opdrag om ʼn brief op te trek ter bevestiging van die bedrag wat Matthew toekom. Joos is verwonderd en wanneer Laurie hom vertel waaroor hulle ooreengekom het, weet hy — Matthew het die stryd teen die swartkop verloor, tien teen tien sy hart verloor — en skielik weet hy — dit is reg, dit is hoe dit altyd moes wees.
Hy beloof om die brief dieselfde dag met een van die bodes deur te stuur en sy is gelukkig, dit is wat bedoel was in Gregor Armsby se brief aan oom Louis. Dat reg sal geskied vir Selma Townsend of vir Matthew as hulle terugkom en die woorde maal in haar gedagtes — Here sal U ook asseblief reg vir my laat geskied.
Die brief word laatmiddag afgelewer en Matthew is tevrede, al wil hy nie die geld hê nie, is dit een manier om haar hier vas te bind want nou is ʼn deel hare.
Die volgende dag begin hulle lewe in erns saam, bou hulle ʼn toekoms en skielik is elke dag te kort vir al die planne. Daar kom ʼn opwelling van lewe in elkeen op die plaas, almal is soos mense wat besield is, die is die man wat hulle geken het, en die is ʼn vrou wat hulle wil ken.
Die kliniek maak oop en binne ʼn week weet Laurie dat sy hulp nodig het en vra vir Metando of Josefa by die kliniek kan kom werk waar sy opleiding kan kry waartoe sy instem.
Sy begin rond vra na nog mense wat opgelei wil word om in die kliniek te kom werk en die belangstelling is oorweldigend. Laurie weet sy moet met haar volgende besoek aan Ladysmith navraag doen oor hulp met die opleiding van haar verpleegstaf.
Die polisie installeer die radio en die sersant is in sy noppies wanneer hy besef wat werklik op “Emafweni” aan die gang is.
“Dit is wonderlik om te weet hier is ʼn kliniek met ʼn regte dokter, gee julle om as ek die woord so effens versprei.”
“Nee dit sal gaaf wees — ons sal dit waardeer.”
Laurie gaan op na Metando se huis om haar te sien en Metando vra dat almal die vertrek moet verlaat, sy wil met Laurie alleen praat. “Ek wil vir jou vertel wat ek onthou van die dag in die berg, daardie tyd lank terug — dit wat ek nog kan onthou.”
Laurie voel die bewing in haar “uiteindelik” uit haar eie — maar die vreugde is nie daar nie, nie nou meer nie, want dit maak nie meer saak nie. Alhoewel Laurie weet Metando moet haarself nie nou ontstel nie, weet sy, die wroeging in Metando moet uit, om ook vir haar en Seshla kans te gee om verby die gebeure van daardie nag te kom.
“Ek wil dit baie graag hoor Metando maar dit is nie nodig dat dit vandag moet wees nie.”
“Nee, dit moet vandag wees, as ek doodgaan sonder om vir jou te sê sal dit verkeerd wees, maar voor ek vertel wil ek net sê ek is jammer as ek iets sê wat lelik van Nathan is, ek weet hy is jou pa,” en Laurie kry haar uit die diepte van haar hart jammer.
“Sê dit soos dit is Metando, ek sal verstaan.”
Die vertelling ontvou geheime van die verlede wat Laurie so graag wou hoor omdat sy regverdiging soek.
“Ek en Seshla het by Louis in die huis gewerk, ek wil net eers vir jou sê sodat jy sal weet, Louis en Selma het mekaar baie lief gehad, elke dag, elke keer was die liefde daar.”
Vir Laurie sou dit genoeg gewees het want dit is wat sy wou hoor, niks anders nie en Metando gaan voort. “Daar het snaakse dinge gebeur die tyd wat Selma en die ander mense by Louis gebly het tot en met sy weggegaan het. Vreemde mense het in die nag gekom en gegaan. Selma het baie gehuil en Louis het haar teen sy hart gehou.
Toe gaan Selma en Laurika, jou mamma, Pietermaritzburg toe, saam met die twee Engelsmanne, Gregory en Josua. Laurie hoor name wat nooit in hulle huis genoem is nie en sy voel ʼn vreemde heimwee na ʼn ma wat sy nie kan onthou nie.
Metando se vertelling gaan oor insidente en mense wat sy weet net haar pa, oom Louis, Selma Townsend en die vreemdelinge sou weet.
“ʼn Paar dae na Selma weg is, het die polisie daar aangekom en Louis het lank met hulle gepraat. Later het hy vreeslik in die solder gehuil. Ons het geglo Selma is dood maar Louis het niks gesê nie.”
