
Vir die reën
Oscar was gefrustreerd. Hulle sê “die lewe is wat gebeur wanneer jy ander planne maak” en Oscar kan definitief daarvan getuig. Sy planne was om ‘n tweede praktyk oop te maak. ‘n Verskil te maak in die wêreld. Ryk te word. Maar toe kom sý in sy lewe. Min het hy geweet toe sy instap dat sy lewe onherroeplik gaan verander. Hy het skaars sy doktorsgraad in sielkunde gekry; vol hoop. Die wêreld sou sy oester wees. Sy praktyk het net begin lewe kry, toe sy voor hom kom sit. Sy was ‘n nimfomaan. Hy sou haar help om van haar verslawing ontslae te raak. As dit nie was vir haar lang vloeiende blonde hare soos die maanhare van ‘n wilde merrie wat oor die vlaktes galop nie. Haar bene wat vir ewig aangehou het. Haar mond met die skewe glimlag en die meegaande groen oë soos die van ‘n baba hondjie wat vra om vertroetel te word. Hy is ook maar man. Hy was skuldig aan een van die grootste taboes in die reëlboek. Die lyn tussen professioneel en persoonlik het grys geword en uiteindelik verdwyn. Tot haar man uitgevind het. Oscar moes vlug soos ‘n dief in die nag. Hy het uiteindelik hiér geëindig. Kuruman. Sonder ‘n toekoms. Sonder drome. Sonder oesters.
Kuruman was klein genoeg, en ver genoeg van die beskawing, dat geen wraakgierige eggenoot hom sommer hier kon opspoor nie. Tog groot genoeg dat daar genoeg mense is wat moontlik sielkundige hulp of selfs net terapie nodig gehad het. Aanvanklik was die dorpsmense skepties oor die nuwe verskyning op die dorp. Daar was nog nooit ‘n sielkundige op die dorp nie. Die wat nou regtig van lootjie getik was, is Upington toe vir hulp. Die grootste deel van die bevolking was in elk geval swart en kleurling mense, wat geglo het sielkundiges is vir malles en wit mense. Oscar se ervaring in die stad was ook meestal met ryk vroue wat kom klae het oor hulle mans wat gelol het met die sekretaresse en mammas wat iets vir die senuwees soek, want die lewe as ‘n huisvrou is net té oorweldigend. Niks wat ‘n verwysing na ‘n psigiater nie kon oplos nie. In ruil vir ‘n ietsie uit die psigiater se bankrekening, natuurlik.
Toe die eerste paar inwoners uiteindelik Dok Oscar gaan sien – meestal uit nuuskierigheid – het dit gesneeubal. Mense moes hoor van hul sielkundige probleme, wat hulle nie geweet het hulle het nie, en skielik was hulle gereëlde pasiënte. Sê wat jy wil van Dok Oscar, maar hy was goed in sy beroep. Hy het werklik sy pasiënte as individue verstaan en hulle gehelp om beter mense met goeie geestesgesondheid te wees. Die pasiënte het oor mure, om koffietafels en selfs in kroeë, Dok Oscar se lof besing. In so ‘n mate dat die dokter darem ‘n goeie bestaan kon maak. Maar hy het na ‘n dag se terapie met heimwee gedink aan die stad se liggies, die massiewe winkelsentrums en die sakke vol geld wat glad nie vergelyk het met die inkomste uit Kuruman se arm gemeenskap nie. Maar wat hy die meeste gemis het, was die uitdagings. Gejaagde mense in die stad is baie meer gebroke as mense op die platteland wat ‘n eenvoudige lewe gelei het. Daar was geen interessante uitdagings soos skisofrenie of dissosiatiewe afwykings nie.
