Jongste aktiwiteit:

Waar Liefde Begin – Hoofstuk 5

Hoofstuk 5 — ʼn Nuwe Kameradie

Einde September, terwyl die natuur verander van bruin na die ongelooflike kleure van die lente weet Laurie dat sy fokus verloor het oor haar doel met haar verblyf op die bergplaas. Sy gryp elke oomblik aan om saam met Matthew en die seuns te wees. Voel dit of niks hul wonderlike samesyn kan skaad nie.
Laataand die volgende aand terwyl hulle reeds lê, is daar ʼn harde gehamer en geroep by die agterdeur. Laurie kom ʼn kortkop voor Matthew by die deur aan en as sy oopmaak staan Josefa, Metando se jongste, voor die deur.
“Ma Metando is siek, en pa Seshla vra die dokter moet kom.”
Matthew voel die beklemming in hom oor ‘Sy ma’ en die vrou wat die nag moet in. Sy sien dit in sy oë en vir die eerste keer raak sy hom uit haar eie aan en vat sy, sy hande vas en die skok is in albei by die onbeskryflike gevoel wat die aanraking in hulle wakker maak. Dit kom effens uitasem van Laurie — “Ek is reg Matthew, ek sal niks oorkom nie, bly jy hier by die seuns, ek sal laat weet as jy moet kom.”
Hy vat haar hand een oomblik en hou haar terug. “Ek is ʼn dokter Matthew en dokters loop laatnag alleen na pasiënte toe,” sê sy, en glimlag op in sy gesig.
Matthew weet hy moet haar laat gaan maar die beklemming wat hy voel wil hom versmoor. Die onrus oor Johan se belangstelling in Laurie as persoon, bly in hom, veral noudat hy seker is dat sy dopgehou word.
Laurie trek haar hand uit syne en draf na haar kamer, trek ʼn langbroek en sweetpakbaadjie aan, gryp haar mediese tas, en drafstap by die vertrek uit.
Hy laat haar gaan terwyl sy hele wese skree om saam met haar deur die helder maanlig te draf. Hy laat die deur oop, draai om, stook die vuur en begin ʼn vars pot koffie.
Laurie hardloop met haar mediese tas agter Josefa aan en wonder of Metando se grieperigheid vererger het. Alhoewel sy haar medikasie gegee het, het Metando die afgelope twee dae nie ingekom nie. Al wat Seshla gesê het, was “Metando voel nie goed nie.”
Toe Laurie gevra het of sy moet gaan kyk na Metando, het hy dit van die hand gewys, sy kon nie besluit of die wegwys oor die siekte of oor die verlede was nie en sy het dit laat verbygaan. Nou is sy spyt dat sy nie probeer het om Metando te gaan sien nie. Konfrontasie met een van die ‘getuies’ is die laaste ding wat sy wil hê.
Soos hulle naby die huise kom, sien sy dat al die gesinne wakker is en in Seshla se huis staan. Hulle staan dadelik opsy as hulle Laurie sien en sy word behoorlik die huis ingelei.
Metando is bleek van pyn en Laurie weet die is ernstig. Sy sien alles raak — die linkerhand wat die bors vashou, die onreëlmatig op en af beweeg van die bors, die regterhand wat die linker bo-arm omvou, haar kortasem, die sweet wat teen die voorkop en wange afrol — en Laurie weet — Metando het moontlik reeds ʼn hartaanval gehad of daar is ʼn hartaanval op pad.
Sonder om haar oë van Metando af te neem maak sy haar tas oop en haal haar stetoskoop uit. Die flou ongereelde klop van die hart bevestig haar vermoede dat die hart swak is. Sy ondersoek haar so volledig as wat die omstandighede toelaat. Sy voel verlig as sy besef dat sy nie ʼn hartaanval kan diagnoseer nie, maar sy kan hoor dat daar skade op die hart is, moontlik ou skade. Sy weet — Metando moet onmiddellik by ʼn hospitaal kom sodat sy seker kan maak presies wat aan die gang is met haar hart.
Laurie dien die nodige medikasie toe en sê vir Seshla dat hy gereed moet maak om saam te ry sodra sy terug is met die motor sodat hulle Metando hospitaal toe kan neem. Daar gaan ʼn geweeklaag deur die groep maar sy wuif hulle stil en dui kalm aan dat Metando nou spesialis aandag nodig het.
Wanneer sy oor die werf gehardloop kom, is Matthew by die deur en hy vang haar en druk haar teen sy bors vas.
“Wat is dit? Wat makeer haar?”
“Dit is haar hart.”
“Ag nee, net nie dit nie.”
“Wag Matthew, dis net haar hart, nie ʼn hartaanval nie — nog nie.”
Laurie kan hoor dat Matthew buite homself van bekommernis is as hy amper onsamehangend prewel. “Wat nou.”
“Ek gaan haar deurvat na die hospitaal onder in Mokhotlong om haar te stabiliseer. Dan neem ek haar deur na Ladysmith sodat ek ʼn spesialis kan kry om presies vas te stel wat fout is.”
“Hoekom nie net by Mokhotlong bly nie?”
“Omdat ek weet daar is nie die toerusting of die geriewe of die spesialiste wat ons nou nodig het nie. Dit is beter dat ek haar vat na waar ek weet alles is.”
“Ek gaan saam.”
“Nee, ek dink jy bly hier by die seuns en ek stuur Josefa hiernatoe om by julle te kom slaap.”
“Wat as sy doodgaan?”
“Matthew glo my, sy gaan nie vannag aan haar hart doodgaan nie, sy het definitief ʼn probleem en dit gaan ek uitsorteer.” Laurie bid tot God dat Hy haar woorde waar sal maak.
“Kom help jy my gou komberse kry sodat ek haar op die sitplek kan toe maak — ek vat Seshla saam.”
Wanneer hulle uit die huis stap is Josefa daar.
“Pa Seshla sê ek moet by die kinders kom slaap.”
Matthew stoot die deur oop sodat Josefa kan ingaan, en die verligting is op sy gesig. “Josefa slaap op my bed, die seuns is reeds daar.”
Josefa knik net haar kop en Laurie sien die vrees.
“Dit sal goed gaan met jou ma, so hou moed.”
Josefa gryp haar hand vas. “Dokter, ek weet jy sal mooi kyk na my ma.”
Hy ry saam tot by die huise en hy help haar om Metando in die motor vas te gord. Hy praat met Seshla wat openlik erg ontsteld is en hy verseker hom dat daar mooi na Metando gekyk sal word.
Vir een oomblik vang Laurie se oë die van Matthew en sonder dat hy dit kan help vat hy haar hand en druk dit teen sy hart. “Ry asseblief versigtig, moenie iets oorkom nie.”
Hy voel die vrees in hom wanneer die rooi liggies van die motor al kleiner word en die nag in verdwyn.
Laurie voel ʼn steek van spyt, sy weet as sy ʼn behoorlike kliniek gehad het kon sy Metando daar gestabiliseer het. Sy weet — haar volgende projek is ʼn kliniek — sy moet net eers by Matthew verby kom.
Sy moet erken, sy voel ook ʼn vreugde om in te gaan Ladysmith toe, sy wil Joos gaan sien en die is ʼn uitstekende geleentheid sonder dat Matthew iets sal vermoed.
Sy wil haar pa terug bring Ladysmith toe, daar is geen rede waarom hy verder in Namibië moet wees nie. Sy wil hom by haar hê — sy wil hom sien wanneer sy tyd het en basta met almal. Sy sal by die kontrak hou, al kan hulle nou verder niks teen haar pa doen nie.
Sy dwing haar aandag terug na die pad, dit is donker en sy kan nie bekostig om ʼn ongeluk te maak nie. Met die stop by Mokhotlong se hospitaal kom die ongevalle afdeling se staf uit sodra hulle die ligte sien.
Metando word vinnig op ʼn trollie geplaas en in noodgevalle ingestoot. Die dokter aan diens begin dadelik met ʼn deeglike ondersoek en bevestig Laurie se diagnose. Hy bevestig verder dat hulle nie ʼn bed of die toerusting het om Metando op te neem of om die toetse te doen nie. Hy stem saam dat dit veiliger sal wees om Metando na ʼn groter hospitaal oor te plaas.
Hulle besluit saam om Metando met die ambulans verder te vervoer en binne twee ure is die ambulans met Metando en sy en Seshla met die motor, op pad na Ladysmith.