“Watter tyd van die jaar was dit Metando?”
“Dit was in die winter.” Metando sluit haar oë en Laurie sien die vermoeienis maar ook die weemoed op die vervalle gesig. “Louis is toe weg Durban toe vir drie dae en toe hy terugkom het hy die graf gebou, wat ons weet Selma se graf was.”
“Het julle Selma se lyk gesien Metando?”
“Nee, net die swart kis wat van die dorp af gekom het. Louis het Selma vroeg in die môre begrawe — Dawid het hom gehelp.” Laurie bly stil, wag dat sy op haar tyd aangaan.
“ʼn Paar dae later het ʼn vreemde man op die plaas aangekom en met Louis en Nathan gepraat. Nathan was baie kwaad. Hy het sy kop geskud en aanhoudend gesê “Nee — ek sal nie, sy is myne.”
“Regtig Metando kan jy onthou dat die woorde ‘sy is myne’ was?”
“Ja, ons het gedink dit was die plaas want Nathan het altyd gesê die plaas is sy vrou.” Laurie weet dat die aanname wat gemaak is oor wat die woorde beteken, moontlik die oorsaak van al die verwarring is, dit kon almal laat dink het dat alles oor die grond gegaan het maar het haar pa ooit na die plaas verwys?
Metando gaan sag voort. “Louis het na die ander man weg is baie met Nathan gepraat maar Nathan het kwaad gebly en net elke keer gesê “Enige iets anders maar nie dit nie, nooit nie.”
“Ek en Seshla het geweet iets is verkeerd met Nathan en ons het hom dopgehou. Toe naby “Krismis” roep Louis my en sê ek moet vir klein Matthew ʼn tassie pak want Nathan gaan hom wegvat in die oggend.” Laurie se hele wese gaan staan vir een oomblik stil — die is die bekentenis wat sy soek, die woorde en die feit dat oom Louis alles in die ope gedoen het, is ʼn feit en sy weet iewers het iets verskrikliks skeef geloop. Laurie weet nou dat Johan verantwoordelik is vir die verdraaiing van die waarheid want hoe sou Metando die presiese woorde kon aanhaal wat voorheen gesê is.
“Ek en Seshla het ons goed gepak want ons het Selma beloof dat ons na klein Matthew sal kyk tot sy weer kom. Nathan en Matthew het in die donker geloop op met die berg. Nathan het Matthew op sy skouer gedra, die geweer in sy een hand en die tassie in die ander. Ons het agter hom gebly sodat hy ons nie sien nie. Terwyl Nathan geloop het, het hy gedrink, baie gedrink.” Laurie weet die waarheid oor haar pa maar steeds maak dit seer.
“Toe Nathan, klein Matthew op die klip neersit en sy geweer afhaal was Seshla bang dat hy vir klein Matthew wil skiet en het hy Nathan met die kierie gegooi waarna Nathan by die kranse afgeval het.” Nou huil Metando openlik en Laurie hou haar teen haar vas.
Eindelik kom Metando tot bedaring en sy gaan met ʼn hees stem voort. “Ons het die geweer en klein Matthew gevat en eers weggekruip in die berg tot dit weer nag was, toe het ons oor die berg geloop na Lesotho na die ‘missie’ toe. Seshla se pa het by die ‘missie’ gewerk. Die mense by die ‘missie’ het vir klein Matthew gevat en gesê ons moet by Seshla se pa bly, ons moet nie weer terug gaan na die plaas toe nie. Ons moet vir altyd by Matthew bly.” Laurie kry haar uit die diepte van haar hart jammer, ook weet sy dat hulle lewens onomkeerbaar verander het deur wat daar in negentien ses en tagtig gebeur het.
“Ons is jammer dat Nathan seergekry het.”
Laurie druk haar hand, nie in staat om nou te praat nie, want vir die eerste keer is sy aangesig tot aangesig met die gebeure en mense wat moontlik haar pa se epilepsie veroorsaak het. Die moontlikheid dat hy ʼn brein letsel met die knopkierie se slag, of selfs met die val opgedoen het, is nou duidelik maar sy laat dit, dit is nou te laat vir verwyt en sy sal nie die pad loop nie, nie met die ou vrou nie. Wanneer Metando stilbly en haar oë sluit, vra Laurie — “Wat nog?”
“Niks, ons het net altyd by die ‘missie’ gebly en na Matthew gekyk.”