*
Bernadine was gewoond aan ongeletterde, arm en mishandelde kinders. Twintig jaar as onderwyseres in Kuruman leer jou dat volwassenes wreed en ongevoelig teenoor ‘n kind se behoeftes kan wees. In ‘n plek soos Kuruman is drank, in baie huishoudings, belangriker as kos. As die drank eers gevloei het was kinders ook gewoonlik maklike teikens om frustrasie op uit te haal. Hul beddens was telkens buite op die grond en ‘n bad iets wat dalk eenkeer ‘n week gebeur het. So, Bernadine het die wêreld se geduld met die tien-jariges in haar klas gehad. Sy het hulle met die teerheid en menswaardigheid behandel waarmee ouers eintlik hulle kinders moes behandel. So het sy meeste kinders se respek en liefde gewen, wat die deur oopgemaak het om íets opvoedkundig in die kinders se honger verstand te plant. Oktober was egter ‘n uitdaging vir haar – nie die maand nie, die kind. ‘n Naam soos Oktober is glad nie vreemd in die omgewing nie. Dit was eintlik meer skaflik as party van die name soos Seihoghyd Koekemoer of Speiderman Komotie. Dit was asof Oktober totaal afgesonder was van die res van die wêreld. Hy het nooit ‘n woord gesê nie; sy oë altyd opsoek na iets op die grond. Pouse het hy alleen onder ‘n boom gaan sit en die verte in staar. Sy kan nie onthou dat sy hom al ooit met ‘n ander kind sien praat het nie. Sy kan ook nie onthou of sy hom al ooit iets sien eet het nie. Sy tenger lyfie het getuig daarvan. Wanneer hy gebukkend besig was om te skryf het sy ruggraat soos koppies op ‘n vlakte deur sy hempie probeer steek. Sy oë was gesonke in sy gesig wat mens onwillekeurig laat dink het aan ‘n zombie in ‘n riller. Sy beentjies was so dun dat mens nie anders kon as om te wonder hoe hy regop gebly het nie. Wat haar egter die meeste gepla het was die manier waarop hy gekoes het as iemand skielik naby hom beweeg het. ‘n Duidelike teken van iemand wat gereeld aangerand word. Alhoewel sy nog nooit ‘n enkele blou kol op sy lyfie gesien het nie. Wanneer die kinders in kunsklas skoenlappers, sportmotors of vrolike figure in die son op die strand geteken het, het Oktober donker, meestal swart, somber prentjies geteken. Van die swart gestaltes in sy sketse het gelyk soos monsters, met lang, skerp geel tande wat toorn oor ‘n klaarblyklike lyk omring met poele bloedrooi bloed. Ander sketse het weer mense geklee in swart wat messe of swaarde vashou wat met bloed besmeer is. As sy moes punte gee vir die kunswerke het sy telkens koue rillings gekry wanneer sy by Oktober s’n gekom het. Bernadine kon op geen manier deur Oktober se mure van ysterklip dring om die gebroke kind binne te probeer help nie. Sy het besef sy het hulp nodig gehad. Dok Oscar het opgedaag asof hy gestuur was.
*
Elke Dinsdag en Donderdag het die maer, senuweeagtige kind in stilte voor Oscar gesit. Die stilte is net verbreek deur die dokter wat elke nou en dan ‘n vraag vra om iets uit die kind te probeer kry. Oscar kon nie wag vir dié sessies nie. Dit was uiteindelik ‘n uitdaging wat sy vermoë as sielkundige getoets het. Snags het hy sy ou sielkunde handboeke gelees of joernale op die Internet nageslaan, opsoek na tegnieke om deur te dring tot die kind. Die antwoord het baie toevallig gekom. Oscar het ‘n sjokolade wat ‘n vroeëre pasiënt vir hom gegee het, op die hoek van sy lessenaar gelos. Die oomblik toe Oktober die spreekkamer instap het sy oë die sjokolade gevang, en sy aandag gehou. Oscar het dit onmiddellik opgelet en die geleentheid raakgesien.
“Raak jy ook lus vir tjoklits op die onmoontlikste tye?” vra Oscar toe Oktober sy sit kry.