Hulle stop by twee vulstasies op pad sodat almal iets te ete kan kry en die geriewe kan gebruik voor hulle weer in die pad val en vyf ure later stop hulle voor die Ladysmith Noodgevalle se afdeling.
Na die noodgevalle staf Metando op die trollie geplaas het, verloop alles vinnig en sonder probleme. Die staf ken haar en is in hulle noppies om haar te sien.
Metando word vinnig op die trollie deur die gange gestoot en Laurie vat Seshla aan die hand en drafstap saam met die bewegende trollie.” Hart eenheid toe nè dokter.” Laurie glimlag en knik haar kop.
By die noodeenheid gekom word Metando die teater ingestoot en die koppel van die masjiene word in enkele minute gedoen.
“Hallo meisiekind!” Hoor sy hier by haar oor en sy spring-swaai met vreugde om. Sy val Koot behoorlik om die nek.
“Oom Koot ek is so bly jy is hier, dit is ʼn bestiering dat jy vanaand op diens is.”
“Waar kom jy vandaan meisiekind en wat gaan op die plaas aan?”
“Dit is ʼn lang en seer storie oom Koot, maar ons sal later daaroor gesels.”
Hy buk oor Metando en met ʼn — “Nou wat het ons hier.” Vat hy haar hand vas.
“Dit is Metando, dis haar hart. Dit is nie ʼn hartaanval nie, maar ek kan skade op die hart hoor.”
Koot Froneman knik sy kop en vat oor, Laurie voel die bewing uit haar gaan en in haar is die dankbaarheid — Dankie Here dat jy oom Koot vanaand op diens gesit het, vir Metando en Matthew.
Koot stel Metando gerus en sê effens gebiedend: “Gaan maak die opname klaar en kry koffie en ʼn broodjie, ek gaan nog ʼn geruime tyd hier wees.”
Laurie wil nog teëstribbel maar onthou skielik van Seshla by noodgevalle se ontvangs. Sy stel Metando gerus en drafstap deur die gange met die wete dat hy seker buite homself van kommer en vrees vir die vreemde moet wees.
Hy sit daar, die ‘pa’ wat Matthew se lewe gered het en miskien ook die van haar eie pa en haar hart gaan uit na hom.
Die verligting is duidelik op sy gesig as hy haar sien en sy neem sy hande in hare en stel hom gerus. “Seshla ʼn baie goeie dokter en vriend van my, kyk nou na Metando, jy kan nou probeer ontspan.”
Sy sien die vrees vir dit wat hy nie ken nie en haar hart gaan uit na hom. Skielik vorm daar ʼn band tussen hulle as hy uit sy eie, haar hand vat en dit druk. Daardie band wat sy wou hê vir die getuienis en nou in die oomblik maak alles in die verlede nie saak nie.
Hulle spandeer ʼn geruime tyd om die opname te voltooi en Laurie betaal die deposito. Vir die eerste keer vandat sy op die plaas gekom het, voel sy, haar en haar pa se geld word nou vir die regte doel aangewend — Matthew en die mense wat hom gered het.
Sy neem Seshla na die kafeteria en hulle drink koffie terwyl albei ʼn toebroodjie eet. Laurie sien dit is reeds na vier in die oggend en sy wens sy kon Matthew bel. Sy weet so sonder kommunikasie kan hulle verseker nie verder voortgaan nie. Sy weet al gaan dit struweling veroorsaak, sy en Matthew sal moet praat, dinge sal moet verander, vir almal se beswil en veiligheid.
Sy sien Seshla se kop knik van vermoeienis en sy neem hom na die enkelkwartiere kamer waar sy altyd oornag.
Dit is vyfuur die oggend toe Koot in die wagkamer instap en Laurie staan dadelik op. “Sit my kind dan gesels ons.”
Sy gaan sit weer en hy gaan sit aan die oorkant met ʼn koppie koffie. “Dit is die hart, nog nie ʼn hartaanval nie maar haar ou hart is moeg. Ons sal vir eers ʼn pasaangeër moet insit om haar aan die lewe te hou. Sonder een sal haar ou hart nie lank hou nie. Hartomlyning is die volgende stap — dit sal die toetse môre vir ons bevestig.”
Die verligting is in Laurie, sy weet dit is vir Matthew, Seshla en Metando, en almal wat die mens liefhet.
Koot neem haar hande in syne. “Wat is dit nooi, wat gaan aan, waarheen het jy verdwyn?”
Sy vertel hom die hele verhaal, ook die goed en die sleg en hy verstaan. Skielik nou dat alles uit is, gedeel is met iemand wie sy vertrou, voel sy die spanning verdwyn, voel sy vrede in haar gemoed.
“Die sondes van ons vaders, soms van ons ouers, haal ons soms in my kind, soms word die verkeerde mense gestraf.”
“Sal oom kan uitkyk vir my pa terwyl ek daar op die bergplaas is? Ek het hom weggestuur Namibië toe maar ek wil hom terugbring sonder dat iemand weet, sodat ek naby hom kan wees.”
“Ek glo ons sal ʼn manier kan vind om jou uit hierdie ding te kry.”
“Ek sal vir nou die las dra solank dit nodig is oom Koot. Ek het oom Joos opdrag gegee om aan te gaan met die saak en ek wag vir die resultaat daarvan. Wat ek nie kan bekostig nie, is dat my pa in ʼn hof of in ʼn tronk beland.”
Sy kyk hom stip aan — “Ek gaan op die plaas aanbly want ek wil antwoorde kry oom. Daar is te veel geheime wat eers oopgekrap moet word. Dit gaan ons niks help as die verlede duister bly nie. Ons sal nooit in vrede kan leef as die waarheid nie uitkom nie.”
“Dan moet jy eers bly. Ek sal bid dat dit reg uitwerk vir jou.”
“Dankie oom.”
“Ek wil grond hier buite Ladysmith koop, ʼn klein plasie, as daar een is.”
“Ek sal vir jou uitvind, ek weet hier is plase te koop. Kom ons kry eers ʼn plaas, ons bring jou pa terug en vra Joos om vir ons die koop deur te kry. Jy hoef jou nie oor jou pa te bekommer as hy eers hier is nie, ons sal seker maak dat dinge met hom reg is.”
Sy vat sy hand vas en druk dit — “Ek weet oom sal help, ek wou oom kom sien en hier is oom Koot vanaand.”
“Laurie een ding weet ek, jou pa en Louis sou nooit enige persoon se dood gesoek het nie. Niks nooi, geen geld of grond sou ooit enige oorweging vir so iets gewees het nie. Dit is soos jy sê — om die gemors op te los, moet die waarheid oopgemaak word. So jou besluit om eers voort te gaan, is reg.”
“Ek het hier by die hospitaal begin toe jy so vyf jaar oud was, ek onthou nog baie goed hoe gelukkig jou pa en Louis was met jou ma en Selma.”
Hy dink een oomblik — “Ek onthou jou en die seuntjie goed — julle het altyd hand aan hand geloop,” en hy glimlag.
“Dit was ʼn hartseer storie toe Selma en jou ma weg is. Ek onthou nie regtig wanneer dit was nie maar eendag was hulle nog hier en die volgende dag was dit chaos — Selma is dood en jou ma weg.” Hy skud sy kop by die herinnering en sy sien die frons op sy gesig — so asof iets hom weer byval maar hy skud dit af.
“Gee my die foonnommer in Namibië, sodat ek kan begin met die reëlings. Hoe kry ek jou in die hande as ek iets moet deurkry.”
“Op die oomblik net deur die polisiestasie by Mokhotlong. Ek gaan probeer om op ʼn manier, ʼn telefoon of minstens ʼn radio op die plaas te laat installeer.”
Laurie gee Koot die nommer op die plaas in Namibië, en stap na die enkelkwartiere om Seshla te gaan haal. Hulle stap stil deur die gange na waar Metando rustig in die bed lê.
Seshla raak verbouereerd toe hulle by die saal instap en hy die masjiene en pype sien maar Koot stel hom gerus. “Ek sal later vandag die finale besluit maak maar ek sal die pasaangeër later vandag moet insit. Ek gaan Metando nog so paar dae hier hou voordat julle haar kan terugneem.”
Laurie voel die tweestryd in haar — Matthew en die seuns of Metando.
Metando maak egter die besluit. “Julle moet huis toe gaan na Matthew en die seuns. Kom haal my soos die dokter sê, ek verstaan die mense, hulle is van my mense,” — en dit is reg vir Laurie en Seshla.
“Ons gaan bly tot sy uit die teater kom en sodra Seshla haar gesien het vat ons die pad terug plaas toe.”
“Gebruik die kamers in die dokters enkelkwartiere. Ek kom roep julle wanneer ek inkom vir die prosedure.”
Dit is halfsewe as Laurie en Seshla gaan lê en haar laaste gedagte is dat sy later in die oggend vir die polisie op Mokhotlong moet skakel en sal vra om ʼn boodskap na Matthew deur te vat.