“Het die mense by die ‘missie’ niks gevra nie Metando? Was hulle reg dat Matthew net daar gaan bly?”
“Hulle het niks gesê nie, dit was of hulle geweet het van klein Matthew.” Laurie weet daar is geen verklaring vir waarom hulle Matthew net aanvaar het nie?
Laurie besef ʼn baie groot en belangrike deel van die gebeure is moontlik saam met Vader Christopher St. Nicolas in sy graf in. Sy weet sy sal weldra vir Matthew moet vra na enige briewe of dokumente van Vader Christopher St. Nicolas.
So sit sy en Metando vir ʼn geruime tyd in stilte in die halfskemer vertrek, twee vroue diep onder die indruk van die ellende wat die tragiese gebeure veroorsaak het. Albei op hul eie manier dankbaar vir die lewens wat gered is daardie nag.
“Metando het jy ooit vir Matthew vertel van sy mamma?”
“Nee, Vader Christopher se opdrag was duidelik — ons moet nooit praat oor wat verby is nie want dit sal klein Matthew se lewe in gevaar stel. Hy het gesê ons moet altyd sê klein Matthew is Vader Christopher en Suster Beatrix se kind. Ons het so gemaak tot die dag wat Vader Christopher dood is, toe het ons hom vertel dat hy ʼn ander ma gehad het.”
Laurie is verslae oor dit wat sy nou weet en waar sy opstap na die huis besluit sy om stil te bly oor wat sy gehoor het. Sy weet sy kan dit nie met Matthew bespreek nie, nie noudat hulle verhouding so kosbaar is nie.
Die dae is vol en tussen die sien van pasiënte, oplei van kliniek personeel en grootmaak van die twee seuns vind Laurie tog tyd om te dink aan wat Metando vertel het en aan dit wat verby is, en aan dit wat in die toekoms nog wag.
Die woorde “Nee ek sal nie — sy is myne,” bly in Laurie vassteek — Wat of wie was so belangrik vir haar pa. Sy bly egter stil want vandag is sy gelukkig, sy is by die een wat sy bo alles bemin.
Haar dae is vol van die gewaarwording in haar liggaam, haar soeke na hom in die dag, die liefde vir sy kinders want hulle is deel van hom maar veral, haar liefde vir hom wat alles oorheersend geword het.
Wanneer sy een aand, haar Hemelse Vader opsoek, sit sy die Bybel nie behoorlik op die bedkassie neer nie en die Bybel val van die kassie af. Laurie buk om dit op te tel en tot haar ontsteltenis sien sy dat die leer omhulsel losgekom het. Sy merk die brief tussen die Bybel se leer omhulsel en die buiteblad en haal die brief uit. Sy vou dit stadig oop en aan die fyn handskrif weet sy, dit is Selma Townsend se handskrif en daar is vreugde in haar.
Louis my liefling,
Dit is onbeskryflik vir my om net te dink dat ek jou vir ʼn hele week nie sal sien nie. Hierdie besoek aan Pietermaritzburg waarin ek en Laurika in gedwing is, hou vir my geen vreugde in nie.
Indien ons ooit gelukkig wil wees en ontslae wil wees van my verlede moet ek dit doen, vir jou, vir Matthew en vir my.
Dankie dat jy en Nate met soveel liefde omsien na Matthew en Laurie, gee hulle elk ʼn soentjie van my en Laurika.
Ek het jou liewer as enige iemand anders wat ek ooit geken het of sal ken, jy maak my ongelooflik gelukkig.
Ek sal terug kom so vinnig as wat ons die saak kan afhandel.
Al my liefde
Selma.
Laurie is stom geslaan maar oorweldigend bly, soos wat die vorige kort nota gewys het, is dit duidelik, Selma het oom Louis liefgehad en skielik besef sy dit is moontlik die laaste keer wat oom Louis Selma gesien het voor sy weg is.
In haar het sy die grootste begeerte om uit te hardloop en vir Matthew die brief te lees. Dinge kan nie so aangaan nie, hy het ʼn ma gehad wat hom liefgehad het en by hom wou wees. Skielik is die gevoel dat haar ma haar ook liefgehad het daar want Selma verwys na haar en haar ma in die brief en sy voel ongelooflik gelukkig.
Sy is sedert Metando se vertelling nie meer verbaas dat Matthew nog nooit na sy ma gevra het nie en dit pla haar minder as voorheen want hy het nooit geweet nie. Sy besef ook dat hy nog nooit na haar pa of oom Louis gevra het nie en dit maak seer want sy vrees sy haat is nog te diep. Sy treur vir haarself en vir haar maatjie van die Tugela rivier, en sy voel sy hand in hare.