Oktober het sy oë van die sjokolade af na Dok Oscar en toe na die grond toe gedwing, asof hy stout was en uitgevang is.
“Kry vir jou…” Oscar het met aanmoedigend die sjokolade na die seuntjie toe uitgehou.
Trane was vlak in die skaam seuntjie se oë, maar ‘n glimps van opgewondenheid het ‘n skielik in die dowwe oë laat gevlam. Versigtig, tydsaam het hy die sjokolade uit die dokter se hand geneem, asof die sjokolade onder die wakende oog van ‘n dreigende slang was. Hy het die lekkergoed om en om in sy hande gedraai en bekyk van alle kante af. Uiteindelik het hy bewerig die papier afgehaal, asof hy die papier van ‘n porselein vaas van onskatbare waarde aftrek. Bewerig het hy die sjokolade tot by sy dun lippies gebring, en ‘n groot hap gevat. Sy gesig het begin straal soos die van iemand wat in totale ekstase is. Vir die eerste keer vandat Oktober die dokter begin besoek het, het ‘n breë glimlag die kind se gesig versier.
“Baie dankie,” sê Oktober nadat hy elke liewe happie van die sjokolade met genot laat verdwyn het. “Ek het nog nooit tjoklit gehad nie,” sê hy verder, terwyl hy die laaste gesmelte smeersels van sy vingers af lek.
“Ek…” Oscar het nie geweet wat om te sê nie. Mens neem soveel dinge vanselfsprekend en vergeet eintlik hoe bevoorreg jy is. Selfs die kleinste bederfie kan ‘n lewens veranderende oomblik in iemand anders se lewe wees. “Ek sê jou wat,” sê Oscar uiteindelik toe hy besef dat die eerste stap geneem is. “Elke keer as jy by my kom kuier, dan gee ek jou ‘n tjoklit. Maar in ruil daarvoor, moet jy met my gesels. Oor enige iets waaroor jy wil gesels. Wat sê jy?”
“Reg!” antwoord die kind met ‘n glimlag, sonder om twee keer oor die nagevolge te dink.
*
Oscar was byna net so opgewonde oor sy deurbraak, as wat Oktober oor die sjokolade was. Weg was sy frustrasie en verlange na die stad. Aanvanklik was die stappies tydens die sessies, baie klein. Oscar het vrae gevra en Oktober het net “ja” of “nee” geantwoord, terwyl hy aan sy betaling gesmul het. Later het Oktober begin deelneem aan die gesprek. Hulle het gesels oor skool, wat hy daar leer, Juffrou Bernadine en die “simpel kinders by die skool” – soos wat Oktober hulle met ‘n ondeunde glimlag beskryf het. Naderhand het Oktober uit sy eie uit begin gesels oor sy dag by die skool, sonder dat Dok Oscar enige iets hoef te vra. Stadig maar seker het Oscar weer die frustrasie voel opstoot. Hy het iets uit die kind uit gekry, maar het hy die kind regtig gehelp? Hy het basiese goed van die kind geleer. Oktober was lief vir skoolgaan. Hy het gulsig elke stukkie kennis wat Juffrou Bernadine uitgedeel het, opgeslurp. Die kind was totaal antisosiaal. Hy het nie belanggestel in maatjies nie. En alhoewel hy begin oopmaak het teenoor die dokter, het Dok Oscar na weke nog niks geweet van die kind se huislike omstandighede of wat die bron van sy klaarblyklike mishandeling was nie. Die dokter het besef dat iets moes gebeur, voordat die sessies stagneer en sinneloos raak.
*
“Kan jy my bietjie meer hieroor vertel?” het Oscar gevra en Oktober se reaksie noukeurig dopgehou. Oscar het ‘n skets wat Bernadine vir hom gegee het voor Oktober neergesit. Die toneel was besonder gewelddadig. Drie gesiglose figure in swart mantels het om ‘n kleiner figuur wat op die grond gelê het, gestaan. Die drie figure het elkeen ‘n mes vasgehou – die lemme het gedrup van die bloed. Die figuur op die grond het gelê in ‘n plas van bloed, die lyf klaarblyklik vol steekwonde. Die figuur het manlik gelyk. Hy het dieselfde klere aangehad wat Oktober elke tweede dag aangehad het – een van twee stelle klere.