Matthew voel die spanning in hom — Hoe dom was hy nie — geen foon en geen kommunikasie omdat hy wou verseker dat Judith hom nie kan kontak nie en nou is hy die een wat daaronder lei. Hy die een wat nie eers weet of Laurie veilig by die hospitaal uitgekom het nie. Hy besluit om die week nog ʼn telefoon of ʼn radio aan te skaf, so wil hy nooit weer voel nie.
Josefa het haar hande vol met die seuns wat onophoudelik huilerig na hulle ‘mamma’ vra en Matthew weet dat sy sondes hom ingehaal het. Hy het hulle vasgemaak aan haar en as sy moet weggaan gaan dit hy en die seuns wees wat die meeste gaan lei, en dit pyn in hom. Hy besluit om die werkers alleen land toe te stuur, om naby die huis te bly vir ingeval iets gebeur.
Dit is half elf as hy die polisieman op die perd teen die hang sien opkom en skielik trek die vrees sy keel toe — Ag Heer moet net nie dat sy iets oorgekom het nie, ek sal regmaak wat ek verkeerd gedoen het, hou haar net veilig.
Konstabel Pieter Wyman wuif vir Matthew en Matthew drafstap die perd te gemoed. “Boodskap van Ladysmith — Laurie het laat weet Metando moet ʼn pasaangeër kry en dat sy en Seshla terugkom sodra Metando uit die teater is. Sy sê jy kan ontspan hulle sal laat-aand terug wees.”
Matthew voel sy knieë effens knak en vir ʼn oomblik hang hy aan die perd se teuels. “Dankie Pieter, baie dankie vir die moeite.”
“Jy moet op die radio netwerk inskakel Matthew, dit sal die regte ding wees om te doen.” Tot Pieter se verbasing want hulle het Matthew al verskeie kere gevra om in te skakel, stem hy in.
“Ja, Pieter ek wil dadelik inskakel, wat moet ek doen om dit in te kry.”
“Dit is wonderlike nuus, ek bring môre die instrumente sodat ons dit kan installeer. Jy weet alles is gratis en indien jy op die netwerk is, word dit beskou as polisiëring. Al wat ons vra is jou bystand wanneer jou hulp benodig word.”
“Dankie maat. Wil jy koffie drink?”
“Ja asseblief, ek voel dun. Die sersant het my uitgejaag toe die boodskap gekom het, so ek het nie tyd gehad om te eet nie.”
Hulle sit rustig by die kombuistafel terwyl Pieter koffie en beskuit nuttig. “Matthew wie is Laurie Kilber?”
Matthew maak sy oë een oomblik toe — in hom draai die vraag — Ja Matthew, wie is Laurie Kilber? — “Die wonderlikste mens wat leef,” en Pieter verstaan wat hy bedoel.