Sy sit die brief terug in die Bybel op die presiese plek waar hy al die jare was, blaas die lamp dood en raak rustig aan die slaap.
Wanneer hulle saam die volgende oggend by die tafel sit, elk met ʼn stomende beker koffie, weet Laurie dat sy wel op ʼn baie subtiele wyse die pad na die verlede met Matthew moet loop. Sy wil hê hy moet weet wat die waarheid is. Sy wil hê hy moet weet sy glo nie sy ma is in daardie graf op daardie plaas nie. Sy weet dit is ʼn waagstuk maar sy weet sy moet ʼn opening vir ʼn gesprek oor Selma Townsend met Matthew maak.
“Matthew ek weet jy wil nie oor die verlede gesels nie…” en hy lig sy hand om haar te stop.
“Nee gee my ʼn kans asseblief.” Hy laat sy hand sak en sit terug in sy stoel en gee haar die kans om voort te gaan.
“Is daar ʼn moontlikheid dat Vader St. Nicolas enige briewe of inligting gehad het wat aan die gebeure daardie tyd gekoppel kan word.” Hy skud sy kop en dit is ʼn eerlike antwoord want hy het nie sy pa se besitting gaan haal nie — nog nie.
“Ek weet nie want ek het niks gaan haal nie.”
“Jou ma en Louis Olivier was baie lief vir mekaar, hy sou jou nooit leed aangedoen het nie.”
Matthew sit versteend, hy weet hy wil dit hoor maar hy wil dit ook nie hoor nie. “Sy is dood Laurie en hy is dood, kan ons dit nie maar los nie.”
“Nee, dit is waar die geheim lê Matthew — oom Louis sou enige iets in die lewe vir jou ma en jou gedoen het.”
“Wat probeer jy sê Laurie.” Uit haar afleiding oor die datums op die briewe en die datum op die grafsteen sê sy: “Hy sou self haar dood gefnuik het, as dit haar veilig sou hou.”
Matthew sit versteend — “Laurie weet jy wat jy sê…
“Jou ma is nie in die tagtigs oorlede nie, sy is nie in die graf op die plaas nie?” en hy sien die waarheid op haar gesig.
“Waar is sy dan?”
“Ek weet nie, net soos ek ook nie weet wat van my ma geword het nie want my pa kan niks onthou nie.”
Anders as wat Laurie gedink het hy sou reageer, staan hy op, druk haar hand sag en sê — “Weet net, as dit waar is, is ek die grootste gek wat leef maar dalk ook die gelukkigste gek wat leef.” Hy draai om en stap uit na buite want die trane van hoop maak hom blind — Here ek vra U, asseblief laat sy leef.
Laurie bly versteend sit, geen idee hoe om te reageer na wat so pas hier gebeur het nie — Matthew se trane, sy hoop en sy bid — Here ek vra U, laat ek asseblief reg wees hieroor. Besluiteloos oor wat sy verder moet doen, bly sy langs die tafel totdat Josefa en die seuns reg is om saam na die kliniek te stap om die dag se werk te begin.
Sonder om enige iets oor haar pa se terugkoms of die koop van die plaas te sê gaan Laurie twee weke later terug Ladysmith toe — Vir aankoop van medisyne en voorraad — sê sy, en Matthew gaan in ʼn stille vrees in, want hierdie keer gaan sy alleen — wat as sy nie terugkom nie?
Matthew swyg oor die kennis wat hy het dat haar pa terug is, dat hy veilig op Nuutgevond is en dat Laurie hom twee weekliks kan besoek. Alles te danke nog steeds aan Johan wat net nie die verlede kan los nie en Matthew voel die irritasie in hom. Hoe meer hy wil vergeet en vergewe, hoe meer probeer Johan hom opstook en hy is raadop.
Matthew top nog steeds oor die gesprek wat hy en Laurie twee weke gelede gehad het en hy kan steeds nie besluit of hy met Johan oor die moontlikheid dat sy ma nog leef moet praat nie.
Hy weet as sy ma leef, is hierdie hele klug op ʼn einde en kan hy en Laurie moontlik ʼn lewe saam hê. Hy besluit wel om met Johan te praat tydens sy volgende besoek — alhoewel hy diep in hom voel dat dit dalk ʼn verkeerde besluit kan wees.