Tot Oscar se teleurstelling het die seuntjie onmiddellik ‘n sigbare metamorfose ondergaan. Weg was die ontspanne, vriendelike seuntjie. Terug was die benoude Oktober met die mure hoog om hom. Sy oë het weer die vloer gevind en vinnig op en dan weer af in die deur se rigting geflits.
“Ons het almal geheime, Oktober. Ons almal het iets waarvoor ons skaam is. Iets wat ons dink ander mense ons voor gaan veroordeel. Iets…iets wat ons seermaak,” Oscar se stem was kalm en vriendelik. Soos ‘n oop deur wat jou nooi om in te kom. Hy het vir ‘n oomblik gewonder of hy moet aangaan. Sou die kind ooit verstaan? As hy wou hê die kind moet eerlik wees met hom, sou hy moes eerlik wees met die kind. “Kan ek jou mý geheim vertel?”
Benieud het Oktober na die dokter gestaar, terwyl hy weer ‘n happie van sy sjokolade gevat het.
“Ek was eers ryk. Ek het alles gehad wat my hart begeer het,” Oscar was nie seker of hy met die kind of met homself gepraat het nie. Hy het nooit regtig sy eie monster gekonfronteer nie. “Toe…toe maak ek iemand seer. Ek het haar vertroue verbreek. En toe vind haar… toe vind iemand anders uit en hy het my geslaan. So, dat ek amper in die hospitaal beland het. Ek moes vlug of hy het my doodgemaak. Ek het alles verloor,” Oscar se stem het gebreek.
Realiteit. Fait accompli. Vir die eerste keer vandat hy die stad verlaat het, het hy dit wat gebeur het vir iemand vertel. Aan homself erken.
Oktober het vraend na die dokter gekyk, asof hy gewag het om die gelukkige einde van die storie te hoor. Vir Oscar was daar nie ‘n gelukkige einde nie. Maar hy kon dit nie vir die kind sê nie.
“Maar,” gaan hy aan na ‘n oomblik van stilte, “ek het weer van voor af begin. Stadig maar seker het ek opgestaan en nou probeer ek opmaak vir die foute wat ek gemaak het. Niks in die lewe is onoorkombaar nie. Daar is altyd ‘n uitweg. Iemand wat jou kan help.” Oscar het dit nie geglo nie. “In my geval het die mense van Kuruman my gehelp. Jý, liewe Oktober, het my gehelp. Jy het my gehelp om weer te onthou wie ek is, en hoekom ek ‘n dokter wou word.”
Die ys het klein bietjie gesmelt toe Oktober weer geglimlag. Maar die glimlag is oomblikke later met ‘n frons vervang. “En die man wat jou seergemaak het? Waarvoor jy gevlug het?”
Oscar het self gewonder. Het die man se woede bedaar? Het hy en daai vrou geskei? Dink een van hulle ooit nog aan die dokter wat hulle huwelik verwoes het? “Hy gaan my nooit kan kry nie,” antwoord hy – sonder enige geloofwaardigheid. “Die mense van Kuruman beskerm my.”
Oktober het sy kop ingedagte laat sak. Oscar kon amper sien hoe die gedagtes deur die kind se kop maal, maar hy het geduldig gewag. Die dokter het geweet die was ‘n baie belangrike oomblik, maar definitief nie ‘n oomblik om druk op die kind te plaas nie.
Na ‘n ewigheid lig Oktober weer sy kop op. Daar was ‘n donkerte in sy oë. Oscar was nie seker of dit hartseer of haat of angs was nie. Hy het wel geweet dat dit die waarheid was.