Dit is ongeveer twaalf uur toe Matthew die motor hoor en hy hardloop na buite. Hy voel die teleurstelling in hom toe hy Johan se swart viertrek op die werf sien stilhou — Net nie dit vandag nie — flits dit deur sy gedagtes.
Hy neem skielik ʼn besluit, die is die laaste keer wat hy met Johan gaan praat. Die heksejag stop vandag, hy wil geen verdere aandeel daaraan hê nie.
Johan kom met ʼn uitgestrekte hand aangestap en vir die eerste keer in Matthew se lewe voel hy ongeneë om iemand se hand te skud. “Kom ons gaan drink ʼn koppie koffie Johan.”
Wanneer hulle albei met ʼn beker koffie sit, begin Johan onmiddellik praat en Matthew voel die irritasie in hom. “Laurie se kar is in Ladysmith opgemerk, weet jy wat sy daar doen?”
Nou weet Matthew dat dit nie toeval is nie, Johan hou vir Laurie dop, hy voel die onrus in hom en hy weet hy het genoeg gehad, die heksejag na die Kilbers moet nou einde kry.
“Ja Metando is siek, sy en Seshla het haar na Ladysmith se hospitaal geneem.”
“Matthew jy moet haar nie kans gee om met die twee mense te praat nie.”
“Waarom nie Johan? — Hulle het name — Metando en Seshla.”
Johan hoor die irritasie en dit staan hom nie aan nie — wat sal die mannetjie hom opruk teen hom, hy is Kolonel Johan van Graan — maar hy hou sy wrewel vir homself, Matthew moet aan sy kant bly.
“Ek het ook niks verder vermag na ons toegang tot die grond geweier is nie. Ek hoor ook deur die kanale dat sy besig is om te soek na ʼn plaas om te koop, ek dink sy wil haar pa terugbring.”
Matthew weet, wat hy wil sê moet nou gesê word. “Johan ek wil die hele ding stop, geen verdere spioenasie op Laurie of Nathan Kilber nie.”
Hy sien die oombliklike klem van die kakebene — “Matthew…”
Matthew maak hom stil. “Sy is hier en sy doen wat ek gevra het, ek wil ook die hofbevel oor die grond gestop hê. Ek sal die opdrag self deurgee na my prokureur. Ek wil geen verdere stappe teen Laurie en haar pa hê nie.”
Johan kyk hom stip in die oë — “Jy het haar lief.”
Die waarheid lê naak in Matthew se oë en op Johan se gesig lê ʼn ontevredenheid as hy sê — “Jy gaan spyt wees Matthew, jy moet die Kilbers sien vir wat hulle is.”
“Wat is hulle Johan?” ʼn Doodse stilte volg.
Johan staan skielik op — “Ons het niks verder om te bespreek nie Matthew. Weet net, jou besluit is verkeerd, die mense moet betaal vir wat hulle wou doen.”
“Wat wou hulle doen Johan, wat is daar regtig bevestig wat jy kon aflei van Metando en Seshla se verklaring? Ek, jy, Laurie saam met Metando en Seshla moet gesels. Ons moet saam dieselfde feite hoor. Ek sal dit reël sodra Metando uit die hospitaal is?”
“Wat meer sal ons leer uit ʼn ontmoeting as wat ons uit die verklaring geleer het?” Matthew besef dat Johan skerm en dat hy nie met Metando en Seshla wil ontmoet nie en daar is ʼn diepe onrus in hom.
“Ons sal weer gesels Matthew, ek sal jou kom sien sodra ek ander feite gekry het.” Johan draai om en sonder om te groet, stap hy die huis uit. Teen die tyd wat Matthew met die seuns buite kom, is die motor reeds etlike meters weg.

Metando kom baie goed deur die operasie en herstel sonder veel trauma van die narkose. Laurie bevestig met Koot Metando se toestand en hy stem saam daar is geen verdere gevaar nie. Sy en Seshla kan in die pad kom voor dit te laat is.
Dit is halfdrie as Laurie en Seshla die buitewyke van Ladysmith agter hulle sien, sy voel moeg maar tevrede. Sy en Seshla het vinnig ʼn klompie inkope gedoen vir die plaas en vir Metando, en nou is sy haastig om by Matthew en die seuns te kom.
Sy sien uit die hoek van haar oog hoe Seshla se kop knik en in haar hart voel sy oor hom soos oor haar pa. Sy stop en help hom om die sitplek plat te slaan, gooi hom met die komberse wat hulle saamgebring het toe en hy druk haar hand dankbaar, draai sy kop sywaarts en verval in ʼn rustige slaap.
Hoe oud en verweer is hy tog nie — dink Laurie. Sy weet, Matthew sal die geld moet vat wat hom toekom, as dit nie vir homself is nie, vir hulle wat hom so getrou dien.
Dit is half agt wanneer hulle die bergpad vat. Seshla sit effens gespanne langs haar en sy sien hoe onrustig hy die pad in die donker dophou. Skielik moet sy haastig uitswaai vir ʼn groot swart viertrek wat met ʼn geweldige spoed amper in hulle vasry. Vir ʼn oomblik sien Laurie die persoon in die verligte kajuit voordat sy haar aandag weer aan die motor gee. Haar oog vang Seshla se verstarde gesig, regop, met sy hande geklem om die sitplek en sy blik op die verbygaande motor. Die bande gly op die grond langs die afgrond en Laurie klou verbete aan die stuurwiel vas.
Laurie weet sy moet geensins nou remme aanslaan nie want die motor sal teen die reëling vas gly of self deur die reëling bars. Sy bring die motor uiteindelik tot stilstand en deur die stof, sien sy in haar truspieëltjie die swart viertrek voortry en verdwyn.
“Die boef!” Kom dit van Laurie wanneer sy die vrees op Seshla se gesig sien. “Toemaar Seshla ons is veilig. Die mens ry soos ʼn duiwel.”
Seshla is stom, hy het vir een oomblik die man in die lig van die kajuit van die viertrek herken. Iewers lank terug het hy hom geken en hy soek in sy gedagtes rond. Hy weet skielik wie agter daardie stuurwiel was — maar hy bly stil — te bevrees vir die kennis wat hy het.
Laurie klim uit en stap om die motor om seker te maak dat hulle geen skade het nie. Wanneer sy afkyk teen die klowe weet sy hulle het werklik ʼn baie noue ontkoming gehad, sy weet die viertrek kon net van Matthew se plaas gekom het want dit is al plaas op die pad. Dit is of ʼn besoeker of iemand wat die verkeerde pad gevat het — dit weet sy en die swart viertrek hinder haar — maar ook sy bly stil.
Seshla klim uit en hulle sit vir ʼn rukkie op die reëling langs die pad totdat beide se kalmte terug is.
“Nooi het die kar baie goed gedryf,” en sy glimlag.
“Ja Seshla, ons was gelukkig. Ek wil nie eers dink wat sou gebeur het as die viertrek ons geraak het nie, ons sou sekerlik beide nou daar onder in die kloof gelê het.”
Laurie druk sy hand gerusstellend en hulle klim terug in die motor en ry teen ʼn slakkepas verder op teen die berg na die veiligheid van die werf.