Laurie ry in Ladysmith toe en met die seuns se geweeklaag nog in haar, weet sy dat sy en Matthew ooreen moet kom dat die seuns elke keer saam moet kom. Wat as hulle hom sê van haar pa? Laurie haat die geheimhouding, die vele leuens wat sy moet weghou van Matthew.
Die weersiens van haar pa waar hy reeds ingeburger is op Nuutgevond, is soos ʼn droom wat waar geword het.
Laurie sit by hom met sy hand in hare en in hulle harte is daar vrede. Dankie Here.
Laurie spandeer die dag by hom, slaap oor en wag geduldig vir wanneer sy weet Zuluika sal bel en die pyn in haar hart oor Zuluika se omstandighede is versmorend — Here asseblief bring ʼn oplossing vir my en vir Zuluika.
Direk na die oproep groet sy haar pa en druk hom aan haar hart — “Sien pappa in minder as twee weke,” en sy soen hom sag op die wang.
Joyce en Joseph stap saam na die motor en Laurie weet, haar pa is in veilige hande.
Sy ry in Ladysmith toe, kry die voorraad, koop die nodige kruideniers en vat die pad na Joos se kantore. Sy vra hom om voort te gaan met sy ondersoek. Haar motief is nou meer as ooit om die verlede oop te maak om te weet waar Johan in haar ouers en oom Louis se verlede inpas. Sy wil weet of Selma Townsend en haar ma leef, waar hulle is en wie hulle mense is.
Sy vertel hom wat Metando vertel het. Laurie herhaal die presiese woorde wat haar pa gesê het vir Joos — “Nee — ek sal nie, sy is myne.”
“Laurie totdat jou pa onthou van die tyd, sal geen mens weet wat dit beteken nie. Sou hy ʼn plaas ‘haar’ genoem het?”
Laurie voel die onrus in haar — “Oom Joos, ongeag Metando se vertelling, selfs al sinspeel dit op die plaas en rede tot dit wat Metando, Seshla en Johan dink my pa wou doen, wil ek nou seker weet, kan enige iemand, die staat ingesluit, enigsins my pa vervolg met die kontrak wat ek met hulle het?”
“Laurie eerstens die kontrak is ʼn klug, sal nie staan in ʼn hof nie.”
“Dit is nie waaroor dit gaan nie oom Joos, ek is vir eers tevrede, ek wil nooit enige kans gee dat die agterdog teen my pa in ʼn hof getoets word nie. Hy sal dit nie oorleef nie. Johan het my gedreig dat as hy enige bewyse teen my pa kry, hy dit sal gebruik, ongeag die kontrak.”
“In die afwesigheid van enige definitiewe bewyse kan hulle niks teen jou pa doen nie aangesien dit duidelik vir die hof sal wees dat jy alles in jou vermoë gedoen het om die kontrak te eer. Indien daar ooit wel bewyse gevind word wat ʼn kriminele aanklag tot gevolg het, soos poging tot moord Laurie, sal die staat dit kan gebruik teen jou pa.”
Die vrees is in haar, ongeag die omstandighede, sy moet die waarheid vind, anders sal haar pa nooit vry wees nie.
Sy sê dit vir hom — “Oom Joos ek moet die waarheid kry, ek voel dat as ek my ma of Selma Townsend of die twee mans wat betrokke was se mense kan opspoor, ek dalk nader aan die waarheid sal wees. Sal jy asseblief begin ondersoek instel na veral my ma en Selma Townsend se mense. My pa sê hulle is van Engeland, ek wil weet of jy hulle vir my kan opspoor.”
Joos sien dadelik die verandering in Laurie, ʼn verandering wat hy verwelkom. Nie meer net die vrees nie, skielik is daar hoop vir die toekoms en hy voel ʼn vreugde.
Wanneer Laurie uit die kantore kom, is sy haastig om so gou as moontlik terug by Matthew en die seuns te wees. Ook sy vrees die weg wees van hom af — Wat as hy gelukkig is as sy nie daar is nie?
Op Emafweni is Matthew buite homself van verlange, hy worstel met sy eie vrees, wat as Laurie uitvind dat hy Johan gevra het om uit te vind of sy ma dalk nog leef?
Hy herroep Johan se skok ʼn paar uur vroeër toe hy die vraag gevra het. Dit was asof hy witter as wit geword het en Matthew weet nou dat hy dalk ʼn ernstige fout begaan het.