“Die seuntjie in die prentjie… Dis ‘n ander seuntjie waarvan ek weet. Die tannies by wie hy bly wil hê hy moet dinge doen. Lelike dinge. Maar hy wil nie dit doen nie. Dis nie reg wat hulle wil doen nie,” Oktober het vir ‘n oomblik geaarsel, asof hy gewonder het of hy meer inligting moet gee. Blykbaar het hy daarteen besluit. “En dan maak die tannies hom seer, omdat hy nie wil doen wat hulle sê nie.”
Dok Oscar het agteroor gesit op sy stoel. Daar was half ‘n verligting, maar ook ysingwekkende vrae.
“Waar is… die tannies?” vra Oscar, versigtig om nie te veel op een slag van die kind te vra nie.
“In die huis. Ek het…” Oktober se oë rek so groot soos pierings toe hy sy fout agterkom, maar Oscar maak asof hy dit nie agtergekom het nie. “Die seuntjie het ‘n manier gekry om die tannies in die huis te hou. Solank as wat hulle daar is, gaan hulle niemand seermaak nie.”
‘n Klop aan die deur laat Oscar swets. Dis sy sekretaresse se teken om hom te sê dat die sessie verby is, en dat die volgende pasiënt daar was. Hy wou nog keer, maar Oktober het klaar met sy boeksak in sy hand gestaan. Dit het gelyk asof die seuntjie ligter was op sy voete as gewoonlik.
*
Dok Oscar het weer na die papiertjie gekyk wat Bernadine vir hom gegee het. Net 6 karakters. Die nommer van ‘n plot is al persoonlike inligting wat die skool se kantoor van Oktober gehad het. Geen ouer se naam of telefoonnommer of identiteitsnommer of geboortedatum. Niks. En niemand kan met sekerheid sê waar en wanneer Oktober by die skool ingeskryf het nie. Dis asof hy net nog altyd daar was.
13/666
Dit was die derde keer wat hy op en af met die sinkplaatpad gery het, voordat hy uiteindelik die syfers op ‘n verrotte stuk hout raakgesien het. Oscar het wrang geglimlag. As hy ‘n bygelowige ou was, het die nommers hom dalk senuweeagtig gemaak. Maar as ‘n geleerde man het hy geweet dit was maar net nommers.
‘n Nou twee spoor paadjie het digte bosse in verdwyn. Die ruig groen struike en bome was nogal ‘n vreemde verskynsel hier op die rand van die Karoo waar water maar skaars is. Dalk was die plot op die oewer van ‘n rivier? Dit het Maart laas gereën, so die meeste riviere en spruite in die omgewing is kurkdroog. Die hele kontrei was naarstigtelik opsoek na water, maar die inwoners sê dat die eerste reën eers in die eerste week van November kom. Volgende week.
Soos wat Oscar die paadjie volg is dit asof die bome ruier en ruier word. Dit het naderhand vir hom gevoel asof hy iewers in die Amasone is, ver weg van die semi-woestyn landskap van die Noord-Kaap. Die son se strale het geen kans gestaan teen die digte groei van die massiewe bome se blare nie. ‘n Onheilspellende donkerte het van buite tot in sy motor gevloei asof dit dik, swart teer was. Uiteindelik het die pad bietjie weier geraak en die bome was verder uitmekaar uit. Voor hom het ‘n groot kliphuis getroon, soos ‘n spinnekop wat in ‘n donker hoekie sit en wag vir haar prooi.
Dok Oscar het die motor afgeskakel. Sy ore het begin tuit in die onmiddellike stilte. Stilte? Geen voëls se gefluit of krieke of sonbesies of enige geluid wat tekens van lewe weggegee het nie. Al Oscar se oorlewingsmeganismes het hom gewaarsku om te vlug. Maar Oscar het genoeg gevlug. Hy was hier vir Oktober. Na Oktober se onthullings die vorige middag, het die dokter besluit dat die tyd van praat verby was. Hy moes iets doen. Geen kind, veral nie so ‘n saggeaarde, dierbare kind soos Oktober, mag in sulke omstandighede lewe nie. Dit was nie ‘n lewe nie. Dit was oorlewing.