Matthew sien die motor se ligte onder teen die berg en hy stuur sy dankgebede op. Die oomblik as Laurie stop is hy daar om die deur oop te maak. Hy sien die vermoeienis, die swart kringe onder haar oë en hy erken weer aan homself daardie feit wat hom nou al vir weke ry — hy het Laurie lief, lief met ʼn mag wat sy hart wil laat bars, maar wat sal sy sê — hy wat haar uit haar huis, haar praktyk, haar lewe gevat het en ʼn slaaf gemaak het. Hy wat die oorsaak is van Louis Olivier se dood en haar pa se ineenstorting — en sy hart breek.
Sy sien sy verligting, sy besorgdheid en die wisseling van gevoelens in sy oë en sy weet wat hy dink. Sy weet sy moet hom verseker dat die manier hoe sy hier in sy huis gekom het, nie dit wat tussen hulle kan wees, kan skaad nie.
Laurie weet egter die tyd is nie reg nie, nie nou nie, nie hier voor al die werkers nie. Eers as die tyd reg is vir hulle, wanneer hy sy haat laat uitwoed het en wanneer hy vrede het, sal sy na hom toe gaan vir altyd — maar in haat kan sy nie by hom bly nie.
Seshla word soos die ou vader ontvang wat hy is vir die mense, hy maak homself los van die omhelsing en draai na Matthew — “Die swart kar wat hier van die plaas af gekom het, het ons amper by die berg afgery Matthew.”
Matthew versteen en woede vlam in hom, hy weet wie se swart viertrek dit is en hy lees iets onverstaanbaar in Seshla se oë. Meer as dit, waar was Johan al die ure as hy nou eers teen die berg af is en nog meer, wat weet Seshla van Johan van Graan. Hulle het nooit ontmoet nie of het hulle?
Wanneer hy die ‘verstaan’ in Matthew se oë sien, draai hy om en word amper op die hande gedra na daar waar die nag vure by die huise reeds aangesteek is.
Matthew weet hy sal dringend met Seshla moet praat, iewers is iets ontsettend verkeerd en hy moet weet wat dit is. Hy weet nou verseker, dit kom uit die verlede, die gevoel van onheil is in hom en hy kyk na Laurie en die vrees vir haar lewe wil hom versmoor. Het ek haar lewe in gevaar gestel om haar hierheen te bring?
Hulle staan alleen, so naby aan mekaar dat hulle die warmte van mekaar se lywe kan voel en dit is asof dit die begin van iets is, iets ontsettend kosbaar. “Dankie dat jy veilig terug is, dankie vir Metando, dankie vir alles,” snik hy dit uit.
Sy neem sy kop tussen haar hande, trek dit vas teen haar hart en sy troos hom want is dit nie sy moeder wat in die hospitaal is nie. Hy sit sy arms om haar skouers en trek haar teen hom vas en Laurie sien in die groot man die deernis wat sy so graag in hom wil sien. Die deernis wat haar, haar pa en hom uit die onmoontlike situasie moet haal, en hulle geluk moet gee.
Hulle staan lank so styf teen mekaar, met ʼn gevoel van een-wees tussen hulle voordat hy sy ewewig herwin. Hulle stap stil die bekende kombuis in, hy trek ʼn stoel vir haar reg en help haar sit voordat hy haar kos uit die lou-oond haal en dit voor haar neersit. “Die seuns slaap,” en sy sien die gevoel wissel in sy oë.
“Dankie, ek waardeer dit.”
“Nee, ek sê baie dankie, ek is die een wat dankbaar is maar ons moet praat…”
Laurie sit haar vinger op sy lippe en die aanraking skok deur hom. “Nie nou nie, nie vanaand terwyl ons albei moeg en weerloos is nie, môre of later maar eers wanneer ons twee ons balans herwin het.”
Hy druk haar hand teen sy lippe en nou is dit Laurie wat vir een oomblik totaal die kluts kwyt is — As die soen van my hand so voel, hoe sal dit wees as hy my regtig liefkoos, soos net hy dit sal kan doen? — flits dit deur haar gedagtes, en hy sien dit in haar oë.
Sy eet in stilte klaar en wanneer sy opstaan en kamer toe stap, daar waar die tweetjies reeds in haar bed slaap, stap hy saam en sy sien die tweespalt in sy oë en sy weet dat hulle albei vanaand gevaar loop om iets baie onverantwoordelik te doen. Sy draai hom saggies om, stoot hom sag terug deur die deur en sê sag naby sy gesig.
“Gaan rus Matthew, ek sal nog môre hier wees en oormôre, en al die ander môres, so moenie nou iets sê of doen waaroor ons later dalk mag spyt wees nie.”
Hy klou aan haar hand soos ʼn drenkeling, Laurie weet dat wat hy ondervind, sy ook ondervind. Sy weet sy moet nou ruimte tussen hulle kry en sy stoot hom beslis uit haar kamer en druk die deur toe. Sy bly met haar kloppende liggaam teen die deur staan en moet die begeerte om die deur oop te ruk om in sy arms, in sy bed te wees met geweld onderdruk. Laurie weet sy ken nie die emosie nie — sy het dit nog nooit ondervind nie.
Christopher beweeg in sy slaap en sê saggies. “Mamma.” Haar verstand kry beheer oor haar liggaam en sy gaan lê in haar klere langs hom. “Mamma is hier my lief, slapies maar verder.”