Wat as Laurie uitvind dat Johan nog steeds ongeag sy opdrag aan hom, op haar spioeneer en dat ‘hy’ Matthew alles weet van Metando se vertelling oor haar pa, haar besoeke by haar pa, haar besoek by die prokureur — alles. Hy vrees dat sy hom sal haat en nooit vergewe nie, hy vrees die dag as sy uitvind. Hy het haar so lief, maar weet nie hoe om ʼn einde te maak aan al hierdie dinge nie. Treur hy teen die hemele uit.
Die weersiens as sy stilhou bring rus in hom — Sy hart is terug.
Laurie begin ʼn klein kombuisie sodat hulle die kliniek besoekers ʼn koppie koffie of sop en ʼn toebroodjie kan aanbied, aangesien die getalle geweldig toegeneem het en die wagtyd soms baie lank is.
Metando en haar dogters neem die kombuisie oor en skielik is die kliniek ʼn inkomste vir verskeie mense, ʼn werk, ʼn loopbaan, ʼn kuierplek. Kom mense met hul kinders om ʼn koppie koffie te drink en ʼn toebroodjie te eet en Laurie en die kliniek heg ʼn gemeenskap saam.
Sy vra Matthew of die seuns saam Ladysmith toe kan gaan vir die drie dae en hy stem in. So weet hy sy moet terugkom want sy het sy seuns by haar, hy sien nie kans vir die drie dae se gehuil van die twee seuntjies wanneer sy weg is nie en besef dat hulle tien teen een glad nie eers oor hom sal vra in die drie dae nie. Hy weet dat Laurie sy kinders se harte gesteel het en dat sy hulle alles is.
Sy het besluit om die seuns vir haar pa te gaan wys, al weet sy dat Matthew omgekrap sal wees as hy ooit moet uitvind maar sy weet haar pa sal hulle wil sien, hulle wil leer ken. Haar hart loop oor van vreugde, sy gaan haar pa sien, sy sagte kop teen haar hart druk, die seuns vir hom wys en dit sing in haar.
Die trane loop vry oor Nathan se wange as hy Matthew se kinders teen sy hart druk en vir die eerste keer in maande huil pa en dogter saam oor hul verlies maar ook oor dit wat nou voor hulle is.
Hy sien dit in haar oë — haar houding. “Jy is lief vir hom — so gou, so lief?”
“Ja so gou, so lief, dit maak eintlik seer.”
“Dit was so met Louis en Selma, ook” en Laurie kyk vinnig op in sy oë — “Sal jy my eendag daarvan vertel?”
“Eendag as dit die regte tyd is. Ai, Laurie wat het ek tog daar in my jeug aangevang dat jy so verskriklik seer moet kry,” en die trane vloei uit sy oë.
“Oupa moenie huil nie,” sê Christopher en hy vryf met sy klein handjie die trane weg. Nathan huil weer soos die dag toe hy besef het dat hy nie vir Matthew doodgemaak het nie en Laurie druk hom en die seuntjies vas teen haar hart en sy bid — Here asseblief jy moet red wat te redde is vir ons almal.
“Wat is dit pappa, wat is dit wat jou so verteer? Jy weet dat jy Matthew nooit wou leed aandoen nie, wat is dit?” en Nathan krimp ineen voor haar wat hy liewer as die lewe het, altyd van daardie eerste dag toe hy haar die eerste keer gesien het. Hy weet die waarheid sal weldra uitkom en hy vrees die dag met alles wat oor is in hom want sy gaan hom haat vir wat hy in sy onbesonne jeug gedoen het.
Laurie weet iewers is daar ʼn groter geheim as Matthew se lewe en sy draai weg want sy weet dit raak haar persoonlik — en sy is bang.
Sy los die twee seuntjies daar by haar pa saam met Joseph en Joyce. Sy gaan sien die Departement van Gesondheid en hulle stem in om te help met HIV opleiding en medikasie, sowel as opleiding van haar kliniek personeel. Laurie se vreugde loop oor. Sy is verheug, uiteindelik het sy weer ʼn praktyk en op die koop toe ʼn kliniek wat binnekort met volledig opgeleide staf sal spog. In haar is daar ʼn begeerte om dit met Matthew te deel want sy weet hy keur die kliniek goed.
Sy en die twee seuntjies gaan terug huis toe maar sê niks van haar pa. Net soms vra hulle oor hulle oupa en sy bid dat Matthew sal dink dat dit na sy pa is.
Matthew weet alles — Is Johan nie elke dag op hoogte van elke beweging nie? Hy weet alles want Johan het homself ʼn lewenstaak opgelê, een wat te veel vir Matthew geword het en in Matthew se kop maal dieselfde gedagtes en hy skrik vir homself. Hy weet waar Nathan is, waar hy nou in Ladysmith is en hy weet dat sy en sy seuns hom besoek het, daarvoor het Johan gesorg.