Oscar het dit eers oorweeg om die polisie te betrek, maar het daarteen besluit toe hy mooi daaroor dink. Wat sou hy vir die polisie sê? ‘n Seuntjie het ‘n prentjie geteken van monsters? En wat daarvan? Moes die polisie iemand in hegtenis kom neem oor ‘n prentjie?
Oscar was nou bietjie spyt dat hy nie maar iemand of ten minste iets – ‘n wapen van een of ander aard – saamgebring het nie. Maar daar was nie nou meer omdraai nie. Die skool sou amper uitkom, en die dokter wou die “tannies” konfronteer sonder dat Oktober dit moes sien.
Daar was nie regtig ‘n verskil tussen die werf en die boskasie om die huis nie. Daar was geen teken van ‘n tuin nie. Die huis self het duidelik al beter dae gesien. Alhoewel dit ‘n basiese kliphuis was, was dit duidelik dat daar jare laas enige instandhouding gedoen was. Die mees opvallendste van die huis was die planke wat oor die vensters vasgespyker was. Dit het Oscar herinner aan die Amerikaners wat hulle vensters so toemaak met planke as daar ‘n tornado op pad is. Of ander moeilikheid. Dié planke was egter slordig voor die vensters vasgeslaan; spykers was skeef ingeslaan en party plekke was dit duidelik ‘n derde of vierde probeerslag om die plank daar te hou. Amper asof ‘n kind dit gedoen het.
Oscar het vir ‘n oomblik voor die deur gestaan en wik en weeg wat om te doen Sy oog het ‘n lyn wit poeier op die grond voor die deur gevang. Hy het afgebuk, ‘n bietjie in sy vingers opgetel en van naby bekyk. Suiker? Sout? Vreemd. Hy het opgestaan, sy hande afgeskud en weer na die deur gestaar. Daar was geen teken van lewe in of om die huis nie. Dis mos nie moontlik dat Oktober, wat nog te sê ‘n hele gesin, daar gewoon het nie. Oscar het om die huis begin stap en op ‘n voetpaadjie afgekom wat op die oog af gereeld in gebruik is. Hy het die paadjie gevolg, sy oë opsoek na enige leidrade wat die duisende vrae kan antwoord. Die paadjie het geloop tot voor ‘n klein twee-man-tent. Reg rondom die tent was daar ook ‘n aaneenlopende lyn van die wit poeier. Hy het versigtig die tent oop gerits en binne geloer. Binne was ‘n klein matrassie met ‘n verbleikte Batman laken oorgetrek. In die een hoek was daar ‘n kers en ‘n boksie vuurhoutjies, en aan die anderkant ‘n stapel skoolhandboeke. En ‘n halwe pakkie sout. Sy gedagtes herroep die bygeloof dat sout beskerming bied teen die bose. Nóg ouvrou stories.
Oscar het sy kop hartseer geskud. Was dit regtig waar Oktober gebly het? Waar was sy mense? Waar was die “tannies”?
Die haartjies in Oscar se nek het begin regop staan. Oscar het senuweeagtig om hom begin kyk. Iemand het hom dopgehou. Hy het stadig in die rondte gedraai, sy oë op skrefies om enige gevaarte in al die donker hoeke van die bosse te probeer raaksien. Toe sy oë oor die intimiderende klipgebou soek, vang sy oog ‘n beweging tussen die planke voor een van die vensters. Hy het doodstil gestaan en konsentreer, maar daar was geen verdere beweging nie. Dalk het hy hom verbeel. Hy loer na sy horlosie. Dit was baie later as wat hy gedink het. Die skool het al uitgekom. Die tyd was op.