Wanneer sy wakker skrik is dit lig en staan Matthew met ʼn koppie koffie voor die bed. “Ek wou jou nie wakker maak nie maar ons mense is hier, hulle wil jou sien.”
Sy sit op en hy sien die vermoeienis op haar gesig, sien die klere van gister en hy weet dat sy meer as hy ly onder dit wat hy gedoen het. Hy is weer bewus van die vrees vir Laurie se lewe. Seshla het hom vroeg oggend kom vertel wat op die bergpad gebeur het, en hy voel steeds die vrees in hom wat die vertelling wakker gemaak het. Sy kon dood gewees het en dit omdat hy hom laat verblind het deur Johan van Graan.
Hy weet vandag sal hy haar alles rondom hom en Johan moet vertel, vandag stop die geheime tussen hom en Laurie. “Ek is jammer…”
Sy maak hom stil want sy wil nie dat hy pyn moet hê daaroor nie, dit is juis die straf wat hy op haar gesit het, wat haar die begin van die lewe gee wat sy nou weet sy bo alles begeer. “Nee ons gaan nie die pad vandag loop nie, wat gebeur het, het gebeur, wat jy van my gevra het in ruil vir my pa se lewe is op hierdie stadium ʼn baie klein prys om te betaal. Kan ons dit net laat vaar, om nie weer daaroor te praat nie asseblief.”
Hy sien die vasberadenheid en sy moed sak — sy gaan hom nooit vergewe nie, hy gaan homself nooit vergewe nie, dit weet hy. “Daar is definitief iets waaroor ek en jy moet gesels voor hierdie dag verby is,” en nou sien Laurie die vasberadenheid en sy knik haar kop — “Goed ons sal dit doen, later vandag.”
Sy staan op en hy vryf haar hare liggies plat waar die kussing dit opgestoot het en die gevoel in albei is onuithoubaar.
Hulle wat haar nou bo alles bewonder, bring haar ʼn geskenk — twee kalwers en sy is in vervoering.
“Jy gaan nou hans kalwers moet grootmaak.”
“Kan ek hulle hou, ek sal hulle weghou van jou kudde af, ek belowe.”
“Jy kan gerus, ek sal die onderste kamp vir hulle regkry maar vir vandag moet hulle in die melkery se kamp loop. Daar is bottels en fopspene in die melkkamer,” en sy lag op in sy gesig.
“Lyk my ons twee gaan een van die dae saam boer. Ek moet net nog ʼn paar pasiënte kry dan is my kans goed om jou vennoot te word.” Hy hoor haar verlange na die kliniek in haar stem, hy weet dit sal ja wees, alles vir haar gaan altyd ja wees maar hy lewer geen kommentaar.
“Ek sal baie van dit hou, glo my,” sê hy sag naby haar gesig en sy voel die opwelling van haar liggaam.
Hy vat die twee kalwers aan die leirieme en saam stap hulle met almal wat volg na die kamp waar hy hulle losmaak en injaag. “Daarso, dit is die begin van jou boerdery op “Emafweni,” en hy lag in haar oë.
Later in die dag op die gras onder die boom met etenstyd, vat sy haar kans om met hom te praat. “Kan ek ʼn gedeelte van die waenhuis kry? As ek alles regpak is daar nog baie ruimte.”
“Waarvoor?”
“Moenie kwaad word nie, luister net eers. Ek wil ʼn klein dagkliniek begin.”
“Ek is nie kwaad nie,” en sy hart sing, dit beteken sy wil bly vir eers.
“Nee ek dink nie die waenhuis is daarvoor bedoel nie.” Laurie voel teleurgesteld, na die afgelope twee dae kan sy amper nie ʼn “nee” hanteer nie.
“Ek dink ek sal die voerkamers vir jou leegmaak en die voer waenhuis toe skuif. Dit sal jou vier vertrekke gee wat reeds deure en vensters het.” Sy gryp hom aan die hand en druk sy hand teen haar lippe. “Dankie — ek was bang jy gaan nee sê.”
“Waarom sal ek vir jou nee sê Laurie? — jy offer so baie vir ons op.”
Sy hou haar oë afgewend, sy vertrou nie haar gevoel nie, nie wanneer hy so na haar kyk en haar liggaam so snaaks reageer nie. “Ek wil wanneer ek vir Metando gaan haal ʼn dag langer bly, dit sal my die geleentheid gee om mediese voorraad aan te skaf. Kan ek die seuns en Josefa saamneem? Ek dink nie ek wil hulle weer alleen hier laat nie, ons sal net ʼn dag of drie weg wees.”
“Dit is reg maar jy kan nie alles uit jou sak uit koop nie.”
“Dit is die ander ding waaroor ons moet praat — die geld wat my pa…”
“Ek wil die geld nie hê nie Laurie,” sê hy kort-af en as hy die emosie op haar gesig sien weet hy dit het verkeerd uitgekom. Sy kort-af antwoord laat haar wegkwyn en sy spring op, neem die seuns en stap terug opstal toe.
So ʼn reaksie het sy nie verwag nie, sy dog alles gaan oor geld en as Matthew so reageer, weet sy nie of sy ooit met hom sal kan praat nie. Nie oor die geld of oor dit wat sy van sy ma weet en vermoed nie.
Sy onthou skielik die briewe in die Bybel en sy weet daardie geheime sal oopgemaak moet word. Dalk nie die week nie maar wel iewers in die nabye toekoms.

Matthew haat homself en hy weet wat hy nou gedoen het, het alles wat tussen hulle opgebou is afgebreek en die verwyt wil hom vermoor — Here ek vra U, help my sodat ek my kwaad kan los asseblief en help my dat ek dit nie op Laurie uithaal nie.
Matthew sien Laurie glad nie verder die dag of die volgende oggend nie en hy weet sy is seergemaak. Wanneer sy die volgende middag ook nie met die seuns vir middagete opdaag nie, vra hy vir Lindie, Metando se ander dogter wat in die huis help, waar Laurie is.
“Die dokter, die kleinbasies en Josefa is Ladysmith toe om ma Metando te gaan haal.”
Die dag en amper sy lewe verloor alle glans en Matthew voel ʼn diepe depressie van hom besit neem — Ag Heer sal jy hulle behoed en bewaar, en kry my deur hierdie week asseblief.