Matthew se hart gaan uit na Laurie en hy praat met homself — hy het haar ʼn onreg aangedoen en hy wil haar nie verder seermaak nie, nie nou meer nie want sy het sy hart in haar besit. Hy weet, hy kan haar nie laat gaan nie, al weet hy die kontrak is ʼn klug — Here help my — gaan dit deur sy gedagtes.
September kom en gaan, vroeg in Oktober weet Laurie dat sy een of ander tyd met Matthew moet praat. Sy weet die onthul van die waarheid is kardinaal vir hulle albei om vorentoe te gaan. Sy weet die oopmaak van die kartondoos uit oom Louis se solder, die kluise in oom Louis en hulle huis en die vind van moontlike dokumente van Matthew se pa by die sendingstasie, ʼn moet geword het.
Sy bid dat daar antwoorde sal wees, antwoorde oor waarom Vader Christopher Matthew by hom gehou het en nooit probeer uitvind het of Selma Townsend nog leef nie, of het hy?
Sy weet waarom sy sloer want in haar is die vrees — as alles eers oop is sal Matthew haar dalk vra om te gaan en dit kan sy nie, nie nou terwyl sy hom so lief het nie.
Dit is November en die nuwe huis teen die rand staan al dakhoogte as die groot swart viertrek die werf intrek. Laurie en Matthew staan voor die nuwe huis met elk ʼn seun op hul heup en draai om en wag dat die mense uitklim — seker weer stappers wat verdwaal het.
Laurie voel eerder as wat sy sien, hoe Matthew vassteek — “Judith!” sê hy meer vir haar om te hoor, as wat dit hom raak en Laurie weet wie dit is maar sy swyg. “Die seuns se ma.” Daardie woorde vertel haar wat sy wil hoor — nie ‘My vrou nie.’ Dit sing in haar.
Sy weet die geheim sal ook vandag oopgemaak word soos wat al die ander geheime mettertyd oop sal kom. Sy sien die uitdaging en bravade op die vrou se ongelooflike aantreklike gesig en in haar rebelleer dit. Sy neem Matthew se hand en sê so hard sy kan — “Kom liefste lyk my hier is ʼn besoeker vir ons.”
Aan die vrou se gesigsuitdrukking weet Laurie sy het dit gehoor, sien sy hoe dit haar bravade effens demp en in haar is vreugde. “Matthew,” — sing-praat die vrou terwyl sy ewe met oop arms in sy rigting stap.
Matthew hou Laurie terug en dit kom koel van hom — “Hallo Judith, wat bring jou terug na Emafweni?”
Sy gaan staan, skielik is die glimlag weg en is haar gesig lelik van venyn. “Ek kom my kinders haal. Kom na mamma toe Christopher.” Sy probeer Christopher uit Matthew se arms neem maar die seuntjie gil en duik in Laurie se arms in.
“Mamma moet nie dat die tannie my vat nie!” gil hy. Dit bring Judith tot stilstand.
“Sy is nie jou mamma nie, ek is!” skree sy dat Christopher en Kyle gelyk in trane uitbars. Skielik, voor die gesprek werklik begin het Laurie genoeg gehad. “Liefste, ek neem die seuns in want ek wil hul nie verder ontstel nie.” Sy draai na Judith en die woorde kom sag, kalm en beslis. “Die is my en Matthew se seuns, jy het hulle afgeteken, weggegooi en verdwyn. Ons het reeds met ʼn regsproses begin wat jou sal verhoed om ooit weer naby hulle te kom. So sê jou sê en gaan dan asseblief want as jy weer hier opdaag sal jy in hegtenis geneem word. Wees verseker, jy sal nooit weer enige reg op die seuns van ‘ons’ hê nie.” Daarmee draai Laurie om en stap die huis in met die twee seuns wat aan haar vasklou.
Matthew is stom van verbasing oor die vuur in Laurie en in sy hart bemin hy haar meer as ooit.
“So, is dit mevrou Matthew St. Nicolas nommer twee?” vra Judith vermakerig.
Matthew sien die venyn in haar oë maar antwoord: “Ek dink jy moet gaan Judith, jy het nie meer ʼn plek hier op Emafweni nie. Jy het dit self gesê en self gekies toe jy my so vinnig geskei het. So ek sal bly wees as julle sal gaan en ons uitlos, jy het ons genoeg seergemaak.”