Soos ‘n swart sluier wat gelig word van ‘n gesig, wyk al die vrees uit Oscar se gemoed. Maande se frustrasie borrel op en oor. Weke se woede oor die verwaarlosing van klein Oktober sluit aan by die vloed van emosies.
Oscar het genoeg gehad. Vandag sou hy die monsters konfronteer. Hy het vasbeslote terug gestap na die voordeur en met mening aan die verwaarloosde deur geklop. Die klop was hol en het weergalm deur die huis asof dit ‘n leë saal was. Weer slaan hy met die kant van sy gebalde vuis aan die deur.
“Hallo! Ek is hier om te praat oor Oktober,” het Oscar gebulder met al die gesag wat hy bymekaar kon skraap. “Ek weet wat julle doen! Dit stop nou!”
Hy het vir ‘n oomblik weer doodstil gestaan en luister. Al wat hy gehoor het was die getuit van sy ore. En… Was dit…? Dit het geklink asof iemand aan die ander kant van die deur staan en swaar asemhaal. Die vrees het weer probeer om Oscar teen gevaar te waarsku. Te waarsku teen wat? Tannies? In sy geestesoog het hy weer die drie swart figure met bebloede messe gesien. As hy bang was, hoe moes Oktober dan gevoel het? Oscar het voor die naaste venster gaan staan en deur ‘n gaping tussen die planke geloer. Hy kon net donkerte en vormlose swart kolle sien. Hy het sy selfoon uitgehaal en met die liggie deur die gaping geskyn. Die vertrek was oënskynlik leeg. Net buite die kring van die flou selfoon liggie was daar ‘n swart vorm wat onmiskenbaar die silhoeët van ‘n menslike figuur was.
“Ek kan jou sien! As jy nie nou oopmaak nie, bel ek die polisie!” Woede en vrees het wipplank gery in Oscar se kop. Hy gaan in elk geval die polisie bel. Hy het sy selfoon voor hom gehou en die skerm opgeroep om ‘n nommer te bel, maar besef hy het nie geweet wat die polisiestasie se nommer was nie. Dalk 10111? Was dit ‘n noodgeval? Hy het ‘n geskuifel in die huis gehoor en die selfoon weer in sy sak gedruk.
“Te hel met dit!” het hy meestal vir homself gesê en ‘n ent voor die deur gaan staan. Dalk is daar nog kinders daar binne. Sy roeping was om mense te help. Nie huisvrouens wat net aandag soek nie. Mense wat regtig hulp nodig gehad het.
Oscar het die deur gestorm en die verwaarloosde hout het soos vuurhoutjies verkrummel onder die gewig van sy skouer. Hy het letterlik met deur en al die huis ingeval. Toe hy weer tot sy sinne kom, beur hy orent en begin die vertrek om hom inneem. Die flou lig val op ‘n pentakel wat op die vloer, reg voor die deur, geteken is. Sy oë probeer die donker gewoond raak, maar dis te donker om enige iets in die res van die vertrek te kan sien. Die haartjies in sy nek het bevestig dat iemand hom dophou. In die hoek van sy oog het Oscar ‘n beweging opgemerk en met dreigende vuiste in die rigting van die beweging gedraai.
Agter Oscar het ‘n swart figuur beweeg en blitsig, soos ‘n perdeby se angel, ‘n mes in Oscar se been gesteek en weer uitgetrek. Oscar het gegil van die pyn en angsbevange in die rigting van die gevaar gedraai, maar daar was net donkerte. Agter hom het ‘n ander gedaante beweeg, stil maar blitsig, ‘n mes in Oscar se ander been geplant, en weer die donkerte in verdwyn. Oscar het verbouereerd besef hy moet vlug. Maar ‘n derde swart gedaante het gehurkend agter hom ‘n mes laat flits en sy een achilleshiel afgesny. Sonder om die man kans te gee om te reageer, sny die gedaante die ander hakskeen se tendon ook af. Oscar het inmekaargesak. Net sy pynkrete het die stilte verbreek.