Deur die nag het die hartseer in Laurie geneig om haar te versmoor maar wanneer die dag breek, ruk sy haarself reg, sy gee nie om hoe woedend hy is nie, sy sal hom weer later takel. Sy weet sy gewese vrou het hom finansieel probeer uitroei maar sy weet ook die kennis is iets wat Matthew nooit moet uitvind sy het nie.
Laurie weet, sy sal nie in Matthew se verlede krap nie want dit maak haar net so skuldig soos Johan van Graan, maar sy neem ʼn besluit, sy sal wag tot hul verhouding weer verbeter het, dan sal sy weer die gesprek voortsit.
Laurie ry hospitaal toe en Josefa se gesig wys die spanning as sy Metando in die bed aan die masjiene gekoppel sien. Dit vat Laurie ʼn geruime tyd om haar tot bedaring te bring en te verseker dat haar ma se toestand nie so ernstig is as wat sy dink nie.
Laurie het ook besluit om van die duur Duitse Motor ontslae te raak, viertrek of nie, sy kort ʼn behoorlike viertrek dubbelkajuit bakkie met ʼn sleepwa. Na die amper ongeluk op die bergpad weet sy dat sy ʼn voertuig moet kry wat meer vir die bergpaaie aangepas is.
Die handelaar is in sy noppies oor die besigheidstransaksie toe Laurie besluit op ʼn viertrek voertuig. Hy beloof om beide die viertrek en die sleepwa gelisensieer te hê in twee dae sodat Laurie dit net kan kom haal en ry. Hy leen Laurie ʼn voertuig en Laurie besluit om uit te ry met die seuns en Josefa na die plaas.
Sy stop eers by die hotel en bespreek vir hulle vier ʼn kamer vir die drie dae. Sy het besluit om die volle drie dae te bly want sy wil met Joos praat, haar pa bel en ook Zuluika se oproep Donderdag middag neem terwyl sy hier is. Sy wil ook voorraad vir die huis en haar klein kliniek aankoop.
Josefa is oorstelp met alles, al die dinge wat sy nooit geglo het sy sal sien en beleef nie. Laurie geniet haar ongekunstelde waardering en besluit dat Matthew net sal moet luister — een of ander tyd.
Die seuns hardloop uitgelate vooruit waar hulle die restaurant binnestap en Laurie weet, sonder die twee mensies wil sy nooit weer wees nie en onwillekeurig neem ʼn ontsettende hartseer van haar besit.
Hulle eet rustig en Josefa en die seuns geniet die aandag wat die kelner aan hulle gee.
Hulle ry die twintig kilometer na haar pa se plase en die mense wat so deel van haar lewe gevorm het, is oorstelp van vreugde om haar te sien. Hulle tel die seuntjies op asof hulle ʼn kleinood is.
“Hoe gaan dinge met julle?”
“Goed, ons mis jou en oom Nathan maar die nuwe voorman is goed vir ons,” en Laurie is dankbaar vir die genade.
ʼn Jong man kom om die huis gestap en sy weet dit is die voorman wat Joos aangestel het. Hy glimlag vriendelik en steek sy hand uit — “Middag, ek is Kobus Rossouw, die nuwe voorman, ek weet jy is Dokter Laurie Kilber.”
Sy lag saggies vir die spontaniteit en weet dinge sal goed gaan onder hierdie man se toesig. “Dankie vir die geleentheid wat my gegun is, die plase is regtig in ʼn uitstekende toestand.”
“Dankie Kobus, die gevoel is wedersyds, ek is bly jy is hier, ek weet jy sal dinge aan die gang hou.”
Hulle stap om die huis na waar ʼn span besig is met die voertuie. “Dit sal lekker wees as jy en jou pa soms sal kom inloer. Ek weet julle harte is baie na aan die plaas en ek wil baie graag met hom gesels oor van die dinge wat hy hier gedoen het.”
Hierdie woorde sê vir Laurie dat Joos die jongman tog so ʼn bietjie insae gegee het in die omstandighede. “Dankie Kobus.”
“Wil julle saam ry na Fortress, ek wil gou daar gaan inloer. Ons het ʼn finale jaar landbou student wat daar vir ons die voorman pos behartig, ek hou so bietjie hand vas maar hy kom goed reg, so daar is geen rede tot kommer nie.”
“Ek is nie bekommerd nie Kobus, ek weet, julle weet wat julle doen. Ek is dankbaar dat julle hier is.”
Op Fortress val oom Louis se mense haar om die hals. Dawid dans ʼn opgewekte riel en gryp Laurie se hand vas en Laurie weet sy moet elke maand op die plase aandoen. Haar aanvanklike gevoel van “Vat alles af en los die plase” is weg. Hierdie is haar grond tot die hof anders bevind. Sy het ʼn verantwoordelikheid teenoor die mense wat haar, haar pa en oom Louis se vriende is.
Skielik is die toekoms duidelik vir Laurie, as die grond hare bly, sal sy terugkom en sy sal op die plase bly tot aan die einde van haar lewe, niemand sal haar ooit weer “boelie” nie.
Dawid roep haar eenkant met die verskoning: “Ek wil jou gou iets by die graf wys.”
Dawid draai na haar sodra hulle langs Selma en oom Louis se graf staan. “Hier was ʼn polisie man ʼn paar dae gelede.”
Laurie weet wie dit was. “Wat wou hy hê Dawid?”
“Hy wou weet of daar nog enige iets in die huis is en hy wou weet van die graf.”
“Wat van die graf Dawid?”
“Hy wou weet of Selma en Louis al twee in die graf is?”
“Wat het jy gesê Dawid?”
“Ek het ja gesê.” Sy sluit haar oë vir een oomblik. “Wat het hy verder gesê?”
“Niks, maar ek dink die polisieman was baie jare terug toe Nooi Selma nog hier was, ook op die plaas.”
Nou weet Laurie met sekerheid dat Johan alles met die verlede te doen het. Hy het ʼn obsessie wat oor jare strek en sy besef dat sy en haar mense in gevaar is van ʼn persoon wat ʼn leeftyd lank gewag het vir die geleentheid om wraak te neem.
“Wat kan jy onthou van die man Dawid?”
“Ek sal jou vertel sodra ek kan onthou maar dit was so lank terug en my geheue is nie meer so goed nie.”
“Dankie Dawid, jy moet versigtig wees en jy moet veilig bly.”
“Ek sal.”
Sodra sy, die seuns en Josefa weer op pad terug Ladysmith toe is, weet sy dat sy dringend met Koot moet praat. Weet sy, sy wil haar pa in die volgende twee tot drie weke terug by haar hê, naby haar hê, waar sy na hom kan omsien, of dit op ʼn ander plaas is, of op die een, sy wil hom terug bring. Sy weet sy sal nie sy laaste jare sonder hom deurbring nie. Nie eers haar gevoel vir Matthew sal haar van besluit sal laat verander nie. Niemand het reg om tussen ʼn ouer en sy kind te kom nie — nie Matthew of Johan, of die hele regstelsel nie.
Sy kry Koot by die hospitaal en hy is ooglopend bly om haar te sien. “Ek het goeie nuus, nee uitstekende nuus Laurie,” en Laurie voel die vreugde — sy weet dit gaan oor haar pa.
“Kom ons gaan drink ʼn koppie koffie, die seuns en die jong dame kan rustig hulle tyd by die restaurant in die speel area omkuier terwyl ons gesels.”
Josefa is absoluut gefassineer deur die hospitaal omgewing en haar belangstelling saai ʼn saadjie by Laurie. Indien sy ʼn kliniek begin gaan sy verpleegstaf moet oplei en Josefa kan dalk net belangstel om in die rigting opleiding te kry en skielik is die pad vorentoe nog duideliker vir haar.
Sy sien hoe Josefa en die seuns die bederf geniet deur die kelner wat sy belangstelling op haar fokus. Die vreugde van die seuns wat skaterlag laat Laurie dankbaar voel vir haar bydrae om die pragtige mense gelukkig te maak.
“Eers, dit gaan goed met Metando, sy sal vir ʼn tyd met die pasaangeër regkom maar binne die volgende ses maande sal sy moet terugkom vir ʼn omleiding.” Hy sien die vrees in Laurie se gesig. “Dit sal meer voorsorg wees voordat die are werklik ernstige probleme gee.”
Hy kyk na Josefa en die seuns, en dan terug na Laurie — “Jan Steenman wil sy klein plasie, Nuutgevond verkoop.”
Hy sien haar oë ophelder en haar gesig vertrek in ʼn glimlag. “Regtig — Nuutgevond?”
“Ja, en ek het hom gesê dat jy ʼn aanbod wil maak, hierdie week nog.”
“Watse prys kyk hy na oom Koot?”
“Vergelykende markprys, so ongeveer agt miljoen.”
“Dit is wat ons aanbied oom Koot, as hy meer wil hê, lig ons dit, ek wil Nuutgevond vir my pa koop.” Die emosie en vasbeslotenheid is op haar gesig — “Ek wil my pa terug hê oom Koot, op Nuutgevond, waar ek hom kan kom sien net wanneer ek wil.”
Die emosie in haar gesig bring ʼn vreugde in hom — Laurie sal nie ondergaan nie — flits dit deur sy gedagtes. “Ek sal dit met Jan vasmaak. Jy kan die Namibiërs laat weet jou pa kom in tien dae terug. Nuutgevond is leeg en Jan het ingestem dat jy die plaas kan huur tot die koop deur is. Jou pa kan intrek.”
Nou huil Laurie openlik en die twee seuntjies en Josefa kom vervaard van die restaurant se speel area ingehardloop en Christopher en Kyle gryp haar vas.
“Hoekom huil mamma?” Laurie druk hulle vas en kyk in Josefa se bekommerde gesig. “Mamma is net bly, die dokter het vir mamma goeie nuus gegee.”
“My ma se goeie nuus?” vra Josefa met die onskuld wat in haar is en Laurie vat die opening — “Ja Josefa, jou ma se goeie nuus.” Hulle draf verlig uit en sy en Koot bespreek die besonderhede van die terugbring van haar pa.
“Ek sal oom Joos nog vandag gaan sien en opdrag gee om die koop en oordrag vir ons te hanteer. Sal oom asseblief in my afwesigheid die sake aan die gang hou saam met oom Joos?”
“Moet oor niks bekommer nie Laurie, ek en Joos sal alles hanteer. Bel jy net vandag nog jou pa en maak die reëlings vir sy terugkoms. Ek sal sorg vir die uitverf en skoonmaak van die huis as dit nodig is. Teken jy net die nodige dokumente sodat Joos kan aangaan met die koop.”
“Ons meubels is in die stoor buite Ladysmith oom Koot. Ek sal oom die sleutels gee sodat die vervoer maatskappy dit wat my pa nodig sal hê, kan gaan haal en na Nuutgevond kan neem.”
“Dit is reg nooi, ek sal dit reël.”
Die uur saam met Joos bring rus in Laurie. Hy beveel aan dat die plaas in ʼn trust geregistreer word en Laurie stem in.
Wanneer sy, Josefa en die seuns in die motor klim om terug na die motorhandelaar te gaan, voel sy vir die eerste keer in maande of sy weer beheer oor haar en haar pa se lewe het. Sy weet sy mag nie toelaat dat die gevoel weer verander na hulpeloosheid nie, deur niemand nie.