“Jy het nie die laaste van my gesien of gehoor nie, dit kan jy glo. Of ek hulle afgeteken het of nie, ek soek hulle terug. Aan die bouery hier lyk dit my of jy my dalk onderhoud skuld.”
“Gaan net Judith, niks hier is joune nie.”
Sy draai om, klim in die viertrek, slaan die deur toe, en met klippe wat onder die wiele spat verdwyn sy teen die berg af.
Matthew stap onmiddellik die huis in en neem Laurie in sy arms, die gebeurtenis het skielik die vuur wat liefde bring, in albei aangesteek. Hulle klou aan mekaar vas, beide se lende is lam en as sy mond hare vind ontplof die ekstase in hulle.
Laurie voel Matthew se reaksie hier teen haar liggaam en die opwelling in haar eie liggaam maak haar lighoofdig. Hulle bly so vas teen mekaar staan om hul liggame kans te gee om tot bedaring te kom. Die oomblik wanneer hul oë mekaar vind, is dit daar — verwondering, begeerte, liefde — en die wete is in albei.
“Mamma… wat doen mamma-hulle?” en die klein stemmetjie en handjie wat Laurie se romp trek ruk Matthew en Laurie terug na die werklikheid — Wat is ons besig om aan te vang? flits dit deur Laurie se gedagtes. Albei weet die punt was onvermydelik oor die afgelope weke. Dit is presies waarheen hul verhouding die afgelope weke beweeg het en dit is presies waar albei wil wees.
Laurie druk Matthew se kop vir een wonderlike oomblik teen haar vas en wikkel haarself los uit die omhelsing terwyl sy haar hand sag teen sy rug beweeg. Sy sien die begeerte in sy oë en sy voel dit in haar vrouwees.
“Kom liefste kom help mamma koffie maak vir ons almal.” Sy tel die seuntjie op en soen hom op die voorkop.
Matthew bly staan, nie by magte om te beweeg met wat in sy liggaam aangaan nie, hy glimlag — Die klein duiwel, sy het presies geweet wat haar streling oor sy rug aan hom doen — dit weet hy.
Die gevoel van afwagting bly tussen hulle en Matthew gaan met trae tree uit die huis na die grensdraad waar die mans besig is om te werk. Die wete is in hom — vanaand maak hy reg wat verkeerd is, vanaand wil hy Laurie bemin soos wat sy liggaam en hart vra.
Matthew kyk dadelik saam met die ander mans op wanneer hulle die geskreeu hoor, hy sien Seshla oor die gras aangehardloop kom en met ʼn beklemming in hom begin hy dadelik hardloop — iets is verkeerd, iets verskrikliks is verkeerd — dit weet hy.
“Matthew jy moet huis toe kom, die radio het gepraat en Laurie huil vreeslik.” Matthew voel hoe sy hart gaan staan — Here ek smeek U, moenie dat iets nou skeefloop nie want ek kan nie sonder haar lewe nie — Matthew weet sonder haar sal sy lewensvreugde weg wees.
Wanneer Matthew die huis in hardloop vind hy Laurie in trane en dit ruk hom tot stilstand. “Wat is dit? Wat is verkeerd.”
Sy gee die radio se gehoorstuk vir hom. “Hallo, Matthew hier.”
“Matthew dit is ek Sersant Desmond Dry van die Polisie stasie — Dokter Koot Froneman van Ladysmith Hospitaal het laat weet dat Laurie se pa in ʼn ernstige toestand is en sy moet dringend hospitaal toe kom.”
In Matthew ruk die vrees en hy bid weer woordeloos — Here, ek smeek U, moenie dat hy sterf nie, as daar enige iets is waarvoor ek hom moet vergewe, vergewe ek hom vir alles — spaar sy lewe net asseblief.
Hy neem haar in sy arms en terwyl hy haar op die voorkop soen sê hy sag: “Ek is verskriklik jammer liefste, kom ons kry jou dinge reg sodat ons kan ry.”
“Nee, laat ek alleen gaan Matthew, ons kan die plaas en die kliniek nie alleen laat nie. Dit sal ook die seuns te veel ontwrig.”
Laurie laat hom en die huilende seuntjies dertig minute later op die stoep agter waar sy in die skemerte wegry met ʼn hartseer wat haar wil versmoor — vir hom en vir haar pa. Skielik is die wonder van die November maand vir haar ʼn bittere tyd — As haar pa sterf, sterf die hoop om by Matthew te bly — Here asseblief help.
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.