Hy het omgerol op sy rug, hulpeloos soos ‘n pasgebore baba – sy bene nutteloos. Uit die donker het drie figure nader gestap en in ‘n sirkel om hom gaan staan. Hulle het die kappies van hulle mantels afgehaal en drie beeldskone vroue onthul. Elkeen met gitswart hare, bloedrooi lippe en oë so bruin dat dit soos swart gelyk het in die flou lig.
‘n Skaduwee het in die deurkosyn verskyn. Die buitelyne van ‘n klein, tengerige kind.
“Nee!” Oktober se gil was soos die van ‘n gewonde dier. “Asseblief… Moenie…”
Die drie vroue het elkeen met ‘n sagte glimlag na die kind, wat nou op sy knieë was, gekyk.
“Dankie, Oktober,” het die een vrou eindelik gesê in ‘n stemtoon soos stroop en gif.
Hy het dit weer gedoen. Dalk per ongeluk. Hy het wéér vir hulle gegee wat hulle wou gehad het. Dit was die lááste keer. Nooit weer praat hy met enige iemand nie.
Oktober het sy gesig laat sak na die grond, terwyl die trane kronkelpaadjies oor sy vuil wangetjies maak. Oorwonne. Gebroke. Hy het opgemerk dat die wit lyn voor die deur nie meer ‘n soliede lyn was nie. Doc Oscar moes die massiewe gaping gemaak het toe die deur afgebreek is. Die vroue was klaar weer besig om hul gekweste prooi se hande vas te bind. Desperaat het Oktober opgespring en na die tent toe gehardloop om die pakkie sout te kry. Dalk. Net dalk kon hy hulle nog daar binne vaskeer. Maar hy het geweet dit is te laat. Teen die tyd wat hy weer voor die oop deur gaan staan het, was hulle weg. Dok Oscar was ook weg. Geen geluid. Geen teken van lewe. Net rooi kolle bloed as bewys dat Oktober se enigste vriend daar was.
*
Elke jaar, op 31 Oktober kom die Dogters van Eva van die Ou Geloof bymekaar. Daar is meer van hulle as wat mense wil weet of ooit sal erken. Buurvroue. Susters. Vriendinne.
Die mense wat nie van beter weet nie sal hulle dalk “hekse” noem.
Die Dogters van Eva gee egter nie om wat die mense dink nie. Die Allerheiligste Aand is ‘n belangrike aand vir álmal – of hulle nou daarvan hou of nie.
Die kind, Oktober, verstaan nie nóú sy plig nie, maar eendag sal hy verstaan en dit met oorgawe doen.
Die aarde soek ‘n offerande. Bloed vir reën. Die aarde is dors. Bloed vir reën.
*
Bernadine glimlag toe die eerste swaar druppels lomp op die droë grond plof, en die hele werf vul met die reuk van nat grond, reën en nuwe lewe.
“Ek dink hierdie jaar gaan die reënval weer goed wees,” sê sy en vat ‘n slukkie tee.
Langs haar knik haar man instemmend.
Sy knipoog vir haar man, en vee ‘n sliert van haar gitswart hare agter haar oor in. Sy gaan Doc Oscar nogal mis. Hy was so ‘n aangename, hulpvaardige man, selfs al het hy sy sondes orals saam met hom gedra.
Dit is ongelukkig die lot van ‘n vreemdeling. Skielik hier vandag. Skielik weg more.
Op die radio begin Koos Doep droewig sing.
“As niemand van jou hoor nie; as niemand van jou weet nie, kan jy tog niks verloor nie. Kan niemand jou vergeet nie…”
‘n Ironie. ‘n Cliché.
“En skielik is jy vry,” sing Bernadine die laaste paar woorde saam. “…Doc Oscar,” voeg sy ingedagte by.
1 Kommentaar
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
Anze
Pragtig, baie dankie vir jou bydrae tot die Oktober 2021 – Akrostiese projek