Matthew wil van sy kop af gaan van verlange en van vrees dat Laurie nie terug sal kom nie. Hy troos homself — sy het die seuns en Josefa by haar — sy moet terugkom. Dit help nie, hy weet nou, hy het haar lief en maak nie saak wat sy vra nie, die antwoord sal altyd in die vervolg ja wees, as sy net sal bly. Maak nie saak of dit nou die plase is of die geld is nie, solank sy net nie weggaan nie.
Hy en sy mense verander in die drie dae die voerkamers in ʼn kliniek, verf, sit kragpunte en ligte in, dra oortollige meubels uit die stoor totdat dit na ʼn ware kliniek lyk en hy is tevrede. Hy gaan vir haar ook ʼn kragopwekker insit net om seker te maak dat die aanhoudende krag probleme wat hulle ondervind, nie ʼn impak op haar kliniek sal hê nie.
Hulle bou ʼn reling om die stoep, maak dit toe met ʼn afdak en die werkers maak houtbankies waarop die pasiënte kan sit en wag.
Sy sal net moet bly, hy sal haar vasbind aan die plek. So vas dat sy uit haar eie sal wil bly en nooit sal wil weggaan nie.




Maak 'n opvolg-bydrae

Up
Top Ranked Users

[joinup_core_top_members columns=”1″ space=”no” max_members=”3″ behavior=”columns” columns_responsive=”predefined”]

Activity Feed